“Donker winter”
STEL jou die volgende scenario voor. Terroriste stel in die stilligheid die pokkiesvirus in drie winkelsentrums in die Verenigde State vry. Die virus besmet niksvermoedende winkelbesoekers. Kort voor lank—ná net meer as ’n week—herken dokters die siekte in 20 mense. In die daaropvolgende dae versprei die virus na ander. Paniek heers. Daar is oproere. Die gesondheidsorgstelsel word oorweldig. Grense word gesluit. Die ekonomie wankel. Een-en-twintig dae nadat die virus vrygestel is, het die siekte na 25 state en 10 ander lande versprei. Teen dié tyd is 16 000 mense al besmet en het 1 000 gesterf. Dokters skat dat die aantal besmette mense ná nog drie weke tot 300 000 sal styg. ’n Derde van hulle sal sterf.
Dit is nie die storie van ’n wetenskapfiksierolprent nie. Dit was ’n rekenaarsimulasie en het getoon wat waarskynlik sou gebeur as so ’n siekte sou uitbreek. Die simulasie is in Junie 2001 deur ’n groep vooraanstaande dinksentrums gedoen. Dit is “Donker winter” genoem.
“Donker winter” het ná die geweld van 11 September 2001 vir baie ’n nuwe en onheilspellende betekenis aangeneem. Die aanvalle op die World Trade Center in die stad New York en op die Pentagon in Washington, DC, het op dramatiese wyse getoon dat daar genadelose en haatdraende mense is wat daarop uit is om menselewe op groot skaal uit te wis. Die aanvalle het ook bewys dat die Verenigde State en, by uitbreiding, elke ander nasie vir sulke aanvalle kwesbaar is. Ons lewe in ’n wêreld waar vasbeslote terroriste in ’n oomblik duisende mense kan doodmaak.
Kort ná die aanvalle van 11 September het Amerikaanse politici en werknemers van die nuusmedia die skyf geword van briewe wat antraks, ’n dodelike bakterie, bevat. Mense was beangs. Hierdie angs is aangestook deur die media sowel as deskundiges wat gegis het oor die moontlikheid dat terroriste met dodeliker siekteverwekkers as antraks—byvoorbeeld pes of pokkies—sal aanval. Miskien was sekere “skurkstate” reeds besig om sulke stowwe op groot skaal in geheime laboratoriums te vervaardig. Kyk na ’n paar voorbeelde van wat onlangs geskryf is:
“Die Wêreld- Mediese Vereniging erken die toenemende gevaar dat biologiese wapens gebruik kan word om verwoestende epidemies te veroorsaak wat oor die hele wêreld kan versprei. Alle lande verkeer in gevaar. As organismes soos pokkies, pes en antraks vrygestel word, kan dit rampspoedig wees weens die gevolglike siektes en sterftes wat vererger word deur die paniek wat met die uitbreek van sulke siektes sal ontstaan.”—Amerikaanse Mediese Vereniging.
“In teenstelling met bomme en senuweegasse is biologiese wapens subtiel: die ontkiemingstyd van die siekte laat die rampspoed stadig en ongemerk toeneem. Aan die begin beland net ’n paar mense in hospitale. Hulle simptome slaan dokters dalk dronk of is miskien soortgelyk aan dié van algemener siektes. Teen die tyd dat gesondheidsorgwerkers besef wat aan die gang is, kan hele stede besmet wees.”—Die tydskrif Scientific American.
“As die pokkiesvirus vandag vrygestel word, sal die grootste deel van die wêreldbevolking weerloos wees, en aangesien die virus in 30 persent van die gevalle noodlottig is, kan byna tweemiljard mense sterf.”—Die tydskrif Foreign Affairs.
‘Alle lande verkeer in gevaar. Hele stede kan besmet wees. Tweemiljard mense kan sterf.’ Dit is onrusbarende stellings. Maar hoe waarskynlik is dit dat ’n rampspoedige biologiese aanval gedoen sal word? Deskundiges skenk aandag aan hierdie vraag. Die volgende artikel sal jou help om van die betrokke kwessies te verstaan.
[Prent op bladsy 4]
Militêre personeel reageer op ’n gesimuleerde biologiese aanval
[Erkenning]
DoD photo by Cpl. Branden P. O’Brien, U.S. Marine Corps