’n Moordenaar word vasgevat
FARAO Ramses V van Egipte het sowat drieduisend jaar gelede gesterf. Niemand het presies geweet wat sy dood veroorsaak het nie, maar tot vandag toe dra sy gemummifiseerde lyk die kenmerkende tekens van ’n vreemde sluipmoordenaar. Hierdie einste wreedaard het ook sy verwoestende merk in eertydse Indië, China, Griekeland en feitlik elke ander land gelaat.
Hierdie moordenaar was so magtig dat hy die verloop van die geskiedenis verander het. Volgens een bron het hy selfs die magtige leër van Alexander die Grote ’n swaar slag toegedien in die benede-Indusvallei. Hy het ontdekkingsreisiger Cortés na Mexiko vergesel en het die inheemse bevolking in só ’n mate afgemaai dat hy feitlik gewaarborg het dat die veroweraar ’n maklike oorwinning sou hê. In 18de-eeuse Europa het dié moordenaar party jare die dood van tot 600 000 mense veroorsaak. Hulle was almal die slagoffers van ’n vyand wat hulle nie kon sien nie—’n klein, baksteenvormige virus, die pokkievirus.
Selfs in hedendaagse tye het die woord pokkies baie mense se harte met vrees vervul. In 1947 is meer as 6 miljoen inwoners van die stad New York byvoorbeeld ingeënt omdat 12 gevalle aangemeld is. Na raming het pokkies in 1967 nog die lewe van tweemiljoen mense geëis. Waarom is hierdie siekte so vreesaanjaend? Hou dit vandag nog ’n bedreiging in?
’n Moordenaar wat gevrees moet word
Die enigste blootstelling wat die meeste van ons aan die siekte het, is wanneer ons die kenmerkende littekens aan ’n vreemdeling se gemerkte gesig sien wat daarvan getuig dat hy ’n aanval van hierdie doder oorleef het. Maar baie het dit nie oorleef nie. In sommige plekke het tot 1 uit elke 2 besmette persone gesterf.
Nogtans was die aaklige simptome vir baie mense net so vreesaanjaend as die hoë sterftesyfer. Gewoonlik het die virus binne twee weke nadat ’n persoon dit opgedoen het sodanig vermenigvuldig dat dit ernstige probleme begin veroorsaak het. Uiters hoë koors, hoofpyn en kouekoors het begin, en kort daarna het spierkrampe en steekpyne in die ruggraat gevolg. ’n Paar dae later het klein, rooi kolletjies verskyn, eers op die gesig, dan op die arms, bors, rug en laastens op die bene. Hulle het vinnig vergroot en ettergevulde blase, of etterpuisies, geword wat die lyer ’n vreesaanjaende voorkoms gegee het. Indien die liggaam se lewensorgane aangetas is, was dit selfs ernstiger. As die liggaam se immuunstelsel nie genoeg weerstand kon bied nie, sou een of meer van hierdie organe ingee, wat tot die pasiënt se dood gelei het.
Hoewel pokkies nie as hoogs aansteeklik beskou is nie, het sy vermoë om ’n aansienlike tydperk buite die menslike draer te bestaan, beteken dat dit maklik versprei kon word na dié wat in noue kontak met die lyer was of na ander wat met besmette beddegoed en klere gewerk het. Die gevaarlike virus, wat uit die oopgebarste blase van sy vorige slagoffer gekom het, het aan stofdeeltjies of waterdruppeltjies vasgekleef en kon maklik in die keel of asemhalingskanaal van nog ’n slagoffer beland en sy besmetlike siklus van voor af begin.
Daar was geen bekende chemikalie of geneesmiddel wat die verspreiding van pokkies kon stuit nie—en daar is steeds nie een nie. Dokters en verpleegsters het bloot probeer om die pasiënt so gemaklik as moontlik te maak en medisyne toegedien om die gevaar te verminder dat die siekte versprei. Die enigste hoop op genesing was die wonderlik ontwerpte immuunstelsel in die menslike liggaam. En dit was waar een van die grootste ontdekkings van hedendaagse geneeskunde gemaak is, wat gevolglik die wapen voorsien het om hierdie genadelose doder aan bande te lê.
’n Wapen om die doder te vernietig
“Toekomstige nasies sal net uit die geskiedenis weet dat die walglike pokkies bestaan het”, het Thomas Jefferson, die destydse president van die Verenigde State, in 1806 geskryf. Hy het geskryf om Edward Jenner, ’n Britse plattelandse dokter en natuurkenner, geluk te wens met sy ontdekking van ’n middel om pokkies uit te wis. Jenner se behandeling, wat later inenting genoem is, is basies dieselfde proses waarmee reisigers in hierdie eeu bekend geword het.
Eeue voor Jenner se navorsing was ’n ietwat soortgelyke behandelingsvorm vir pokkies alreeds in gebruik. Byvoorbeeld, in Bengale, Indië, was dit ’n gebruik onder die eertydse priesters van Sjitala Mata (die pokkiegodin) om besmette stof by mense wat pokkies in ’n ligter graad gehad het te kry en dit op ’n beheerde manier in gesonde mense in te ent. ’n Minder ernstige vorm van die siekte het dikwels uit hierdie primitiewe soort inenting ontstaan. Maar as die ontvanger se immuunstelsel die siekte eers oorwin het, sou die individu heeltemal immuun teen verdere aanvalle wees.
Ten spyte van die inherente gevare daaraan verbonde is hierdie behandelingsvorm in die tydperk voor Jenner in Europa in omloop gebring. In 1757, toe hy ’n seuntjie van agt was, het Jenner self pynlik bewus geword van hierdie gevare toe sy voogde, wat gretig was om hom teen die destyds algemene plaag te beskerm, hom na een van die “inenting-stalle” gestuur het wat algemeen was in daardie dae. Hy is met ’n tou vasgemaak om sy beweging te beperk en is, soos die ander pasiënte, op ’n eenvoudige strooimatras neergelê. Daar het hy, met slegs die primitiefste verpleegsorg, die pynlike gevolge van pokkies wat deur inenting veroorsaak is, ondervind.
Hoewel Jenner dit oorleef het, het hy eers na baie jare ten volle herstel. Hierdie ondervinding verduidelik in sekere mate sy latere ywer om ’n beter immuniseringstelsel te vind. Die geleentheid hiervoor het hom voorgedoen toe hy in plattelandse Sodbury, Engeland, as dokter begin praktiseer het. Hy is getref deur die waarheid van ’n ou plattelandse segswyse dat melkmeisies wat ’n siekte bekend as koeipokkies gehad het nooit pokkies sou kry nie. In 1796, na jare van gevallestudies, het hy sy bevindinge getoets deur ’n jong seun, James Phipps, doelbewus met die matige koeipokkievirus te besmet. Sy teorie was dat James met net minimale ongerief sou herstel en dan immuun teen die dodelike pokkies sou wees.
Nie almal was so oortuig soos Jenner nie. Plaaslike dorpsbewoners het gesê dat hy ’n verskriklike nuwe plaag sou begin of dat kinders wat hy behandel het die eienskappe van beeste sou kry. Jenner het die krisis deurstaan, en toe James sonder probleme herstel het en boonop heeltemal immuun teen pokkies was, het die plaaslike teenstand weggesterf. Navorsing het tot 1798 voortgeduur, toe Jenner sy bevindinge aan die wêreld bekend gemaak het. Sy teorie was bewys. Uiteindelik was daar ’n wapen om die doder te vernietig.
Gereed vir die nekslag
Ná Jenner se baanbrekerswerk het ander wetenskaplikes met die navorsing voortgegaan. Beter metodes om die entstof te produseer en toe te dien is ontwikkel, en dit het hierdie nuwe wapen nog doeltreffender gemaak. Maar ondanks die vooruitgang het die pokkievirus aangehou om sy slagoffers te eis. In 1966 nog is gevalle van pokkies in 44 lande aangemeld, en vreesaanjaende epidemies was algemeen in ontwikkelende lande.
Dit was later daardie selfde jaar, tydens die 19de Wêreldgesondheidsvergadering, dat die nasies finaal besluit het om saam positief op te tree om die doder hok te slaan en te vernietig. Sukses het afgehang van die feit dat die pokkievirus sou uitsterf as dit buite die menseliggaam is. Met ander woorde, mense was sy enigste draer. As dit voorkom kon word dat die virus van een mens na ’n ander oorgedra word, sou dit uitsterf. ’n Tienjaarplan om pokkies uit te roei is gevolglik van stapel gestuur. Dit het bestaan uit waarneming deur op die uitkyk te wees vir enige nuwe gevalle, en om die publiek aan te spoor om enige gevalle aan te meld, sowel as massa-inenting om die skurk in bedwang te hou sodat hy nie kan versprei nie.
Bemoedigende resultate is byna onmiddellik selfs in lande met beperkte gesondheidsorgfasiliteite behaal. Byvoorbeeld, toe toerusting, raadgewers en entstowwe beskikbaar gestel is, kon 20 lande in Wes- en Sentraal-Afrika die siekte in net drie en ’n half jaar uitroei. Asië, wat aangespoor is deur die sukses in Afrika, het sy pogings om die virus uit te roei verskerp. Teen 16 Oktober 1975 is die laaste geval wat spontaan voorgekom het in Bangla Desj geïsoleer.
Maar dit was nog nie die einde nie, want in 1976 is een van die twee matiger vorms van die virus steeds in Somalië aangemeld. ’n Stryd van 13 maande het gevolg; gesondheidsbeamptes het die booswig gejag en beperk totdat hulle hom uiteindelik, in Oktober 1977, vasgekeer het. Sy laaste slagoffer was ’n boorling genaamd Ali Maow Maalin. Toe Ali herstel het, was die laaste geval van pokkies wat spontaan voorgekom het verby. Oplaas, ná byna 200 jaar, is Jenner se droom bewaarheid. “Die uitwissing van pokkies—die afgryslikste plaag van die menseras”—is volbring.
Kan dit weer toeslaan?
In 1980 is die wêreld amptelik vry van pokkies verklaar. Verpligte inenting het opgehou, en ’n nuwe geslag groei op sonder dat dit nodig is dat hulle teen die virus beskerm moet word. Maar wat sal gebeur as die doder na so ’n ongeënte bevolking terugkeer? Vrees dat dit hele vastelande kan afmaai, beweeg ons om te vra of so ’n herverskyning moontlik is.
“Daar is twee moontlikhede”, het ’n viroloog aan Kalkutta se Skool vir Tropiese Geneeskunde verduidelik. “Een is deur laboratoriumuitlekking; die ander een is menslike kwaadwilligheid.”
Die werklikheid van die eerste van hierdie bedreigings is in 1978 gedemonstreer toe pokkies weer vlugtig in Birmingham, Engeland, kop uitgesteek en heelwat opspraak verwek het. ’n Fotograaf, wat op die vloer bokant ’n laboratorium gewerk het waar die virus vir navorsing gehou is, het die siekte opgedoen en later daaraan gesterf, maar eers nadat haar bejaarde moeder besmet is. Gelukkig het vinnige optrede deur die Britse owerheid weer eens die virus vasgekeer en verdere ongevalle voorkom. Om die waarskynlikheid van verdere voorvalle soos hierdie te verminder, is pokkies nou tot net twee streng bewaakte navorsingsinstitute beperk, een in Atlanta, Georgia, VSA, en die ander een in Moskou, USSR.
‘Maar’, vra jy dalk, ‘waarom word hierdie moordenaar nie tereggestel om sulke risiko’s te voorkom nie?’ Vrees vir menslike kwaadwilligheid is die antwoord. So afgryslik soos dit dalk klink, is daar altyd die moontlikheid dat pokkies vir biologiese oorlogvoering gebruik kan word. Die geskiedenis toon dat die mens tot so iets in staat is. Ter bevordering van hulle planne om hulle gedurende die 17de eeu in Noord-Amerika te vestig, het sekere inwoners doelbewus die siekte onder die plaaslike Indiane versprei. Baie is optimisties en meen dat ons verby daardie stadium gevorder het en dat die kanse op so ’n ‘pokkieoorlog’ skraal is. Ons kan net hoop dat dit die geval is. Ons kan ook net hoop dat pokkies werklik uitgewis is en dat dit nie om die een of ander tans onbekende rede weer in die toekoms sal kop uitsteek nie.
Weens dr. Jenner se ontdekking het die mens vir die eerste keer in die geskiedenis hopelik daarin geslaag om een van sy dodelike virusvyande uit die weg te ruim. Die mediese wetenskap, wat nou toegerus is met gesofistikeerde instrumente en begrip wat ver verhewe bo dié van Jenner is, strewe na oorwinnings oor ander aansteeklike siektes. Sal dit seëvier? Wetenskaplikes erken dat die uiteindelike doelwit, ten spyte van groot vooruitgang, nog net so ver soos altyd lyk. Dit is duidelik dat wysheid bo dié van die mens nodig sal wees om ’n wêreld teweeg te bring waar “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.”—Jesaja 33:24.
[Prente op bladsy 23]
Immunisering teen pokkies het met die werk van dr. Edward Jenner begin
[Erkenning]
WHO photo by J. Abcede
[Foto-erkenning op bladsy 21]
WHO photo