Voëlgesang—Net nog ’n mooi melodie?
DIE kollig in die verte begin die koorlede verlig terwyl hulle, netjies geklee vir die uitvoering, hulle plekke inneem. Elkeen is van kleins af volgens die familietradisie opgelei en sing met gemak uit volle bors. Dit lyk selfs of ’n paar van hulle in die kuns van improvisasie gekonfyt is omdat hulle nuwe en verskillende melodieë spontaan voortbring.
Waar word die uitvoering gehou? Dit is nie in ’n wêreldberoemde konsertsaal nie. Die nag se donker gordyn gaan eerder oop en ’n groot verskeidenheid geveerde skepseltjies kom te voorskyn. Die geluide van baie soorte sangvoëls, in bome, op heinings en op telefoondrade, smelt saam in een van die pragtigste kore ter wêreld. Hulle trillers, versieringsnote en fluitgeluide is ’n vrolike begroeting vir ’n nuwe dag.
Maar dit is nie net aangename klanke nie. Daar steek veel meer agter hierdie voëlgesang as wat ’n mens dink. Waarom sing voëls? Maak die liedjies sin? Hoe leer die voëls hulle liedjies? Leer hulle ooit nuwes?
Die verskuilde boodskappe
Die uitbundigste serenades word soggens en saans gesing. Jy sal waarskynlik meestal mannetjiestemme in die koor hoor. Hulle boodskap is tweevoudig. Vir ander mannetjies dien dit as ’n ernstige waarskuwing om nie gebiedsgrense te oorskry nie. Vir die wyfies is dit ’n uitnodiging van die hubare vrygeselle. Sangvoëls ontwikkel hulle eie streeksliedjies wat soortgelyk is aan die verskillende aksente waarmee ’n taal gepraat kan word. Die besondere dialek van die paringsliedjie sal slegs wyfies uit die sanger se spesifieke omgewing lok. Die uitbundigste en ingewikkeldste voëlgesang kan tydens paartyd gehoor word—’n vertoning om ’n goeie indruk op die nooiens te maak.
Met sy melodie vertel die sanger vir vriend sowel as vyand waar hy is. Daarom vermy kleurryke voëls en dié wat ooptes verkies verstandig uitbundige gesang wat onwelkome aandag kan trek. Daarenteen kan goed gekamoefleerde voëls en dié wat in dig beboste gebiede woon luidkeels, na hartelus, sing sonder veel gevaar dat hulle raakgesien sal word.
Soms hoor jy moontlik nie die ware lied van ons gevleuelde vriende nie, maar bloot ’n kort roepgeluid waardeur mannetjies en wyfies met mekaar in aanraking kom of waardeur ’n swerm bymekaar gehou word. Dit kan ’n alarmroep as teken van dreigende gevaar wees of ’n wapenkreet om op ’n kat of ander indringer toe te sak. Deur hulle geluid dra voëls hulle stemming—hetsy hulle kwaad, bang of onrustig is—sowel as hulle paringstatus oor.
Bekwame en talentvolle musikusse
Sangvoëls se vokale vermoëns is werklik merkwaardig. Party kan drie of vier note gelyktydig sing. Ander kan tot 80 note per sekonde voortbring. Vir die menslike oor klink dit na een ononderbroke noot, maar voëls kan hulle vanweë hulle goeie gehoor onderskei.
Navorsers wou graag weet of voëls ’n oor vir musiek het. Ken voëls die verskil tussen ’n stuk orrelmusiek deur Bach en Strawinski se “Lenteritus”? Die navorsers het vier duiwe een van twee sleutels leer pik om die regte komponis aan te toon deur hulle met kos te beloon. Kort voor lank kon die duiwe die regte sleutel kies wanneer hulle enige deel van die 20 minuut lange stuk deur Bach hoor. Hulle kon selfs met musiek van ’n soortgelyke styl deur ander komponiste in feitlik alle gevalle die regte keuse doen.
Sekere tropiese voëls kan duette saamstel en uitvoer. ’n Paartjie sal blykbaar oefen en eksperimenteer tot hulle ’n oorspronklike komposisie geskep het wat uit frases bestaan en wat hulle om die beurt, of op ’n roep-en-antwoord-manier, sing. Hulle sing met soveel presisie dat dit vir ’n ongeoefende oor soos een ononderbroke liedjie klink wat deur net een voël gesing word. Elke maat kan óf ’n deel óf die hele lied solo sing as sy maat nie by is nie. Hierdie unieke vermoë help klaarblyklik dat voëls in digte reënwoude hulle eie maat kan opspoor en eien.
Komponiste en nabootsers
Presies hoe voëls hulle liedjies leer en uitdink, is ’n onderwerp wat nog ondersoek word, maar een ding is seker: Hulle het baie en verskillende leermetodes. Hier is voorbeelde van die verskeidenheid leermetodes wat in die voëlwêreld aangetref word.
Die boekvinkmannetjie se lied is by geboorte ten minste gedeeltelik in sy brein geprent. Selfs al word hy heeltemal apart van ander voëls groot, sal sy lied, hoewel dit abnormaal sal wees, steeds net soveel note hê en ongeveer net so lank soos die standaardlied wees. Maar om die regte patroon te kan ontwikkel, moet hy die lied van ander boekvinkmannetjies hoor voor hy oud genoeg is om self te sing, en hy moet dit weer die volgende lente hoor. Dan moet hierdie geveerde virtuoos, soos dit met ’n menslike beroepsanger die geval is, sy lied vervolmaak deur oefening, oefening, oefening—deur sy jong geluid herhaaldelik met die melodie in sy kop te harmonieer.
Die Oregon-vink sal sy eie liedjies uitdink as hy nie die oorspronklike liedjie hoor nie. Maar as hy een keer die doodeenvoudige vinkliedjie hoor, sal hy ophou om sy eie liedjies te maak en sal hy net soos al die ander klink. Die Arizona-vink se skeppingsvermoë sal daarenteen geprikkel word wanneer hy ’n volwasse vink hoor. Hy sal nie naboots wat hy hoor nie, maar word aangespoor om sy eie, unieke lied uit te dink.
Die sterkste bewys dat party liedjies geneties vasgelê is, word deur “broeiparasiete” voorsien. Die koekoek lê byvoorbeeld sy eiers in die neste van ander soorte voëls wat as pleegouers optree. Hoe weet die klein koekoekie wanneer hy uitbroei dat hy nie soos sy pleegpa is en nie soos hy behoort te sing nie? Die koekoekliedjie moet by geboorte al goed in sy brein geprent wees.
Voëlgesang is dus in baie gevalle klaarblyklik iets geneties. Selfs as ’n voël nooit sy eie, oorspronklike liedjie leer nie, sal hy nie eenvoudig ’n ander voëlsoort se liedjie naboots en oorneem nie. Party navorsers meen dat die voël ’n vae patroon van die oorspronklike lied in sy brein het en kan ontleed wat hy hoor en die geluid kan namaak wat die beste met die patroon ooreenkom.
En wat ’n wonderlike brein het hulle tog! Die wetenskaplike Fernando Nottebohm het die verbasende ontdekking gedoen dat sangvoëls se brein lateraal gemaak is, dit wil sê, dit is volgens linker- en regterkante georganiseer, wat elkeen sy eie besondere funksies het. Hy het ook vasgestel dat die vermoë om liedjies te leer tot ’n spesiale gebied van die voël se brein beperk is. In die groeiende kanariemannetjie sit hierdie deel uit en krimp dit na gelang van hoeveel nuwe wysies hy vir die komende paartyd moet leer. Kanaries probeer vroeg in hulle lewe sing, maar selfs hierdie sangmeesters bereik nie professionele status voor hulle agt of nege maande oud is nie.
Ander sangvoëls spesialiseer in die skepping van variasies op ’n tema deur ’n bestaande lied te leen en daarop uit te brei of die volgorde van sy note of dele te verander. Ons word al lank deur sulke nabootsers bekoor, veral deur die voëls wat hulle vermoë gebruik om te “praat” of mensestemme na te boots. Die nabootsers van die voëlwêreld is onder andere die liervoël van Australië, die rietkwelertjie en spreeu van Europa en die geelborsspekvreter en spotlyster van Noord-Amerika. Die spotlyster het moontlik tientalle liedjies in sy repertoire, wat selfs ’n nabootsing van ’n padda of ’n kriek insluit. Dit is werklik interessant om na die spotlyster se vrolike mengelmoes van uittreksels uit bekende klassieke liedjies van die voëlryk te luister.
Wanneer hierdie gevleuelde wesens hulle pragtige melodieë sing, kan jy nie net hoor nie, maar ook met waardering luister. Môre se uitvoering sal douvoordag begin. Gaan jy dit geniet?
[Venster op bladsy 19]
’n Bekende gelui
’n Wetenskaplike in Brittanje het ’n bekende gelui in een van die liedjies van verskeie sanglysters opgemerk. Hy het die liedjie opgeneem en elektronies ontleed. Tot sy verbasing was dit heel soortgelyk aan die gelui van die elektroniese telefoon wat deur Telecom, Brittanje se telefoonmaatskappy, versprei word. Die sangvoëls het die wysie blykbaar gehoor, geleer en by hulle repertoire gevoeg. Die singende lysters het heel moontlik ’n paar niksvermoedende Britte na die telefoon laat hardloop.
[Foto-erkennings op bladsy 18]
Camerique/H. Armstrong Roberts
T. Ulrich/H. Armstrong Roberts