Jongmense vra . . .
Hoe kan ek in ’n godsdienstig verdeelde huis woon?
“Dit was moeilik vir ons wat besig was om groot te word. My pa het ons godsdiens gehaat. Daar was altyd spanning in die huis.”—Terry.
WOON jy in ’n godsdienstig verdeelde huis? Indien wel, weet jy hoe ongemaklik en moeilik dinge kan wees. Jou ma en pa verdra mekaar se godsdiens dalk heel goed, maar soos S. Sandmel in sy boek When a Jew and a Christian Marry opgemerk het: “Sluit ’n mens se verdraagsaamheid vir jou huweliksmaat se godsdiens ook in dat die kinders in daardie godsdiens grootgemaak kan word? In baie gevalle is die eerlike antwoord nee.”
Dink byvoorbeeld aan wat moontlik gebeur as een van jou ouers ’n Getuie van Jehovah is. Daardie ouer voel ’n ernstige verpligting om jou “in die tug en vermaning van die Here” groot te maak en het dalk heel ferm beskouings oor afsprake, sedes, deelname aan skoolsport, die gebruik van vrye tyd en loopbaandoelwitte (Efesiërs 6:4). Maar jou ouer wat nie ’n Getuie is nie, het dalk ’n toegeefliker beskouing van hierdie sake.
Op Sondagmiddag wil jou ma dalk hê dat jy saam met haar na ’n Christenvergadering moet gaan. Jou pa wil dalk hê dat jy saam met hom moet tuisbly en na ’n sportwedstryd op die TV kyk. “Daar was tye wanneer ek ’n bietjie jammer vir my pa gevoel het”, onthou Doug. “Hy was ’n verkoopsman, en daarom het ons hom nie gedurende die week gesien nie, en oor naweke het die gesin hom agtergelaat wanneer hulle na hul vergaderinge gegaan het. Nou en dan het ek die vergadering oorgeslaan en saam met hom agtergebly.”
Jesus het voorsien dat sulke situasies sou ontstaan. Hy het gesê: “Want ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees” (Mattheüs 10:35, 36). Jesus het nie gesinne opsetlik verdeel nie, maar hy het geweet dat probleme sou ontstaan wanneer party gesinslede ware aanbidding aanvaar en ander dit nie aanvaar nie. Die vraag is: Presies wat moet jy doen as jy jou in so ’n situasie bevind?
Slaggate om te vermy
Eerstens moet jy besef dat dit jou oogmerk moet wees om nie net een van jou ouers te behaag nie, maar God self! Hy is die een wat aanbidding “in gees en waarheid” vereis (Johannes 4:24). Maar daar is ’n paar slaggate wat jy moet vermy as jy dit in ’n godsdienstig verdeelde huis wil doen.
’n Kompromis—Een tienderjarige seun wie se ouers geskei is, sê oor besoeke aan sy ongelowige vader: “Hy probeer om my teen die waarheid en God te laat gaan.” Hy doen dit deur druk op sy seun uit te oefen om aan vieringe op onchristelike vakansiedae deel te neem. “Dit laat my baie ongemaklik voel”, erken die seun. Maar Jesus herinner ons: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Mattheüs 10:37). Staan dus vas vir wat jy glo! Laat jou ouer vriendelik maar ferm weet dat jy weier om ’n kompromis aan te gaan as dit nie genoeg is dat jy jouself taktvol verskoon van ’n bedrywigheid wat bots met jou opvattings nie. As jou ouer jou onversetlike vasbeslotenheid sien, sal die druk dalk geleidelik afneem.
Daar is egter ’n behoefte aan balans. Filippense 4:5 sê: “Laat julle vriendelikheid [“redelikheid”, NW] aan alle mense bekend word.” Redelikheid behels dat jy inskiklik, buigsaam is. Miskien kan jy dinge so bewerkstellig dat jy meer tyd saam met jou ongelowige ouer deurbring as hy of sy meen dat hy of sy verwaarloos word. Onthou ook dat jy ’n verpligting teenoor albei ouers het.—Efesiërs 6:1.
Die rol van ‘die gelykmaker’—Weens ’n misplaaste gevoel van regverdigheid word jy dalk in die versoeking gebring om jou ma se kant in godsdienssake te kies net omdat jou broer jou pa se kant gekies het—of andersom. Maar is dit ’n vaste grondslag vir ’n keuse oor hoe om God te aanbid? Sê nou jou ma se godsdiensbeskouings is verkeerd, onskriftuurlik? “Koop waarheid en verkoop dit nie”, sê Spreuke 23:23.
Volg die leier—Miskien is jy meer geheg aan ’n ouer broer of suster as aan beide ouers. Jy kan gevolglik geneig wees om dieselfde godsdiensweg as jou ouer broer of suster in te slaan. “Dit is hoe ek, wat uit ’n groot gesin kom, gevoel het”, sê Roberto. Hy het gevolglik ’n geestelike terugslag ervaar toe sy ouer broer ware aanbidding geheel en al verwerp het en die huis verlaat het. “Dit was baie ontmoedigend”, erken hy. Sal dit nie volslae dwaasheid wees om toe te laat dat ’n broer of ’n suster jou daarvan weglei om God te dien nie, ongeag hoe geheg jy dalk aan hom of haar is?
‘Verdeel en oorwin’—“Toe ek omtrent 19 was, het my pa my begin aanmoedig om afsprake te maak”, onthou Doug. “Ma, wat ’n gedoopte Christin was, was sterk daarteen gekant. Skielik het ek gevind dat ek Pa se kant kies, hoewel ek in my binneste geweet het dat Ma reg was.” Wanneer ouers se sedelike standaarde verskil, is daar baie geleenthede om die een ouer teen die ander ouer uit te speel. Dit kan aanloklik wees om jou aan die kant van die permissiewer ouer te skaar.
Om jou ouers met mekaar aan die baklei te sit, doen egter weinig meer as om gesinspanning te vermeerder. En om toestemming te verkry om iets te doen wat jy weet onverstandig of verkeerd is, verskoon jou glad nie in God se oë nie. “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jakobus 4:17). Probeer gerus om na die ouer te luister wat jou op “’n weg tot die lewe” lei, pleks van die ouer te manipuleer wat jou die meeste vryheid gee.—Spreuke 6:23.
Kies self jou godsdiens
Party jongmense is nietemin dalk werklik verwar met betrekking tot watter ouer dit dalk is. Hoe kan jy besluit? Die Bybel vestig ons aandag op ’n jongman genaamd Timotheüs wat in ’n godsdienstig verdeelde huis opgegroei het. Hy word beskryf as die “seun van ’n gelowige Joodse vrou, maar van ’n Griekse vader” (Handelinge 16:1). Timotheüs moes soms nie geweet het of hy sy ma of sy pa se kant moet kies nie. Tog het hy die geloof van sy ma aangeneem en die reisgenoot van die apostel Paulus geword (Handelinge 16:2, 3). Het hy sy ma liewer gehad as sy pa? Glad nie.
Die apostel Paulus het aan Timotheüs geskryf: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is [“wat jy oortuig is om te glo”, NW], omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheüs 3:14, 15). Hieruit kan ons aflei dat Timotheüs sy keuse op grond van ’n ernstige studie van God se Woord gemaak het! Hy is “oortuig” om dit te glo.
Ondersoek jou ouers se oortuiginge in die lig van “die heilige Skrifte”, pleks van ’n keuse op grond van sentiment of emosie te maak.a Per slot van rekening is jy, nie Ma of Pa nie, daarvoor verantwoordelik om jou heil uit te werk!—Filippense 2:12.
Win jou ongelowige ouer
Hoe moet jy dan jou ongelowige ouer beskou as jy jou in jou hart voorgeneem het om die ware godsdiens te volg? Die apostel Paulus het Christene aangemoedig om hulle ongelowige maats te probeer win: “Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?” (1 Korinthiërs 7:12-16, NAV). Kan dit nie, in beginsel, vir die kinders van ongelowiges geld nie?
Jou goeie gedrag en diepe eerbied vir jou ouer kan baie doen om hom of haar te help om ’n gunstige indruk van die ware Christelike godsdiens te kry. (Vergelyk 1 Petrus 3:1, 2.) Onthou ook dat dit nie beteken dat jy enigsins teen die ongelowige ouer gekant is as jy ’n standpunt vir die waarheid inneem nie. Jy kan jou ongelowige ouer inderdaad van jou volgehoue liefde verseker deur aan te hou om vriendelik, gehoorsaam en hulpvaardig te wees.
Daar is “’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek” (Prediker 3:7). Praat gerus met jou ouer oor jou oortuiginge as die geleentheid hom voordoen! Spreuke 3:27 herinner ons: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom . . . nie.” Maar wees vriendelik, taktvol. Vermy dit om neerbuigend te praat met ’n ouer omdat jy dalk meer weet van die Bybel. Wie weet, miskien sal jou pogings vrugte afwerp. “My pa was jare lank hewig gekant”, onthou Jay. “Dit het gelyk asof hy nooit sou verander nie, maar uiteindelik het hy hom aan ons kant geskaar.” Toe Jay se pa ’n paar jaar gelede gesterf het, het hy as ’n Christen- ouere man gedien.
As jou ongelowige ouer nie reageer nie, onthou Dawid se woorde in Psalm 27:10: “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.” Jy het ook die ondersteuning van lojale vriende in die Christengemeente, wat ‘sterker kan aanhang as ’n broer’ (Spreuke 18:24). Met hulle hulp en die hulp van jou gelowige ouer kan jy vasstaan in die waarheid.
[Voetnoot]
a Sien die artikels getiteld “Waarom moet ek my ouers se godsdiens aanvaar?” en “Is die Bybel werklik waar?” wat in die Ontwaak! se nommers van 22 November 1986 en 8 Junie 1987 onderskeidelik verskyn.
[Prent op bladsy 23]
Jy sal dalk jou sin kry as jy jou ouers teen mekaar uitspeel, maar op die ou end vermeerder dit gesinspanning