Van ons lesers
Vervreemde ouers My ouers is geskei toe ek drie jaar oud was. Ek het 36 jaar lank probeer verstaan waar my vader, wat ontrou aan my moeder was, in my lewe moet inpas. Om my getrouheid te verdeel, het dikwels te veel vir my geword. Julle artikel “Jongmense vra . . . Hoe moet ek my ouer behandel wat die huis verlaat het?” (8 November 1990) het elke aspek van hierdie saak aangeraak. Nou verstaan ek my gevoelens, en ek voel asof Jehovah sy arm liefdevol om my geplaas en gesê het: ‘Ek verstaan.’
G. M., Verenigde State
Lugramp Ek het nou net die artikel “My angs op Vlug 232” (22 Desember 1990) klaar gelees en ek kon my trane nie keer toe ek dink aan wat Lydia moes deurmaak toe sy haar man verloor het nie. Ek het my moeder vyf maande gelede weens kanker aan die dood afgestaan. Ek is ons liefdevolle God oneindig dankbaar dat hy dit vir ons moontlik maak om ons geliefdes deur middel van die opstanding weer te sien.
C. G., Frankryk
Waarom God lyding toelaat Ek lees die Ontwaak! sedert 1985 van voor tot agter, maar ek het nog nooit so ’n insiggewende antwoord gekry op die vraag waarom God lyding toelaat, soos die antwoord wat in julle nommer van 8 Oktober 1990 gegee is nie. Enige denkende persoon kan duidelike antwoorde kry deur hierdie foutlose artikels te lees.
E. T. V., Brasilië
Naskoolse werk Julle artikel “Jongmense vra . . . Sal ’n naskoolse werk my help om groot te word?” (22 November 1990) het my baie nuttige raad op die regte tyd gegee. Dit het my gehelp om die voor- en nadele van ’n werk teen mekaar op te weeg en ’n baie beter besluit te neem as wat ek dalk sou neem as ek dit op my eie gedoen het. Dankie!
M. R., Verenigde State
Ek het die artikel baie geniet. Ek is 32 jaar oud, het twee kinders, en werk twee aande per week in ’n kitskosrestaurant. Die kinders saam met wie ek werk, werk hard. Party sal dus dalk aanstoot neem aan die term “kitskosplek”.
C. B., Verenigde State
Ons kan die gevoelens van sommige lesers in hierdie verband goed verstaan. Die term is egter aangehaal soos dit in “The Wall Street Journal” verskyn het. In die artikel het ons die uitdrukking “kitskosrestaurant” gebruik.—RED.
Eetversteurings Omdat ek self aan depressie en anoreksie ly, het ek dit werklik waardeer dat die Genootskap hierdie moeilike probleme op so ’n eenvoudige manier bespreek het, deur te wys dat vroue van eetversteurings kan wegbreek (22 Desember 1990). Dankie dat julle hierdie taboe onderwerpe wat selde bespreek word, behandel.
C. L., Frankryk
Immuunstelsel Ek het nou net die artikel “Ons immuunstelsel—’n skeppingswonder” klaar gelees (22 November 1990). Ek was eers ’n bietjie huiwerig om dit te lees, maar toe ek eers begin lees het, het dit my oë oopgemaak om te sien hoe ontsagwekkend God is!
L. Z., Verenigde State
Julle artikel het my geskok. Om die immuunstelsel as soldate met wapens voor te stel, getuig van slegte smaak. As Christene is ons téén oorlog. Of moet die voorstelling nie ernstig opgeneem word nie?
D. C., Duitsland
Die vergelyking wat getref is, is geensins ’n onderskrywing van mensekonflik nie. Dit het lesers slegs gehelp om ’n baie ingewikkelde onderwerp te verstaan. Dit is interessant dat die Bybel self oorlog as ’n grondslag vir illustrasies gebruik deur Christene met gewapende soldate te vergelyk (Efesiërs 6:10-17).—RED.