Die Bybelse beskouing
Vergoelik die Bybel die hantering van slange?
IN KLEIN kerkies vergader die gelowiges. Hulle speel op elektriese ghitare en sing gospel-musiek. Hulle doen gebede om genesings. Hulle luister na eenvoudige preke en babbel ekstaties in wat volgens hulle die “nuwe tale” is. In al hierdie dinge verskil hulle nie veel van enige van die Pinkster- of charismatiese groepe in die Christendom nie. Dan haal hulle die gif, die vuur en die slange uit.
Die gif is gewoonlik strignien wat in water opgelos is. Die vuur kan ’n vlammende, paraffien-deurweekte lap of ’n asetileenfakkel wees en die slange kan ratelslange of koperkoppe wees wat algemeen in die Appalachiese Gebergte van die Verenigde State voorkom, waar hierdie groepe die bekendste is. Wanneer hulle deur “die gees” geroepe voel om dit te doen, drink hulle die gif en hou hulle hul hande in die vuur. Hulle hanteer dalk ook die slange, en drapeer hulle oor hulle arms en skouers, hou hulle teen hulle liggame vas en gee hulle vir mekaar aan. Waarom?
“Ek hanteer slange omdat dit in die Bybel is, soos ’n gebod”, sê Dewey, die leier van ’n klein kerkie in Wes-Virginië.a Dewey beweer dat hy 106 keer gepik is, en hy het littekens om dit te bewys. Beveel die Bybel werklik dat ons sulke dinge moet doen?
“Jy mag die Here jou God nie versoek nie”
“Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde”, sê die Bybel in 1 Johannes 4:8. Sal ’n God van liefde vereis dat sy aanbidders hulleself onnodige pyn aandoen? “Dit is seer wanneer ’n slang jou pik”, sê Dewey. “Dit is ’n pyn wat omtrent 100 keer erger as ’n tandpyn is . . . Dit voel asof jy aan die brand is.” Hoewel die meeste slagoffers van slangbyte dit oorleef, is daar baie sterfgevalle opgeteken, onder andere die dood van Dewey se suster in 1961.
Christene was natuurlik nog altyd gereed om vir hulle geloof te sterf, maar hulle dood is gewoonlik deur ander veroorsaak omdat hulle geweier het om Bybelbeginsels prys te gee. Aan die ander kant, toe Satan Jesus Christus versoek het om sy lewe onnodig en met opset in gevaar te stel deur van die dak van Jerusalem se tempel af te spring, het Jesus vir hom gesê: “Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie” (Mattheüs 4:7). Beteken dit nie dat ’n mens God versoek, of hom onbeskaamd uitdaag as jy met slange, vuur of gif speel nie? Toon so ’n toets nie ’n groot gebrek aan geloof aan die kant van die aanbidder nie, ’n poging om God te dwing om te bewys dat hy sy Woord sal hou deur skouspelagtige dade te verrig?
Wat vereis die Skrif wel?
Lede van groepe wat slange hanteer, beweer dat hulle gebruike deur God se Woord vereis word en hulle haal Markus 16:17, 18 as bewys aan. Hierdie verse lui: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”
Ten eerste moet daar genoem word dat byna alle Bybelkenners saamstem dat hierdie verse nie oorspronklik ’n deel van Markus se Evangelie uitgemaak het nie. “Die twyfelagtige egtheid van verse 9-20 maak dit onverstandig om ’n leerstelling daarop te bou of ’n ondervinding daarop te baseer (veral v. 16-18)”, verduidelik bekende kommentator Charles Ryrie.
Diegene wat slange in hulle aanbidding hanteer, is egter dikwels nie beïndruk deur wat Bybelkenners van die egtheid van Markus 16:9-20 dink nie. Hierdie verse kom in die King James-Bybel voor, die enigste Bybel wat deur die meeste van hulle vertrou word, en vir hulle is dit die einde van die saak.
Maar al was hierdie verse eg, beveel dit nie dat slange gehanteer of gif gedrink moet word nie, en dit sê niks van vuur nie. Dit kan derhalwe nie as ’n vereiste vir aanbidding beskou word nie. Trouens, die apostel Paulus het op die eiland Malta ’n ondervinding met ’n slang gehad, maar dit was net toevallig omdat die slang in ’n klomp droë hout was wat hy op die vuur gesit het. Hoewel die slang Paulus gepik het en hy deur God teen die kwaad beskerm is, het hy nie die slang van die een na die ander omgestuur om vas te hou nie. Pleks daarvan het hy “die slang in die vuur afgeskud.” Anders as die brandende pyn wat hedendaagse hanteerders van slange voel, het hy “niks oorgekom nie”.—Handelinge 28:3-6, NAV.
’n Toets van geloof?
Volgens The Encyclopaedia of American Religions is die hantering van slange ’n betreklik onlangse verskynsel. “In 1909”, sê dit, “het George Went Hensley, ’n jong inwoner van die landelike Grasshopper Valley, Tennesee, oortuig geraak dat die verwysings na slange en gif in Markus 16:17-18 in werklikheid ’n bevel was. Hy het ’n ratelslang gevang en ’n paar dae later het hy die slang by Sale Creek daar naby in die middel van ’n diens uitgehaal sodat die deelnemers dit as ’n toets van hulle geloof kon hanteer.” Maar daar is geen bewys, skriftuurlik of geskiedkundig, dat die vroeë Christene enige sulke ‘toetse van hulle geloof’ nodig gehad het nie.
Dink boonop hieroor na: Paulus is deur God gebruik om die dode op te wek; tog het hy redelike voorsorgmaatreëls getref aangaande sy eie gesondheid en die gesondheid van sy metgeselle (1 Timotheüs 5:23; 2 Timotheüs 4:13). Paulus het nie geleenthede probeer skep om mense op te wek nie.
Christene word eerder vermaan om ‘hulle liggame te stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is hulle redelike godsdiens’, as om liggame te hê wat aan pyn onderwerp is of wat die littekens van slangbyte dra (Romeine 12:1). Pleks van te vereis dat Christene hulle geloof deur roekelose dade toets, is die apostel se redelike raad: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5). Toets jou oortuigings aan die hand van God se Woord. Eerlike selfondersoek, terwyl jy jou oortuigings met die Skrif vergelyk, sal jou help om vas te stel of jou geloof die allerbelangrikste toets van God se goedkeuring sal deurstaan.
[Voetnoot]
a Die tydskrif People van 1 Mei 1989.