Waarom gaan hulle nie van hitteslag dood nie?
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
Die meeste soogdiere behou ’n liggaamstemperatuur van ongeveer 37 grade Celsius. As ’n mens se liggaamstemperatuur hoër as 41 grade Celsius styg, kan noodsaaklike breinselle beskadig word, wat in sommige gevalle die dood kan veroorsaak. Wat beskerm jou teen hitteslag? ’n “Termostaat” in jou brein merk temperatuurstygings bo die normale, en ’n boodskap word aan miljoene klein kliertjies in jou vel gestuur. Dan begin jy uitermate sweet. Wanneer die vog verdamp, verkoel dit jou liggaam. Baie soogdiere het hierdie wonderlike meganisme gemeen.
Kyk nou na hierdie foto van die pragtige gemsbok wat in die Namibwoestyn in Afrika geneem is. Aangesien water skaars is, kan die gemsbok dit nie bekostig om kosbare liggaamsvog te verloor nie. Wat doen hy pleks van te sweet?
“Ten einde sy brein teen die oorverhitte bloed te beskerm”, verduidelik dierkundige Richard Goss in die boek Maberly’s Mammals of Southern Africa, “het hy ’n fyn netwerk bloedvate naby die oppervlak van die neus; bloed beweeg deur hierdie aartjies en word verkoel deur die lug wat by die neus in- en uitvloei wanneer die gemsbok hyg; hierdie koel bloed dien dan om die temperatuur van die warm bloed wat op pad na die brein is te laat daal op feitlik dieselfde manier waarop water gebruik word om ’n warm meganiese enjin af te koel.”
Danksy hierdie verkoelingstelsel kom die gemsbok volop in die warm, droë woestyne van Afrika voor. The Encyclopedia of Wild Life sê: “Daar word gemeen dat die gemsbok ’n onbepaalde tyd lank sonder water kan klaarkom deur al die vog wat hy nodig het uit woestynplante te absorbeer. Hy lyk gewis heeltemal gelukkig in buitengewoon hoë temperature—tot 40° C.” En gestel die gemsbok se temperatuur bereik die kritieke 41 grade Celsius? Sal dit hitteslag tot gevolg hê? Nee. Die gemsbok kan “’n styging in liggaamstemperatuur verdra van sowat vyf of ses grade hoër as die 37° C wat vir die meeste soogdiere as normaal beskou word”, verduidelik ’n Suid-Afrikaanse professor in die dierkunde, John Skinner.
Die mens was inderdaad nie die eerste om ’n doeltreffende verkoeler te ontwerp nie!