Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 4/22 bl. 6-11
  • Hulp vir die kinders van geskeide ouers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulp vir die kinders van geskeide ouers
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ouers—die deurslaggewende rol
  • Gebruik die tyd goed
  • Die verdeelde kind
  • Kan ander help?
  • Wanneer die gesin sal herstel
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Vier dinge wat jy omtrent egskeiding moet weet
    Ontwaak!—2010
  • Hoe egskeiding kinders raak
    Hulp vir die gesin
  • ’n Huis in twee geskeur—Die uitwerking van egskeiding op adolessente
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 4/22 bl. 6-11

Hulp vir die kinders van geskeide ouers

“Eenkeer, toe ek omtrent drie jaar oud was, het my pa my kom haal om vir hom te gaan kuier. Hy het my uitgeneem en vir my ’n pop gekoop met ’n pragtige rooi rokkie, en my daarna huis toe geneem. Ons het ’n rukkie saam in die motor gesit. Maar toe my ma uitkom om my te kom haal, het sy en my pa op mekaar begin skreeu en deur die motor se venster begin stry—terwyl ek in die middel gesit het.

“Skielik het my pa die deur oopgegooi en my uit die kar gestamp. Hy het met skreeuende bande weggetrek en weggery. Ek het nie geweet wat aan die gang was nie. My ma wou my nie eers toelaat om my nuwe pop uit die pakkie te haal nie. Ek het dit nooit weer daarna gesien nie. En ek het my pa nie weer gesien tot ek 19 jaar oud was nie.”—Heidi.

“DIE tyd is die beste heelmeester”, lui ’n ou gesegde. Is dit werklik waar? Of word kinders onherstelbaar seergemaak deur egskeiding?

Volgens The Journal of Social Issues hang dit baie daarvan af wat ná die egskeiding gebeur. Dit sê: “Die gesinsverhoudinge wat ná die egskeiding ontstaan, het net so ’n groot of selfs groter uitwerking op die kinders as die egskeiding self.”

In Heidi se geval was haar ouers se egskeiding net die begin van haar probleme. Soos wat dikwels gebeur, het haar moeder se tweede huwelik nie baie beter as die eerste een gevaar nie, en die een daarna ook nie. Heidi se kinderjare was ’n onbestendige, holderstebolder lewe wat gewissel het van rusies waartydens haar ouers op mekaar geskreeu en borde na mekaar gegooi het tot eensame somerdae in ’n leë woonstel terwyl sy beangs gewonder het wanneer—en of—haar ma huis toe sal kom.

Daar is baie wat ouers kan doen om hulle kinders so ’n onstuimige nadraai van ’n egskeiding te spaar. Egskeiding beëindig per slot van rekening die huwelik, nie ouerskap nie.

Ouers—die deurslaggewende rol

“Die gesamentlike daad van bevrugting gee kinders die reg om beide ’n moeder en ’n vader te hê”, het twee sielkundiges in Psychology Today geskryf. Daardie woorde sal dalk vir jou vanselfsprekend klink. Tog ontneem egskeiding ’n kind in sekere opsigte met een wrede slag van beide ouers.

Neem byvoorbeeld die Verenigde State wat volgens statistiek die egskeidingshoofstad van die wêreld genoem kan word. Daar woon oor die 90 persent van die kinders van geskeide ouers by die moeder, en hulle verhouding met die vader is beperk tot besoeke. Meer as die helfte van daardie kinders sien hulle vaders minder as een keer per jaar! En die tyd wat die moeder saam met haar kinders deurbring, verminder ook drasties ná die egskeiding, met tot 21 uur per week, volgens een studie.

As daar iets is waaroor deskundiges saamstem, dan is dit dat kinders ná die egskeiding waarskynlik beter aanpassings in hulle lewe maak as hulle steeds ’n positiewe en bestendige verhouding met beide ouers het. As dit nie moontlik is nie, help ’n goeie verhouding met ten minste een ouer steeds om die skok van egskeiding te verminder. Maar hoe kan ouers ná die egskeiding sulke hegtheid met hulle kinders behou?

Gebruik die tyd goed

As jy ’n geskeide moeder is, is jou moeilikste uitdaging dalk om hegtheid met jou kinders te behou. Alte dikwels kan jy gebrandmerk word met wat sommige gemeenskappe as ’n dubbele stigma beskou: egskeiding en armoede. Omdat jy onvoorbereid in die arbeidsmark gestoot is en jou afsloof om te vergoed vir onbetroubare of te min onderhoudsgeld van ’n gewese huweliksmaat, kan jy voel dat jy min tyd vir jou kinders oor het.

Die antwoord: vasbeslotenheid en ’n rooster. Koop elke bietjie tyd wat jy kan uit, en beplan saam met jou kind wat julle saam gedurende daardie tyd sal doen. Selfs ’n bietjie tyd elke dag waartydens jou aandag onverdeeld is, is baie beter as geen tyd nie. As julle vooruit beplan vir ’n spesiale uitstappie saam sal dit jou kind ook iets gee om na uit te sien.

Dan is daar jou kind se dringende behoefte aan geestelike leiding, dissipline en opleiding. Dit is dalk moeilik om vasgestelde tye vir hierdie doel opsy te sit. Die Bybel raai ons dus aan: “Jy moet [God se wette in] jou [kind] inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:7.

Is julle ooit saam “op pad”, miskien wanneer julle in die motor ry of van openbare vervoer gebruik maak? Wat neem jou aandag in beslag—jou kind of ’n koerant of die motorradio? Is die televisie so oorverdowend wanneer julle saam eet dat enige gesprek onmoontlik is, of is die etenstyd ’n tyd wanneer die gesin rustig gesels? Is daar huishoudelike takies wat jy saam met jou kind kan doen, soos om ’n ete voor te berei of die wasgoed te was?

Dit beteken natuurlik nie dat jy hierdie geleenthede moet aangryp om vir jou kind te preek nie. Net deur by jou kind te wees en hartlik en openlik te gesels, sal jy uiteraard sommige van jou waardes oordra. Tye soos hierdie kan ook die ideale geleentheid vir jou wees om jou kinders die versekering te gee wat hulle juis dan so bitter nodig het. Sommige kinders voel in die stilligheid dat hulle verantwoordelik is vir die ontbinding van hulle ouers se huwelik. Ander voel dat die ouer wat die huis verlaat het hulle verwerp het. As jy hulle gereeld van jou liefde verseker, hulle vir hulle goeie eienskappe en prestasies prys en hulle veilig genoeg laat voel om eerlik te sê wat hulle dink, sal jy baie doen om die skok van die egskeiding te verminder.

Sommige ouers verslap dissipline ná ’n egskeiding, dikwels as gevolg van ’n skuldgevoel. ‘My kind het in die laaste tyd swaar genoeg gekry’, meen hulle dalk. Maar om jou kinders vrye teuels te gee om te doen wat hulle wil, bewys nie liefde teenoor hulle nie. Die leier van ’n program vir adolessente en kinders by ’n psigiatriese hospitaal het aan The Washingtonian gesê: “Kinders sê gedurig vir my: ‘My ouers laat my toe om enigiets te doen. Hulle gee nie vir my om nie.’” Die Bybel sê: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf.”—Spreuke 13:24, NAV.

Die verdeelde kind

Toe een seuntjie by ’n egskeidingskliniek gevra is om prentjies te teken, het hy homself geteken as die voorwerp van ’n toutrekkery tussen sy bakleiende ouers; hy word uitmekaar geskeur en die bloed stroom uit hom uit. Dit is hoe sommige kinders van geskeide ouers voel. Hoewel die kind albei ouers liefhet, wil geeneen van die ouers dalk hê dat die kind die ander ouer moet liefhê nie.

In die verbittering en bitsigheid wat so dikwels met egskeiding gepaard gaan, is dit baie moeilik vir ouers om nie hulle kinders by die stryd te betrek nie. Wallerstein en Kelly het berig dat twee derdes van die ouers in hulle studie openlik met mekaar meeding om die liefde en trou van hulle kinders te wen. Dr. Bienenfeld waarsku ouers dat ’n kind wat verdeeld voel tussen sy ouers selfhaat en skuldgevoelens kan ontwikkel en dat “sy of haar kanse op geluk, vervulling en sukses minder is”.

Die Bybel raai ons wyslik aan: “Julle vaders [of moeders], moenie julle kinders aanpor om wrokkig te word nie, maar gee hulle die onderrig, en die tugtiging wat by ’n Christelike opvoeding hoort” (Efesiërs 6:4, The New English Bible). Dit is duidelik dat om jou kind aan te por om ’n wrok teen die ander ouer te koester geen plek in ’n Christelike opvoeding het nie.

Elke kind het twee ouers. Die dood kan dit verander, maar egskeiding verander dit nie. En tensy die hof die ander ouer se kontak met die kinders beperk (of as die ander ouer sy of haar verantwoordelikheid moedswillig ontduik), sal jy dalk met jou gewese maat moet saamwerk om die kinders groot te maak.

Jy het weliswaar dalk gegronde rede om teenoor jou gewese huweliksmaat verbitterd te wees. Maar as jy jou kinders gebruik om hom of haar te straf, is dit in werklikheid jou kinders wat ly. Dr. Bienenfeld sê dat as jy eerlik teenoor jouself erken dat jy dalk ook ’n aandeel in julle huweliksprobleme gehad het, dit jou kan help om nie so verbitterd te wees nie. Die tydskrif Parents vertel van een vrou wat probeer het om ten behoewe van haar gewese man te bid elke keer wanneer sy negatiewe gedagtes oor hom begin dink het. Sy het gevind dat hierdie taktiek haar ’n gevoel van behaaglikheid en beheersing gegee het wat heeltemal nuut vir haar was, en haar gehelp het om nie ‘permanent in ’n gevegsposisie gevries te wees’ nie.—Vergelyk Mattheüs 5:43-45.

Kan ander help?

Sielkundiges Julius en Zelda Segal skryf in die tydskrif Parents dat “kinders in gebroke gesinne versterk word as party dinge ten minste dieselfde bly” ná die storm van ’n egskeiding. Ongelukkig, sê hierdie sielkundiges, “is bure en vriende geneig om op ’n afstand te bly, en sommige grootouers doen dit ook omdat hulle te besig is om in die ouerlike konflik kant te kies”.

Ja, egskeiding is veral ’n wrede ondervinding vir kinders wanneer ander familielede ook uit hulle lewe verdwyn. Dit vererger hulle gevoelens van verwerping. As jy dus ’n tannie, ’n oom of ’n grootouer van enige kinders van geskeide ouers is, moet jy jou daarop toelê om hulle die gerusstelling te gee wat hulle dan so bitter nodig het, pleks van by hulle ouers se huweliksrusies betrokke te raak. Soms kan niemand ’n kind se beswaarde gemoed beter verlig as ’n liefdevolle grootouer nie.

Heidi, wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is, het nie sulke ondersteuning ontvang nie. Tog is haar verhaal ’n suksesverhaal. Vandag, op 26, is sy ’n gelukkig getroude jong vrou, openhartig en vlytig. Wat het tot haar sukses bygedra?

Kortom: vriendskappe. As tiener het Heidi die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. By die Koninkryksaal waar sy vergaderinge bygewoon het, het sy ware vriende gevind. “Ek het gedink dat my situasie taamlik hopeloos was”, onthou sy. “Maar dit help om mense te hê met wie jy kan praat. Ek het een vriendin gehad vir wie ek alles kon vertel. Sy het altyd geweet wanneer daar iets verkeerd was, en dan het ek haar altyd alles vertel. Sy was ’n soort moederfiguur. Maar daar was ook ander saam met wie ek dinge kon doen.” Heidi het die waarheid van Jesus se belofte ondervind dat die Christengemeente ’n groot gesin kan voorsien vir diegene wat hulle eie gesin verloor het.—Markus 10:29, 30.

Maar Heidi het nie die inisiatief geneem om hierdie vriende te maak nie. “Hulle het my opgesoek”, sê sy. En dit is iets wat kinders van geskeide ouers in die Christengemeente algemeen ervaar. ’n Jong vrou genaamd Meg onthou byvoorbeeld vol liefde ’n egpaar wat met haar vriende gemaak het toe haar ouers uitmekaar gegaan het: “Hulle het net geweet wanneer ek hulle nodig gehad het, en hulle was altyd daar. Jy wil nie sê: ‘Kyk, ek het julle nodig. Ek wil hê dat julle my nou moet liefhê’ nie.”

Wat van jou? Kan jy soos ’n broer, ’n suster, ’n moeder, ’n vader of ’n grootouer vir ’n kind van geskeide ouers wees? Die kind sal jou waarskynlik nie vra nie, maar dit beteken nie dat hy of sy jou nie nodig het nie.

Jy sal natuurlik nooit al die funksies van ’n onverbrokkelde gesin kan vervang nie. Maar jy kan ’n vriend, ’n goeie, simpatieke luisteraar wees. Jy kan die jongmens ook help om ’n beter verhouding met ons Skepper op te bou—die ware “Vader van die wese” en die beste Vriend wat enigeen kan begeer.—Psalm 68:6.

Is daar egter enige hoop dat daar ’n tyd sal aanbreek wanneer egskeidingsyfers sal daal, ’n tyd wanneer kinders seker sal wees dat hulle in ’n onverbrokkelde, gelukkige gesin sal grootword?

Wanneer die gesin sal herstel

As ons op die mensdom vir ’n oplossing moet vertrou, dan is die antwoord: Nee, daar is geen ware hoop vir die kinders nie. Die mensdom kan skaars begin om die hopeloos verdeelde mensdom in die wêreld te verenig, wat nog te sê van die tallose verdeelde gesinne waaruit dit bestaan. Soos Linda Bird Francke in Growing Up Divorced geskryf het: “Te veel gebeur te vinnig. Die howe misluk. Die skole misluk. Gesinne misluk. Niemand weet wat om van mekaar te verwag in hierdie dae van massa-egskeiding waar daar geen reëls, geen presedente is om te volg nie.”

Maar die mensdom se Skepper misluk nie. Hy verstaan ons verdeelde wêreld, en hy sien dat dit nie deur mense-“deskundiges” opgeknap hoef te word nie. Dit moet vervang word. En hy belowe om juis dit te doen. Hy belowe dat diegene wat sy wil doen die vernietiging van hierdie korrupte stelsel sal oorlewe en die herstel van ’n wêreldwye paradys sal sien (Lukas 23:43; 1 Johannes 2:17). Wanneer die mens dan onder God se heerskappy lewe, sal hy herstel van die sonde wat sy geaardheid beïnvloed. Die selfsug en onvolmaaktheid wat verdeeldheid, haat en onenigheid meebring, sal eindelik uitgewis word. Die mensdom sal herstel.—Openbaring 21:3, 4.

En egskeiding sal dan ’n deel wees van ’n verlede wat vervaag.

[Venster op bladsy 9]

Raad vir geskeide ouers

Moenie voor die kinders—oor die telefoon of van aangesig tot aangesig—met jou gewese huweliksmaat baklei nie.

Moenie jou gewese maat voor die kinders kritiseer nie. Wanneer jou kinders ’n afwesige ouer kritiseer, moet jy hulle nie aanmoedig of saampraat nie.

Moenie kinders dwing om tussen hulle ouers te kies nie, en moenie hulle teen jou gewese huweliksmaat laat draai nie.

Moenie toelaat dat kinders jou gesag ondermyn deur dreigemente om by die ander ouer te gaan bly nie. As jy sulke emosionele afpersing oorsien, sal dit hulle aanmoedig om manipulerend te word, en dit kan selfs hulle morele ontwikkeling belemmer.

Moenie kinders gebruik om op jou gewese huweliksmaat te spioeneer en dan ná elke besoek inligting uit hulle dwing nie.

Moenie kinders vra om driftige boodskappe van jou of vernederende pleidooie om geld aan jou gewese huweliksmaat oor te dra nie.

Moenie ’n kind afjak met opmerkings soos: “Jy’s net soos jou pa” nie. Dit klink nie net vir die kind soos kritiek op sy vader nie, maar dit kan die kind ook laat voel dat hy gedoem is om die foute van die ander ouer te herhaal.

Wees ’n goeie luisteraar en laat jou kinders uitdrukking gee aan hulle gevoelens—selfs gevoelens waarmee jy nie saamstem nie.

Kommunikeer duidelik, vryelik en openhartig. Beskerm hulle egter teen besonderhede wat hulle nie hoef te weet nie. Dit lyk dalk of jou seun of dogter die ideale vertroueling is. Maar onthou, ’n kind is nòg ’n miniatuurvolwassene, nòg ’n surrogaathuweliksmaat, hoe volwasse hy of sy ook dalk voorkom.

Stel jou kinders gerus en verseker hulle dat hulle nie die oorsaak van die egskeiding is nie, en dat hulle ook nie nou kan inspring en julle huwelik kan red nie.

Betoon oorvloedige, opregte en hartlike liefde. Kinders kan aanneem dat ouers wat kan ophou om mekaar lief te hê net so maklik kan ophou om hulle kinders lief te hê.

Werk saam met jou gewese huweliksmaat om die kinders teen julle argumente te beskerm.

Balanseer lof met dissipline, stel redelike perke en realistiese doelwitte.

Stel self die voorbeeld deur die onsedelike gedrag te vermy wat jy hulle leer om te vermy.

Bring soveel van jou vrye tyd moontlik saam met die kinders deur.

[Venster op bladsy 11]

Is jy ’n langafstandouer?

AS JY een is, kan jy vind dat dit baie maklik is om op die agtergrond te raak. Miskien voel jy ongemaklik om besoeke aan jou kinders te reël omdat dit voel asof jy jou gewese huweliksmaat toestemming vra om jou eie kinders te sien. Of miskien het jou kinders ’n nuwe stiefouer, en jy voel dat hulle jou nie meer nodig het nie.

Maar hulle het jou nodig. Die Bybel maan ons: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie” (Efesiërs 6:4). As jy uit jou kinders se lewe verdwyn, sal jy hulle nie net vertoorn nie, maar jy kan heel moontlik hulle eiewaarde ondermyn en veroorsaak dat hulle onbemind en onbeminlik voel. Selfs ’n beperkte verhouding met jou kinders is beter as hoegenaamd geen verhouding nie.

Dit lyk of dit eerder belangriker is hoe lank jy jou kinders besoek as hoe dikwels jy hulle besoek. Hoe langer die besoek, hoe groter is die moontlikheid dat jou kind onvergeetlike tye saam met jou sal deurbring. Miriam Galper Cohen, wat self ’n langafstandouer is, sê in haar boek oor die onderwerp dat hierdie besoeke nie buitengewone uitstappies hoef te wees nie. Soms is dit die tye wanneer hulle ’n rustige wandeling of ’n ete saam geniet wat die kosbaarste herinneringe skep.

Gereelde telefoonoproepe op vasgestelde tye hou jou en jou kind ook in noue aanraking met mekaar. Of jy kan op band ’n verhaal vir jou kind lees of oor jou eie kinderdae praat. Behalwe kassette en briewe, kan jy vir jou kind foto’s, sketse, spotprente of tydskrifartikels stuur wat vir jou snaaks of interessant was. Cohen stel ook voor dat jy uitvind watter boeke of televisieprogramme jou kind geniet, dat jy dit self lees of daarna kyk en dit dan met hom in ’n brief of oor die telefoon bespreek.

Soos Cohen sê: “Wat reëlings vir toesig oor kinders betref, is langafstandouerskap verkieslik bo die moontlikheid dat jy jou kinders nooit sal sien nie.” Tog is daar ongetwyfeld maniere om jou kind gereeld daarvan bewus te maak dat jy hom nog lief het en oor hom besorg is. Selfs jou kleinste daad van bedagsaamheid kan jou kind baie pyn spaar.

[Prent op bladsy 7]

Is daar bedrywighede waaraan jy saam met jou kind kan deelneem? Egskeiding beëindig die huwelik, nie ouerskap nie

[Prent op bladsy 10]

Weet jy van enige kinders van geskeide ouers wat ’n vriend nodig het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel