Hoe fotografie die lig gesien het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE
Die verhaal lui dat die besoekers van die italiaanse fisikus giambattista della porta (1535?-1615) geskok was. op die muur voor hulle het beelde van klein, onderstebo mense rondbeweeg. die toeskouers het paniekbevange uit die kamer geskarrel. Della Porta is weens towery verhoor!
EN DIT net omdat hy sy gaste probeer vermaak het met ’n camera obscura—wat in Latyn letterlik “donker kamer” beteken. Die beginsel waarvolgens die kamera werk, is eenvoudig, maar dit kan skitterende resultate lewer. Hoe werk dit?
Wanneer lig deur ’n klein gaatjie in ’n donker kassie of kamer inskyn, word ’n omgekeerde beeld van wat buite is, op die teenoorgestelde kant geprojekteer. Wat Della Porta se gaste gesien het, was maar net akteurs wat buite toneelgespeel het. Die camera obscura was ’n voorloper van die moderne kamera. Dalk is jy een van die miljoene wat vandag ’n kamera besit of ten minste al die doodgewone, goedkoop weggooikamera gebruik het.
Die camera obscura was nie eers in Della Porta se dag ’n nuwe uitvindsel nie. Aristoteles (384-322 v.G.J.) het die beginsel waargeneem waarvolgens die kamera later sou werk. Die 10de-eeuse Arabiese geleerde Alhazen het dit duidelik beskryf en die 15de-eeuse skilder Leonardo da Vinci het in sy notaboeke daaroor geskryf. Met die bekendstelling van die lens in die 16de eeu kon die kamera skerper beelde voortbring, en baie kunstenaars het dit gebruik om perspektief en skaal akkuraat weer te gee. Maar ten spyte van baie probeerslae kon die beelde wat gevorm is, tot die 19de eeu nie permanent vasgelê word nie.
Die wêreld se eerste fotograaf
Die Franse fisikus Joseph-Nicéphore Niepce het moontlik al in 1816 na ’n manier begin soek om permanente foto’s te maak. Maar sy groot deurbraak het gekom toe hy met litografie geëksperimenteer het en op ’n ligsensitiewe stof genaamd bitumen van Judea afgekom het. Gedurende die middel-1820’s het hy ’n bitumenbedekte piouterplaat in ’n camera obscura geplaas, dit voor ’n venster gesit wat oor sy landgoed uitgekyk het, en dit agt uur lank aan die lig blootgestel. Nie eers die mees onervare amateurfotograaf sou vandag trots wees op die wasige beeld van ’n gebou, ’n boom en ’n skuur wat dit gelewer het nie, maar Niepce het goeie rede gehad om trots te wees. Dit was waarskynlik die heel eerste permanente foto wat ooit geneem is!
Om sy metode verder te ontwikkel, het Niepce in 1829 ’n vennootskap aangegaan met ’n dinamiese entrepreneur genaamd Louis Daguerre. In die jare ná Niepce se dood in 1833 het Daguerre belangrike vooruitgang gemaak. Hy het silverjodied as ’n deklaag op koperplate gebruik. Dit was meer ligsensitief as bitumen. Hy het per ongeluk ontdek dat ’n duidelike latente beeld verskyn het wanneer hy die plaat met kwikdampe behandel het nadat dit aan lig blootgestel is. Dit het die beligtingstyd drasties verminder. Toe Daguerre later ontdek het dat die beeld nie met verloop van tyd donkerder geword het as die plaat met ’n soutoplossing gewas is nie, was fotografie reg om sy buiging op die wêreldtoneel te maak.
Aan die wêreld bekend gestel
Toe Daguerre se uitvindsel, wat die daguerreotipe genoem is, in 1839 aan die publiek bekend gestel is, was die reaksie oorweldigend. Die geleerde Helmut Gernsheim skryf in sy boek The History of Photography: “Daar is seker geen ander uitvindsel wat die publiek se verbeelding so aangegryp het en die wêreld so blitsvinnig verower het soos die daguerreotipe nie.” ’n Ooggetuie van die openbare bekendstelling het geskryf: “’n Uur later is al die brilmakers se winkels oorval, maar hulle kon nie genoeg instrumente bymekaarskraap om die stormloop van aspirant-daguerreotipeerders te bevredig nie; ’n paar dae later kon jy op al die pleine van Parys driebeenkassies voor kerke en paleise sien staan. Al die fisici, chemici en geleerdes van die hoofstad het silwerplate blink gevryf, en selfs die welgestelde winkeliers kon nie die versoeking weerstaan om van hulle geld op die altaar van vooruitgang op te offer nie, sodat dit in jodium verdamp en in kwikdampe verdwyn het.” Die pers in Parys het die gier gou daguerréotypomanie genoem.
Die uitsonderlike gehalte van die daguerreotipe het die Britse wetenskaplike John Herschel beweeg om te skryf: “Dit is nie ’n oordrywing om dit ’n wonderwerk te noem nie.” Party het selfs toorkrag aan die uitvindsel toegeskryf.
Maar nie almal het die nuwe uitvindsel met ope arms verwelkom nie. In 1856 het die koning van Napels fotografie verban, moontlik omdat mense gedink het dat dit met “die bose oog” verband hou. Toe die Franse skilder Paul Delaroche ’n daguerreotipe gesien het, het hy uitgeroep: “Van vandag af is die skilderkuns dood!” Die uitvindsel het ook groot kommer gewek onder skilders wat dit as ’n bedreiging vir hulle lewensonderhoud beskou het. Een kommentator het party se vrese uitgespreek toe hy gesê het: “Fotografie se streng getrouheid aan die sigbare werklikheid kan die individu se konsep van skoonheid vernietig.” Verder is foto’s selfs gekritiseer weens die genadelose realisme waarmee dit gekoesterde illusies van skoonheid en jeug verpletter het.
Daguerre versus Talbot
William Henry Fox Talbot, ’n Engelse fisikus, het gedink dat hý die uitvinder van fotografie was en was dus uit die veld geslaan toe Daguerre se uitvindsel aangekondig is. Talbot het velle papier met ’n deklaag silwerchloried in ’n camera obscura geplaas. Hy het die negatief met was gesmeer om dit deursigtig te maak, dit oor ’n ander vel bestrykte papier geplaas en dit dan aan sonlig blootgestel om ’n positiewe beeld te lewer.
Hoewel dit aanvanklik van laer gehalte en glad nie so gewild was nie, het Talbot se proses groter potensiaal gehad. ’n Mens kon verskeie afdrukke van ’n enkele negatief maak, en papierafdrukke was goedkoper en makliker om te hanteer as delikate daguerreotipes. Moderne filmfotografie is nog steeds op Talbot se proses gebaseer, terwyl die daguerreotipe, ten spyte van die vroeë gewildheid daarvan, ’n doodloopstraat was.
Niepce, Daguerre en Talbot was egter nie die enigstes wat meegeding het om die titel van Vader van die Fotografie nie. Ná Daguerre se aankondiging in 1839 het ten minste 24 persone—van Noorweë in die noorde tot Brasilië in die suide—na vore getree en beweer dat hulle fotografie uitgevind het.
Groot veranderinge as gevolg van fotografie
Jacob August Riis was ’n maatskaplike hervormer wat fotografie vroeg reeds as ’n ideale manier beskou het om armoede en lyding onder die publiek se aandag te bring. In 1880 het hy in die nag foto’s begin neem van agterbuurte in die stad New York deur brandende magnesiumpoeier in ’n braaipan as ’n flits te gebruik—’n metode wat nie juis veilig was nie. Hy het twee keer die huis waarin hy gewerk het, aan die brand gesteek, en een keer het sy klere aan die brand geraak. Sy foto’s is na bewering een van die redes waarom president Theodore Roosevelt ’n aantal maatskaplike hervormings onderneem het toe hy in die Withuis ingetrek het. ’n Reeks natuurfoto’s deur William Henry Jackson het ook die Amerikaanse Kongres oortuig om Yellowstone in 1872 tot die wêreld se eerste nasionale park te verklaar.
Toeganklik vir almal
In die laat 1880’s is baie potensiële fotograwe nog steeds teruggehou weens die koste en kompleksiteit van fotografie. Maar in 1888 het George Eastman die Kodak uitgevind, ’n draagbare, gebruikersvriendelike kaskamera waarin ’n rol buigsame film was, en daarmee het hy amateurfotografie binne almal se bereik geplaas.
Nadat die rol opgebruik is, het die klant die hele kamera na die fabriek gestuur. Die film is daar ontwikkel en die kamera is herlaai en teruggestuur, tesame met die ontwikkelde foto’s—alles teen ’n redelike prys. Die slagspreuk “Jy druk die knoppie, ons doen die res” was glad nie ’n oordrywing nie.
Fotografie vir die man op straat is gebore, en die feit dat miljarde foto’s jaarliks geneem word, toon dat die gewildheid daarvan nooit afgeneem het nie. En vandag is daar digitale kameras wat ’n beeld in megapixels vaslê en fotografie selfs gewilder maak. Hierdie kameras gebruik ’n geheuestiffie wat honderde foto’s kan berg. Hoëgehalteafdrukke kan selfs met ’n tuisrekenaar en ’n drukker gemaak word. Fotografie het sonder twyfel al ver gevorder.
[Prent op bladsy 20]
Panoramiese daguerreotipe van Parys, ca. 1845
[Prent op bladsy 20]
’n Reproduksie van wat moontlik die eerste foto is, ca. 1826
[Prent op bladsy 20]
’n Tekening van ’n camera obscura, wat deur baie kunstenaars gebruik is
[Prent op bladsy 21]
Niepce
[Prente op bladsy 23]
’n Daguerreotipe van Louis Daguerre, en sy kamera, 1844
[Prente op bladsy 23]
William Talbot se ateljee, ca. 1845, en sy kameras
[Prente op bladsy 23]
’n Foto van George Eastman wat ’n Nr. 2-Kodakkamera vashou, en sy Nr. 1-kamera met filmrol, 1890
[Prent op bladsy 23]
’n Foto van wat later Yellowstone- Nasionale Park geword het, deur W. H. Jackson, 1871
[Prent op bladsy 23]
Moderne digitale kameras neem foto’s in megapixels
[Foto-erkennings op bladsy 20]
Panoramiese foto van Parys: Photo by Bernard Hoffman/Time Life Pictures/Getty Images; Niepce se foto: Photo by Joseph Niepce/Getty Images; camera obscura: Culver Pictures
[Foto-erkennings op bladsy 22]
Bladsy 23: Talbot se ateljee: Photo by William Henry Fox Talbot & Nicholaas Henneman/Getty Images; Talbot se kamera: Photo by Spencer Arnold/Getty Images; Kodakfoto, Kodakkamera en Daguerre-kamera: Courtesy George Eastman House; Yellowstone: Library of Congress, Prints & Photographs Division, LC-USZ62-52 482