Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • FOUTIEWE DATERING
  • DRAADDIEET
  • BESOEDELING GEBLAMEER
  • GEWELDDADIGE “TURTLES”
  • DIE GEHEIM VAN LANGLEWENDHEID
  • MAAK DIE KLONGS SKOON
  • BLOEDERIGE ROLPRENTE
  • ROBSLAGTING?
  • ONGEWONE TAAL
  • VLIEGONGELUKKE
  • MYNSTERFTES
  • Mediterreense monnikrobbe—Sal hulle bly voortbestaan?
    Ontwaak!—2001
  • Antieke seëls – Wat was dit?
    Nog onderwerpe
  • Maak dit saak na watter rolprente ek kyk?
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

FOUTIEWE DATERING

Geskiedkundiges en paleotoloë maak al dekades lank dikwels staat op radiokoolstofdatering om die ouderdom van fossiele te skat. Maar volgens die tydskrif Time “is daardie skattings, hoewel waardevol, ook ietwat onseker”. Die tydskrif het bygevoeg dat “dit bekend is dat koolstof-14-vlakke in die lug—en dus die hoeveelheid wat deur organismes opgeneem word—nie altyd dieselfde is nie, en dit kan die uitslae van koolstofdatering beïnvloed”. Nadat hulle die uitslae van ’n koolstof-14-toets met ’n uraan-torium-toets vergelyk het, het ’n groep geoloë by die Lamont-Doherty Geological Laboratory in Palisades, New York, bevind dat die “radiokoolstofdatums met tot 3500 jaar verkeerd kan wees—moontlik genoeg om ’n verandering teweeg te bring in huidige denke oor belangrike kwessies, soos presies wanneer mense die Amerikas vir die eerste keer bereik het”.

DRAADDIEET

The Jerusalem Post het verslag gedoen oor ’n nuwe neiging in Israel onder sommige mense wat gewig wil verloor. In ’n poging om hulle voedselinname te verminder, het party mense dokters of tandartse gevra om hulle kakebene met draad vas te maak. Die owerheid het van hierdie neiging kennis geneem toe “advertensies wat die gebruik van draad bekend stel in die koerante begin verskyn het”. Die gebruik is onwettig; Israel se Ministerie van Gesondheid het daarin geslaag om ’n stuk of twaalf tandartse te keer om hierdie soort tandheelkundige bedrading op pasiënte te doen. Volgens die Post het dr. Moshe Kelman, hoof van die Ministerie van Gesondheid se Tandheelkundige Afdeling, gesê dat sy kantoor ondersoek instel na die selfmoord van ’n 18-jarige meisie wie se kakebene met draad vasgemaak was sodat sy gewig kon verloor.

BESOEDELING GEBLAMEER

“Elke geslag word swakker namate besoedeling opbou en dit die immuunstelsel afbreek”, beweer allergiespesialis dr. Jean Monro van Brittanje se Breakspear-hospitaal vir Allergie- en Omgewingsgeneeskunde. Omgewingsbesoedeling, versuim om babas aan die bors te voed, die byvoeging van chemikalieë by voedsel- en watervoorrade en die onwyse gebruik van geneesmiddels en dwelms is as bykomende faktore genoem. Dit het siektes wat wissel van asma tot kanker, en selfs kindergedragsprobleme, tot gevolg. Volgens wat in The Times van Londen berig is, ly nagenoeg 17 miljoen mense, sowat 30 persent van Brittanje se bevolking, moontlik aan siektes wat deur die omgewing veroorsaak word, en baie weet dit nie.

GEWELDDADIGE “TURTLES”

Skoolowerhede in Australië staan voor ’n probleem wat al hoe ernstiger word, naamlik geweld onder kinders. Volgens The New York Times blameer party die gewilde gier Teen-Age Mutant Ninja Turtles. Een gesaghebbende het gesê dat kinders “leer dat geweld, soos die goeie ouens dit gebruik, die oplossing vir alle probleme is, en dit word dan in hulle gedrag weerspieël”. Baie skole in Australië het die speelgoedwapens verbied en leerlinge gewaarsku om “hulle Ninja-swaarde, noentsjakoes en stokke by die huis te los”. Die koerant sê verder dat “die Ninja Turtle-rolprent sowel as die -televisiereeks uiters gewild is ten spyte van die algemene besorgdheid oor die uitwerking wat die Turtles op kinders het”.

DIE GEHEIM VAN LANGLEWENDHEID

Die Japannese het ’n nuwe wêreldrekord vir langlewendheid opgestel met ’n gemiddelde verwagte lewensduur van 81,77 jaar vir vroue en 75,91 jaar vir mans. Die deskundiges skryf dit toe aan “’n afname in sterfgevalle onder babas en middeljariges”, berig die Mainichi Daily News. Volgens The Daily Yomiuri het Waka Sjirahama, op 112 die oudste mens in Japan, en een van die land se 3298 mense wat honderd jaar en ouer is, gesê dat “’n hardwerkende, matige en eerlike lewenswyse” die geheim van haar langlewendheid is. In ’n ander onderhoud het sy bygevoeg: “Eet alle kossoorte sonder om voorkeure en afkeure te hê, kry genoeg slaap en moenie vergeet om aan te hou glimlag nie.”

MAAK DIE KLONGS SKOON

Klongs, Bangkok se skilderagtige, besige kanale met rye stelthuise aan weerskante, het gehelp om Thailand se hoofstad bekend te maak. Maar die tydskrif Asiaweek merk op dat “sommige van die waterweë in sopperige, verrottende poele van afval en riool omskep is”. Die meeste van die huise langs die klongs is nie met Bangkok se rioolstelsel verbind nie en kan nie deur vulliswaens bereik word nie. Die gevolg: Elke dag beland 140 ton riool en afval in Thailand se magtige Chao Phraya-rivier, wat die klongs van water voorsien. Sommige klongs, wat verstop is met afval en niks meer lewensonderhoudende suurstof bevat nie, gee ’n reuk af wat die lewe haas ondraaglik maak vir die mense wat langs die rivier woon. ’n Veldtog is dus aangepak om die klongs skoon te maak. Asiaweek berig dat “’n menigte vrywilligers op die oproep gereageer het”.

BLOEDERIGE ROLPRENTE

“As jy onder die indruk verkeer dat rolprente vandag bloederiger en wreder as ooit tevore is, en dat die aantal mense wat daarin doodgemaak word die hoogte inskiet”, sê The New York Times, “is jy heeltemal reg.” Moderne tegnologie en nuwe plastiese stowwe stel rolprentvervaardigers in staat om gewelddadige tonele skokkend realisties te maak. Party van die gewildste rolprente sluit honderde gewelddadige sterfgevalle in. As voorbeeld het die koerant die rolprent Die Hard 2 genoem waarin meer as 260 mense gewelddadig doodgemaak is, waaronder een man wat deur sy oogkas in die brein gesteek is en ’n ander wat in ’n straalmotor ingesuig is. Volgens dieselfde artikel is ’n hele aantal van hierdie rolprente “die soort aksie-avontuurrolprente wat gemaak word om vandag se mark te oorheers”.

ROBSLAGTING?

Die besluit om 30 500 robbe aan die weskus van Suid-Afrika dood te slaan, het soveel emosionele reaksie van die publiek uitgelok dat die plan uitgestel is. Maar party bewaringsgesindes sê dat dit noodsaaklik vir die see-omgewing is om die robbe uit te dun. Volgens The Star van Johannesburg hou die oorbevolking van 1,3 miljoen robbe aan die Kaapse en Namibiese kus alreeds ’n gevaar in vir die seehabitat. Bewaringsgesinde Vic Kabalin sê: “Robeiland was jare gelede . . . bekend vir sy Kaapse pelsrobbe en vir sy broeiplekke van die brilpikkewyn. Nou sien jy net robbe.” Waarom bestaan hierdie ekologiese wanbalans? The Star sê: “Die Kaapse pelsrob se grootste vyand, die groot haai, se getalle is grootliks verminder deur haainette en vissery. Die sowat 1,3 miljoen robbe het dus . . . min wat hulle getalle beheer behalwe die mens.”

ONGEWONE TAAL

As jy Gomera, een van die sewe Kanariese Eilande, besoek, sal jy waarskynlik iets hoor wat soos kanaries met megafone klink. Volgens ’n berig in The Hawke’s Bay Herald-Tribune van Nieu-Seeland is dit die silbo, of fluittaal, wat die bewoners van die eiland al eeue lank as ’n tweede taal gebruik. Hoewel dit vyf jaar neem om dit te leer en ’n hoë mate van bekwaamheid vereis, word dit op groot skaal gebruik deur boere wat die eiland se bergagtige binneland bewerk, aangesien dit baie verder dra as ’n gesproke taal. “Jy kan enigiets sê deur te fluit, en as dit mooi weer is, kan jy dit 3 km ver hoor”, sê een gebruiker. Omdat elke letter van die alfabet ’n ooreenstemmende fluitgeluid het, kan selfs moderne woorde gefluit word.

VLIEGONGELUKKE

’n Groot vliegtuigvervaardiger, Boeing, het ondersoek ingestel na die voorkoms en oorsake van vliegongelukke. Volgens The Wall Street Journal het die vervaardiger ongeveer 850 groot ongelukke ondersoek wat sedert die laat vyftigerjare plaasgevind het. Boeing beweer dat “foute deur vliegpersoneel meer as 72% van die ongelukke gedurende die afgelope 10 jaar veroorsaak het”. Die verslag het gesê dat as die aantal vlugte teen die huidige tempo aanhou toeneem en die aantal ongelukke nie teen ’n vinniger tempo afneem nie, die netto gevolg teen die middel van die volgende dekade “’n gemiddelde van 20 groot ongelukke per jaar vir vliegtuie van elke fabrikaat [sal] wees . . . , meer as die 15 wat tans plaasvind”.

MYNSTERFTES

“Vir elke ton goud wat gemyn word, sterf ’n mynwerker”, berig The Star van Johannesburg. Volgens statistiek wat deur die Kamer van Mynwese voorsien is, het daar jaarliks gemiddeld meer as 560 noodlottige ongelukke gedurende die afgelope sewe jaar in Suid-Afrikaanse goudmyne plaasgevind. Hoewel daar ’n effense afname in sterfgevalle was, sê mnr. Reinoud Boers, skakelbeampte vir die Kamer van Mynwese: “Die feit is dat mynbou ’n gevaarlike beroep is. Hoewel ons sou verkies om geen sterfgevalle te hê nie, is dit wêreldwyd die werklikheid van mynbou.” Die helfte van die sterftes word veroorsaak deur drukbarstings en rotsstortings. “Suid-Afrikaanse myne”, verduidelik mnr. Boers, “is die diepste ter wêreld (tot 4 km), en ons het dus te kampe met hitte sowel as uiterse rotsdruk. Ons delf ook in die hardste rots ter wêreld.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel