Watter toekoms vir die albatros?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
Wat hou die toekoms in vir die albatros, die wêreld se grootste seevoël? “Sy toekoms lyk maar donker”, berig The Times van Londen. Tienduisende van hulle—Australiese navorsers skat tot 44 000—word elke jaar doodgemaak. Trouens, sommige kenners meen dat die swerwer-albatros, met sy uitsonderlike vlerkspan van drie meter, binnekort uitgestorwe sal wees.
Wanneer albatrosse gereed is om te vlieg, bring hulle sewe jaar onafgebroke op see deur, waar hulle vir duisende kilometers sweef en selfs in die lug slaap. Party meen dat die voëls dalk ’n paar keer om die aarde vlieg voordat hulle terugkeer na die plek waar hulle uitgebroei het om nes te maak.
Albatrosse maak slegs een kuiken elke tweede jaar groot. Maar gedurende die laaste 20 jaar is die bevolking van die swerwer-albatros op Suid-Georgië in die Suid-Atlantiese Oseaan en op Crozet in die Indiese Oseaan byna tot die helfte verminder. Wat is volgens sommige die rede hiervoor? Langlynvisvangs.
Vissermanne gebruik langlyne, wat elk honderde hoeke het, om blouvintuna te vang. Die lyne word vanaf die agterstewe van die vissersboot uitgelaat. Pylinkvis—die albatros se vernaamste kos—word as lokaas aan elke hoek gesit. Wanneer die voël neerstryk om die pylinkvis te vang, sluk hy soms ook die hoek in. Dan sink die albatros saam met die swaar lyn en verdrink.
Om die albatros te beskerm, is party tunavissermanne met welslae aangemoedig om hulle lyne saans te lê, wanneer die voël nie visvang nie. Vissermanne soek ook na maniere om hulle lyne van onder hulle bote uit te laat sodat die albatros nie die lokaas kan sien nie. Ander metodes wat al gebruik is, is onder andere lyne met gewiggies wat vinniger sink en ’n soort voëlverskrikker om die voëls af te skrik.
In die oop see van die Suid-Atlantiese Oseaan word metodes wat deur vissersbote gebruik word egter nie gemonitor nie. Volgens Sandy Bartle, ’n seevoëlkenner van die Museum van Nieu-Seeland, doen vissermanne daar “niks om te keer dat albatrosse doodgemaak word nie”. Waarlik, die moontlike uitsterwing van die majestueuse albatros spreek boekdele oor menslike nalatigheid en onverskilligheid.