Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Katolieke krisis
  • “Kniediep in wapentuig”
  • R128 150 per otter
  • Modieuse stommerik
  • Motorbestuurders neem kennis
  • Rokende vaders
  • Elektroniese vuilprater
  • Indië se orgaanhandel
  • Egipte ontdek water
  • Europa nie meer afgesny nie!
  • “Soete weerwraak”
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
  • Is rook werklik so sleg?
    Ontwaak!—1991
  • Wat moet ek weet omtrent rook?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Katolieke krisis

“Die Katolieke kerk staan nou voor ’n toenemende krisis in sy geledere, aangesien ouer priester[s] aftree, ’n kommerwekkende aantal jonger priesters die priesteramp neerlê en die aantal nuwelinge ’n ongeëwenaarde laagtepunt bereik het”, berig The Wall Street Journal. “Baie van die priesters wat aanbly, kla bitterlik dat hulle oorwerk en eensaam is.” Die afgelope 30 jaar was daar ’n afname van 89 persent in die getal priesters wat kweekskoolopleiding ontvang het, van 40-000 in 1960 tot minder as 4500 in ons dag. ’n Aantal gemeentes deel reeds ’n “pendelaarpriester wat meer tyd agter die stuurwiel as by die altaar bestee”. Volgens die artikel is die probleem “uniek aan die Katolisisme”, en is dit ’n weerspieëling van “die ongewildheid van die kerk se selibaatvereiste”. Professor Richard McBrien van die Universiteit van Notre Dame sê: “In dié geval maak hulle ’n reël—’n mensgemaakte reël—wat belangriker is as die Nagmaal.” Planne om nuwelinge vir die priesteramp te werf was nie baie geslaag nie, en daar word gevrees dat die krisis veroorsaak dat die kerk sy standaarde verslap met betrekking tot diegene wat priesters kan word. Selfs “introverte . . . ongesonde persoonlikhede” word aanvaar, het een Katolieke amptenaar gesê.

“Kniediep in wapentuig”

“Ons kry steeds onontplofde kanonkoeëls uit die Frans-Pruisiese oorlog van 1870. Daar is mere vol giftige granate uit die Eerste Wêreldoorlog. Dit gebeur dikwels dat ’n boer met ’n trekker oor ’n teentenkmyn uit die Tweede Wêreldoorlog ry en paf!, dis klaarpraat. Hierdie goed is oral.” So sê Christian Gabardos, hoof van ’n afdeling démineurs—Frankryk se professionele bomruimdeskundiges. Sedert die Tweede Wêreldoorlog “het hulle 16 miljoen artilleriedoppe, 490 000 bomme en 600 000 onderwatermyne uit die grond gehaal”, sê The New York Times. “Meer as [800 000 hektaar] landbougrond is al herwin, maar miljoene [hektare] is steeds afgekamp, kniediep in wapentuig en omring deur plakkate wat waarsku: ‘Moenie aanraak nie. Dit maak dood!’” Meer as 600 démineurs het al hulle lewe verloor. Arbeiders wat buite Parys besig is om ’n nuwe pad vir die Franse ultrasneltrein te grawe, het elke dag twee ton se myne, ligte geskut en mosterdgaskannetjies uit die Eerste Wêreldoorlog opgegrawe, “die oorblyfsels van honderde ammunisieopslagplekke wat na afloop van gevegte by die hekke van die stad gelaat is”.

R128 150 per otter

Ná die tragiese oliestorting van die Exxon Valdez in 1989 het die maatskappy R45,75 miljoen beskikbaar gestel om 357 otters wat deur die olie besmet is te vang en te behandel. Nieteenstaande uitgebreide pogings om hulle te red, het meer as ’n derde gevrek. Die meeste van die 225 oorblywende otters is na hulle natuurlike habitat teruggeneem, en die ander is in akwariums geplaas. “Seebioloë het bereken dat dit [R128 150] gekos het om elkeen van die otters wat gered is, te behandel”, sê ’n berig in die New York Times, “maar wetenskaplikes glo dat die kennis wat uit die projek ingewin is, sal help om toekomstige slagoffers van soortgelyke ongelukke te red.” ’n Belangrike bevinding was dat ru-olie baie giftiger vir die diere is as wat algemeen geglo is. Die projek is glo “hoofsaaklik om menslikheidsredes” aangepak omdat see-otters nie ’n bedreigde spesie is nie en omdat “groot getalle van die diere in die sont dodelike oliebesmetting vrygespring het”. Exxon-beamptes het na bewering erken dat “sterwende, olie-deurdrenkte otters uiters skadelik vir die maatskappy se beeld is”.

Modieuse stommerik

“T-hempies met boodskappe op is weliswaar deesdae in die mode”, sê India Today. Maar ’n jong meisie in Kalkutta het uitgevind dat dit ernstige nadele kan inhou as jy op dié manier in die mode probeer wees. Terwyl sy rondgedrentel het, “geklee in ’n modieuse slobberbroek en ’n opvallende T-hempie”, het sy ’n klompie Chinese seuns gesien wat na haar gewys en onbeheers gelag het. Sy het hulle uitgevra, en hulle het gesê dat die woorde op haar T-hempie ’n boodskap in Chinees is wat lui: “Ek is ’n kaalkop klapperdopbobbejaan. En enigiemand wat hierdie woorde kan lees, moet met my die spot dryf omdat ek die grootste stommerik is, aangesien ek woorde ten toon stel wat ek nie kan lees of skryf nie.”

Motorbestuurders neem kennis

Motors wat treine by kruisings probeer voorspring, is die norm op feitlik elke rit, sê masjiniste. Dit wil voorkom asof statistiek hierdie feit ondersteun. In 1989 was daar oor die hele Verenigde State 5766 ongelukke by gelykvlakkruisings waarin 798 mense gesterf het en 2588 beseer is. In die meeste gevalle het motorbestuurders die hekke en flitsende ligte wat hulle teen die aankomende trein waarsku, geïgnoreer. Waarom probeer bestuurders met treine resies jaag na kruisings toe? Dit is heel waarskynlik omdat hulle verwag dat die trein soos ’n motor kan werk, sê amptenare. Maar hy kan nie. Net die lokomotief van ’n gewone goederetrein weeg 160 ton. Wanneer hy teen 80 kilometer per uur beweeg, neem dit meer as een en ’n half kilometer om die trein tot stilstand te bring nadat daar gerem is. En motorbestuurders moet onthou: Die trein wen altyd.

Rokende vaders

Die skade wat ’n rokende moeder haar ongebore kind kan berokken, is goed bekend. Maar wat van rokende vaders? “Die rokende vader”, waarsku die South African Medical Journal, “moet gelyke verantwoordelikheid vir die gevolge aanvaar as die moeder aanhou om gedurende haar swangerskap te rook. ’n Moeder het die ondersteuning van haar eggenoot nodig as sy wil ophou rook, en die fetus is gewis nie immuun teen die gevolge van vaderlike sigaretrook nie.” Die tydskrif waarsku ook teen die skade wat deur passiewe rook veroorsaak kan word ná die kind gebore is. Kinders wat tuis aan sigaretrook blootgestel is, het ’n bogemiddelde syfer van “skoolafwesigheid weens siekte” en “het ’n groter kans om self sigaretrokers te word”.

Elektroniese vuilprater

Dit word die Laaste Woord genoem. Dit is ’n sakgrootte, geprogrammeerde elektroniese stemkas wat soos ’n roepradio lyk. Dit is ontwerp om namens mense te praat wat te skugter is om self beledigende dinge te sê. Wanneer dit aangeskakel word, ryg dit ’n rits bitsige onwelvoeglikhede uit. “Dit is die gewildste item wat ons nog gehad het”, het een winkeleienaar gesê. “Dit is jammer, maar dit is wat die mense wil hê.” Daar is oorspronklik twee soorte vervaardig. Die meer gematigde een wat dinge gesê het soos: “Loop bars” en: “Jy is ’n idioot”, was ’n handelsmislukking.

Indië se orgaanhandel

“Indië het nou die twyfelagtige eer dat hy waarskynlik dié land is waar die meeste oorplantings gedoen word van niere wat afkomstig is van lewende skenkers wat nie aan die pasiënt verwant is nie”, sê India Today. Daar word geraam dat meer as 2000 niere van lewende skenkers nou jaarliks in die land verkoop word. Skuld en armoede is die oorsaak van die meeste verkope. “Ons was wanhopig, en die enigste ander keuse wat ek gehad het, was om ’n smokkelaar of ’n plaaslike dada te word wat by misdadigheid betrokke is”, het die pa van drie kinders verduidelik. Hy en sy vrou het elk ’n nier verkoop. “Ons het die eerbare weg gekies”, het hy gesê. Weens die hoë pryse wat vir liggaamsdele betaal word, het verkope van horingvliese en die vel van lewende skenkers ook toegeneem. “Handeldrywe met mensorgane het die grootste kwessie in die mediese etiek in hierdie land geword”, het ’n vooraanstaande dokter gesê.

Egipte ontdek water

Van al die lande wat onder watertekorte gebuk gaan, is Egipte die vernaamste. Die Nylrivier, sy enigste belangrike waterbron, bly onderhewig aan die groeiende eise van ander nasies bostrooms. En Egipte se bevolking van 55 miljoen groei tans teen ’n tempo van 1 miljoen elke nege maande. Die nasie moet reeds 65 persent van sy voedselvoorrade invoer. Afstandsopsporing deur middel van ’n satelliet het egter nou aan die lig gebring dat daar ’n uitgestrekte ondergrondse watervoorraad onder Egipte se Westelike Woestyn geleë is waarvan niemand bewus was nie. “Wetenskaplikes meen dat dit meer grondwater kan bevat as wat hulle voorheen gedink het daar in die hele Afrika is”, sê die World Press Review. “’n Toetsboorgat het daarop gedui dat daar genoeg water in een bron is ‘vir [80 000 hektaar] landbougrond vir 200 jaar’, sê dr. Farouk al-Baz, die Egiptiese hoof van die Universiteit van Boston se Sentrum vir Afstandsopsporing.”

Europa nie meer afgesny nie!

Drie jaar lank het uitgrawings onder die kanaal wat Brittanje van Frankryk skei, voortgeduur. Uiteindelik, op 30 Oktober 1990, het die twee kante ontmoet toe ’n Franse tonnelboormasjien deur die krytlaag gebreek en ’n boorgat blootgelê het wat van die Britse kant af geboor is. Satellietfotografie en gepaardgaande laserstelsels het die spanne ingenieurs so goed gelei dat die twee kante, in ’n tonnel van 50 kilometer, nie meer as 0,5 meter uit die lyn was nie, berig The Times van Londen. Die werklike deurbraak was op 1 Desember toe die oorblywende paar meter krytlaag uitgekap is om ’n opening groot genoeg te laat sodat werkers van beide kante kon ontmoet en hande skud. Werk duur nou voort om hierdie dienstonnel en die twee groot treintonnels, een aan elke kant daarvan, te voltooi.

“Soete weerwraak”

Die probleem: hoe om groepe tieners te ontmoedig om by ’n winkel rond te drentel en ander klante af te skrik. Die oplossing: om opelugluidsprekers te installeer en musiek te speel wat hulle nie kan verdra nie. Altans, dit is die oplossing waarmee party 7-Eleven-winkels in die noordwestelike Verenigde State en in Wes-Kanada vorendag gekom het, en tot dusver werk dit goed. Die musiek? Geprogrammeerde musiek van orkeste soos Mantovani en Ray Conniff. “Dit is alles musiek wat die kinders haat, goed soos ‘Moon River’”, sê een winkelbestuurder. Na verwagting sal ander winkels binnekort die voorbeeld volg. Die tydskrif Time sê: “Diegene wat deur tieners se dawerkaste oorweldig is, kan dit as soete weerwraak beskou.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel