Ons beskou die wêreld
Tieners verwerp georganiseerde godsdiens
Kanadese tieners dra ’n boodskap wat ’n mens tot nadenke stem aan godsdiensleiers oor: Die geestelikes het gefaal as onderrigters van God se Woord. ’n Onlangse landwye opname toon dat minder tieners as ooit tevore aan ’n georganiseerde godsdiens behoort. Slegs 10 persent meen dat betrokkenheid by ’n godsdiensgroep belangrik is in hulle lewe. Tog “wend meer as 80 persent hulle tot georganiseerde godsdiens vir seremonies in verband met geboortes, huwelike en sterftes”, berig The Toronto Star. Dit is interessant dat 80 persent ook glo dat God bestaan, terwyl 60 persent in lewe ná die dood glo. “Tieners word makliker beïnvloed deur portuurs, die media, rolprente en gewilde musiek as deur die geestelikes”, voeg die Star by. Net ’n klein groepie tieners sal kerkleiers raadpleeg vir leiding oor belangrike lewenskwessies.
Dodelike vertrekke
“Tabakrook wat in die omgewing voorkom, veroorsaak meer sterftes as enige ander mensgemaakte besoedelende stof”, sê dr. Michael Popkiss, ’n mediese gesondheidsbeampte in Kaapstad. Hy het op ’n pamflet gereageer wat deur die Tabakinstituut van Suidelike Afrika versprei is waarin daar beweer is dat onvoldoende ventilasie die probleem is. Dr. Popkiss het verduidelik dat “tabakrookkonsentrasies in geboue oor die algemeen die gemiddelde luggehaltestandaard vir skoon lug oorskry” en longkanker en hartaanvalle, asook belemmerde longontwikkeling onder kinders, tot gevolg kan hê. Hy het gesê daar is geen manier waarop die lug in ’n gebou geventileer of gesuiwer kan word sodat dit geen tabakrook bevat nie. Hy het bygevoeg: “Die doeltreffendste manier om die lug skoon te hou, is om besoedelende stowwe in die lug by hulle oorsprong te beperk.”
’n Swaar lewe vir Farao se werkers
Onlangse studies van geraamtes van diegene wat aan Farao se piramides, grafkelders en tempels gewerk het, toon dat hulle ondervoed, sieklik en oorwerk was. Baie van die werkers het gewrigsontsteking gehad, sê Azza Sarry el-Din, ’n Egiptiese antropoloog. Haar studie het ook aan die lig gebring dat die werkers swaar arbeid moes verrig. “Hulle ruggraat was krom weens die swaar vragte wat hulle gedra het”, en “daar is tekens van beenontsteking, wat ongemak moes veroorsaak het”, is haar gevolgtrekking. Bewyse van hierdie siektes is gevind toe die skedels, ruggrate en stukkies bene van die vingers en tone wat uit nabygeleë begraafplase opgegrawe is, ondersoek is. Hierdie siektes was egter nie sigbaar in die bene wat by die hoër stand se begraafplase gevind is nie. Die antropoloog skat dat die werkers se gemiddelde lewensduur om en by 18 tot 40 jaar was, terwyl die bevoorregte klasse ongeveer 50 tot 70 jaar lank geleef het.
Vervangde monsters
Ontvoerders en rowers het die monsters vervang in die nagmerries wat Brasiliaanse kinders het. Volgens Veja “het [die navorser] Lenise Maria Duarte Lacerda ’n nuwe en angswekkende lys fobieë geïdentifiseer. Aanranding, geweld, ontvoering en jong diewe was die vrese wat die kinders, tussen die ouderdom van 7 en 11, met wie daar ’n onderhoud gevoer is, die meeste genoem het.” Aangesien nie die polisie of ouers beskerming kan waarborg nie, “het die kind die beeld van ’n held verloor wat hy in sy verbeelding gekoester het”, voeg sy by. Die kinderspesialis dr. José Henrique Goulart da Graça sê oor die resultaat: “Vandag is vrees die vernaamste kindersiekte. Baie kinders lewer bewys [hiervan] deur psigosomatiese siektes, soos hoofpyn, asma, diarree en gastritis.”
Chagas-siekte en bloedoortappings
Twintigduisend Brasiliane word jaarliks met Chagas-siekte besmet. João Carlos Dias, die president van die Nasionale Gesondheidsfonds, sê egter in Globo Ciência: “Die situasie kan vererger, want weens die groot verskuiwing van plattelandse bevolkings na groot stede kan die siekte ook na stedelike gebiede versprei word.” Aangesien die parasiet wat die siekte veroorsaak ‘hom in enige orgaan, onder andere die hart, kan vestig, kan die pasiënt uiteindelik weens hartversaking sterf’. Die tydskrif verduidelik dat slegs 8000 mense deur die insek se byt besmet word en voeg by: “Nog ’n baie algemene soort besmetting word deur middel van bloedoortappings opgedoen. Daar word geskat dat daar jaarliks 12 000 nuwe gevalle weens vertikale oorerwing (van ’n ma na haar kind) of weens bloedoortappings voorkom.”
Faksboodskappe aan God?
Kan God per faks bereik word? Bezeq, die Israeliese telefoonmaatskappy, dink klaarblyklik so. In Januarie het Bezeq ’n diens in die lewe geroep wat mense toelaat om boodskappe via ’n faksnommer in Jerusalem aan God te stuur, berig die International Herald Tribune. Wanneer die faks ontvang word, vou ’n personeellid die boodskap en neem hy dit om in een van die splete in die Klaagmuur ingesteek te word, wat glo die oorblyfsel van Jehovah se tempel is wat in 70 G.J. deur die Romeinse leërs vernietig is. Volgens die Tribune is die gebruik om geskrewe gebede in krake in die muur in te steek “’n geluksmaatreël” wat gebruik word deur aanbidders wat Goddelike hulp verlang in hulle soektog na ’n lewensmaat, beter gesondheid of ander doelwitte. Op die eerste dag van die faksdiens is 60 boodskappe ontvang.
Ligbesoedeling
Sterrekundiges is diep bekommerd omdat kunslig uit stede die naghemel verlig, wat pogings belemmer om die sterre te bestudeer. Soos berig word in die International Herald Tribune het Alan MacRobert, mederedakteur van die tydskrif Sky and Telescope, gesê: “Die absolute grootsheid, die ongelooflike krag van ’n waarlik donker, sterbesaaide hemel was deur die hele mensegeskiedenis iets waarmee die hele mensdom bekend was. In ontwikkelde lande is dit nou so te sê onbekend.” Die stad Tucson, Arizona, VSA, het op druk van nabygeleë observatoriums gereageer en het sy 14 000 kwikstraatlampe met natriumlampe vervang met vaste toebehore wat die lig na die grond toe uitstraal.
Rome sonder ’n pous?
Volgens Johannes-Paulus II is die pouse opvolgers van Petrus, en hulle setel is in Rome, want soos “die vroegste tradisie” van die kerk bevestig, was dit kwansuis daar waar die apostel ’n marteldood gesterf het. Die pous het egter groot opspraak verwek toe hy gesê het dat “dit moontlik is dat die Biskoppe van Rome hulle weens die omstandighede van die tye of vanweë hulle eie besondere redes tydelik op ander plekke as die Ewige Stad sal vestig”. Gaan die pousdom ten minste tydelik na ’n ander plek toe verskuif? Daar is party wat dit as ’n gebeurtenis verwelkom wat “bestem is om ingrypende veranderinge in ons hele kultuur teweeg te bring”, maar die meerderheid glo dat die tradisie te ingewortel is en dat die pous se setel nie sal verskuif nie. “’n Ander sint Petrus sal moet kom om die pouslike setel te verskuif”, sê ’n onderrigter in die kerkreg, Carlo Cardia, wat nietemin erken dat “die keuse van Rome geen teologiese grondslag het nie”.
Astroloë weer verkeerd
Vroeg in 1992 het die Vereniging vir Wetenskaplike Navorsing oor die Parawetenskappe in Duitsland ongeveer 50 voorspellings deur astroloë oor die hele wêreld versamel en die resultate aan die einde van die jaar beoordeel. Die vereniging het in 1991 iets soortgelyks gedoen. (Sien die Ontwaak! van 8 Junie 1992, bladsy 29.) Was die voorspellings vir 1992 akkurater as dié vir 1991? Alles behalwe! “Hierdie keer het die voorspellings nie eers een keer die kol getref nie”, berig die Süddeutsche Zeitung, “terwyl vae voorspellings in 1991 ten minste gedeeltelik geslaagd was.” Voorspellings vir 1992 het die herkiesing van George Bush ingesluit en het ook beweer dat die Wit Huis sal afbrand. Met die oog op 1993 het die vereniging dit gewaag om self ’n voorspelling te doen: “Die astroloë sal weer volgende jaar die bal misslaan.”
Gevaarlike inaseming
Van Buenos Aires tot Beijing, van Seoel tot Kalkutta en Kaïro raak die lug in die wêreld se grootste stede al hoe gevaarliker om in te asem. Die Franse koerant Le Figaro haal ’n verslag deur die VN se Omgewingsprogram en die Wêreldgesondheidsorganisasie aan en sê dat die steeds toenemende, giftige vlakke van besoedelende stowwe in die lug (soos koolstofmonoksied, swaweldioksied, osoon en lood) ongetwyfeld mense wat in groot stedelike gebiede woon se gesondheid benadeel en dat dit selfs verband kan hou met die vroeë dood van party stadsbewoners. Die gesamentlike verslag is gegrond op ’n 15 jaar lange studie van 20 stede en waarsku dat dringende maatreëls nou geneem moet word om die besoedeling te verminder en die gesondheid van die wêreld se stedelike bevolking te beskerm. Die Verenigde Nasies skat dat byna die helfte van die mensdom teen die jaar 2000 in stedelike gebiede sal woon.
Hoe Europeërs hulle tyd bestee
Om inligting te bekom oor die daaglikse lewe in Europa, is meer as 9700 mense in 20 lande aan die einde van 1991 deur die multimediagroep Information et Publicité ondervra. Hoe verskil daaglikse roetines van land tot land? Süddeutsche Zeitung berig dat die Grieke die laatste gaan slaap (12:40 vm.), maar dat die Hongare van die eerstes is wat soggens opstaan (5:45 vm.). Die Iere en die Luxemburgers slaap langer as die meeste mense. Die Tsjegge, Slowake en Switsers kyk nie baie TV nie, net twee uur per dag, terwyl “die kykkassie byna vier uur per dag aan is” in Brittanje. In Swede word meer as vyf uur per dag daaraan bestee om te lees of na die radio te luister, terwyl die Dene elke dag een en ’n half uur by die bioskoop of teater ontspan of iets soortgelyks doen.