Skoenlappers, plante en miere—’n Onderlinge verwantskap
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND
IN Julie weet delikate gentiaanbloutjies in Wes-Europa dat dit tyd is om die volgende geslag voort te bring. Om dit egter reg te kry, het dié skoenlappers meer as net ’n maat nodig. Hulle het ook die hulp van klokkiesgentiane wat blom, en van honger knoopmiere nodig. Waarom? Watter rol speel plante en miere in die lewensiklus van hierdie skoenlappers?
Die Dwingelderveld- Nasionale Park in die noorde van Nederland is een plek waar ’n mens hierdie interessante verwantskap tussen die drie spesies kan sien. Hierdie park is die tuiste van ’n groot konsentrasie van die gentiaanbloutjies. In die lente en somer word die landskap in die Dwingelderveld omskep in ’n veelkleurige tapyt van verskeie blomplante, insluitende klokkiesgentiane, Europese dopheide en geel daglelies. Die gentiaanbloutjies word veral aangetrek deur die delikate blomme van die dopheide en die fraiingagtige blomme van die klokkiesgentiane—maar om twee verskillende redes. Die dopheide wat blom, is ’n gewilde plek om nektar te kry, en die klokkiesgentiane word as ’n potensiële bergplek beskou. Maar wat sal die skoenlappers hier berg?
’n Oorlewingsplan
Nadat die skoenlappers gepaar het, soek die wyfie ’n klokkiesgentiaan wat hoër as die omliggende plantegroei is. Die skoenlapper land op die blom en lê ’n paar witterige eiers. Ná vier tot tien dae broei die eiers uit, en tussen twee en ses piepklein ruspes begin hulle nuwe lewe deur van die kosvoorraad te eet. Nadat die ruspes twee tot drie weke lank onophoudelik geëet het, sak hulle af na die grond toe.
Interessant genoeg, die ruspe wag gewoonlik tot die aand toe om neer te daal. Dit is betekenisvol omdat twee miersoorte, wat ook in die nasionale park voorkom, in die aand hulle nes verlaat om na kos te soek. Die ruspe kom reg in die pad te lande van hierdie miere wat kos soek. Hoewel die ruspe se optrede dalk na selfmoord lyk, is dit eintlik deel van ’n oorlewingsplan. Wat gebeur dus volgende?
Kort voor lank loop party knoopmiere teen hierdie ruspe vas. Hulle sleep die ruspe dan gou na hulle nes. As die ruspe eers binne die nes is, word hy soos ’n eregas behandel en lewe hy veilig en gemaklik deur herfs, winter en lente tussen ’n oorvloed kos. Die ruspe het weliswaar ’n beperkte kosvoorraad om van te kies—’n paar mierlarwes en hulle stapelvoedsel, wat deur werkermiere opgebring word. Maar die miere kry ook hulle deel van die ooreenkoms. Hulle melk gereeld die ruspe vir die begeerlike heuningdou wat hy afskei. Selfs wanneer die ruspe die papiestadium bereik, voorsien hy die miere nog steeds van ’n bietjie heuningdou sowel as ander afskeidings wat die miere graag eet. Maar teen hierdie tyd is die einde van dié verwantskap vinnig in sig.
Van gas tot indringer
Gedurende die papiestadium begin die ruspe in ’n skoenlapper verander. Wanneer die verandering voltooi is, breek die papie oop en ’n skoenlapper verskyn. Dit is opmerkenswaardig dat dit gewoonlik vroeg in die oggend gebeur. Waarom? Omdat die miere in die oggend nie so bedrywig is nie, en in teenstelling met die tyd toe die ruspe van die plant na die grond toe afgesak het, is dit nou beter om nie sy gashere se aandag te trek nie.
Wanneer die miere uiteindelik opdaag om die papie te melk, is hulle geskok om ’n vreemde gevleuelde insek in hulle nes te kry—en hulle val die indringer onmiddellik aan. Die ruspe wat nou in ’n skoenlapper verander het, storm na die uitgang om sy lewe te red. Sodra die skoenlapper uit die nes is, klim hy op ’n takkie en jaag die miere hom nie meer nie.
Op ’n veilige hoogte strek die skoenlapper nou sy vlerke uit en laat hulle droog word. Dan, byna ’n jaar nadat hy sy lewe begin het, breek die groot oomblik aan en klap die skoenlapper sy vlerke vir die eerste keer. Daar gaan hy—al fladderend bo die heidevelde! Binne dae sal hy paar, en binnekort sal die wyfie na ’n hoë klokkiesgentiaan begin soek. Dit is immers tyd om vir die volgende geslag voor te berei.
[Venster op bladsy 18]
Skoenlappers word bedreig
Die heidevelde is die gentiaanbloutjie se habitat. Die heidevelde is baie eeue gelede in gebiede van Wes-Europa gevorm waar mense die oorspronklike woude afgekap het. In die verlede was daar heide met pers blomme so ver as wat ’n mens kon sien in groot dele van België, Duitsland en Nederland, maar vandag kom dit nog net hier en daar voor. Gevolglik word die gentiaanbloutjie se habitat al hoe kleiner. In die afgelope tien jaar het hulle uit 57 van hulle bekende 136 natuurlike habitats in Nederland verdwyn. Hulle voortbestaan word in werklikheid so bedreig dat hulle naam by die Europese lys van Bedreigde Skoenlappers gevoeg is, ’n dokument wat deur die Raad van Europa saamgestel is en die name van bedreigde skoenlapperspesies aangee.
Om te verseker dat die Dwingelderveld- Nasionale Park ’n veilige tuiste vir die gentiaanbloutjie bly, probeer die parkopsigters nou om die heidevelde in stand te hou deur dieselfde landboumetodes toe te pas wat eeue gelede deur boere gebruik is. Soos in die verlede laat herders hulle skape op die heidevelde wei, en beeste wei op velde wat met harder gras bedek is. Die skape en beeste wat wei, eet gedeeltes skoon waar Skotse struikheide, dopheide en ander plante kan uitspruit. (Ongeveer 580 plantsoorte groei tans in die park.) Gevolglik reageer die gentiaanbloutjie in die Dwingelderveld ook goed hierop—hulle getalle is aan die toeneem. Trouens, hierdie grootste en belangrikste heidevelde in Europa is oor die algemeen so ’n geskikte tuiste vir skoenlappers dat 60 persent van alle skoenlapperspesies wat in Nederland voorkom, hier gesien kan word.
[Prente op bladsy 16]
’n Skoenlapper besoek ’n klokkiesgentiaan en lê haar eiers daarop
[Prent op bladsy 17]
Knoopmiere sorg vir papies
[Erkenning]
Miere op bladsye 16 en 17: Pictures by David Nash; www.zi.ku.dk/personal/drnash/atta/
[Prent op bladsy 17]
Europese dopheide
[Prent op bladsy 17]
Geel daglelie
[Prente op bladsy 18]
Skape en beeste help om die skoenlapper se habitat te herstel