Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Byeenkoms in Mosambiek
  • Hongersnood, dog geen voedseltekort
  • Politici wat rook
  • Saamlewery?
  • Passiewe kinders
  • Neutsnywerk
  • Voëlsmokkelary
  • Vigs in Asië
  • ’n Stam wat rotte vang
  • Korale sterf van hitte
  • Uittog van Latyns-Amerikaanse Katolieke
  • Sterwende koraalriwwe—Is die mens daarvoor verantwoordelik?
    Ontwaak!—1996
  • Die ivoorneut—Kan hy olifante red?
    Ontwaak!—1999
  • Koraal word bedreig en sterf uit
    Ontwaak!—1996
  • Wat kan gedoen word om koraalriwwe te red?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Byeenkoms in Mosambiek

Nadat Jehovah se Getuies baie jare lank in Mosambiek ingeperk is, waardeer hulle dit dat die owerheid hulle groter godsdiensvryheid toelaat. Onlangs is ’n vierdaagse “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms by die Costa do Sol-sportstadion in Maputo, die hoofstad van Mosambiek, gehou. In ’n berig oor die byeenkoms sê Tempo, ’n tydskrif wat in Maputo uitgegee word, dat daar ongeveer sesduisend by die byeenkoms se openingsessie teenwoordig was. Die toesprake is in Portugees en Tsonga gehou. Tempo sê verder dat die byeenkoms daarop gemik was om “Christelike eenheid te versterk, ten spyte van taalverskille wat verdeeldheid tussen mense veroorsaak”. Die artikel verduidelik dat Jehovah se Getuies hulle op internasionale vlak vir hierdie doelwit beywer, ongeag “nasionaliteit, ras, opvoeding en maatskaplike stand”.

Hongersnood, dog geen voedseltekort

“Die Wêreldbank se studies toon dat hongersnood in onlangse jare, veral in Latyns-Amerika, toegeneem het”, het Franse ekonoom Jacques Chonchol by ’n seminaar gesê wat in São Paulo, Brasilië, gehou is. Hoewel die tema daarvan “Hongersnood—die uitdaging van die negentigerjare” was, is daar nie veel hoop uitgespreek vir die 1 116 000 000 mense oor die hele wêreld wat as ondervoed beskou word nie. “Spesialiste waarborg dat die probleem nie aan ’n voedseltekort toegeskryf kan word nie”, berig O Estado de S. Paulo. “Die wêreld produseer genoeg om in die behoeftes van sy 5,3 [miljard] bewoners te voorsien. Maar mense het nie die middele om voedsel te koop nie.” Waarom nie? Hongersnood neem na bewering toe as gevolg van die besnoeiing in maatskaplike programme wat deur internasionale skuldonderhandelinge veroorsaak word. Volgens Chonchol is nog ’n rede: “Hongersnood het weens verstedeliking vererger.”

Politici wat rook

Die regering van Mexiko het onlangs ’n maatreël aanvaar om nie-rokers te beskerm. Volgens Visión, ’n Latyns-Amerikaanse tydskrif, is rook nou verbode in biblioteke, gesondheidsentrums, rolprentteaters, voertuie wat vir openbare vervoer gebruik word en regeringskantore wat dienste aan die publiek lewer. Daar word van restaurante en kafeterias vereis om gedeeltes vir nie-rokers te hê. Diegene wat hierdie regulasie oortree, kan ’n boete van tot R75 opgelê word. Visión sê egter dat die maatreël nie van toepassing is “binne die Kamer van Afgevaardigdes en die Huis van Verteenwoordigers (die wetgewende liggame wat die regulasie goedgekeur het) nie, omdat die Mexikaanse politici hulleself nie daarvan kan weerhou om gedurende werksure te rook nie”.

Saamlewery?

Volgens Le Monde, ’n dagblad van Parys, word huwelike minder gewild in Frankryk. Die neiging oor die laaste 20 jaar toon dat al hoe meer paartjies verkies om saam te leef sonder die voordele van die huwelik. Die Nasionale Instituut van Demografiese Studies in Frankryk berig dat minstens die helfte van diegene wat trou reeds saamgeleef het, in sommige gevalle etlike jare lank. Baie paartjies dink dalk dat om saam te leef voor die huwelik die kanse op sukses in die huwelik verbeter, maar die feite toon die teendeel. Le Monde sê dat “wanneer paartjies voor die huwelik saamleef dit nie die eenheid in die huwelik versterk nie” en dat sulke “verbintenisse nie so sterk is nie omdat dit heel dikwels op ’n skeiding uitloop”. Statistiek toon dat meer paartjies wat saamleef voor die huwelik skei as diegene wat dit nie doen nie.

Passiewe kinders

Volgens die Japannese regering se Witskrif vir 1990 oor jongmense het meer as die helfte van Japannese kinders tussen die ouderdomme van 10 en 15 hulle eie televisiestel en TV-rekenaarspeletjies, en ’n derde van hulle het hulle eie telefoon. Die meeste jongmense bring hulle vrye tyd eerder binnenshuis deur, deur televisie te kyk, prentverhale te lees of videospeletjies te speel, as om dit buitenshuis deur te bring. Die witskrif verbind die kinders se passiewe binnenshuise bedrywighede met hulle beperkte vermoë om sosiaal te verkeer met ander, hulle gesinne inkluis, en met die gebrek aan deelname aan gemeenskapsaangeleenthede. Volgens die studie het ongeveer 90 persent van Japannese kinders gesê dat hulle nie hulle diepste gedagtes en gevoelens kan uitdruk nie.

Neutsnywerk

’n Saad word nou gebruik as grondstof vir die vervaardiging van knope, juwele en beeldjies vir handelsgebruik. Sommige produkte word reeds in massa geproduseer om in die aanvraag van kleremaatskappye te voorsien. Die saad wat hier ter sprake is, is die tagua-neut, ’n neut so groot soos ’n golfbal wat in Ecuador se woude groei. Die tydskrif National Geographic sê dat dit “’n oplewing vir die tagua-neut is, wat in knope gebruik is voordat plastiek dit in die dertigerjare in groot mate vervang het”. Navorsers vir Conservation International het bewyse gevind dat tagua-snywerk reeds 250 jaar gelede in Suid-Amerika beoefen is. Volgens National Geographic “is [die neute] ook ’n plaasvervanger vir ivoor wat nou in die internasionale handel verbied word”.

Voëlsmokkelary

The World Wildlife Fund berig dat “minstens 225 000 voëls ter waarde van sowat [R125] miljoen elke jaar in die kleinhandel òf ingesmokkel òf ingevoer word met vervalste dokumente”. Papegaaie word byvoorbeeld deur inwoners van die woude van Afrika, Indonesië, Mexiko en Suid-Amerika gevang en vir ’n paar rand verkoop. “Teen die tyd dat die voëls Amerikaanse of Europese verbruikers bereik, behaal sommige voëls, soos die groot Amasone-keiserpapegaai van Dominica in die Karibiese Eilande, [R250 000] stuk”, sê The Wall Street Journal. Daar word gesê dat baie papegaaispesies in onmiddellike gevaar verkeer om in die natuur uitgeroei te word. Daar word gereken dat ongeveer 90 persent van die voëls wat uitgesmokkel word “sterf terwyl hulle vervoer word as gevolg van onbehoorlike voeding en onmenslike toestande”.

Vigs in Asië

Reeds in Februarie 1990 was daar sowat 2000 aangemelde Vigs-slagoffers in Asië. ’n Onlangse verslag van die Verenigde Nasies sê egter dat die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) skat dat altesaam 500 000 mense in Asië tans met die HIV-virus besmet is. Volgens die tydskrif Asiaweek “het [die] VN onlangs berig dat die aantal Vigs-gevalle in Asië drasties sal toeneem”. Om werk te maak van die probleem beveel die WGO beter opvoeding en inligtingskampanjes aan.

’n Stam wat rotte vang

Boere in Tamil Nadu, Indië, het chemikalieë, plaagdoders en lokaas gebruik om ’n knaagdierprobleem te probeer beheer. Toe dít misluk het, het die boere die Irula-stamlede gehuur om die werk te doen, berig India Today. Gedurende die eerste jaar het die Irulas ongeveer 140 000 rotte in een gebied van 16 000 hektaar gevang. Die Irulas “gebruik nie plaagdoders nie, maar hulle metodes is gebaseer op kennis van knaagdiergedrag”. Hulle keer die rotte in hulle gate vas deur die uitgange te blokkeer. Omdat hulle so baie rotte kan vang, ondersoek die Irulas nou die moontlikheid om rotvleis as hoender- en visvoer te gebruik en om rotvel tot bruikbare leer te verwerk. India Today sê dat “die eksperiment onweerlegbaar bewys het dat die Irula-metode die onfeilbaarste is” en ’n ekonomiese manier is om rotte te beheer.

Korale sterf van hitte

“Die eerste bewys van wêreldwye verwarming is dalk die korale wat verbleik”, het Ernest Williams van die Universiteit van Puerto Rico gesê. Die hoër seetemperatuur veroorsaak dat die korale die mikroskopiese alge afgooi wat as voedsel vir die korale dien. Dit veroorsaak wit kolle op die koraalriwwe, vandaar die term “verbleik”. “Sonder die alge word die koraal swak en hou dit op met voortplanting.” Gevlekte en siek koraalriwwe is in baie plekke opgemerk, waaronder die Bahama-eilande, Bermuda, Florida, Hawaii, Jamaika, Okinawa en Puerto Rico. The Toronto Star sê dat die dekade van die tagtigerjare die warmste in die laaste honderd jaar was en dat “baie klimaatdeskundiges voorspel dat temperature gedurende die volgende eeu met nog etlike grade sal styg” en gevolglik ’n voortdurende gevaar vir koraalriwwe inhou.

Uittog van Latyns-Amerikaanse Katolieke

Die tydskrif Hispanic berig dat ongeveer eenmiljoen Latyns-Amerikaners in die Verenigde State die Katolieke Kerk gedurende die afgelope 15 jaar verlaat het. “Elke jaar neem daardie getal met tussen 60 000 en 100 000 toe.” Volgens ’n onlangse studie in opdrag van ’n hulpbiskop van die aartsbisdom van San Francisco soek voormalige Latyns-Amerikaanse Katolieke “’n dieper betrokkenheid in hulle geloof en die Skrif”. In kommentaar oor die probleem het een Katolieke priester egter gesê dat “ons die Katolieke Kerk moet sien vir wat dit is: ’n groot instelling met ’n vasgestelde manier waarop dinge gedoen word. Dit is baie moeilik om ’n groot instelling te beweeg om ’n nuwe manier aan te neem waarop dinge gedoen word.” Die artikel sê: “Dit is maklik om nie raakgesien te word in ’n tipiese Katolieke gemeente met 4000 gesinne nie.” Daarenteen “is dit net so maklik om welkom en tuis in ’n intieme [nie-Katolieke] gemeente van ongeveer 200 te voel”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel