’n Aand saam met ’n Japannese gesin
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
GENIET jy dit om verskillende mense te ontmoet, meer omtrent hulle gewoontes te wete te kom en te sien hoe hulle lewe? Kom dan gerus saam met my, want ons is genooi om aandete by ’n Japannese gesin te geniet. Op pad soontoe sal ek kortliks probeer verduidelik wat jy kan verwag.
Ons gaan net eers ’n geskenkie koop. Dit word van ons verwag. ’n Dosie wagasji (Japannese lekkergoed) of senbei (rysbeskuitjies) sal gepas wees. Maar aangesien dit somer is, kom ons kies liewer ’n mooi mandjie vrugte. Ons kan dit by die vrugtestalletjie kry, klaar opgemaak in ’n rottangmandjie en toegedraai in glaspapier met ’n strikkie daaraan, juis vir dié doel.
By ons aankoms
Die hele gesin is by die voordeur om ons welkom te heet. Die kleingoed se opgewondenheid laat ons besef dat hierdie ’n spesiale geleentheid vir die gesin is. Kyk! Die pantoffels is netjies by die deur gerangskik—’n tipiese Japannese verwelkomingsgebaar. Die Japannese dra nie hulle skoene in die huis nie. Dit help nie alleen om hulle huise skoner te hou nie, maar voorkom ook die skade wat so maklik deur skoene aangerig kan word aan die swaar strooimatwerk (tatami) wat in die meeste Japannese huise aangetref word.
Ons laat dus ons skoene hier in die genkan (buiteportaal) voordat ons die huis binnegaan. Kyk! Ouma is reeds besig om ons skoene om te draai en reg te pak, gereed vir wanneer ons huis toe gaan. As jou skoene dalk ’n bietjie politoer nodig het of afgestof moet word, is dit nie ongewoon dat dit ook gedoen word voordat jy huis toe gaan nie.
“Kom die nagereg dan eerste?”
Dit is ’n tipiese reaksie van die meeste buitelanders wanneer hulle die tee en soetigheid sien wat vóór die ete bedien word. Daardie bruin jeleiagtige eetgoed wat soos sjokoladefudge lyk, word van versoete bone gemaak en staan bekend as jōkan. Dit smaak heerlik saam met o-tsja (groentee).
Maar voordat jy die jōkan eet en die tee drink, verfris jouself gerus met die koue klam handdoekie wat die gasvrou vir jou aanbied. Dit word ’n o-sjibori genoem, wat letterlik “uitgewring” beteken. In die winter kry gaste stomende warm handdoekies.
Kyk na die pragtige tuin en visdammetjie daar buitekant die skuifvensters. Feitlik elke Japannese huis het ’n tuintjie, ongeag of die mense arm of ryk is. Baie Japannese sal nog weer die helfte van die koopsom van ’n nuwe huis aan die tuin bestee.
Die manier waarop die tuin met rotse, dwergdenne en ander plante uitgelê is, laat dit na ’n natuurlike miniatuurbergtoneel lyk. Die watervalletjie en die spieëlgladde oppervlak van die dammetjie, met groot veelkleurige karpers daarin, is gebou met die doel om jou te laat ontspan en jou die aand nog meer te laat geniet. Later in die aand sal die gasheer gewoonlik vir sy besoekers die res van die tuin wys.
Die vertrek waarin ons nou is, is iets besonders. Dit is die o-kiakoema, of gastekamer. Sien jy daardie alkoof wat effens hoër geleë is as die res van die vertrek? Dit word ’n tokonoma genoem. Vroeër sou ’n mens die samoerai [Japannese soldaat] se wapenrusting en die Boeddhistiese huisaltaar daar aangetref het. Deesdae het dit bloot dekoratiewe waarde en word dit gebruik om kosbare vase, muurbehangsels en ander familiestukke daar ten toon te stel.
Aangesien jy die eregas is, sal jy ongetwyfeld die naaste aan die tokonoma sit. Let op die kunstig gesnede pilaar langs die tokonoma. Dié pilaar word ’n tokobasjira genoem. Dit is gemaak van ebbehout of van sandelhout wat op so manier gepoleer en verlak is dat dit die natuurlike grein en prag van die hout na vore bring. Een van daardie pilare kan meer as twee-en-’n-half duisend rand kos!
Die ete is gereed
Ons gasvrou het pas laat weet dat die ete binnekort gereed sal wees. Maar sy wonder of jy nie graag eers wil bad nie. Nee, dit is nie omdat sy dink dat jy ’n bad nodig het nie. Dit is net dat die Japannese ’n warm bad voor aandete baie verfrissend vind. Die gas word gewoonlik genooi om die bad eerste te gebruik. Jy is nie lus om voor ete te bad nie? Dit is in orde, maar kom kyk ten minste hoe lyk die o-foero, of bad.
Hoewel daar nog steeds openbare badhuise is, het die meeste Japannese huise nou hulle eie o-foero. Dit is ’n diep bad van hout, teëls of plastiek en is toegerus sodat die water deur middel van ’n houtvuur of propaangas tot sowat 40 grade Celsius verhit kan word.
Die Japannese bad verskil van die Westerse bad in die sin dat ’n mens jou met seep was en dan afspoel voordat jy in die bad klim om in die warm water te lê en week. Sodoende gebruik die hele gesin dieselfde badwater en verhit elkeen dit net weer ’n bietjie voor hy dit gebruik. Die bad is so diep dat die warm water tot by jou nek kom wanneer ’n mens daarin sit. Dit is baie ontspannend en is iets wat ’n mens eenvoudig moet doen voordat jy op ’n koue winternag gaan slaap.
’n Feesmaal
Ons gasheer roep en sê dat dit tyd is om vir ons ete, of liewer fees, aan te sit. Kyk na al die kos waarmee die tafel belaai is! Dit is so kleurryk en met sorg gerangskik. In Japan is die maaltyd ’n ware kunswerk, en ’n aantreklike voorkoms is hier amper net so belangrik soos die geur en die smaak. Daardie rangskikking van kleurryke happies in die swart verniste skinkbord is die geliefkoosde Japannese gereg soesji. Elke stukkie is ’n sorgvuldig gevormde rysbolletjie met ’n bietjie suiker en asyn en bedek met ’n stukkie rou rooi of wit tuna en ander fynkos uit die see.
’n Ander gereg wat voorberei is, is geroosterde tai, of rooi snapper, wat kunstig in ’n halfmaan op die bord gerangskik is, met die vis se kop en stert nog aan. Die sop, wat bestaan uit ’n seewierbasis met blokkies sagte tofoe daarin, is sissend warm. En natuurlik is daar genoeg rys vir almal. Daar is ook ’n vars groen slaai, en die vrugte wat op die Japannese styl berei is, voltooi die spyskaart. Wat ’n fees!
Beleefde gesprekvoering
Ná die ete geniet ons ’n koppie groentee, terwyl ons gesels. Maar waaroor gesels ’n mens? Wel, die Japannese toon ’n lewendige belangstelling in jou en jou land. Hulle wil ook weet wat jy van hulle en hulle land dink, asook van die ete en van Japannese kos oor die algemeen. Hulle voel gevlei as jy ’n belangstelling in Japannese dinge toon en ’n paar woorde in hulle taal bemeester.
Nou sal die gasvrou moontlik sê: “O-koetsji ni awanakoete gomen nasai”, wat beteken: “Ek is jammer dat die ete nie in u smaak geval het nie.” Sy wil bloot gerusgestel word dat jy wel die ete geniet het. Sê dus vir haar: “Oisjikatta desoe!” (Dit was heerlik!) ’n Ander gas kan hierdie pluimpie byvoeg: “Gotsjiso samadesjita”, wat letterlik beteken: “Dankie dat u vinnig gehardloop het [tussen die kombuis en die eetkamer] om ons te bedien.”
Jy sal opmerk dat Japannese, wat die Westerling betref, vaag voorkom wanneer hulle oor hulleself praat en teësinnig is om spesifiek te wees oor sekere onderwerpe. As jy die vrou byvoorbeeld sou vra hoe sy haar man ontmoet het, sal sy dalk bloot verleë giggel. Of jy bewonder dalk ’n pragtige vaas en vra hoeveel dit gekos het. Die antwoord sal waarskynlik wees: “Tsjotto takakatta desoe.” (Dit was ’n bietjie duur.) Vaag? Miskien. Maar dít is beleefde Japannese gesprekvoering. Ons sal dus moet leer om nie te gemeensaam of te nuuskierig te wees in wat ons sê en vra nie.
’n Genoeglike aand
Alte gou moet ons van ons innemende gasheer en -vrou afskeid neem. Terwyl ons ons skoene in die buiteportaal aantrek, buig die gasvrou en haar moeder diep voor ons op hul hande en knieë, met hul gesig na die vloer gekeer. Hulle dring ook daarop aan dat ons van die kos wat oorgebly het saam met ons huis toe neem in die groot, helderkleurige foerosjiki, of halsdoek. Hulle sit ook vir elkeen van ons ’n klein geskenkie in.
Terwyl die hele gesin saam uitkom vir die finale sajonara, voel jy moontlik net soos ek: ‘Wat ’n aangename aand!’ Dink net aan die tyd en werk wat die voorbereiding van die ete geverg het. As gaste het hulle ons waarlik welkom laat voel, trouens, hulle het ons laat voel dat ons spesiaal is. Was dit nie baie bedagsaam van hulle nie? Hulle put ongetwyfeld tevredenheid uit die wete dat hulle ons baie gelukkig gemaak het.
Is jy nie bly dat jy saam gekom het op die besoek nie? Jy voel moontlik dat jy die Japannese nou ’n bietjie beter ken. Wel, jy sal gou weer moet kom sodat jy nog ’n bietjie meer van hierdie unieke land en sy gasvrye mense kan leer.