Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/8 bl. 22-24
  • Gebrandskilderde glas—van die Middeleeuse tot die moderne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebrandskilderde glas—van die Middeleeuse tot die moderne
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die Bybel van die armes”
  • Die kuns kwyn
  • Vergelyking van tegnieke
  • Nie meer net vir kerke nie
  • Glas—Die eerste makers daarvan het lank, lank gelede gelewe
    Ontwaak!—1995
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
  • ’n Besoek aan die glaseiland
    Ontwaak!—2004
  • Van bottels tot pragtige krale
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/8 bl. 22-24

Gebrandskilderde glas—van die Middeleeuse tot die moderne

TOE die strale van die oggendson oor die horison begin uitsprei, is ’n man wat pas opgestaan het, begroet deur skitterende, juweelagtige kleure wat deur ’n gebrandskilderde venster spoel. Die warm gloed het ’n rustige atmosfeer geskep wat bevorderlik is vir bepeinsing.

Het die man kerk toe gekom om te bid en toe aan die slaap geraak? Nee, hy was in die privaatheid van sy eie slaapkamer en was een van ’n toenemende aantal huiseienaars wat hulle huise met gebrandskilderde vensters versier het, vensters wat dalk deur die huiseienaar self gemaak is.

“Die Bybel van die armes”

Hoewel verslae van beskilderde vensters van gekleurde glas teruggevoer kan word tot die 9de eeu, was dit in die 12de eeu, met die opkoms van die Gotiese katedrale, dat hierdie kunsvorm begin floreer het. Hierdie enorme klipgeboue, van die grootste alleenstaande geboue wat sedert die piramides opgerig is, is ontwerp om die hele bevolking van ’n dorp, sommige tot selfs 10 000 kerkgangers, gerieflik te akkommodeer.

Kenmerkend van die Gotiese argitektuur is die skeletkonstruksie en die geweldige hoogte; binnehoogtes het gewissel van 27 tot 46 meter. Enorme panele van juweelagtige glas het daardie spelonkagtige geboue verlig, maar nie te helder nie, en sodoende het dit ’n geheimsinnige, ontsagwekkende atmosfeer vir die kerkgangers geskep.

Interessant genoeg, die vensters het nog ’n nut gehad. Aangesien ’n groot deel van die bevolking nie kon lees nie, was die beskilderde venster ’n manier om die mense met Bybelfigure en -gebeure sowel as die leerstellings van die kerk vertroud te maak. Die vensters het later bekend gestaan as Biblia pauperum, of “Die Bybel van die armes”.

In Chartres, ’n dorp 77 kilometer suidwes van Parys, is daar ’n katedraal met die grootste versameling oorspronklike vensters, waarvan meer as 170 nog ongeskonde is en wat uit omstreeks 1150 tot 1240 dateer. Een van die merkwaardigste vensters, die “Geslagsregister van Isai”, beeld Jesus se voorouers vanaf Dawid se vader, Isai, uit. Tonele uit Jesus se bediening en sy gelykenisse van die barmhartige Samaritaan, die ryk man en Lasarus en die verlore seun word ook op glas uitgebeeld. Ander uitbeeldings vertel ’n verhaal deur middel van ’n reeks kleiner vensters, of medaljons. Aangesien Maria deur die Rooms-Katolieke Kerk vereer word, is sy die hooffiguur op baie vensters en word sy dikwels voorgestel deur ’n term wat aan die eertydse heidene ontleen is, naamlik: “Hemelkoningin”.a

Die kuns kwyn

Oorspronklik is ’n bruin emalje, wat grisaille genoem is, in hierdie kunsvorm gebruik om besonderhede soos gelaatstrekke, vingers en voue in kledingstukke aan te bring. Geleidelik is daar begin om meer as net die noodsaaklike besonderhede in te verf, en namate gekleurde emaljeverf ontwikkel is, het kleurlose glas ’n skilderdoek vir glasskilders geword. Die glasskilderye wat daaruit voortgevloei het, het egter nie die glansrykheid en prag van die Middeleeuse meesterstukke gehad nie.

Gedurende die 14de eeu het die plaag van die Swart Dood in Europa gewoed en al die kunsvorme ’n swaar slag toegebring. Baie van die kennis oor die kuns om gekleurde glas te maak, het verlore gegaan. Streng Cisterciënsiese monnike het hierdie aanskoulike beskilderde vensters verbied en sodoende daartoe bygedra dat die kuns gekwyn het. Hierdie faktore het daartoe gelei dat gebrandskilderde glas teen die einde van die 17de eeu ’n verlore kuns geword het.

Gedurende die 19de eeu, met die restourasie van die Gotiese katedrale, het belangstelling in gebrandskilderde glas opnuut ontwikkel. Gevolglik het ’n beweging, bekend as die Gotiese Hernuwing, ontstaan waartydens nuwe geboue, godsdienstig en sekulêr, in daardie styl opgerig is. Hulle ontwerp het dikwels gebrandskilderde vensters ingesluit.

Vergelyking van tegnieke

Om te waardeer wat hierdie duisend jaar oue kuns behels, moet ons die tegniek van die eertydse ambagsman met dié van sy hedendaagse eweknie vergelyk.

Die basiese prosedure, wat behels het dat die glas gesny, die rande met lood omsoom en aanmekaar gesoldeer word, het in wese dieselfde gebly. Ten eerste is ’n skets, of karton, gemaak, met inagneming van die beperkings by die sny van die glas in fatsoene en die plasing van die stroke lood. Die lood is só geplaas dat dit eerder bygedra het tot die algehele voorkoms van die voltooide venster as om daaraan afbreuk te doen.

Louis C. Tiffany (VSA, 1848-1933), ’n brandskilderglaskunstenaar in die Jugendstyl, word erken as die een wat begin het om koperfoelie te gebruik om die stukke glas mee te omsoom, wat ’n fyner soldeerlyn as lood en ’n sterker voltooide produk tot gevolg gehad het. Foelie is plooibaarder en is algemeen gebruik in die maak van oorspronklike Tiffany-lampskerms.

Aangesien net baie klein glasruite beskikbaar was, het vroeë werke ’n kaleidoskopiese voorkoms gehad. Later, toe groter plate gebruik is, het hierdie unieke effek verlore gegaan. Wat die snywerk betref, het die glaswerker die vorm op die glas met ’n dun strepie vloeistof getrek. Dan het hy met ’n warm yster oor die lyn gegaan en gehoop dat die glas volgens plan sou kraak. ’n Gruisyster is dan gebruik om die rande af te kant totdat die stuk presies op die skets gepas het. As ’n mens hierdie primitiewe gereedskap in gedagte hou, kan jy nie anders as om jou te verwonder aan die skepping van ’n venster van 7,6 meter by 2,7 meter, soos die “Geslagsregister van Isai” wat vroeër gemeld is nie. Vandag maak glassnyers en elektriese slypstene dit moontlik om uiters ingewikkelde vorms te sny.

Die glas van die 12de eeu het onsuiwerhede, soos stukkies metaal, bevat, en die dikte en die tekstuur van die oppervlak was onreëlmatig. Tesame met veranderinge wat deur die tyd en weer veroorsaak is, het die straalbrekende effek op die lig wat deur hierdie onreëlmatighede geskyn het die vensters uit hierdie tydperk ’n glansrykheid sonder weerga gegee.

Vandag is daar ’n wyer keuse van kleure en teksture van glas beskikbaar as wat daar beskikbaar was vir die Middeleeuse kunstenaar, wat hoofsaaklik in rooi en blou gewerk het. As ’n moderne ambagsman ’n realistiese effek wil verkry, kan hy geriffelde glas vir ’n dammetjie, blou en wit gestreepte glas vir die hemelruim of bruin glas met grein vir ’n boomstam gebruik.

Nie meer net vir kerke nie

In onlangse jare het gebrandskilderde glas ’n renaissance beleef en is dit nie meer beperk tot godsdienstemas op kerkvensters nie. Argitekte bring gebrandskilderde vensters en dakvensters in nuwe geboue aan. Daar is ook gebrandskilderde glaswerk in ’n Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in New Jersey, VSA, wat deur Getuies gedoen is. Hierdie kunsvorm maak dikwels ’n integrerende deel van die dekor in restaurante uit en skep sodoende ’n aangename atmosfeer waarin ’n mens kan eet. Baie ontwerpe, wat landskappe, voëls, blomme en ander nie-godsdienstige onderwerpe uitbeeld, is beskikbaar.

In talle stede en dorpe word ateljees opgerig waar vensters, kamerskeidings, lampe, spieëls, juwelekissies en baie ander dekoratiewe dog funksionele items gemaak word. Met net ’n paar lesse, wat dikwels by een van hierdie ateljees aangebied word, of selfs ’n doen-dit-self-boek, kan ’n mens hierdie skeppende kuns by die huis geniet.

Wanneer jy dus volgende keer ’n venster of ’n voorwerp van gebrandskilderde glas bewonder, kan jy in gedagte hou dat dit ’n kuns met ’n lang geskiedenis is wat nou gewilder as ooit tevore is.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 April 1988, bladsy 19.

[Prent op bladsy 23]

Die “Geslagsregister van Isai”, Chartres-katedraal, Frankryk

[Erkenning]

Notre-Dame de Chartres, Chartres, Frankryk

[Prente op bladsy 24]

Detail van Herfslandskap, venster deur Tiffany (bo); gebrandskilderde vensters, Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies, Jersey City, New Jersey, VSA (links)

[Erkenning]

The Metropolitan Museum of Art, Gift of Robert W. de Forest, 1925. (25.173)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel