Twintigste-eeuse faks
VAN New York na Toronto in minder as ’n minuut. Dit is die spoed van faks. Wat is dit? Dit is, in eenvoudige terme, afstandsfotokopiëring—kommunikasie sonder om ’n woord te praat. In die Verenigde State alleen word meer as honderdduisend faksimilee-masjiene elke maand aangekoop.
Dokters stuur mediese verslae, regsgeleerdes stuur afdrukke van regsafskrifte, kruideniers ontvang bestellings vir kruideniersware en radiostasies ontvang liedjieversoeke van luisteraars—almal per faks. Binne ’n uur na die geboorte van haar baba het ’n moeder van Kalifornië selfs die voetafdruk van die baba per faks gestuur aan die grootouers wat in ’n ander staat woon.
Hoe werk dit?
Dit is doodeenvoudig. Jy het net ’n telefoon, ’n muurprop en ’n faksmasjien nodig. ’n Dokument word in die masjien ingevoer, waar ’n aftaster al die donker skaduwees op die bladsy lees, dit in elektriese impulse oorsit en dit deur ’n telefoonlyn oorsend. ’n Ontvangfaks sit die impulse weer in donker skaduwees oor en druk ’n presiese kopie.
Waar het hierdie tegnologie begin?
In 1843 het ’n Skotse horlosiemaker en uitvinder, Alexander Bain, die eerste faks ontwikkel en gepatenteer. Volgens vandag se standaarde was dit ’n primitiewe aftaster. ’n Naald wat elektries bedraad en aan die punt van ’n swaaiende slinger vasgemaak is, het heen en weer oor ’n blok metaalletters gestryk en elektriese pulse oor telegrafiese drade gestuur. ’n Ander slinger wat bedraad is, het elke puls op elektrosensitiewe papier in ’n donker kolletjie oorgesit.
Teen 1907 is fakse ontwikkel wat ’n draaiende silinder en ’n fotoëlektriese sel gebruik het en gewone skrif direk van ’n stuk papier kon lees wat rondom die silinder gedraai is. Maar transmissie deur radioseine was stadig en dikwels onderworpe aan steuring.
Tegnologie van die tagtigerjare, wat gebruik maak van veseloptika, digitale transmissie en seinkompressie, het fakse moontlik gemaak wat onder spesiale toestande ’n bladsy binne drie sekondes kon lees en oorsein. Die groep masjiene wat tans die meeste gebruik word, het ’n praktiese transmissiespoed van ongeveer 45 sekondes per bladsy.
Hoe word faks gebruik?
Dringende inligting wat gewoonlik per oornagkoerier of die posdiens afgelewer is, kan nou binne minute afgelewer word. Belangrike dokumente kan per faks gestuur word en in so te sê die tyd wat dit neem om ’n koevert te adresseer, te seël en te pos in die hande van ’n tweede party wees.
Daar is onlangs vasgestel dat ’n kind in Kanada aan ’n ernstige, lewensgevaarlike mediese komplikasie ly wat bloedterapie vereis het. As Getuies van Jehovah was die ouers ferm in hulle godsdiensoortuiginge dat bloed onder geen omstandighede gebruik moet word nie. Hulle het met mediese navorsers in verbinding getree, en binne minute is artikels per faks aan die verantwoordelike dokter gestuur om die mediese span te help om alternatiewe bloedlose behandelingstegnieke te evalueer. Die ouers se wense is gerespekteer en die baba is met welslae behandel. Die gesin was beïndruk dat hospitale se mediese spanne nou die faks gebruik as ’n werktuig om mediese inligting te deel.
Selfs die nuusmedia het faks doeltreffend gebruik. In 1989, toe die Chinese leër ’n studente-opstand in Tiananmen-plein in Beijing, China, onderdruk het, het die regering televisie-, radio- en koerantdekking beperk. Telefoonlyne is oopgelaat vir internasionale handel en gevolglik het verslaggewers die nuus en foto’s per faks aan mense in China en die res van die wêreld gestuur.
Die advertensiebedryf het ook munt geslaan uit hierdie tegnologie. Een bemarkingsbestuurder het gesê dat wanneer faksadvertensies gestuur word “die boodskappe ’n gevoel van onmiddellikheid en dringendheid het. Hulle word onmiddellik gelees.” Maar wat talle fakseienaars betref, hou hierdie rommelfaks net hulle toerusting besig en verhinder dit dat hulle inligting ontvang wat noodsaaklik vir hulle onderneming is.
Soos hierbo getoon is, word die gebruik van faks net deur jou verbeelding beperk. Maar daar is, soos met die meeste nuwe tegnologie, iemand wat dit misbruik.
Wat hou die toekoms vir faks in?
Een rekenaaringenieur voorsien dat fakse vinniger en slimmer sal word. Namate lessenaarmodelle alledaagser in ondernemings word, sal die interne gebruik van faks interne posaflewering gaandeweg vervang. Volkleurfaksimilees, sowel as draagbare faksmasjiene, ondergaan produkontwikkeling. ’n Gesamentlike kopieer/druk/faksmasjien wat deur ’n persoonlike rekenaar beheer word, is ook ’n toekomsvooruitsig. Een groot vervaardiger voorspel selfs dat persoonlike faksmasjiene van R260 wat so groot soos ’n dagboek is beskikbaar sal word.
Terwyl die telefoon steeds mondelinge kommunikasie moontlik maak, word sulke boodskappe soms verkeerd aangehaal of verkeerd vertolk. Faks kan die werklike boodskap op skrif—en vinnig—aflewer. Dit is tans ’n belangrike kommunikasietoestel in ons lewe. Faks het ten volle ontwikkel en is hier om te bly.