Algemene mites oor slange
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË
Die slymerige kobra het na die meisie toe geseil, gelok deur die geur van die jasmynblomme in haar hare. Sy lang lyf het ’n golwende beweging gemaak. Sy het iets soos ’n helder edelsteen op sy voorkop sien skitter terwyl hy haar met sy hipnotiese blik laat versteen het. Skielik het hy hom deur die lug gewerp en sy giftande in haar arm geslaan.
FEIT of mite? Die hele toneel wat hierbo beskryf is, is vals en gebaseer op algemene misvattings. Beskou ’n paar van hierdie mites.
1. Jasmyn, sandelhout en ander reuke lok slange. VALS. Die reuk lok insekte, die insekte lok paddas en die paddas, wat deel van die slang se dieet uitmaak, lok slange.
2. Slange beweeg voort deur middel van vertikale golfbewegings van hulle liggaam. VALS. Hierdie indruk word geskep wanneer slange oor groot klippe beweeg. Die normale beweging van kobras en ander landslange is horisontaal, in ’n reguit lyn. Hulle strek die voorste deel van hulle liggaam vorentoe en trek dan die agterste deel nader of hulle druk sywaarts en vorentoe met behulp van enige uitsteeksels op die grond, wat die beweging soos die letter S laat lyk.
3. Sommige slange het ’n edelsteen in hulle kop. VALS. Dit, sowel as die mening dat vername manne in eertydse Indië deur kobras beskerm is, is ’n mite.
4. Kobras hipnotiseer hulle prooi. VALS. Die slang sal gewoonlik stip staar wanneer hy bang is, daarom lyk dit vir mense wanneer hulle op ’n slang afkom asof hy stip en op hipnotiese wyse na hulle staar. Maar slange gebruik dit nie as ’n manier om prooi te vang nie.
5. Kobras werp hulle op hulle prooi. VALS. Die kobra gooi die voorste deel van sy liggaam vorentoe wanneer hy sy prooi aanval, maar die grootste deel van sy liggaam bly op die grond om hom te anker. Hoogstens een derde van sy liggaam is opgelig en skiet vorentoe om aan te val.
6. Slange se vel, ook kobras s’n, is slymerig en altyd koud. VALS. Slange se vel, met die skubbe wat mekaar oorvleuel, is droog en voel soos sagte leer. Slange is koudbloedig; hulle liggaamstemperatuur reageer op temperatuurveranderinge van die omgewing.
7. Kobras is doof. VALS. Dit is ’n misvatting onder baie mense. Hulle dink dat ’n slang net kan hoor deur middel van vibrasies wat deur die grond na sy liggaam oorgedra word. In Psalm 58:5, 6 gee die Bybel tereg te kenne dat kobras nie doof is nie. Onlangse navorsing het getoon dat kobras klanke kan hoor wat deur die lug gedra word en dat hulle op die musiek van die slangbesweerder reageer.—Sien ook die Ontwaak! van 22 Julie 1993, bladsy 31.
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Boonste slang: Animals/Jim Harter/Dover Publications, Inc.