Die stryd om die Ierse moeraslande
Deur Ontwaak!-medewerker in Ierland
“AS IETS nie gedoen word, en gou gedoen word nie, kan ’n unieke deel van die wêreld se lewende erfenis vir ewig verlore wees.” So het die Britse skrywer, dr. David Bellamy, gesê. Watter erfenis het hy in gedagte gehad? Ierland se moeraslande, of veenlande.—Bellamy’s Ireland—The Wild Boglands.
Nie almal in Ierland beskou die moeraslande as ’n erfenis nie. In die verlede, sê skrywer Michael Viney, “was die moerasland sinoniem met swaarkry en die armoedigste leefwyse”. Volgens die IPCC (Irish Peatland Conservation Council) meen baie mense vandag dat al die moeraslande “uitgegrawe, gedreineer en in iets droogs en meer ‘bruikbaars’ omskep behoort te word”. Maar waarom is bewaringsgesindes dan bekommerd, aangesien die uitgrawing en dreinering van moerasland waardevolle brandstof lewer en goeie landbougrond agterlaat? Omdat hulle die moeraslande as “unieke vleiagtige-ekosisteme” beskou.
Twee hooftipes moeraslande is in gevaar. Die een staan bekend as hoogveen en die ander as kombersveen. Volgens dr. David Bellamy “bedek [kombersveen] die nat westelike [en ander nat, bergagtige gebiede] met ’n lewende kombers, waarvan die gelyke op geen ander plek op aarde aangetref word nie”. Presies wat is hierdie twee tipes moerasland? Is hulle werklik enigiets meer as moerasagtige, verraderlike plekke waaruit brandstof vir die winter gegrawe kan word? Moet hulle almal in rook opgaan?
Hoogveen en kombersveen
Moeraslande is kolossale massas moerasveen met ’n lewende bedekking van plantegroei wat bestaan uit mos, heide, rietgras en blomme. Hoogveen het na bewering duisende jare gelede in plekke soos vlak mere begin groei. Plantegroei het doodgegaan en tot op die bodem afgesak waar dit stadig verrot het om veen te vorm. Hierdie neerslae verrottende plante het laag op laag opgehoop totdat hulle uiteindelik die meer gevul het. Party neerslae het tot 12 meter diep geword.
Moerasmos het die deurweekte massa wat uit die mere opgerys het, ingeneem en soos sponse gewerk om die oppervlak van die moerasland voortdurend te deurweek. Groot bulte van hierdie moerasmos het boontoe en buitentoe versprei en verbasende koepelvormige hoogvene gevorm. “Die koepeldak van ’n hoogveen”, sê David Bellamy, “is in werklikheid ’n reusagtige druppel water wat vasgehou word deur ’n matriks dooie, deels verrotte plantreste wat deur ’n lewende veenkors aanmekaar gehou word.”
Kombersveen het daarenteen nie mere nodig gehad om te groei nie. Hulle het al die water wat hulle nodig gehad het van volgehoue reënval in akwiese gebiede van die land gekry—gebiede waar dit minstens 235 dae per jaar reën en die reënval meer as 1 200 millimeter per jaar is. David Bellamy sê die kombersveen, wat ses meter diep kan wees, is ’n reusagtige, “ondoeltreffende komposhoop . . . wat oorversadig is met water”.
Onder die oppervlak bestaan moerasland dus uit lae plantegroei wat in verskillende stadiums van ontbinding is. Na-aan die bokant kan jy duidelik die reste van dooie plante in die sagte bruin veen sien. Aan die onderkant het hierdie reste verrot om ’n baie donkerder, digter veen te vorm wat amper soos stopverf voel.
Dit klink dalk kaal en onaantreklik. Maar benewens die feit dat moeraslande uitgestrekte brandstofopgaarplekke is, het hulle ’n prag van hulle eie. Michael Viney beskryf die kombersveen in die weste van Ierland asof dit om die berge gedraai is soos ’n groot bruin deken om die knieë van ’n ou man. Hy sê voorts: “As jy die deken van naderby bekyk, sien jy dat dit geweef is uit pragtige weefstof—fluweelagtige swart en bottelgroen mos, geborduurde goud- en rooskleurige korsmos, filigraan afwerkings van grys-groen boorsel.”—The IPCC Guide to Irish Peatlands.
Dit is hierdie nat towerland wat bewaringsgesindes wil bewaar. Die moerasland is die tuiste van derduisende diere, soos paddas, watersalmanders, hase, voëls en verskeie insekte. Dit onderhou ’n groot verskeidenheid plante; daar is die alomteenwoordige moeraskatoen, waterlelies, bekerplante, pypkruie, wintergroenplante, moerasaffodille en tientalle ander soorte plante. Die rondeblaarsonnedou is ’n onverwagte inwoner van die moeraslande. Dit is vleisetend en vang insekte op sy klewerige blare vas waarna hy hulle stadig verteer.
Die veen word uitgegrawe
As jy in die lente of somer oor enige van Ierland se ou moeraspaaie ry, oftewel wip, sal jy steeds mans en vroue sien wat besig is om die veen, of turf, soos hulle dit noem, uit te grawe. Hulle gebruik nog die tradisionele veengraaf, ’n spesiale graaf met ’n smal lem wat dikwels ’n ekstra snykant reghoekig op die lem het sodat dit ’n turfsooi met een spit kan deursny. Die grawers sprei hierdie sooie uit om in die somerson droog te word en versamel dit dan later om dit as winterbrandstof te gebruik. Die aromatiese geur van brandende veen dra daartoe by dat ’n mens die hitte van die vuur op ’n koue winternag geniet.
Wanneer mense die veen so uitgrawe, is hulle amper soos miere wat ’n groot voedselwinkel stroop. Maar selfs hierdie grawery, tesame met die landdreineringskemas, het die moeraslande oor die afgelope duisend jaar geleidelik verander. Die werklike bedreiging vir die behoud van die moeraslande het egter in die laaste 40 jaar gekom. Dit was toe die kolossale masjiene van Bord na Móna (die Ierse Veenraad) die veen teen ’n sorgwekkende tempo uit die moeraslande gegrawe en geskraap het.
Dit is nie maklik om veen op groot skaal te herwin nie. Onbewerkte moerasland bestaan 95 persent uit water, en dit moet minstens vyf jaar lank aanhoudend gedreineer word voordat die vernuftig ontwerpte graafmasjiene veilig op die moerasland kan werk.
Die owerhede laat nie onbewerkbare gebiede agter nadat hulle die veen uitgegrawe het nie. Hulle doen baie om moerasland wat uitgegrawe is in bruikbare en produktiewe land te omskep. Maar dit beteken steeds dat die moerasland gevaar loop om uitgewis te word. In Ierland is daar minder as 5 persent hoogveen met ’n mate van natuurbewaringspotensiaal oor. Dit is nie meer ’n geval van miere wat ’n voedselwinkel stroop nie. Die hele winkel word nou leeg gedra en die gebou gesloop.
Kan hulle bewaar word?
Bewaringsgesindes weet dat dit onrealisties is om ’n verbod op die uitgrawery van veen te plaas. Dit het sin om sulke toeganklike energiebronne te gebruik. Maar, vra hulle, moet ontginning uitwissing beteken? Catherine O’Connell van die IPCC vra: “Wil ons hê dieselfde moet met ons moeraslande gebeur as wat met die Dodo gebeur het?”
Die tyd sal leer.
[Venster op bladsy 16]
Ierland se moeraslande bewaar meer as veen
Die liggame van mense wat in die moeraslande verdrink het of wat eeue gelede tydens rituele om die lewe gebring is, is in ’n verbasend goed bewaarde toestand uit die moerasland opgegrawe. Plattelanders het gereeld botter daar begrawe en die moerasland so as ’n primitiewe yskas gebruik. Turfsnyers kry dikwels houtvate met botter daarin wat in die veen begrawe is en nooit weer opgegrawe is nie. Pragtige artefakte van goud, silwer en brons is al uit wegsteekplekke in die moeraslande opgegrawe waar hulle versteek is sodat plunderende Wikings hulle nie sou vind nie.
[Venster op bladsy 17]
Moeraslande kan gevaarlik wees
“Moeraslande kan gevaarlike plekke wees; moet hulle nooit alleen besoek nie”, waarsku party mense. Moeraslande is ingewikkelde gebiede, vol dreineerstelsels, strome en poele. Drywende moeraslande kan op diep mere ontstaan wanneer ’n laag veen op die oppervlak van die meer vorm. Hulle skud wanneer iets daarop loop en kan mense en diere verswelg.
“Stukke veen teen hellings kan van die kombersveenmassa afbreek en teen die helling afgly en bome omstoot en huise vernietig, net soos vloeiende vulkaniese lawa wat alles in sy pad vernietig.”
[Prente op bladsy 16, 17]
Bo regs om:
Turf wat in Connemara, Ierland, opgestapel is
Onbewerkte moerasland—moerasagtig en verraderlik
Vleisetende rondeblaarsonnedou
’n Veilige hawe vir ’n wulp se nes
[Erkenning]
Dutch Foundation for Conservation of Irish Bogs
[Erkenning]
Dr. R. F. Hammond, Teagasc, Ireland (above and top right)