Sangvoëls—Virtuose wat die verstand te bowe gaan
“IN DIE vroeë oggendure is ek wakker gemaak deur geluide wat vir my stadsore vreemd was. Vreemd maar pragtig. Dit was die geluide van voëlgesang. Nie net een of twee nie, maar baie. Baie voëls. Sommige naby, ander verder, en almal aan die sing. Terwyl ek in die bed gelê en luister het, het ’n gevoel van groot verwondering oor my gekom. Ek het opgestaan en na die venster toe gegaan, dit oopgemaak en op my knieë gegaan en my elmboë op die vensterbank laat rus. Ek was nou baie nader en kon die klank hoor uitswel totdat dit geklink het of die hele wêreld buite van musiek weergalm. Baie sangvoëls met hulle talle individuele liedjies, maar almal saamgesmelt in een groot koor. Ek het die koue lug geïgnoreer. Ek was betower.”
Die voorgaande is die ondervinding van ’n man van die stad New York wat by vriende in North Yorkshire, Engeland, gekuier het. Hulle huis word omring deur oop velde en woude—en voëls. Toe hy daardie oggend sy gasheer en gasvrou groet, was hy uitgelate. Hulle het aan hom verduidelik dat hy so pas met die ‘dagbreekkoor’ kennis gemaak het. Hulle sang kan elke lente tot in die hartjie van die somer gehoor word. Daar is ook ’n ‘aandkoor’. Meer gedemp maar steeds indrukwekkend. In baie dele van die wêreld word hierdie uitvoerings deesdae selde gehoor; in ander gebiede het hulle heeltemal opgehou.
Daar is ongeveer 9 000 bekende voëlspesies, waarvan 5 000 geklassifiseer word as sangvoëls, van die suborde Oscines. Hoewel sommige wyfies sing, is dit die mannetjies wat soggens en saans hierdie musikale extravaganzas opvoer. Ons word vertel dat hulle sing om gebied af te baken en maats te kry, maar dit is ook net moontlik dat hulle dit geniet om musiek te maak. Wanneer die dagbreekkoor tot sy klimaks opbou en 30 minute lank onverpoos aanhou, klink dit ongetwyfeld asof die sangers feestelike hoogtes bereik.
’n Groot verskeidenheid liedjies
Die liedjies wissel van eenvoudig tot ingewikkeld tot oordadig. Die witkroonmossie is blykbaar tevrede met een eenvoudige liedjie wat hy eindeloos herhaal. Die sangmossie het ’n groter repertoire, winterkoninkies het honderde en spotlysters kan ure lank met hulle melodieuse gesing aanhou. Wanneer dit egter by die aantal liedjies kom, word meer as 2000 aan die bruin krombekspotlyster van Amerika toegeskryf. Nagtegale, lysters, vinke, rooiborsies, Amerikaanse wielewale, merels, kwelertjies, kardinaalvoëls, liervoëls, janfrederikke, lewerikke en baie ander uit alle dele van die wêreld kan daarop roem dat hulle sangvirtuose is.
Daar is ander liedjies benewens die vernaamste liedjies van die dagbreek- en aandkore. Van besondere belang is die “fluister”-liedjies, wat gedempte weergawes van dele van vername liedjies is, met variasies en byvoegings, wat slegs ’n paar meter ver gehoor kan word. Hierdie gedempte liedjies, wat dikwels gesing word terwyl die voëls op hulle neste sit en eiers uitbroei of agter die privaatheid van digte onderbos verskuil is, en wat deur die mannetjie sowel as die wyfie gesing word, kan ’n stille vergenoegdheid weerspieël.
Die pare van baie voëlspesies sing duette. Saam kan hulle dieselfde liedjie, of verskillende liedjies of verskillende dele van dieselfde liedjie om die beurt sing. Hulle doen dit met sulke perfekte tydsberekening dat dit klink asof net een voël sing. Die tussenpoos wanneer een ophou en die ander begin, word in millisekondes gemeet. Die enigste manier om vas te stel of twee sangers sing, en nie net een nie, is om tussen hulle te staan. In Suid-Amerika is die musiekmaker-winterkoninkies uitmuntende duetsangers, en baie meen dat hulle die pragtigste liedjies sing wat in daardie woude gehoor word.
Skaamtelose plagiaat
Klanknabootsing is baie gewild by etlike spesies. Ornitoloë sê dit is ’n raaiselagtige verskynsel en hulle begryp nie wat die doel daarvan is nie, hoewel een navorser gesê het dat die voëls dalk net speel. In Noord-Amerika blink die spotlyster hierin uit. Sy wetenskaplike naam Mimus polyglottos beteken “nabootser met baie tonge”. In net ’n uur het een nabootser volgens berig 55 voëlspesies nagemaak.
Maar die spotlyster is nie die enigste nabootser nie. In Australië het die liervoël “een van die hardste en welluidendste liedjies van alle voëls”, en tog “voeg hy by sy eie liedjie dié van byna elke spesie wat daar naby woon”. In Bird Behavior, bladsye 130-1, doen Robert Burton verslag oor ereboogvoëls, rietkwelertjies en kanaries se nabootsing. “Daar is al gesê dat” die Australiese ereboogvoëls “katte, honde, die geluid van byle wat hout kap, motortoeters en die snaarklank van draadheinings, asook baie voëlsoorte naboots. Een ereboogvoël het ’n arend glo so goed nageboots dat dit ’n hen en haar kuikens na skuiling laat skarrel het.” Hierdie ereboogvoëls het beslis nie gesing om met byle wat hout kap te paar of om singende draadheinings uit hul gebied te verjaag nie! Miskien het hulle, soos die mense wat na hulle geluister het, dit net geniet.
Die Europese rietkwelertjie steel soveel van ander dat “die volle omvang van sy plagiaat eers besef is nadat ’n studie in België gemaak is. ’n Ontleding van sonogramme het onthul dat die hele repertoire moontlik uit nabootsing bestaan het. In die sonogramme is nie alleen die liedjies van byna honderd Europese spesies herken nie, maar ook dié van meer as honderd Afrika-spesies, wat die rietkwelertjie in sy winterkwartiere hoor.”
Kanaries “is sulke gewilde kouvoëls omdat hulle onpartydig is en enigiets sal namaak. Daar is die bekende voorbeeld uit die vroeë 20ste eeu van die Eurasiese goudvink wat geleer is om ‘God save the King’ te fluit. ’n Kanarie in die kamer langsaan het die wysie binne ’n jaar geleer, en wanneer die goudvink aan die einde van die derde reël te lank geaarsel het, het die kanarie ingeval en die wysie voltooi.”
Die verskillende spesies het spesifieke voorkeure wat die verhoë betref van waar hulle hul uitvoerings lewer. Sommige sing op die grond, ander op die punte van grasstingels en ander op ’n onbeskutte tak in die top van ’n boom. Spotlysters verkies sulke hoë onbeskutte takke, en elke nou en dan skiet hulle hulself drie tot ses meter die lug in op en gaan sit dan weer op hul tak terwyl hulle onverpoos sing. Voëls wat in die oop veld nes maak, sing dikwels terwyl hulle oor hulle gebied vlieg. Dit is die geval met die lewerik, soos die digter Shelley hom beskryf in sy pragtige “Ode to a Skylark” (Ode aan ’n lewerik), waar hy praat van hierdie “opgeruimde gees” wat hoog vlieg en sy hart uitstort “in uitbundige wysies van spontane kuns”.
Die lente en vroeë somer is die tyd vir die dagbreek- en aandkore. Selfs die Bybel toon dat dit die spesiale seisoen is vir voëls om te sing. Hooglied praat van ’n tyd wanneer die winter verby is, die blomme in bloei staan, vrugte aan die bome vorm, die trekvoëls teruggekom het van hul winterkwartiere, en ‘die sangtyd aangebreek het, en die tortelduif sy stem laat hoor in ons land’ (2:11, 12). Baie voëls sal egter ná die lente en somer aanhou sing, nadat paring en nesmaak-bedrywighede opgehou het.
Een skrywer sê dat baie omtrent voëlgesang ’n raaisel is, en “die grootste raaisel is waarom hierdie ingewikkelde wysies in die eerste plek geëvolueer het” omdat dit so “onnodig ingewikkeld vir enige moontlike funksie is”. Miskien moet hy in gedagte hou dat hierdie “ingewikkelde wysies” in die eerste plek nie geëvolueer het nie, maar dat Jehovah God, wat besorg is oor mossies en moedervoëls op hul neste, hulle hierdie musikale vermoë gegee het toe hy hulle geskep het (Deuteronomium 22:6, 7; Mattheüs 10:29). Miskien is een ‘funksie’ daarvan om die voëls te vermaak. Spotlysters en sommige ander voëls sing dikwels tot laat in die nag. Wie kan sê dat dit nie vir hulle eie plesier—en ons s’n—is nie.
Hoe hulle dit doen, bly ’n raaisel
Die “grootste raaisel” is miskien nie wáárom hulle sulke ingewikkelde liedjies sing nie; dit is miskien hóé hulle dit doen. Daar was al verskillende teorieë, en selfs nou ná intensiewe wetenskaplike ondersoek is daar geen eenstemmigheid nie. Die voël se stemkas word die sirinks genoem—’n benerige, doosvormige resonansiekamer met elastiese membrane wat deur spesiale spiere beheer word. Dit verskil grootliks by die verskillende spesies en die ingewikkeldste vorm daarvan word by die sangvoëls aangetref. Dit is aan die onderkant van die trachea, of lugpyp, geleë en het twee afsonderlike klankbronne. Elke klankbron het sy senuweestelsel, spiere en membrane, en dit is waarom daar gesê word dat sangvoëls ‘twee stemme’ het. Deur spierspanning op die membrane af te wissel en die lugdruk te verander, verander die voël sy geluidsterkte sowel as sy toonhoogte. Die voëls met die meeste sirinkspiere het die grootste potensiaal om verskillende ingewikkelde liedjies of roepe voort te bring. Die veelsydigste van hierdie geveerde sangers het tussen sewe en nege paar van hierdie spiere.
In sy boek Bird Behavior toon Robert Burton waarom die sangprestasies van voëls ons verstand te bowe gaan: “Klankproduksie bereik sy hoogtepunt in spesies soos die karekiete en die bruin krombekspotlyster van Amerika, wat twee wysies gelyktydig sing, waartydens verskillende note op presies dieselfde oomblik van twee helftes van die sirinks kom. Wanneer die bruin krombekspotlyster sing, bring hy op een stadium in werklikheid vier verskillende klanke gelyktydig voort, maar dit is nie bekend hoe hy dié prestasie bereik nie.”
Die aanvaarde teorie oor hoe voëls sing, is oor die afgelope 20 jaar op die sirinks alleen gegrond. Daar is gesê dat sy ‘twee stemme’ wat in staat is om gelyktydig twee nie-verwante klanke voort te bring, waarvan elkeen onafhanklik van die ander optree, ten volle verantwoordelik is vir die kwaliteit van en variasies in voëlgesang. Wanneer die twee klanke die sirinks verlaat, moet dit met die hele lugpyp langs opbeweeg voordat dit by die mond uitkom. Daar is egter nie rekening gehou met die rol van die lugpyp en sy resonansies in die produksie van sang nie.
In die laaste paar jaar het ’n nuwe teorie ontstaan as gevolg van intensiewe wetenskaplike navorsing. Dit vereis dat “die twee bronne in die sirinks saamwerk” en dat die trachea as resonansie-, of klankkanaal, aktief daarby betrokke is. Die prentjie wat na vore kom, toon dat daar “noue koördinasie tussen funksies in die sirinks en die vormveranderinge van die klankkanaal is. Hierdie koördinasie is daarop gemik om die voortdurende verstelling van resonansies te bewerkstellig, dikwels teen ’n hoë tempo en met groot presiesheid, sodat dit by die veranderende klankpatrone van die sirinks kan pas.” As daar na elke “stem” afsonderlik geluister word, ontbreek daar sommige note wat in die gekombineerde liedjie voorkom.
Die vermoë van ’n sangvoël om sy stemfilter te wysig, word deur Stephen Nowicki in ’n artikel in Nature bespreek: “’n Voël kan sy stemfilter op verskeie maniere wysig: deur byvoorbeeld die trachea se lengte te verander, deur die larinks te vernou of deur sy keel en bek wyd oop te sper. Sulke vormveranderinge kom heel waarskynlik ooreen met die kopbewegings wat oor die algemeen by sangvoëls te sien is.” Nowicki kom tot hierdie slotsom: “In teenstelling met vroeëre teorieë moet voelgesang beskou word as die gekoördineerde klank van verskeie motoriese stelsels wat saamwerk.”
Navorsers tref ’n onderskeid tussen voëlgeluide en die helder fluitgeluide van sangvoëls. N. H. Fletcher skryf in die Journal of Theoretical Biology dat die fluitgeluide in voëlgesang met hulle suiwer tone blykbaar nie van vibrerende membrane in die sirinks afkomstig is nie, maar dat dit deur ’n heeltemal ander meganisme voortgebring word. Dit word moontlik “op suiwer aërodinamiese wyse voortgebring, sonder die hulp van meganies bewegende oppervlakke”. Daardie pragtige vloeiende note wat deur party van die virtuose gebruik word, gaan steeds die verstand te bowe.
Jeffrey Cynx van die Rockefeller University Field Center gee hierdie brokkie: “Lesers kan verheug of nederig voel wanneer hulle uitvind dat die bemeestering van absolute toongehoor by sangvoëls gevind kan word. . . . Ek en my kollegas het ’n aantal sangvoëlspesies getoets vir absolute toongehoorwaarneming en gevind dat die vermoë algemeen voorkom.”
Pragtig vir hulle, pragtig vir ons
“As wetenskaplikes wat die gedrag van diere bestudeer”, skryf Stephen Nowicki en Peter Marler in Music Perception, “word ons dikwels so geboei deur die funksionele en evolusionêre betekenis van voëlgesang as kommunikasiemiddel dat ons van die kragtige estetiese gevoelens vergeet wat dit vir ons as ’n soort natuurlike musiek inhou.” Hulle het toe vertel dat ’n paar wetenskaplikes in die twintigerjare en daarna “van mening was dat voëlgesang beskou moet word as ’n primitiewe kuns, pragtig vir die voël en ook pragtig vir ons”.
Die fluisterliedjies van die moedervoël op die nes, die duette van die musiekmaker-winterkoninkies diep in die woude, die lewerik se uitbundige wysies van spontane kuns, die ereboogvoël wat ’n arend so goed naboots dat dit ’n hen en haar kuikens na skuiling laat skarrel, die spotlyster se liedjies in die vroeë oggendure en dan die hoogtepunt van dit alles wanneer die groot dagbreekkoor die hele wêreld buite van musiek laat weergalm! Dit strek tog sekerlik baie verder as statistiek en sonogramme. Presies hoe die voëls die uitvoerings lewer, gaan moontlik ons verstand te bowe, maar daardie raaisel moet net ons hartgrondige waardering vir daardie sangvoëlvirtuose en vir die God wat hulle gemaak het, vergroot!
[Prente op bladsy 16, 17]
Regs bo, regsom: Vink, satynvoël, sangmossie, gevlekte winterkoninkie, Amerikaanse wielewaal
[Erkenning]
Philip Green
[Erkenning]
Philip Green
[Erkenning]
J. P. Myers/VIREO/H. Armstrong Roberts
[Erkenning]
Philip Green
[Erkenning]
T. Ulrich/H. Armstrong Roberts
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Paul A. Berquist