Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 4/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Persoonlike besoeke—Verouderd?
  • Aborsiereise
  • Swaarde in ploegskare—Hoe?
  • Te veel wol
  • Homoseksuele ouers
  • Indië se plastiekoplewing
  • Die Franse jeug en selfmoord
  • Vroeë moederskap
  • Getroude priesters
  • Vergoeding?
  • Besteding op kinders
  • Aborsie se tragiese slagoffers
    Ontwaak!—1993
  • Die wonder van wol
    Ontwaak!—1991
  • Aborsie—Nie ’n probleemvrye oplossing nie
    Ontwaak!—2009
  • Aborsie—Is dit die oplossing?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 4/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Persoonlike besoeke—Verouderd?

Waarom het die Amerikaanse vorm van TV-evangelisme nooit in Japan posgevat nie? Mnr. Kenji Isjii van die Vereniging vir Kulturele Aangeleenthede het vir Ontwaak! gesê dat Japan se omroepers nie toelaat dat programme uitgesaai word wat om geld vra of onwetenskaplike leerstellings bevorder nie. Maar godsdiensorganisasies het maniere gevind om sulke beperkings te omseil. Baie maak staat op videos, satellietverbindings, rekenaarnetwerke en faksmasjiene om hulle godsdiens te bevorder. Vir sommige het hierdie tegnologiese bediening die persoonlike besoeke vervang wat predikers in Bybeltye gebruik het en wat Jehovah se Getuies vandag met groot welslae in Japan gebruik. “Ons het besef dat persoonlike besoeke, ons tradisionele vorm van sendingdiens, heeltemal uit die mode is”, het die reklamebeampte van ’n lekeorganisasie van Boeddhiste met sesmiljoen lede gesê. “Dit is kommersialisasie van godsdiens”, het mnr. Isjii gesê oor die gebruik van faksmasjiene om gebede op te stuur. “Godsdiensgroepe slaan net munt uit die hedendaagse strominge.”

Aborsiereise

Wette is dikwels net so onsuksesvol soos godsdiens om die ontstellende vloed van aborsies te keer. Daar is in 1989 in die Republiek van Ierland ’n wet aangeneem wat bepaal dat inligting oor hoe en waar om ’n aborsie te kry nie gepubliseer mag word nie; tydskrifte moes byvoorbeeld advertensies vir aborsieklinieke staak. Al hoe meer Ierse vroue reis nietemin na Engeland en Wallis vir aborsies. Volgens die Irish Times van Dublin het 981 vroue tydens die eerste drie maande van 1989 sulke reise onderneem. Vir dieselfde tydperk in 1990 het die getal tot 1027 gestyg. Die wet van 1967 wat aborsies in Engeland toelaat, is nie van toepassing in die Brits-bestuurde Noord-Ierland nie, en die Ulster Pregnancy Association stuur dus jaarliks meer as duisend vroue na Britse aborsieklinieke.

Swaarde in ploegskare—Hoe?

“Die probleem is: Hoe vernietig jy ’n stuk toerusting wat spesiaal ontwerp is om vernietiging te weerstaan?” vra The Wall Street Journal. Ooreenkomstig ’n wapenbeheerverdrag moet die Sowjetunie van sowat 40 000 tenks ontslae raak. Oplossings wat aan die hand gedoen is om die tenks buite werking te stel, het dinge ingesluit soos om plofstowwe wat binne-in hulle geplaas is te laat ontplof, om hulle van hoogtes te laat val wat groot genoeg is om hulle buite werking te stel en om hulle—sonder die olie, verf en hidroliese vloeistof—in die oseaan te stort. ’n Plan is selfs oorweeg om hulle om te bou vir burgerlike gebruik as swaar trekkers en brandweerwaens, maar daar is besluit dat so ’n “stadige, brandstofvretende kolos” onprakties sal wees. ’n Plan wat heelwat aftrek geniet, is om oonde te bou waarin die tenks gesmelt kan word en om die afvalmetaal dan te gebruik. Aangesien dié tegnologie nog ontwikkel moet word, is lang treinvragte tenks “ooswaarts oor die Oeralgebergte na depots gestuur waar die verdrag se tydtafels en die vereiste dat tenks opgesny en opgeblaas moet word, nie van krag is nie.”

Te veel wol

Australië se skaapboere, wat 70 persent van die wol verskaf wat vir die wêreld se klere gebruik word, het skielik te veel skape. Ongeveer 20 miljoen te veel, berig die Sunday Correspondent van Londen, Engeland. Met die prys van skape wat tot vyf sent per skaap daal, bestee boere meer aan koeëls om die skape te skiet as wat die skape werd is. Waarom die dalende aanvraag na wol? Die Correspondent gee drie redes: Die krisis in die Persiese Golf het die handel met Arabiese nasies tot stilstand gebring; wêreldwye demilitarisasie het die behoefte aan militêre uniforms, wat gewoonlik van wol gemaak word, laat afneem; en wêreldverwarming het die nodigheid vir warm wolklere verminder.

Homoseksuele ouers

Vroeg in 1991 het die tydskrif Newsweek berig dat daar sewemiljoen kinders in die Verenigde State is wat by ’n homoseksuele ouer en die ouer se minnaar van dieselfde geslag woon. Volgens sommige studies is die meeste van hierdie ouers Lesbiërs, en baie van hulle verkies om ’n kind deur kunsmatige inseminasie te kry. Party kenners meen selfs dat die Verenigde State ’n ‘Lesbiese geboortegolf’ ondervind. Een uitgewery het sulke groepe die teiken van kinderboeke gemaak. ’n Nuwe boek vir kinders van twee tot ses jaar handel oor ’n seuntjie wat soms by sy pa en sy pa se manlike minnaar woon. ’n Boek vir dié van drie tot agt jaar handel oor ’n meisie met “twee mammies”. Die boeke is ontwerp om kinders daarvan te oortuig dat sulke gesinne normaal is en dat homoseksualiteit “net nog ’n soort liefde” is.

Indië se plastiekoplewing

Groot kredietkaartmaatskappye begin om Indië se middelklas wat al lank kenmerkend onwillig was om geld te leen te oorreed om dit te doen. Hoewel net 400 000 kredietkaarte in Indië in gebruik is, gee al hoe meer lede van die ekonomiese middelklas, wat ongeveer 150 miljoen tel, toe “aan die gedagte om vir vandag te lewe en môre vir homself te laat sorg”, berig die tydskrif Asiaweek. Party Indiese bankiers is dus optimisties oor die toekoms. Soos een bankier vir Asiaweek gesê het: “As die uitbreiding en groei volgens plan verloop, sal Indië teen die einde van die eeu naas Amerika die wêreld se grootste kredietkaartmark wees.”

Die Franse jeug en selfmoord

Selfmoord is naas motorongelukke nou die grootste oorsaak van sterftes onder die Franse jeug. Die Paryse koerant Le Figaro berig dat selfmoorde in die afgelope twee dekades in Frankryk met 130 persent onder jong mans van 15 tot 25 jaar en met 35 persent onder vroue in dieselfde ouderdomsgroep toegeneem het. Net 3 persent van hierdie selfmoorde word aan die een of ander ernstige geestesiekte toegeskryf. Die meeste jongmense wat probeer selfmoord pleeg, wil nie werklik sterf nie, maar het eerder ’n desperate hunkering na hulp, wat soms dodelik kan wees. Deskundiges skryf die toenemende wanhoop onder vandag se jongmense toe aan gesinsverbrokkeling, materialisme en die daaglikse agteruitgang in maatskaplike en geestelike waardes.

Vroeë moederskap

Volgens ’n Noord-Amerikaanse studie waaroor O Estado de S. Paulo, ’n Brasiliaanse koerant, kommentaar gelewer het, “is een uit elke sewe kinders wat in die Amerikas gebore word die kind van ’n adolessente moeder, altesaam 2,5 miljoen babas elke jaar”. Brasilië staan bo-aan die lys met 601 023 babas van tienermoeders, Mexiko is tweede met 498 277 en die Verenigde State is derde met 430 389. Die hoë syfers het die organiseerders van die studie verras, wat verwag het dat die maatskaplike en ekonomiese veranderinge oor die afgelope 25 jaar tienerswangerskappe sou laat afneem het. Wat omtrent oplossings? Die studie het aan die hand gedoen dat jongmense aangespoor moet word om die skool nie te vroeg te verlaat nie, dat die status van vroue verbeter moet word en dat maagdelikheid tot die troudag aangemoedig moet word.

Getroude priesters

Pous Johannes Paulus II het onlangs die verordinering van twee getroude Brasiliaanse priesters goedgekeur. “Die nuwe priesters het dokumente onderteken waarin hulle beloof het om nie meer geslagsgemeenskap met hulle vroue te hê nie”, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Volgens die koerant beskou Aloísio Lorscheider, kardinaal van Fortaleza, “die ordinering van getroude mans as ’n oplossing vir die tekort aan priesters”. Die kardinaal het hom ook sterk uitgespreek teen die kerk se selibaatvereiste. “Volgens dom Aloísio is die selibaat ’n ‘anachronistiese’ instelling wat geen Bybelse grondslag het nie”, sê die tydskrif Veja. “Die selibaat is nie deur die Heilige Geskrifte geskep nie en is dus nie iets wat nie verwerp kan word nie.” Die Vatikaan gee egter steeds die voorkeur aan ongehude priesters.

Vergoeding?

Volgens die National Catholic Reporter het die regering van Newfoundland belowe om die slagoffers wat as kinders by die Mount Cashel-weeshuis seksueel misbruik is finansieel te vergoed. Die polisie het aanvanklik in 1975 ondersoek ingestel na aanklagte dat sommige van die “Christenbroeders” wat die weeshuis bestuur het die seuns daar liggaamlik en seksueel misbruik. Nadat twee van die beskuldigdes ingestem het om Newfoundland te verlaat en drie ander die weeshuis verlaat het, is die ondersoek laat vaar en niemand is gearresteer nie. Maar die ondersoek is in 1989 hervat; agt “Christenbroeders” word nou van kindermishandeling aangekla. (Sien Ontwaak!, 8 November 1990, bladsy 31.) Prokureur-generaal Paul Dicks het verklaar dat die regering sy plig versuim het om die mishandelde weeskinders te beskerm en dat hulle hulle op gepaste wyse sal vergoed. Hy het dit egter benadruk dat die verantwoordelikheid vir vergoeding hoofsaaklik by die “Christenbroeders” en hulle werkgewers berus.

Besteding op kinders

Van die 30 miljoen weggooikinders van 6 tot 15 jaar in Latyns-Amerika sterf sowat 2000 daagliks weens wanvoeding of geweld, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Maar volgens UNICEF se voorsitter James Grant bestee die wêreld net soveel geld daaraan om kindersiektes en hongersnood wêreldwyd te bestry as wat “Amerikaanse sigaretmaatskappye jaarliks aan [advertensies] bestee”. UNICEF raam dat R6250 000-000 hierdie dekade daaraan bestee moet word om die publiek oor kinderprobleme in te lig. Grant sê dat die wêreld daagliks meer as dit aan wapens bestee en dat Noord-Amerikaanse verbruikers jaarliks meer as dit aan kos vir hulle troeteldiere bestee.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel