Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 2/22 bl. 21-23
  • Kleurblindheid—’n eienaardige gebrek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kleurblindheid—’n eienaardige gebrek
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wêreldwye probleem
  • Die oorsake
  • ‘Aardjie na sy grootvaartjie’
  • Kleurblind? Hoe jy dit weet
  • Voorsorgmaatreëls
  • Watter uitwerking het kleur op jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Voeg ’n bietjie kleur by jou lewe
    Ontwaak!—1990
  • Is jy kleurblind?
    Ontwaak!—2007
  • ’n Lewendige ligvertoning onder die golwe
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 2/22 bl. 21-23

Kleurblindheid—’n eienaardige gebrek

WAT ’n skok moes dit tog nie vir die besadigde Kwakers gewees het toe hulle John Dalton se helderrooi kouse gesien het nie! Omdat hulle gewoonlik somberkleurige klere gedra het—grys, bruin en swart—het hulle, om dit saggies te stel, John se drag skokkend gevind. Wat het gebeur?

Dalton, wat in 1766 in Eaglesfield, Engeland, gebore is, het bloed as “bottelgroen” beskryf en het gemeen dat ’n lourierblaartjie “goed by [rooi] seëllak gepas het”. Ja, Dalton, wat later ’n bekende chemikus geword het, het aan kleurblindheid, of nog duideliker, aan gebrekkige kleurvisie, gely.

Vir Dalton het rooi na grys gelyk en nie veel anders as groen nie. Geen wonder dat sy vriend hom ’n poets kon bak deur sy kouse om te ruil en sodoende sulke ontsteltenis kon veroorsaak nie! Dit is interessant om te weet dat kleurblindheid in sommige Europese lande as Daltonisme bekend staan.

’n Wêreldwye probleem

In 1980 het dr. Janet Voke van die City University in Londen bereken dat meer as tweemiljoen mense in Brittanje aan gebrekkige kleurvisie ly. In party afgesonderde gemeenskappe ly betreklik min mense daaraan. In Fidji is slegs 1 uit elke 120 mans kleurblind, terwyl gemiddeld elke 9de man in Kanada beperkte kleurvisie het.

Kleurvisie verskil van persoon tot persoon. Volgens ’n teorie wat algemeen aanvaar word, is jou visie normaal as jy wit sien wanneer drie ligstrale—rooi, groen en blou—in gelyke verhouding saamgestel word. As die drie strale in wisselende verhoudings vermeng word, kan ander tinte wat jy van nature kan onderskei, voortgebring word.

As al die tinte wat jy kan waarneem egter verkry kan word deur slegs twee van hierdie primêre kleure te vermeng, en die byvoeging van ’n derde kleur geen merkbare verskil maak nie, dan is jou kleurvisie gebrekkig. Dan is jy wat ’n mens ’n dichromaat noem. John Dalton was ’n rooiblinde-dichromaat.

Die gebreke van diegene wat as monochromate bekend staan, is van ernstiger aard. Diegene wat aan hierdie toestand ly, het geen kleuronderskeidingsvermoë nie. Vir monochromate kan ’n kleur-TV net sowel ’n swart-en-witmodel wees.

Die meeste kleurblindes is anomale trichromate. Die tinte wat hierdie mense kan waarneem, is steeds ’n mengsel van al drie primêre kleure, maar anomale trichromate verskil met betrekking tot die verhoudings van die primêre kleure wat hulle kan onderskei. As dit jou probleem is, kan jou poging om die kleurbalans van jou TV-stel reg te stel jou metgeselle met normale gesigsvermoë laat uitroep: “Dis te rooi!” of “Dis te groen!”.

Die oorsake

Wat veroorsaak sulke gebreke? The New Encyclopædia Britannica noem jou “golflengte-onderskeidingsorgaan” as een faktor. Elkeen van jou oë het ongeveer 130 miljoen ligreseptors in die retina, maar slegs 7 miljoen van hulle laat jou in kleur sien. Vanweë hulle keëlvormigheid word hierdie kleurreseptors keëls genoem.

Mense met normale kleurvisie het drie soorte keëls. Sommige keëls reageer beter op die langer liggolflengtes (rooi). ’n Tweede groep neem die middelgolflengtes (groen) waar en die res die korter golflengtes (blou). Wanneer ’n groep keëls ontbreek of nie behoorlik reageer op die golflengte wat daarmee geassosieer is nie, sal jy ’n probleem ondervind. As jy rooi nie normaalweg kan waarneem nie, sal jy byvoorbeeld min kleurverandering opmerk wanneer tamaties wat ryp word van groen na oranje na rooi verkleur.

As die oogsenuwee beskadig word, wat die keël se boodskap na die brein beïnvloed, kan dit kleurblindheid veroorsaak. Selfs party soorte medisyne, byvoorbeeld sekere malariapille, het al mense se kleurwaarneming versteur. Party slukvoorbehoedmiddels kan na bewering die waarneming van skakerings van blou, groen en geel wysig. In die boek Colour Vision Testing het dr. Voke tabak en alkohol gemeld as die oorsaak van sekere gevalle van permanente rooi-groenblindheid.

Veroudering het ook ’n invloed, veral op ’n mens se sensitiwiteit vir blou lig. ’n Navorser, R. Lakowski, sê dat kleuronderskeiding gedurende adolessensie ’n hoogtepunt bereik en tot op 35 jaar voortduur. Daarna versleg ’n mens se kleuronderskeidingsvermoë geleidelik, veral ná 60.

Hoewel gebrekkige kleurvisie in die loop van ’n mens se lewe kan ontstaan, word die meeste kleurblindes so gebore. Waarom?

‘Aardjie na sy grootvaartjie’

Normale menslike kleurvisie is ’n spesiale gawe. Wanneer jou keëls reg werk en jou oogsenuwees die geënkodeerde boodskap getrou na die brein voer, sien jy in volle kleur. “Die geoefende menseoog kan tot 150 tinte onderskei”, berig die boek How Animals See. “Baie diere . . . sien vermoedelik nie kleure soos ons dit sien nie. Maar dié toestand van hulle oë is normaal, nie ’n gebrek nie”, sê The World Book Encyclopedia.

As jou visie nog altyd gebrekkig was, het jy hierdie eienskap ongetwyfeld oorgeërf. Van wie? Health and Disease omskryf kleurblindheid as ’n “geslagsverwante” genetiese afwyking “wat deur vrouens oorgedra word, maar wat gewoonlik te voorskyn kom in al om die ander manlike geslag”. Dit is dus dikwels ’n geval van ‘aardjie na sy grootvaartjie’.

Kleurblind? Hoe jy dit weet

Vermoed jy dat jou kinders kleurblind is? “As jy opmerk dat jou 5 of 6 jaar oue kind probleme ondervind om kleure te identifiseer; as hy onpare sokkies dra; of as hy nie die regte kryt uit ’n houertjie kan neem as hy gevra word om ’n sekere kleur te kies nie”, dan, sê die boek Childcraft, “behoort jy sy gesigsvermoë te laat toets.” Hoe?

Een van die gewildste maniere om kleurvisie te toets is die Ishihara-toets. Die ondersoeker wys jou kind ’n reeks kaarte wat met kolletjies van baie verskillende tinte bedek is. Party van die kolletjies is in patrone en syfers gerangskik wat deur enigiemand met normale kleurvisie onderskei kan word. Jou kind moet dan sê watter patroon of syfer hy sien. ’n Kind wat aan rooiblindheid ly, sal op een kaart ’n “6” sien, terwyl ’n kind wat aan groenblindheid ly ’n “9” sal sien. As jou kind “96” sien, is sy kleurvisie, volgens daardie deel van die toets, normaal.

Aangesien kleur al hoe meer aangewend word in toerusting wat gebruik word om kinders te onderrig, is dit goed om te weet as jou kind se kleurvisie gebrekkig is. Maar is daar enigiets wat jy daaraan kan doen, aangesien oorgeërfde kleurblindheid tans onveranderbaar en ongeneeslik is?

Voorsorgmaatreëls

Hazel Rossotti, skrywer van die boek Colour, beveel eerstens ’n vroeë diagnose aan. Dan kan die kleurblinde “bewus gemaak word van situasies wat moontlik verwarring sal veroorsaak en geleer word om so ver moontlik op ander dinge as twyfelagtige kleure staat te maak”.

Jy kan jou kleurblinde kind die betekenis van die gekleurde padtekens leer. Hoewel hy ’n rooi stoplig en die groen “ry”-lig, vanweë hulle onderskeie posisies kan onderskei, moet jy hom help om kennis te neem van die verskil in die intensiteit of helderheid van elke lig. Wanneer hy alleen is, sal hy dus selfs in die donker die tekens reg kan lees.

As jy kleurblind is, moet jy dit vermy om net op kleur staat te maak wanneer jy besluite neem. Aangesien die brein vir gebreke in kleurvisie kan kompenseer, moet jy die brein se inligtingsvoorraad aanvul deur meer aandag te skenk aan die helderheid, posisie en vorm van ’n voorwerp. Moenie huiwer om jou vriende en familielede met normale kleurvisie se hulp te vra nie.

Wanneer jy belangrike besluite neem, soos die soort werk wat jy wil doen, sal jy verstandig wees as jy die nadele wat met kleurvisiegebreke gepaard gaan, in ag neem. In party soorte werk kan kleurblindheid ’n ernstige hindernis wees. Dit strek byvoorbeeld baie chemici, aptekers, kleurdrukkers en fotograwe tot nadeel. Goeie kleurvisie is ’n bate vir tandartse wanneer hulle kunstande moet vergelyk. Slagters en diegene in die spyseniersbedryf kan ook meer op hulle hoede wees vir veranderinge in die toestand van voedsel indien hulle goeie kleurvisie het. ’n Gebrek aan kleurwaarneming kan dit moeiliker maak vir verpleegsters en dokters om die gesondheidstoestand van hulle pasiënte vas te stel wanneer hulle hul ondersoek.

Elkeen wat duidelik kan sien, het ’n waardevolle bate. As jou kleurvisie beperk is, moet jy juis baie versigtig wees. Jy moet byvoorbeeld daarvan bewus wees dat as jy onnodige medisyne drink, alkohol oormatig gebruik of tabak gebruik, kan dit veroorsaak dat jou kleurwaarneming versleg. As jy volkleurvisie het, het jy ’n gawe van onskatbare waarde wat jy moet bewaar.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel