Van ons lesers
“Ontwaak!” gaan kollege toe Ek is ’n professor in Engels en ek gebruik al die afgelope sewe jaar die Ontwaak! in my stelwerkkursusse in die kollege . . . Die artikels in die Ontwaak! is nie net interessant en leersaam nie, maar is ook van die hoogste grammatikale gehalte. Ek gebruik hulle as voorbeeld van die regte gebruik van leestekens, idiomatiese uitdrukkings, beeldende taal en korrekte woordgebruik.
J. D. G., Verenigde State
Lewe in die buitenste ruimte? Baie dankie vir die leersame artikel “Is daar lewe in die buitenste ruimte?” (8 April 1990). Ek het nog nooit vantevore ’n bevredigende antwoord op hierdie vraag gekry nie. Maar die logiese redenering in julle artikel, gebaseer op die Bybel, het my gehelp om te besef wat ’n wonderlike voorreg ons het om op hierdie unieke planeet te leef.
A. A. C., Brasilië
Bloedverkope Die artikels oor “Bloedverkope is ’n reusebedryf” (22 Oktober 1990) het my persoonlik baie geïnteresseer, aangesien ek ’n lonende werk aangebied is om bloed vir ’n bloedbank te trek. Nadat ek die inligting gelees het, is ek oortuig dat dit verkeerd sou wees. Hoewel die geld nuttig sou wees, het ek die skadelike uitwerking van bloed in ag geneem en nie die werk aanvaar nie.
R. M., Verenigde State
Verkeerde identiteit In julle nommer van 8 November 1990 oor VVV’s het julle melding gemaak van “wyle dr. James McCampbell”. Ek is seker dat julle dr. James McDonald, ’n wetenskaplike wat in 1971 dood is, bedoel het. Wat my betref, ek was al dikwels ’n wyle laat, maar sommige lesers sal moontlik bly wees om te hoor dat ek darem nog nie “wyle” is in die sin van afgestorwe nie.
James M. McCampbell, Verenigde State
Soos Mark Twain gesê het, wil dit voorkom asof die gerugte oor mnr. McCampbell se dood erg oordryf is. Jammer oor die verwarring.—RED.
Om ’n rolprent te kies Ek is tien jaar oud. Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ’n gepaste rolprent kies?” (8 Augustus 1990). ’n Ruk nadat ek dit gelees het, het ek in die versoeking gekom om na ’n slegte rolprent te kyk. Maar ek het julle raad onthou en geweier.
M. B., Verenigde State
Ek moet eerlik erken dat daar al tye was wanneer ek uit ’n rolprentvertoning gestap het. Ander kere het ek egter gebly toe ek moes geloop het. Ek was bang om my sogenaamde vriende se guns te verloor. In plaas daarvan moes ek meer besorg daaroor gewees het om God nie te mishaag nie. Ek het hierdie inligting baie nuttig gevind. Baie dankie dat julle soveel vir jongmense omgee.
G. B., Verenigde State
Loodverwydering Ons was nogal verbaas om in julle artikel “’n Loodbelaaide wêreld?” (8 Augustus 1990) te lees dat ‘net ’n baie duur filter wat osmose omkeer’ lood wat deur jou huis se pype in die water afgegee word doeltreffend kan verwyder. Daar word algemeen erken dat daar ander maniere is om die lood te verwyder.
G. J., Verenigde State
Ons is jammer as ons die verkeerde indruk gegee het. Dit was nie ons bedoeling om alternatiewe metodes soos distilleringstelsels, uit te sluit nie.—RED.
Ophoping van vullis ’n Vriend het vir my ’n geskenkintekening op die Ontwaak! gestuur, en ek vind dat daar ’n groot verskeidenheid interessante artikels is. Ek was verslae toe ek die artikels oor die ophoping van vullis (22 September 1990) gelees het omdat ek nooit gedink het dat dit so ’n ingewikkelde saak is nie! Hoewel ek nie een van Jehovah se Getuies is nie, hou ek van die uitstekende onderwerpe wat in julle tydskrifte bespreek word.
L. R. A., Brasilië