Die vikoenja dra die fynste wol
Deur “Ontwaak!”-medewerker in Bolivia
WAT maak die wol van die vikoenja so buitengewoon? En waarom is sy wol so skaars?
Jy het moontlik al ’n soortgelyke dier, die lama, gesien—daardie skynbaar aanstellerige, traagbewegende pakdier wat so algemeen in dieretuine te sien is. Die lama se wol is ruig. Moontlik het jy ook al kledingstukke gesien wat gemaak is van die sagte vag van die alpakka, nog ’n huisdier van die Andes wat vir sy wol aangehou word. Maar het jy al ooit ’n vikoenja gesien?
Die vikoenja is anders. Hy is wild! Raak aan sy pels as jy kan. Dit is die fynste wol op aarde, met hare dunner as die helfte van die deursnee van die fynste skaapwol.
Die vikoenja het hierdie isolerende pels nodig aangesien hy op ’n hoogte van tussen 3700 en 5500 meter teen die hange van die Andesgebergte leef. Daar, digby die sneeugrens, is die dae heerlik sonnig, maar teen sononder daal die temperatuur skielik tot etlike grade benede vriespunt. Boonop is baie gebiede aan die westekant van die Andes droë woestyne. Hoe bly die vikoenjas op só ’n plek aan die lewe?
Behalwe dat hy ’n spesiale pels het, is die bloed van die vikoenja so vol rooi selle dat die dier, selfs by die hoë hoogtes waar hy hou, aansienlike afstande teen 50 kilometer per uur kan hardloop sonder om moeg te word. Soos kamele kan hulle buitengewoon droë toestande oorleef. Trouens, vikoenjas, lamas, alpakkas en guanaco’s word dikwels kameelagtiges genoem omdat hulle so baie na kamele lyk. Maar ons Skepper het vikoenjas ook op ’n ander manier bevoordeel om hulle te help om te oorlewe.
Terwyl lamas en alpakkas enige tyd van die jaar geboorte gee, gee vikoenjas in Maart en April geboorte. Dit is teen die einde van die reënseisoen wanneer daar meer weiding beskikbaar is. Hierbenewens vind die geboorte gewoonlik in die oggend plaas om die kleintjie genoeg tyd te gee om droog te word voordat hy die eerste ysige nag tegemoetgaan. Die moeder skei haar van die res van die kudde van sowat 20 vikoenjas af, en na ’n baringstyd van minder as ’n halfuur gee sy geboorte aan ’n vul van minder as ses kilogram. Sy doen niks om hom te help nie en lek hom nie eers nie. As dit reën, sal die koue die pasgebore diertjie verswak en hom ’n maklike prooi maak vir die wêreld se grootste vlieënde voël, die Andiese kondor. Maar die vulletjie is gou op sy voete, en binne 30 minute kan hy vinniger as ’n man hardloop.
Dit is tog jammer dat hebsugtige wilddiewe die vikoenja al feitlik uitgeroei het, dikwels met masjiengewere. Sommige jare is daar al tot 23 000 kilogram wol uitgevoer, feitlik alles van onwettig geslagte diere afkomstig. In ’n poging om die dier van uitwissing te red, het sommige lande ’n verbod geplaas op die invoer van vikoenjawol en -velle.
Waarom is die wol so warm?
Alle wol is warm omdat daar, in teenstelling met sy, katoen of poliëster, klein skubbetjies op die hol, met lug gevulde vesels is wat hulle laat inmekaarsluit om isoleerlug vas te vang. Wol het ook ’n natuurlike karteling of golwing wat behoue bly selfs nadat dit verwerk en gewas is. Dit bring mee dat minder wol met die vel in aanraking kom as in die geval van ander vesels. Boonop kan wol aanhoudend vog absorbeer—tot 30 persent van sy eie gewig—sonder om klam te voel as jy daaraan raak.
Dit is opvallend dat die syagtige vikoenjawol fyner as enige ander wol is. En hoe fyner die wol, hoe hoër is die gehalte gewoonlik. Fyn wol beteken fyner garing en fyner materiaal—materiaal wat sag, lig en warm voel. ’n Serp wat van vikoenja gemaak is, is so fyn dat dit deur ’n trouring getrek kan word. Omdat die dun vesels so gevoelig vir chemiese behandeling is, word vikoenjawol gewoonlik in sy natuurlike goue kleur gebruik.
Die vikoenjavag word reeds sedert die tyd van die Inkas, nog voor die Spaanse oorwinning in die 16de eeu, hoog aangeskryf. Miljoene vikoenjas het toentertyd in die Andes gefloreer. Elke paar jaar het die Inkas duisende mense georganiseer om ’n hele berg op ’n slag te omring en die vikoenjakuddes vas te keer sodat hulle geskeer kon word. Vikoenjamateriaal was ’n geëerde aanduiding van status; net die hoogsgeplaastes in die ryk kon dit gebruik. Vandag is dit bykans onmoontlik om dit wettig te bekom.
Waarom so skaars?
Terwyl ’n alpakka al om die twee jaar, wanneer hy geskeer word, sowat 7 kilogram wol kan lewer, lewer ’n vikoenja net 0,5 kilogram. Maar kan genoeg wol vir handelsdoeleindes dan nie van getemde vikoenjas verkry word nie?
“Ek dink persoonlik dis ’n utopiese droom”, verduidelik ’n bewaarder by ’n navorsingstasie op die Boliviaanse altiplano. “Sien, lamas en alpakkas is mak diere, maar die vikoenjas is wild. Hulle spring oor ons heinings, en dan neem dit ons baie ure om hulle weer te vang. Toe ons hulle probeer dip het, het hulle so driftig geveg dat twee dood is.” Party diere is klaarblyklik geskep om getem te word en ander nie. In verband hiermee sê die Bybel dat God “mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard” geskep het (Genesis 1:24, NAV). Maar kan vikoenjas nie met getemde alpakkas gekruis word nie?
Dit is al probeer, maar hulle afstammelinge word na slegs ’n paar geslagte steriel. “Die enigste hoop om vikoenjamateriaal wettig te produseer”, het dieselfde bewaarder gesê, “lê daarin om die wilde diere te beskerm totdat hulle getalle so toegeneem het dat hulle in nette saamgejaag kan word. Dan kan hulle geskeer en weer vrygelaat word soos in die tyd van die Inkas. Sommige lande hoop om dit binnekort reg te kry.”
Dit is inderdaad ’n verdienstelike doelwit om beter na die aarde se dierelewe om te sien. In vorige geslagte is dit gedoen, en dit sal ongetwyfeld in die toekoms onder die heerskappy van God se regverdige regering gedoen word.—Jesaja 9:6; 11:6-9.