Wat is rasse?
RASSE! Waaraan laat daardie woord jou dink? Vir party beteken dit diskriminasie en verdrukking. Vir ander weer haat, onluste en selfs moord.
Van die rasse-onluste in die Verenigde State tot apartheid in Suid-Afrika, van die oorloë onder etniese groepe in Oos-Europa tot die konflikte in plekke soos Sri Lanka en Pakistan—het rasse die brandpunt van ongekende menselyding en verwoesting geword.
Maar waarom is dit so? Waarom is rasse so ’n tere saak selfs in lande waar dit lyk of mense teenoor feitlik enigiets anders verdraagsaam is? Wat veroorsaak dat rasseverskille soveel beroering en ongeregtigheid tot gevolg het? Eenvoudig gestel, waarom kan mense van verskillende rasse nie oor die weg kom nie?
Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons meer weet as net wat rasse is en in watter opsigte rasse verskil. Ons moet ook die rol begryp wat die geskiedenis in hedendaagse rasseverhoudinge speel. Maar kom ons kyk eers na wat die wetenskap ons omtrent die onderwerp kan vertel.
Die probleem om mense te klassifiseer
Mense wat in verskillende wêrelddele woon, het uiteenlopende fisiese kenmerke. Dit sluit velkleur, gelaatstrekke, haartekstuur, ensovoorts in. Sulke fisiese verskille onderskei een ras van ’n ander.
Daarom praat mense gewoonlik van blankes en swartes en vestig sodoende die aandag op velkleur. Maar mense praat ook van Spaans-Amerikaners, Asiërs, Skandinawiërs, Jode en Russe. Hierdie laasgenoemde eienings verwys meer na geografiese, nasionale of kulturele verskille as na fisiese kenmerke. Die meeste mense meen dus dat ’n ras nie net deur fisiese eienskappe bepaal word nie, maar ook deur gebruike, taal, kultuur, godsdiens en nasionaliteit.
Dit is egter interessant dat party skrywers oor hierdie onderwerp huiwer om die woord “ras” hoegenaamd te gebruik; hulle plaas die woord tussen aanhalingstekens telkens wanneer dit voorkom. Ander vermy die woord heeltemal en gebruik eerder uitdrukkings soos “etniese taksa”, “groepe”, “bevolkings” en “variëteite”. Waarom? Dit is omdat die woord “ras”, soos dit gewoonlik verstaan word, só met konnotasies en bybedoelings oorlaai is dat sy gebruik, sonder behoorlike verduideliking, dikwels die punt onder bespreking verduister.
Bioloë en antropoloë definieer ’n ras dikwels eenvoudig as “’n onderafdeling van ’n spesie wat fisiese kenmerke erf wat dit van ander bevolkings van die spesie onderskei”. Maar die vraag is: Watter kenmerke kan gebruik word om verskillende groepe binne die mensespesie te beskryf?
Daar is al voorgestel dat faktore soos velkleur, haarkleur en -tekstuur, die vorm van die oë en neus, breingrootte en bloedgroep gebruik word, maar nie een van hierdie faktore kon heeltemal met sekerheid gebruik word om die variëteite van die mensdom te klassifiseer nie. Dit is omdat daar geen groep mense natuurlik voorkom waarvan al die lede in al hierdie kenmerke ooreenstem nie.
Beskou die kwessie van velkleur. Die meeste mense glo dat die mensdom maklik op grond van velkleur in vyf rasse ingedeel kan word: wit, swart, bruin, geel en rooi. Mense het oor die algemeen die sienswyse dat die wit ras ’n wit vel, ligte hare en blou oë het. Tog is daar in werklikheid ’n groot verskeidenheid van haarkleur, oogkleur en velkleur onder lede van die sogenaamde wit ras. Die boek The Human Species sê: “Vandag bestaan daar nie bevolkings in Europa waarvan die meeste lede van een soort is nie; sulke bevolkings het trouens nooit bestaan nie.”
Dit is inderdaad moeilik om die mensespesie te klassifiseer, soos die boek The Kinds of Mankind sê: “Dit lyk of ons net die volgende kan sê: hoewel alle mense nie soos al die ander mense lyk nie, en hoewel ons duidelik kan sien in hoeveel opsigte mense verskil, stem wetenskaplikes nog nie saam oor presies hoeveel soorte mense daar is nie. Hulle het nog nie eens besluit watter maatstaf ons kan gebruik om mense in die een of ander ras te plaas nie. Party werkers sal eenvoudig die handdoek wil ingooi en sê dat die probleem te groot is—dat daar geen oplossing is nie!”
Dit alles lyk dalk vreemd. Waarom is dit vir wetenskaplikes so moeilik om die mensdom in rasse in te deel as hulle blykbaar geen moeite ondervind om diere en plante in genusse, spesies en subspesies te klassifiseer nie?
“Die mens se gevaarlikste mite”
Volgens die antropoloog Ashley Montagu glo baie mense dat “daar ’n verband tussen fisiese en verstandelike kenmerke is, dat die fisiese verskille verband hou met taamlik sterk verskille in verstandelike vermoëns en dat hierdie verskille aan IK-toetse en die kulturele prestasies van hierdie bevolkings gemeet kan word”.
Baie mense glo gevolglik dat sekere rasse intellektueel meerderwaardig en ander rasse minderwaardig is omdat hulle fisiese kenmerke verskil. Maar Ashley Montagu noem hierdie denkwyse “die mens se gevaarlikste mite”. Ander kenners stem saam.
Morton Klass en Hal Hellman verduidelik in The Kinds of Mankind: “Persone verskil wel; in alle bevolkings is daar genieë en imbesiele. Maar ná al die navorsing het die betrokke geleerdes geen aanvaarbare bewyse gevind van genetiese verskille tussen bevolkings ten opsigte van intelligensie of vermoëns nie.”
Maar waarom hou soveel aan om te glo dat oppervlakkige fisiese verskille beteken dat die rasse wesenlik verskil? Hoe het rasse werklik so ’n geskilpunt geword? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.