Op die spoor van die albatros
Die swerwer-albatros, wat daarvoor bekend is dat hy agter skepe aan vlieg, fassineer seevaarders al lank. Die voël se vlerkspan van drie meter dra by tot sy grasieuse vermoë om skynbaar sonder inspanning te sweef. Die voël het groot swempote waarop hy staan; wanneer hy vlieg, beheer die pote sy vlug deur soos ’n roer te werk wanneer hy hulle agter sy kort stert uitskiet.
Hierdie voël, wat dikwels byna nege kilogram weeg, het ’n indrukwekkende opstygmetode. “Aerodinamies gesproke is die opstyg van ’n albatros soortgelyk aan dié van ’n seevliegtuig. Met sy nek uitgestrek en sy vlerke gesprei, roei hy so vinnig as hy kan met sy swempote teen die wind in. Die voël se bors lig gou uit die water sodat net die pote aan die oppervlak raak. Die oomblik wanneer die albatros in die lug is, neem hy weer sy aerodinamiese vorm aan, met sy nek ingetrek en onderstel opgetrek.”—The New Larousse Encyclopedia of Animal Life.
Hierdie meester van die onstuimige lugruim tussen 40 en 60 grade suiderbreedte bou sy nes op afgesonderde eilande. Daarvandaan vlieg hy groot afstande op soek na kos. Maar hoe ver swerf hy?
Wetenskaplikes het klein sendertjies aan ses swerwer-albatrosmannetjies aangebring, wat neste in die suidwestelike Indiese Oseaan gehad het. Deur gebruik te maak van satelliete om hulle op te spoor, was die navorsers verstom om te sien dat die albatrosse tussen 3620 en 15 090 kilometer ver, teen snelhede van tot 80 kilometer per uur, gevlieg het. In slegs 33 dae het hierdie seevoëls ’n afstand van 16 000 kilometer afgelê, ongeveer sewe keer verder as wat vantevore moontlik geag is.
Die besondere vliegvermoë van die albatros strek sy Ontwerper beslis tot eer.—Psalm 148:10, 13.