Van ons lesers
Narkolepsie Ek is dertig jaar gelede as ’n narkolepsielyer gediagnoseer. My lewe lank verduur ek al die probleme wat ontstaan as ’n mens op die verkeerde tyd aan die slaap raak. Omdat ek by die Christelike vergaderinge aan die slaap raak, het ander tot die gevolgtrekking gekom dat ek nie veel waardering vir geestelike dinge het nie. Ek het al tevergeefs probeer om my situasie te verduidelik. Daarom bedank ek julle vir julle uitstekende artikel (8 April 1991) oor die eienaardige slaapsiekte.
R. N., Duitsland
Betoon eer aan bejaardes Dankie vir die artikels oor “Betoon jy eer aan bejaardes?” (22 Maart 1991). Ná 40 jaar van getroue diens aan God, het my ma, as gevolg van Alzheimer-siekte, voltydse verpleging nodig gekry. Die kalender wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, het baie gehelp, want al haar besoekers het hulle name by die datum van hulle besoek ingeskryf. Ek kon haar dus daaraan herinner dat ek nie haar enigste besoeker was nie, omdat daar name by meer as die helfte van die datums was! Sy het ook uitstekende sorg van die verpleeginrigting se personeel geniet, omdat hulle geweet het dat so baie in haar welstand belangstel. Dankie vir julle besorgdheid oor ons.
W. J. H., Verenigde State
My ma, wat in haar onderlyf verlam is, ly aan inkontinensie. Ons moet haar elke oggend was en die beddegoed omruil. Sy moet aangetrek en gevoer word, en sy het dikwels mediese behandeling nodig. My man en kinders ondersteun my goed, maar die verantwoordelikheid rus grotendeels op my. Ek voel met tye mismoedig en het altyd ’n gees van selfverloëning nodig. Dit was dus met groot vreugde dat ek julle artikels gelees het. Baie, baie dankie.
L. D., Italië
Voorbeeld vir broers en susters Julle artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ’n voorbeeld vir my jonger broers en susters wees?” (8 April 1991) het my diep geroer. As die oudste van drie kinders kan ek maar net wens dat ek daardie artikel gelees het toe ek jonk was. Ek het nou self twee kinders en ek voel verlig dat hulle sulke goeie raad sal hê om te volg.
L. K., Duitsland
Kinders oppas Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ’n goeie kinderoppasser wees?” (8 Maart 1991). Ek het dit in die pos ontvang terwyl ek my boetie van ses opgepas het. Terwyl ek dit gelees het, het ek vir hom gesê om sy speelgoed op te tel. Toe kom ek by die paragraaf wat sê dat die beloning van goeie gedrag beter resultate kan lewer as ’n stortvloed van dreigemente. Ek het dit probeer, en dit het gewerk! Ek het ook die deel waardeer wat sê dat dit nie goed is om ’n kind onnosel of ’n stommerik te noem nie. Ek het hóm onnosel genoem, en nou besef ek dat ék onnosel was.
A. L., Verenigde State
Asbes As ’n opgeleide asbesskemawerker wil ek sê hoeveel ek julle gebalanseerde artikel “Die asbesverhaal” (22 Maart 1991) geniet het. As deel van my opleiding het ek lesings bygewoon wat deur kankerspesialiste gehou is. Een dokter het bevestig dat jou kanse om deur asbes aangetas te word baie groter is as jy rook. Soos gewoonlik is julle artikels juis en kragtig.
J. M., Verenigde State
Lupus My oom het vir my die artikel met Robin Kanstul se verhaal, “Hoe ek ondanks lupus die mas opkom” (8 Mei 1990), gestuur. Ek het die hele tydskrif gelees en dit geniet. Ek ly ook aan lupus, en dokters het my nie die helfte van die dinge vertel waarvan ek in die tydskrif gelees het nie. Dankie, Robin Kanstul, dat jy ons vertel het. Dankie, Ontwaak!, dat julle haar verhaal gepubliseer het. Ek weet nou dat ek nie alleen is nie en ek leer om met lupus saam te leef.
R. B., Verenigde State