’n Huis in twee geskeur—Die uitwerking van egskeiding op adolessente
DIE deskundiges het gedink hulle het die antwoord. ‘Jy moet op jou geluk konsentreer’, was wat hulle ouers in ongelukkige huwelike aangeraai het, en dan het hulle vinnig bygevoeg: ‘Moenie jou oor die kinders bekommer nie. Hulle herstel vinnig. Dis makliker vir hulle om ’n egskeiding te verwerk as om saam met twee ouers te woon wat nie oor die weg kan kom nie!’
Maar sekere beraders wat vroeër die voordele van egskeiding besing het, sing nou ’n ander deuntjie. ‘Egskeiding is oorlog’, sê hulle nou. ‘Nie een van die partye kom sonder wonde daarvan af nie; ook nie die kinders nie.’
Die mite van ’n maklike egskeiding
Dit kon ’n treffersitkom op TV gewees het. Die storie? Die pa en ma skei. Die ma kry toesig oor die kinders en trou dan met ’n wewenaar wat ook kinders het. Week ná week kom hierdie aanmekaargelapte gesin voor die een penarie ná die ander te staan—wat elke keer binne net 30 minute opgelos word met geen gebrek aan gevatte sêgoed nie.
Dalk sal die bogenoemde situasie sorg vir vermaaklike TV-kykstof. Maar ’n werklike egskeiding is allesbehalwe ’n sitkom. Trouens, dit is ’n pynlike proses. “Egskeiding is ’n regsgeding”, skryf M. Gary Neuman in sy boek Emotional Infidelity. “Iemand maak ’n saak teen iemand anders. Die oomblik wat jy besluit om te skei, gee jy beheer oor jou kind prys. Jy gee ook beheer oor jou finansies prys, en moontlik selfs oor waar jy gaan woon. Dalk kan julle julle geskille deur bemiddeling oplos, of dalk nie. Uiteindelik kan ’n vreemdeling, ’n regter, die een wees wat vir jou sê hoe dikwels jy jou kind sal sien en hoeveel van jou geld jy sal behou. Ongelukkig dink daardie vreemdeling nie presies soos jy nie.”
Wanneer ’n egpaar skei, verruil hulle dikwels net een stel probleme vir ’n ander. Ja, alles van woonreëlings tot finansiële status kan verander—en waarskynlik nie ten goede nie. En dan is daar die uitwerking wat egskeiding op kinders het.
Egskeiding en adolessente
’n Egskeiding kan kinders verpletter, ongeag hulle ouderdom. Sommige beweer dat adolessente beter vaar. Hulle is immers meer volwasse, redeneer party, en is reeds besig om onafhanklik van hulle ouers te raak. Maar navorsers sien ’n ander sy van die saak. Hulle het gevind dat egskeiding, juis weens hierdie faktore, adolessente die hardste kan tref.a Dink aan die volgende:
◼ Terwyl adolessente hulle weg na volwassenheid probeer vind, is hulle baie onseker van hulleself, dalk selfs meer as toe hulle kinders was. Moenie om die bos gelei word deur hulle onafhanklike houding nie—adolessente het die anker van ’n stabiele gesin nodiger as ooit.
◼ Juis op die stadium van die lewe wanneer adolessente leer om volwasse vriendskappe aan te knoop, leer egskeiding hulle om skepties te wees oor waardes soos vertroue, lojaliteit en liefde. Later, as volwassenes, sal hulle dit moontlik heeltemal vermy om hegte verhoudings te hê.
◼ Hoewel dit vir kinders van alle ouderdomme normaal is om uiting te gee aan hulle pyn, is adolessente meer geneig om dit op gevaarlike maniere te doen, deur betrokke te raak by onder meer misdaad, alkohol- en dwelmmisbruik.
Dit beteken nie noodwendig dat adolessente wie se ouers skei, op emosionele of ander gebiede sal misluk nie. Hulle kan sukses behaal, veral as hulle ’n verhouding met albei ouers het.b Dit is egter naïef om te dink dat ’n egskeiding altyd, soos sommige sê, ‘beter vir die kinders’ sal wees of dat dit ’n einde aan alle spanning tussen huweliksmaats sal maak. Trouens, party vind dat hulle ná die egskeiding meer met hulle “ondraaglike” huweliksmaat te doen moet hê as voor die egskeiding en dat hulle baie sensitiewer geskille, soos finansiële steun of toesig oor die kinders, moet hanteer. In sulke gevalle maak egskeiding nie ’n einde aan gesinsprobleme nie; dit verskuif dit net na ’n ander arena.
’n Derde moontlikheid
Sê nou jy is in ’n ongelukkige huwelik en het dit al oorweeg om te skei? Hierdie artikel het dwingende redes voorsien om dit te heroorweeg. Egskeiding is nie ’n wonderkuur vir huweliksprobleme nie.
Maar moenie verkeerd verstaan nie: Die antwoord is nie bloot om ’n ongelukkige huwelik te verduur nie. Daar is ’n ander moontlikheid—As jou huwelik in die moeilikheid is, werk daaraan om dit te verbeter. Moenie hierdie gedagte oorhaastig verwerp deur te sê dat julle huweliksprobleme onoplosbaar is nie. Vra jou hierdie vrae af:
◼ ‘Watter eienskappe het my aanvanklik tot my huweliksmaat aangetrek? Is daardie eienskappe nie nog in ’n sekere mate daar nie?’—Spreuke 31:10, 29.
◼ ‘Kan die gevoelens wat ek voor ons troudag gehad het, weer aangewakker word?’—Hooglied 2:2; 4:7.
◼ ‘Wat kan ek doen om die wenke op bladsye 3 tot 9 van hierdie tydskrif toe te pas, ongeag hoe my maat optree?’—Romeine 12:18.
◼ ‘Kan ek aan my maat verduidelik (persoonlik of skriftelik) presies hoe ek wil hê ons verhouding moet verbeter?’—Job 10:1.
◼ ‘Kan ons ’n ryp vriend vra om ons te help om realistiese doelwitte te stel om ons huwelik te verbeter?’—Spreuke 27:17.
Die Bybel sê: “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Daardie beginsel is nie net van toepassing wanneer ’n mens ’n maat kies nie, maar ook wanneer jy moet besluit wat om te doen omtrent ’n wankelende huweliksverhouding. Ja, soos op bladsy 9 van hierdie tydskrif gemeld is, suksesvolle gesinne het ook probleme—die verskil is hoe hulle dit hanteer.
Ter toeligting: Sê nou jy pak ’n lang motorreis aan. Dit is onvermydelik dat jy op pad probleme sal teëkom, soos slegte weer, verkeersknope en padblokkades. Soms kan jy selfs verdwaal. Wat sal jy doen? Omdraai en terugry of ’n manier vind om die struikelblok te oorkom en jou reis voort te sit? Op julle troudag het julle ’n reis aangepak waarop julle gewis probleme sou teëkom, want die Bybel sê dat “diegene wat trou, pyn en hartseer sal hê” (1 Korintiërs 7:28, The New English Bible). Die vraag is nie of probleme sal opduik nie, maar hoe jy hulle sal hanteer wanneer hulle opduik. Kan jy ’n manier vind om die struikelblok te oorkom en voort te gaan? Sal jy hulp probeer kry, selfs as jy voel dat jou huwelik op die rotse is?—Jakobus 5:14.
’n Goddelike instelling
Die huwelik is ’n goddelike instelling wat nie ligtelik opgeneem moet word nie (Genesis 2:24). Wanneer dit lyk of probleme onoorkombaar is, moet jy die punte onthou wat in hierdie artikel bespreek is.
1. Probeer om die liefde wat jy vroeër gevoel het, weer aan te wakker.—Hooglied 8:6.
2. Besluit wat jy kan doen om jou huwelik te verbeter, en doen dit dan.—Jakobus 1:22.
3. Sê op ’n duidelike maar respekvolle manier vir jou maat—hetsy persoonlik of skriftelik—watter verbeterings jy voel in julle huwelik aangebring moet word.—Job 7:11.
4. Kry hulp. Jy hoef nie jou huwelik op jou eie te red nie!
[Voetnote]
a Hierdie artikel fokus op adolessente, maar egskeiding het ook ’n uitwerking op jonger kinders. Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van 8 Desember 1997, bladsye 3-12, en 22 April 1991, bladsye 3-11.
b Dit is weliswaar nie altyd moontlik nie, veral as ’n ouer die gesin verlaat het of op die een of ander manier heeltemal onverantwoordelik of selfs gevaarlik is.—1 Timoteus 5:8.
[Venster/Prent op bladsy 19]
‘DIÉ KEER SAL EK DIT REGKRY’
Studies het aan die lig gebring dat meer tweede huwelike as eerste huwelike misluk en dat derde huwelike selfs slegter vaar. In sy boek Emotional Infidelity gee M. Gary Neuman een rede hiervoor. “As jy probleme in jou eerste huwelik het”, skryf hy, “gaan dit nie net oor jou slegte keuse van ’n eggenoot nie. Dit gaan oor jou. Jy het verlief geraak op hierdie persoon. Jy het saam met hierdie persoon gewerk om dit wat julle het of nie het nie, te skep.” Neuman se gevolgtrekking? “Dis beter om ontslae te raak van die probleem en jou maat te behou as om ontslae te raak van jou maat en die probleem te behou.”
[Venster op bladsy 21]
AS ’N HUWELIK VERBROKKEL HET
Die Bybel erken dat uiterse omstandighede tot egskeiding kan lei.c Hoe kan jy jou adolessente help om dit te hanteer as dit in jou gesin die geval is?
Sê vir jou adolessent wat gebeur. Indien moontlik moet albei ouers dit doen. Vertel saam vir julle adolessent dat die besluit om te skei finaal is. Verseker hom dat dit nie sy skuld is nie, en dat albei ouers hom altyd sal liefhê.
Kom van die slagveld af—die oorlog is verby. Party ouers bly lank ná die egskeiding nog in konflik gewikkel. Hulle is, soos een deskundige dit stel, “wetlik geskei, maar nog steeds emosioneel verbonde teenstanders wat nie ’n vreedsame wapenstilstand kon bewerkstellig nie”. Dit ontneem adolessente nie net hulle ouers nie—want dit lyk of Pa en Ma altyd in die een of ander skermutseling betrokke is—maar dit moedig hulle ook aan om die een ouer teen die ander uit te speel om hulle sin te kry. Byvoorbeeld, ’n seun sê dalk vir sy ma: “Pa laat my uitbly so laat as wat ek wil. Waarom wil Ma nie?” Omdat die ma nie wil hê dat haar seun na die “vyand se kamp” oorloop nie, gee sy toe.
Laat jou adolessent praat. Adolessente redeneer dalk: ‘As my ouers opgehou het om mekaar lief te hê, kan hulle ophou om my lief te hê’ of ‘As my ouers die reëls verbreek het, waarom kan ek nie?’ Om jou adolessent se vrese uit die weg te ruim en verkeerde denke reg te stel, moet jy hom of haar genoeg geleentheid gee om te praat. Maar ’n woordjie van waarskuwing: Moenie rolle omruil en op jou adolessent begin staatmaak vir emosionele ondersteuning nie. Hy of sy is jou kind, nie jou vertroueling nie.
Moedig jou adolessent aan om ’n goeie verhouding met jou eksman of -vrou te hê. Die persoon van wie jy geskei het, is jou gewese huweliksmaat, nie jou kind se gewese ouer nie. Om van daardie persoon sleg te praat, is skadelik. Die boek Teens in Turmoil—A Path to Change for Parents, Adolescents, and Their Families sê: “As ouers besluit om hulle kinders as wapens op die slagveld van egskeiding te gebruik, moet hulle verwag om te maai wat hulle gesaai het.”
Sien om na jouself. Soms sal jy oorweldig voel. Maar moenie tou opgooi nie. Behou ’n gesonde roetine. As jy ’n Christen is, moet jy by geestelike bedrywighede betrokke bly. Dit sal jou en jou adolessent help om gebalanseerd te bly.—Psalm 18:2; Matteus 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25.
[Voetnoot]
c Volgens die Bybel is geslagsgemeenskap buite die huwelik die enigste geldige rede om die huwelik te beëindig met die moontlikheid om weer te trou (Matteus 19:9). As ’n huweliksmaat ontrou was, moet die onskuldige maat—nie familielede of ander nie—besluit of ’n egskeiding die beste opsie is.—Galasiërs 6:5.
[Prent op bladsy 20]
Werk daaraan om die verbintenis wat jy op jou troudag aangegaan het, na te kom
[Prent op bladsy 21]
As julle gesamentlike toesig het, moet jy jou adolessent aanmoedig om ’n goeie verhouding met jou eksman of -vrou te hê