Glas—Die eerste makers daarvan het lank, lank gelede gelewe
DIATOME, mikroskopiese eensellige organismes, dryf in die bowater van die seë en maak ses tiendes uit van die organismes waaruit die plankton van die oseane bestaan. Die woord “plankton” beteken “dit wat gemaak is om te swerf”, en plankton is glo “te klein en swak om enigiets te doen behalwe om rond te dryf, oorgelewer aan die genade van die strome”.
Hulle is wel klein, maar hulle is beslis nie swak nie. Wanneer storms voedingstowwe uit die dieptes van die see laat opkom, begin hierdie eensellige alge wat as diatome bekend staan gulsig eet, en binne twee dae kan hulle hulle getalle verdubbel. En wanneer hulle verdubbel, verdubbel hulle ook hulle glasproduksie. Die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? brei hieroor uit:
“Diatome, eensellige organismes, neem silika en suurstof uit seewater en maak kristal, waarmee hulle klein ‘pildosies’ vervaardig om hulle groen chlorofil te berg. Een wetenskaplike loof hulle vanweë hulle belangrikheid sowel as hulle skoonheid: ‘Hierdie groen blare wat in juwelekissies toegesluit is, is die weiveld van nege tiendes . . . van alles wat in die seë lewe.’ Diatome se voedingswaarde is grootliks toe te skryf aan die olie wat hulle maak, wat hulle ook help om naby die oppervlak te dobber waar hulle chlorofil in sonlig kan baai.
“Hulle pragtige kristaldoosdeksels kom volgens dieselfde wetenskaplike voor in ’n ‘verstommende verskeidenheid vorms—sirkels, vierkante, skilde, driehoeke, ovale, reghoeke—altyd pragtig versier met geometriese patrone. Dit is met soveel vaardigheid in suiwer kristal geslyp dat ’n mensehaar vierhonderd keer in die lengte deurgesny sal moet word om in die groefies te pas.’”—Bladsye 143-4.a
Nog ’n groep piepklein kunswerkies wat in die oseaan se plankton floreer, is die radiolarieë. Hierdie piepklein protosoa—20 of meer kan op ’n speldekop pas sonder dat hulle aan mekaar raak—maak ook glas uit die silika en suurstof in die oseaan. Die ingewikkelde pragstukke en verstommende ontwerpe wat deur hierdie skeppingswerke voortgebring word, gaan alle beskrywing te bowe, want hulle oortref selfs die diatome. Kyk goed na die bygaande foto van een van die radiolarieë met drie balle wat soos Russiese poppe inmekaar pas, met stekels van protoplasma wat deur die gaatjies van sy glasskelet uitreik om sy prooi te vang en te verteer. Een wetenskaplike lewer hierdie kommentaar: “Een koepelwoning is nie genoeg vir hierdie meesterargitek nie; daar moet drie ragfyn, gedrewe glaskoepels binne-in mekaar wees.”
Daar is sponse wat glasskelette bou—die verstommendste spons is die Venus-blommandjie. Toe dit aanvanklik aan die begin van die 19de eeu na Europa toe gebring is, was die ontwerp daarvan so buitengewoon pragtig dat hierdie sponse duur skatte geword het wat in dierkundige versamelings geplaas is—totdat daar ontdek is dat hulle nie seldsaam is nie, maar “in die omgewing van Cebu, Filippyne, en langs die Japannese kus op dieptes van 200-300 m ’n tapyt op die seebodem vorm”.
Dit het een wetenskaplike so beïndruk, en ook dronkgeslaan, dat hy gesê het: “Wanneer ’n mens kyk na ’n ingewikkelde sponsskelet soos dié wat uit silikanaalde bestaan en as [die Venus-blommandjie] bekend staan, staan jy verstom. Hoe kan sogenaamd onafhanklike, mikroskopiese selle saamwerk om eenmiljoen kristalagtige splinters af te skei en so ’n ingewikkelde en pragtige skelet bou? Ons weet nie.”
Die spons weet ook nie. Dit het nie ’n brein nie. Dit doen dit omdat dit geprogrammeer is om dit te doen. Wie was die programmeerder? Nie die mens nie. Hy was nie daar nie.
Die mens se rol in die geskiedenis van glas
Maar die mens is nou hier, en dit is duidelik dat dit hoofsaaklik hy is wat glas maak en gebruik. Dit is oral; ons word daardeur omring. Jy het dit in jou vensters, bril, rekenaarskerm, eetgerei en duisende ander produkte.
Die veelsydigheid en prag van glas het gehelp dat dit gewild bly. Hoewel dit redelik maklik breek, het dit ander sterk punte. Dit word steeds vir die berging van voedsel verkies. Anders as byvoorbeeld metaal gee dit nie ’n smaak aan die voedsel nie. Party glashouers kan vir kookdoeleindes gebruik word. Jy kan jou glad nie indink dat jou gunstelingrestaurant goeie wyn in plastiese koppies sal bedien nie.
Job het die waarde van glas met dié van goud vergelyk (Job 28:17). Dit was in sy dag beslis nie so algemeen soos nou nie, maar dit was moontlik reeds meer as duisend jaar in gebruik.
Die glasmaakkuns het Egipte later bereik. Die Egiptenare het ’n metode gebruik wat kernvorming genoem word. ’n Gevormde kern is uit klei en mis gemaak, en gesmelte glas is daarom gedraai en gevorm wanneer dit op ’n gladde oppervlak gerol is. Daarna is helderkleurige glasdrade oor die oppervlak getrek om verskeie ontwerpe te maak. Nadat die glas afgekoel het, is die kleikern met ’n skerp instrument uitgekap. As ’n mens die primitiewe metode in ag neem, is ’n paar verbasend mooi glasvoorwerpe vervaardig.
Heelwat later het ’n nuwe metode, glasblasery, ’n omwenteling in glasvervaardiging teweeggebring. Hierdie kuns is moontlik langs die oostelike kus van die Middellandse See ontdek, en dit is steeds die vernaamste manier waarop glas vandag met die hand gemaak word. Deur in ’n hol pyp te blaas, kan die ervare glasblaser vinnig ingewikkelde en simmetriese vorms uit die stuk gesmelte glas aan die punt van sy pyp vervaardig. Anders kan hy die gesmelte glas in ’n gietvorm blaas. Toe Jesus op die aarde was, was glasblasery nog in sy beginstadium.
Die nuwigheid van glasblasery, tesame met die ondersteuning van die magtige Romeinse Ryk, het glasprodukte vir die gewone mense meer bekombaar gemaak, en glasvoorwerpe is nie meer uitsluitlik deur die adel en die welgesteldes besit nie. Namate die Romeinse invloed toegeneem het, het die glasmaakkuns na baie lande versprei.
Teen die 15de eeu het Venesië, wat ’n belangrike handelsentrum vir Europa was, die vernaamste vervaardiger van glasware in Europa geword. Die Venesiaanse glasbedryf is in Murano gesentraliseer. Venesiaanse glasmakers het hoë aansien geniet, maar hulle is verbied om die eiland Murano te verlaat, uit vrees dat hulle kosbare handelsgeheime aan ander oorgedra sou word.
Pragtige Venesiaanse glasware het baie daartoe bygedra om glas gewilder te maak, maar glasmakery was geensins maklik nie. Die boek A Short History of Glass verwys na ’n publikasie van 1713 wat beskryf onder watter omstandighede dit gedoen is. “Die mans staan voortdurend halfnaak in ysige winterweer naby baie warm smeltoonde . . . Hulle raak uitgedroog, want hulle natuur en wese . . . word deur die uitermatige hitte verbrand en vernietig.” In latere jare het glassnyers glas met behulp van ’n draaiende wiel en slyppoeiers poleer.
Latere nuwighede
Engeland verdien spesiale vermelding in die geskiedenis van glas. ’n Engelse glasmaker het in 1676 ’n formule vir loodglas vervolmaak. Die byvoeging van loodoksied het ’n swaar glas opgelewer wat sterk, deursigtig en glansend was.
Die Britse Ryk het gedurende die Victoriaanse eeu sy hoogtepunt bereik, en teen hierdie tyd was Brittanje ook ’n groot glasvervaardiger. Die groot uitstalling by die Crystal Palace in 1851, die eerste wêreldtentoonstelling, wat tentoonstellers van kunshandwerk uit byna 90 lande gelok het, was veral merkwaardig. Hoewel glas ’n groot deel van al die uitstallings uitgemaak het, was dit die Crystal Palace self, met sy sentrale glasfontein van 8,2 meter, wat al die aandag getrek het. Ongeveer 400 ton vensterglas is vir hierdie enorme konstruksie gebruik, wat uit 300 000 handgeblaasde ruite bestaan het.
Maar die volgende groot verandering in glasmakery het in die Verenigde State plaasgevind. Dit was die vervolmaking van ’n meganiese persmasjien in die 1820’s. Die boek A Short History of Glass lewer kommentaar hieroor: “By ’n persmasjien kon twee mans met die minimum ondervinding vier keer soveel glas vervaardig as ’n span van drie of vier opgeleide glasblasers.”
Vroeg in die 20ste eeu is ’n outomatiese bottelblaasmasjien in die Verenigde State vervolmaak. In 1926 het een fabriek in Pennsilvanië ’n outomatiese toestel gebruik om 2000 gloeilampe per minuut te maak.
Baie kunstenaars en ontwerpers is al deur glas se potensiaal as kunswerk aangetrek. Dit het nuwe ontwerpe vir glasprodukte en die skepping van meer kunswerk in glas tot gevolg gehad.
Glas is beslis ’n wonder. Afgesien van al sy huishoudelike gebruike kan ons ook aan ’n paar van sy ander toepassings dink—in die Hubble-ruimteteleskoop, in kameralense, in veseloptiese kommunikasiestelsels en in die chemielaboratorium. Breekbaar ja, maar so veelsydig en pragtig.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Bo en onder: The Corning Museum of Glass
[Foto-erkenning op bladsy 26]
The Corning Museum of Glass