Die sweetbad—Destyds en vandag
VERSKILLENDE kulture geniet sweetbaddens al eeue lank. Daar is baie soorte sweetbaddens, soos die inipi van die Noord-Amerikaanse Indiane, die bania van die Russe, die hamman van die Turke en die moesjiboero van die Japannese.
Daar was ook die badhuise van antieke Rome, wat ’n warmkamer en ’n stoomkamer ingesluit het. Onder die mooiste en weelderigste van die Romeinse badhuise wat opgegrawe is, is die badhuis van Caracalla. Dit het 11 hektaar beslaan en plek gehad vir 1 600 baaiers.
Ons nooi jou om twee soorte sweetbaddens te ondersoek wat vandag nog in gebruik is. Een is die temescal van Mexiko. Die ander is die Finse sauna, en nadat jy daaroor gelees het, sal jy dit dalk graag wil probeer!
Die Temescal
Die voor-Spaanse temescal van Mexiko is deur die Asteke, die Zapotek, die Mixtek en die Maja vir terapeutiese en reinigingsdoeleindes gebruik—mondigwordingsritusse, geboortes, die begrafnis van ’n familielid en ander stamseremonies. Temescal kom van die inheemse Nahuatl-woord temazcalli, wat “badhuis” beteken. Die temescal was ’n reghoekige of ronde kleigebou met ’n gewelfde dak. Binne-in is vulkaniese klippe verhit, wat stoom afgegee het wanneer kruietees, soos roosmaryn en eukaliptus, op die klippe gegooi is. Die baaier is liggies met rituele of geneeskragtige plante geslaan, en die seremonie het geëindig wanneer koue water oor die baaier gesprinkel is.
Die Spaanse monnike was gekant teen hierdie gebruik omdat hulle gemengde baaiery as onbetaamlik beskou het. Die temescal het nietemin behoue gebly en word nog in party dele van Mexiko gebruik, hoofsaaklik om ’n bad te neem, siekte te verlig of ná ’n bevalling te herstel. Maar al hoe meer mense stel daarin belang om die tradisionele geestelike aspekte van die temescal as deel van die land se erfenis te laat herlewe.
Die Finse sauna
Die Finse sauna is miskien die bekendste sweetbad. Trouens, “sauna” is ’n Finse woord. Die sauna word al ongeveer 2 000 jaar lank gebruik, en die oudstes was niks meer as ’n bedekte gat in die grond met ’n vuurput in die middel of in die hoek nie. Buitenshuise saunas wat soos ’n hut lyk, het vroeg in die 12de eeu G.J. verskyn.
Vandag het die gemiddelde huis in Finland ’n sauna, wat houtpanele aan die binnekant het en met elektrisiteit of houtvure verhit word. Saunas met houtvure is nog baie algemeen in hutte en op die platteland. Hetsy hout of elektrisiteit gebruik word, daar is ’n hopie klippe bo-op die hittebron. Baaiers verhoog dan die voggehalte deur water met ’n lepel op die verhitte klippe te gooi. ’n Belangrike verskil tussen ’n Finse sauna en die Romeinse of Turkse badhuise is dat die meeste saunas se panele en bankies van hout gemaak is. Omdat hout ’n swak warmtegeleier is, kan die sauna baie warm wees sonder dat die bankies, relings of mure jou brand.
Die sauna is al so ’n deel van die Finse kultuur dat daar volgens skatting 1 sauna vir elke 3 Finne is. Die meeste Finne neem omtrent een keer per week ’n sauna. Gedurende hulle somervakansie, wat hulle dikwels by ’n meer deurbring, neem baie amper elke dag ’n sauna! Baaiers sal gewoonlik ’n warm saunabad afwissel met ’n swem in die koue meer. Vir diegene wat daarvan hou om hierdie heen-en-weer-saunaritueel die hele jaar deur te geniet, is daar baie saunas wat naby bevrore watermassas is, waar ’n gat in die ys oopgehou word sodat hulle hulle vinnig in die water kan afkoel.
Gesondheidsvoordele van die sweetbad
Die Finne is al lank voorstanders van die sauna weens die gesondheidsvoordele daarvan. ’n Finse spreekwoord sê: “Die sauna is die arm man se medisyne.” Trouens, behalwe dat dit ’n badkamer was, het die sauna tot die 19de eeu ook as ’n soort hospitaal- en kraamsaal gedien.
’n Sauna duur gewoonlik ongeveer 10 tot 15 minute per sessie teen 80 tot 100 grade Celsius. Baie baaiers geniet herhaalde sessies en rus of neem ’n stortbad tussenin. Weens die hitte neem die bloedvloei toe, gaan die sweetgaatjies oop en word afvalstowwe soos melksuur uitgeskei, wat help om die liggaam te reinig of te ontgif. ’n Sauna word dikwels geneem om pyne ná oefening te verlig en om allergieë, verkoues en artritispyn te behandel. Hoewel daar verskillende menings oor hierdie gesondheidsvoordele is, sê saunaliefhebbers dat so ’n bad jou gesond, lig en skoon laat voel. Party geniet dit om ’n sauna aan die einde van die dag te neem omdat dit ontspannend en kalmerend is. Ander vind dat die afwisseling tussen warm en koud verfrissend is en verkies dit dus gedurende die dag.a
Saunas word regoor die wêreld al hoe gewilder, veral in hotelle en sportfasiliteite. ’n Woordjie van waarskuwing: Ongelukkig word die woord “sauna” in party lande gebruik om te verwys na sekere plekke waar prostitusie bedryf word. Maak dus seker dat jy ’n regte sauna besoek wat vir welvoeglike doeleindes gebruik word.
In party plekke word saunas nie behoorlik gebruik nie. As ’n stoof byvoorbeeld nie genoeg klippe het nie en ’n mens water daarop gooi, kan dit veroorsaak dat baie stoom vinnig afgegee word, wat ongemaklik kan wees. Die water kan ook op die vuur of die elektriese element lek en uiteindelik die stoof beskadig.
Maak dus altyd seker dat die vervaardiger se instruksies gevolg word en dat die sauna skoon en goed geventileer is. Probeer gerus hierdie antieke en tog moderne bad as jy toegang tot een het wat aan hierdie vereistes voldoen.
[Voetnoot]
a As jy bejaard of swanger is of hartprobleme het, moet jy ’n dokter raadpleeg voordat jy ’n sauna neem.
[Venster/Prente op bladsy 23]
Wenke vir ’n saunabad
● Vermy alkohol en swaar etes voor die sauna.
● Begin met ’n stortbad.
● Sit op ’n handdoek.
● Onthou, hoe laer die bankie, hoe laer die temperatuur.
● Pas die voggehalte aan deur klein hoeveelhede water op die stoof se klippe te gooi.
● Moenie meeding om te sien wie baie hoë temperature of gevaarlike lang sessies kan verduur nie.
● Eindig met ’n koue stort.
[Prent op bladsy 21]
Die badhuis van Caracalla in Rome
[Erkenning]
Courtesy of James Grout/ Soprintendenza Archeologica di Roma
[Prent op bladsy 21]
’n “Temescal”-sweetbad