Herinneringe—Deur net ’n knoppie te druk!
Jy haas jou na die plaaslike kamerawinkel om daardie pragfoto’s te gaan haal wat jy tydens jou laaste vakansie geneem het. Maar wat ’n teleurstelling is hulle tog nie! Party van die foto’s is donker, die ander is weer oorbelig of nie skerp nie. ‘Dis die kamera!’ sê jy gefrustreerd. Maar is dit werklik die kamera? Of is dit die fotograaf?
JOU troue, asemrowende plekke wat jy besoek het, vriende wat weggetrek het, oupas en oumas en ander familielede, jou kind se eerste treetjies—al hierdie herinneringe kan met die druk van ’n knoppie op film vasgelê word. Maar wat ’n teleurstelling is dit tog as jou foto’s swak uitkom—of glad nie uitkom nie! Nee, ’n nuwe kamera is waarskynlik nie die oplossing nie. Die sleutel tot sukses is om die basiese beginsels van fotografie te bemeester.
Hoe werk ’n kamera?
Eenvoudig gestel, ’n kamera is ’n ligdigte houer met ’n “oog”, ’n lens, waardeur lig binnekom wat gefokus word om ’n beeld op film te vorm. Die oppervlak van die film bestaan uit liggevoelige chemikalieë wat genoeg lig moet kry om behoorlik belig te word. Te veel lig, en jou foto’s lyk verbleik. Te min lig, en jou foto’s is te donker.
Wanneer jy jou foto neem, gaan die sluiter van die kamera ’n breukdeel van ’n sekonde oop en laat ’n beeld op jou film vorm. Een manier om filmbeligting te beheer, is dus om die tydsduur wat die sluiter oop bly te reguleer. In gewone daglig kan ’n gemiddelde foto teen ’n sluiterspoed van 1/125 sekonde geneem word. Baie kameras het ’n reeks sluiterspoedverstellings, maar in die algemeen behoort jy die vinnigste sluiterspoed te gebruik wat die ligvlak toelaat. Hoe langer die sluiter oop bly, hoe groter is die kanse dat jou foto onduidelik sal wees as gevolg van die beweging van die kamera. In kritieke situasies kan dit vermy word deur die kamera op ’n driepoot te monteer en deur die sluiter dan met behulp van ’n sluiterkabel of die kamera se tydmeter te ontspan.
’n Ander manier om filmbeligting te beheer, is om die grootte van die lensopening (wat ook die f-verstelling genoem word) te verstel. Dit is soos wanneer ’n mens jou oë wyd oop, half oop en op skrefies oop het. Dit beheer die hoeveelheid lig wat ingaan. Baie lense het ’n wyserplaat met verskillende verstellings, of f-getalle, waaruit jy kan kies. Hoe groter die lensopening, hoe meer lig word ingelaat en hoe groter is die filmbeligting. Om sake vir die beginner verder te bemoeilik, is die f-getalle die omgekeerde van die grootte van die lensopening. Byvoorbeeld: f-2,8 is ’n groot opening; f-32 is ’n klein openinkie. Baie kameras word deesdae gemaak met eienskappe soos outomatiese beligtingsbeheer en ingeboude ligmeters wat die presiese verstellings aandui waarop jy jou kamera moet instel. Trouens, party voloutomatiese kameras doen al die verstellings vir jou. Sulke kameras kan selfs vir jou fokus!
Watter film moet jy kies?
Net soos met kameras is daar ’n steeds wisselende verskeidenheid films beskikbaar. ’n Kleurnegatieffilm word gebruik om kleurafdrukke te maak. Dit is maklik om hulle rond te stuur, en dit is betreklik goedkoop om afdrukke van hulle te maak of hulle te vergroot. ’n Ander voordeel is dat selfs ’n swak beligte negatief ’n aanvaarbare afdruk sal maak weens sy groot speling, of beligtingspeling. Kleuromkeerfilms word gebruik om kleurtransparante, of skyfies, te maak. Maar jy sal ’n projektor en ’n skerm moet koop om skyfies te kan geniet. Skyfies is minder vergewensgesind en verg groter beligtingsakkuraatheid. Jy kan nietemin goeie afdrukke van hulle laat maak.
Films verskil wat hulle spoed (liggevoeligheid) betref en word volgens ISO- of ASA-getalle geevalueer.a Getalle wissel van ISO-25 tot ISO-3200. ISO-100-dagligfilm is ’n goeie meerdoelige film omdat hierdie mediumspoedfilm goed is vir gewone dagligskote. ’n Vinniger film soos ISO-400 is goed vir swakligsituasies, soos die vroeë aand, bewolkte dae en binnenshuis. ’n Algemene reël is egter dat hoe stadiger die film is, hoe skerper is die besonderhede wat dit toon. Vinnige film is geneig om korrelrig op vergrotings te vertoon.
As jou kamera ’n filmspoedversteller het, is dit baie belangrik om dit volgens die regte ISO- of ASA-getal in te stel. Nou kom die punt waarom alles draai:
Hoe om ’n goeie foto te neem
Die meeste beginners neem kiekies. Hulle mik en druk. ’n Ervare fotograaf maak ’n foto deur ’n bietjie tyd te neem en met oorleg te werk te gaan. Hy stel ’n foto saam. Wanneer jy jou voorwerp of punt van belangstelling reg plaas, sê ons jy stel die foto saam. Nee, dit is nie altyd wenslik om jou voorwerp reg in die middel te plaas nie. Let op hoe die voorwerp in die voorbeeld wat hier gegee word (bladsy 26) baie interessanter kan word as dit effens van die middel af wegbeweeg word—sê omtrent ’n derde van die bokant of sykant van die foto af. So pas ’n mens die reël van derdes toe.
Dit is ook belangrik om die voorwerp van die agtergrond te isoleer. ’n Oorvol, of besige, agtergrond kan die kyker se aandag van die voorwerp aftrek. Is daar ’n liggekleurde muur of ’n ander neutrale agtergrond waarteen mense kan poseer? As ’n ideale agtergrond nie beskikbaar is nie, kan jy die lensopening groter (’n kleiner f-getal) stel. Dit sal die voorwerp in fokus bring maar die agtergrond sal onduidelik wees.—Sien voorbeeld, bladsy 24.
Om goeie beligting te verseker, kan jy twee bykomende foto’s neem, die een effens oorbelig en die ander een effens onderbelig. As jy dus jou foto teen f-8 en 1/125 sekonde neem, kan jy ook foto’s teen dieselfde spoed op f-5,6 en f-11 neem. Sodoende laat jy speling toe vir die beligtingsituasie. As jy daarenteen maksimum velddiepte wil hê, moet jy die bykomende foto’s neem deur die sluiterspoed te verhoog of te verlaag (1/60, 1/125 en 1/250 sekonde) terwyl jy die f-getal onveranderd hou.
Verligting is ook belangrik. As daar toevallig ’n helder agtergrond of skerp lig agter jou voorwerp is (sneeu, sonnige see of strand), kan dit jou kamera verwar en onderbeligting veroorsaak. Die oplossing? Gaan nader aan die voorwerp en neem ’n akkurate liglesing. Gaan dan terug na jou oorspronklike posisie, en neem jou foto teen die gekose instellings. Ervare fotograwe gebruik dikwels in daglig ’n elektroniese flits as vullig wat die skaduwees uitskakel wat deur helder teenlig of donker skaduwee veroorsaak word.
’n Helder, hoë son wat op (of direk agter) die voorwerp projekteer, kan donker skaduwees onder ’n mens se oë, neus en ken veroorsaak. As dit die geval is, moet jy die persoon in die skaduwee laat staan of ’n vulflits gebruik. Jy kan selfs die hoek van die son reg agter of langs die persoon laat val en so ’n ligkringeffek veroorsaak wanneer die son die persoon se hare verlig, mits die son net nie reg in jou lens skyn nie.
’n Elektroniese flits het sy beperkings, aangesien baie flitseenhede hoogstens tot op ongeveer tien meter doeltreffend is. Om ’n flitsfoto van ’n teater se verhoog (soos by ’n Christelike byeenkoms) of van die silhoeët van ’n stad te probeer neem, doen dus weinig meer as om jou battery pap te maak. ’n Direkte flits is geneig om skaduwees te veroorsaak of gelaatsvlekke te beklemtoon. Die oplossing? Probeer die flits (nie die lens nie) met ’n sneesdoekie of ’n sakdoek bedek om ligkolle uit te skakel, of laat die lig van ’n wit plafon af weerkaats. Jy sal ook vir die beligting moet kompenseer. Jy kan die persoon teen ’n donkerder agtergrond plaas om skaduwees te verminder.
Die rooi-oogeffek is nog ’n eienaardigheid van flitsfotografie, veral in die geval van kameras met ’n ingeboude flits. As jy nie jou kamera van jou flitseenheid kan skei nie (soos met ’n monteerhegarm), vra die persoon dan om eers na ’n helder lig te kyk sodat sy oë nie oopgespalk is wanneer jy die foto neem nie. Anders kan jy die persoon vra om nie direk in die lens te kyk nie.
Onthullende portrette
’n Goeie portret doen meer as om bloot ’n persoon se gelaatstrekke weer te gee. Dit vertel ’n mens iets van die persoon se persoonlikheid en karakter. Om sulke goeie foto’s te kan neem, moet jy die tegnieke van fotografie bemeester. Dan kan jy op jou voorwerp konsentreer en nie op jou toerusting nie.
Laat die persoon eers ontspan. Gebruik ’n telefotolens sodat jy ’n naby-foto kan neem sonder om daardie intimiderende kamera te naby aan die persoon te bring. Gepaste musiek is ontspannend. Nog ’n manier wat help dat die persoon van die kamera vergeet en natuurlik optree, is om met hom te gesels. Vra hom vrae om hom aan die praat te kry en lok só die emosies uit wat jy wil afneem. Wanneer jy kinders afneem, kan jy ’n speletjie daarvan maak of hulle ’n storie vertel. Kry hulle om spontaan en spelerig te wees. Rekwisiete kan ook help om die persoon te laat ontspan. Laat ’n musikant dus met sy instrument of ’n werker met sy gereedskap poseer.
’n Groepfoto beteken nie noodwendig dat almal in ’n netjiese ry moet staan nie. Gebruik rekwisiete—’n stoel of twee—en laat hulle daarom staan, miskien in ’n driehoek. Dit is nie nodig dat almal vir die kamera moet glimlag nie. Kyk noukeurig na die toneel voordat jy die knoppie druk. Is hulle klere en hare goed versorg? Is daar dinge in die agtergrond wat die aandag aftrek? Is die kamerahoek so vleiend moontlik? (’n Kamera wat ietwat laer as die gesig geplaas is, kan ’n lang neus korter laat voorkom of ’n bles minder opvallend maak.) Nou kan jy ’n paar foto’s neem, en as hulle ontwikkel is, kan jy die beste kies.
Met ’n bietjie moeite—en oefening—kan jou kamera jou baie genot verskaf en jou help om geliefkoosde herinneringe te bewaar, herinneringe wat geneem is met die vaardige druk van jou kameraknoppie!
[Voetnoot]
a ISO is die afkorting vir International Standards Organization; ASA vir American Standards Association. In dele van Europa word DIN (Deutsche Industrie Norm) ook gebruik. ’n Film wat ISO-100/21 gemerk is, is gelyk aan ASA 100, of 21 DIN.
[Venster op bladsy 26]
’n Paar maniere om teleurstellende foto’s te vermy
1. Lees en volg die kamera se instruksies noukeurig.
2. Maak seker dat die kamera volgens die filmspoed ingestel is.
3. Maak seker dat jou vingers of die lensdop nie die lens en die flits bedek nie.
4. Stel jou foto saam deur van posisie te verander of deur ’n zoemlens te gebruik.
5. Hou die kamera stil, en druk die ontspanknoppie.
[Prente op bladsy 24]
’n Wyer lensopening (kleiner f-getal) isoleer die blom van sy agtergrond; die kleiner lensopening hou die voorwerp en agtergrond in fokus
[Prente op bladsy 25]
’n Vulflits kompenseer vir die donker skaduwees in die boonste foto
[Prent op bladsy 26]
Deur een metode, “die reël van derdes” te gebruik, word die punt van belangstelling nie in die middel van die foto geplaas nie