Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/22 bl. 10-13
  • Die asbes-verhaal—van lewensredder tot doodsbedreiging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die asbes-verhaal—van lewensredder tot doodsbedreiging
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wisselvallige geskiedenis
  • Die verskriklike prys
  • Te sterk reaksie?
  • Die hebsugfaktor
  • Asbes en jy
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
  • Arm nasies word vullishope vir die rykes
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/22 bl. 10-13

Die asbes-verhaal—van lewensredder tot doodsbedreiging

NIE lank gelede nie moes al die inwoners van ’n woonwapark in Arizona, VSA, hulle huise en besittings aan die regering verkoop en trek. Alles in die park, van woonwaens tot meubels tot kinders se speelgoed, is stelselmatig vernietig—fyngedruk en onder lae filtreerpapier, gruis en bogrond begrawe. Waarom? As gevolg van bestraling? Toksiese chemikalieë? Besoedelde water? Nee; die woonwapark is op die oorblyfsels van ’n ou meule gebou. Dit was met asbes besoedel.

Hierdie eeu was vir asbes ’n onstuimige eeu—’n duiselingwekkende val van die toppunt van gewildheid tot die afgrond van smaad. Waar dit voorheen die liefling van die nywerheid en die vereerde redder van ontelbare lewens uit brande was, word asbes nou beskuldig van medepligtigheid aan die dood van letterlik honderdduisende mense. Asbes kry die twyfelagtige lof dat dit omwentelinge in die boubedryf teweeggebring het—nie een keer nie, maar twee keer: ten eerste, in die neiging wêreldwyd om dit in geboue te gebruik; ten tweede, in die soms dolle gejaag om die goed weer uit te kry.

Skole, kantoor- en woonstelgeboue het toegemaak, teen ’n ontsaglike uitgawe vir belastingbetalers, grondeienaars en inwoners. Die regstelsel is toegegooi onder ’n vloedgolf hofsake. En vrees het lewens verander—alles as gevolg van asbes.

Maar wat is asbes? Waar kom dit vandaan? Is dit werklik so gevaarlik?

’n Wisselvallige geskiedenis

In teenstelling met wat baie dalk dink, is asbes nie net nog ’n mislukking van die moderne tegnologie, nog ’n laboratoriumgeesteskind wat hand-uit geruk het nie. Nee, asbes is ’n mineraal wat uit die aarde gemyn word. Of om meer presies te wees, asbes is ’n groep minerale—daar is ses verskillende soorte, elkeen heeltemal anders as die ander. Maar al die soorte is uit vesel saamgestel en almal is uitermate bestand teen hitte.

Mense gebruik asbes al duisende jare lank. Baie eeue voor Christus het Finse boere dit met potklei gemeng en krake in hulle houthuise daarmee opgevul. Die eertydse Grieke het dit gebruik om lamppitte te maak. Die eertydse Romeine het materiaal van asbesvesels geweef en handdoeke, nette en selfs hoofbedekkings vir vroue daarvan gemaak. Hierdie materiale was maklik om skoon te maak: gooi dit net in ’n gloeiende vuur en haal dit helder en wit daaruit!

In die Middeleeue het keiser Karel die Grote party van sy onbeskaafde gaste glo oortuig dat hy bonatuurlike kragte gehad het toe hy ’n tafeldoek van asbes in die vuur gegooi het en dit ongeskonde daaruit gehaal het. Sommige Middeleeuse handelaars met ondernemingsgees het selfs asbeskruise verkoop en hulle bestandheid teen vuur as bewys aangevoer dat hulle gemaak was uit die hout van “die regte kruis”!

Tot laat in die 19de eeu was asbes egter weinig meer as ’n rariteit. Dit het verander as gevolg van die industriële eeu. In die 19de eeu het die nywerheid besef dat asbes meer is as net vuurbestand; dit is ook bestand teen korrosie en is ’n goeie isolator. Asbes is weldra in dakvilt, dakteëls, vloerteëls, isolasiemateriaal, betonmengsels, sementpype, asfalt, teatergordyne, remvoerings en selfs filters gebruik. Uiteindelik is sowat 3000 gebruike daarvoor gevind.

Kort voor lank het asbes bygedra tot ’n florerende nywerheid wêreldwyd. Groot neerslae is ontdek in die Oeralgebergte van die Sowjetunie, in die Alpe van noordelike Italië, in Vermont in die Verenigde State en in Suid-Afrika. In die middel-sewentigerjare was die wêreldproduksie van asbes nagenoeg sesmiljoen ton per jaar.

Die verskriklike prys

Hierdie skielike toename in gewildheid was egter nie sonder waarskuwings van onheil nie. Trouens, reeds sowat 19 eeue gelede het die Romeinse geskiedskrywer Plinius opgemerk dat slawe wat in die asbesmyne gewerk het blykbaar asemhalingsprobleme ondervind het. Sy waarskuwing was net die eerste van baie ander waarskuwings.

In die vroeë twintigste eeu het dokters in Europa begin opmerk dat werkers in asbesmyne aan asemhalingsiektes gesterf het. Teen 1918 het sommige versekeringsmaatskappye reeds geweier om werkers in asbesmyne te dek as gevolg van hulle buitengewoon kort lewensduur. Teen die dertigerjare is daar deur lykskouings vasgestel dat blootstelling aan groot hoeveelhede asbes beslis dodelik kan wees. Die piepklein, naaldvormige kristalletjies van baie soorte asbes kan diep in die longe, of selfs tot in die buikholte, indring, en dit bly daar en veroorsaak soms dekades later siektes. Die volgende is ’n paar van die algemener asbesverwante siektes:

Asbestose. Die algemeenste siekte veral onder diegene wat vir ’n lang tydperk aan asbes blootgestel was. Die longweefsel word beskadig en dit veroorsaak mettertyd dat die long verhard en die lugweë in die long belemmer word. Asbestose veroorsaak moeisame asemhaling en maak die longe meer vatbaar vir infeksies soos longontsteking en brongitis, wat op hulle beurt gevaarliker is vir mense wat aan hierdie toestand ly. Asbestose is ongeneeslik en dit kan mense doodmaak.

Longkanker. Dit is ook baie algemeen, en meer mense sterf daaraan as aan asbestose. Dit is egter interessant dat wanneer blootstelling aan asbes met die rookgewoonte gepaard gaan die syfers vir longkanker werklik drasties styg—baie hoër as wanneer die risiko’s van rook en van blootstelling aan asbes net bymekaar getel word.

Mesotelioom. ’n Seldsame, dog uiters dodelike vorm van kanker. Dit val die membraan aan wat die voering van die borskas of buikholte vorm. Dit mag selfs voorkom na beperkte blootstelling aan die mineraal, en dit kan verskyn na ’n vertraging van tot 40 jaar.

Volgens die International Journal of Health Services sal asbestose tussen 1986 en die jaar 2000 twee- tot driehonderdduisend vroegtydige en pynlike sterftes in die Verenigde State alleen veroorsaak. As dit waar is, sal dit ongeveer dieselfde wees as die aantal militêre personeellede van die VSA wat in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het.

Te sterk reaksie?

’n Aantal wetenskaplikes reken egter dat daar ’n te sterk reaksie is op die bedreiging van asbes. Hulle beweer dat party wetenskaplikes die gevare oordryf het, en dit het tot ’n wydverspreide “veselfobie” gelei, ’n vrees wat meer kwaad as goed gedoen het.

Brooke Mossman, aan die Universiteit van Vermont se Mediese Skool, het byvoorbeeld ’n span wetenskaplikes gelei om ’n verslag te skryf wat in die tydskrif Science verskyn het. Mossman en haar kollegas betreur die feit dat ontsaglike bedrae geld bestee word aan die verwydering van asbes uit kantoorgeboue en skole, dikwels om vlakke van blootstelling te voorkom wat, volgens hulle, so laag is dat dit feitlik onskadelik is.

Trouens, hulle beweer dat daar in werklikheid minder asbes in die lug binne as in die lug buite is in party van die geboue wat op die lys vir asbesverwydering is! Hulle haal statistieke aan wat toon dat kinders in baie groter gevaar verkeer van fietsry of van verdwaalde weerligstrale as van sulke lae vlakke asbes. Daarbenewens is baie asbesverwyderingsprojekte oorhaastig aangepak en slordig gedoen en het dit in werklikheid die asbesvlakke in geboue verhoog deur al die stof los te maak. In sulke gevalle sou dit veiliger wees om die asbes net so te los en dit te verseël.

Daarbenewens het nie alle variëteite van die mineraal dieselfde naaldvormige vesels nie, soos baie Europese lande in hulle wette op asbes erken. Chrisotielasbes bestaan uit langer, krullerige vesels wat makliker deur die longe vasgevang en uitgewerp word. Sowat 95 persent van die asbes wat oor die wêreld geproduseer word, is chrisotielasbes. Amfiboolasbes, die soort wat blykbaar die oorsaak van mesotelioom in die meeste gevalle is, word selde gebruik.

Mossman en haar kollegas verwerp ook die ‘eenveselteorie’—die idee dat selfs ’n enkele asbesvesel dodelik kan wees. Asbes kom per slot van rekening natuurlik voor. Volgens ’n redakteur van die tydskrif Science asem ons almal ongeveer ’n miljoen asbesvesels elke jaar in!

Hierdie punte stel nogtans nie alle wetenskaplikes tevrede nie. Dr. Irving J. Selikoff, wat in 1964 ’n belangrike studie oor asbesgevare gedoen het, hou vol dat lae vlakke van blootstelling aan asbes beslis gevaarlik kan wees. Baie wetenskaplikes stem met hom saam. Hulle is veral bekommerd oor skoolgeboue. Hulle sê dat dit nutteloos is om bloot die asbesgehalte in die lug van sulke geboue te meet aangesien slegs baie spesifieke bronne van asbes, soos geïsoleerde pype en stoomketels, gevaar inhou. Nuuskierige of ondeunde kinders sal waarskynlik hierdie bronne vind en versteur; opsigters en skoonmakers kan gereeld daaraan blootgestel word.

Wetenskaplikes verskil ook van mekaar oor die gevare van chrisotielasbes. ’n Internasionale konferensie van wetenskaplikes in die lente van 1990 het gereageer op Mossman se verslag in Science deur aan te voer dat chrisotiel net so gevaarlik as ander soorte is. Verder het sommige beweer dat wetenskaplikes wat die gevare van asbes gering ag net deur die asbesnywerheid gebruik word wat party van hulle betaal om in die hof te getuig.

Die hebsugfaktor

As sulke beskuldigings waar is, brandmerk dit die beskuldigdes as hebsugtig. Die feit is egter dat hebsug ’n deurlopende tema in die geskiedenis van asbes in hierdie eeu is.

Die asbesnywerheid is al beskuldig van skandelike hebsug deur hulle werkers in die duister te hou oor die gevare van blootstelling aan asbes. Baie hofuitsprake het asbesvervaardigers met bestraffende skadevergoeding beboet vir versuim om werknemers in te lig oor die risiko’s waarvoor hulle te staan sou kom. En ten spyte van al die polemiek voer asbesmaatskappye nog steeds hulle produkte uit na onderontwikkelde lande wat nog nie die materiaal verbied het nie—en waar fabriekswerkers nie altyd behoorlik daarteen beskerm word nie.

Beskuldigings van hebsug word ook voor die deur van die asbesverwyderingsnywerheid gelê. Kritici keur die buitensporige kostes af, wat dikwels wissel van R625 tot R1 250 per vierkante meter, ruim honderd keer meer as wat dit in die eerste plek gekos het om asbes aan te bring. Daar is ook berigte van korrupsie. Baie verwyderingsfirmas is betrap dat hulle regeringsamptenare omkoop sodat hulle onwettige en gevaarlike verwyderings- en wegdoeningsmetodes ignoreer. Korrupte grondeienaars is bekend daarvoor dat hulle gewetenlose firmas huur om die asbes op onbehoorlike wyse te verwyder net om geld te spaar. Die werkers wat hulle huur, besef dikwels nie die gevare van hulle werk nie, dra geen beskermende klere nie en is bekend daarvoor dat hulle die asbes onwettig stort—selfs in parke.

Asbes en jy

Daar is nogtans ’n bietjie hoop in hierdie sombere verhaal. Daar is wêreldwyd groter bewustheid van die verskillende gevare van asbes. Baie regerings beperk die gebruik van asbes of maak ten minste seker dat werkers wat met hierdie mineraal te doen kry beskermende klere dra.

Sê nou jy vermoed daar is asbes in jou huis of by jou werkplek. Wat dan? Ten eerste kan slegs ’n laboratoriumtoets bo twyfel vasstel of dit werklik asbes is of nie. Ten tweede, moenie paniekerig raak nie. Paniek het daartoe gelei dat sommige probeer het om self die asbes te verwyder, wat dikwels onwettig is en baie gevaarliker is as om dit te los waar dit is. Kry deskundige raad voordat jy enige stappe doen. Slegs ’n gelisensieerde firma met ’n goeie reputasie moet toegelaat word om asbes te verwyder of dit te verseël, na gelang van die situasie.

As jy nie anders kan as om met asbes te werk nie, is dit baie belangrik dat jy beskermende klere dra, net soos dit belangrik is dat die materiaal nat gehou moet word om te voorkom dat die vesels in die lug vrygestel word—hoe ongerieflik dit ook al mag lyk. Een opname onder 405 werkers in Egipte het bevind dat slegs 31,4 persent van hulle hulle beskermende toerusting dra wanneer hulle met asbes werk.

Ten laaste, moenie rook nie! In ’n studie in die Verenigde State is bevind dat 34 persent van asbeswerkers rokers is, ten spyte van hulle groot besorgdheid oor kanker en ten spyte van die feit dat rokers se kanse om asbesverwante siektes op te doen sowat 50 keer groter is.

Die deskundiges verskil natuurlik nog steeds oor presies hoe gevaarlik asbes is en of enige vlak van blootstelling veilig is. Miskien sal hulle aanhou om daaroor te verskil, en driftig statistiek en studies na mekaar slinger, tot die dag wanneer die mens uiteindelik ophou om “die aarde te verderf” en sy hulpbronne te misbruik (Openbaring 11:18). Maar tot dan is dit miskien die verstandigste om liewer versigtig te wees.

[Prent op bladsy 12]

Tipiese asbesopset, met ontsmettingskamers. Van links na regs: 1. werksgebied; 2. toerustingkamer; 3. lugseël; 4. stort; 5. lugseël; 6. skoon kamer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel