Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/22 bl. 15-17
  • Die bonsende bessie—Het jy dit al geproe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die bonsende bessie—Het jy dit al geproe?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bessies uit ’n moeras
  • Voedsel, medisyne en preserveermiddel—alles in een
  • Waarom word dit die bonsende bessie genoem?
  • Gratis lekkernye uit die woud
    Ontwaak!—2007
  • Die duindoring—’n Boom met baie gebruike
    Ontwaak!—2009
  • Die briljante blou van die Pollia-bessie
    Ontwaak!—2017
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 6/22 bl. 15-17

Die bonsende bessie—Het jy dit al geproe?

Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada

DIE boer gooi swael op die grond om die suurgehalte daarvan te verhoog. In die herfs wanneer die oes ryp word, laat hy die landerye oorstroom. Ná die oes laat val hy die vrugte doelbewus om te sien of dit bons.

Is die boer van lotjie getik? Inteendeel, sy skynbaar vernietigende dade verseker dat sy opbrengs van die hoogste gehalte moontlik is. Hy boer met Amerikaanse bosbessies (cranberries). Wil jy graag meer omtrent hierdie geharde bessies leer?

Bessies uit ’n moeras

Toe Europeërs by die noordooskus van Noord-Amerika aangekom het, was een van die handelsartikels wat die inboorlinge vir hulle aangebied het, rooi bessies met ’n verfrissende, suurderige smaak. Die Pequot-Indiane, wat in die gebied gewoon het wat nou as Kaap Cod bekend staan, het die vrug i-bimi, of “bitter vrug”, genoem. Die Pelgrims het dit die craneberry (kraanvoëlbessie) genoem, moontlik omdat die stingel en die blom van die plant soos die nek en kop van ’n kraanvoël lyk. Daarbenewens het die plaaslike kraanvoëlswerms baie van die bessie gehou, en dit was dalk nog ’n rede vir die naam. In elk geval, die naam is kort voor lank tot cranberry verkort.

Die Indiane het bosbessies in laagliggende turfmoerasse gepluk. Die klam, ontbindende plantmateriaal in hierdie moerasse het die grond buitengewoon suur gemaak, wat veroorsaak het dat die meeste plante nie goed daarin aard nie. Maar bosbessies groei goed in hierdie grond. Die laaggroeiende, aarbeiagtige rankplante floreer van hedendaagse Virginië in die suide tot Kanada in die noorde.

Mahlon Stacy, ’n setlaar in New Jersey, het in 1680 vir sy broer in Engeland van die bessies vertel. Hy het geskryf: “Die bosbessies, wat omtrent dieselfde kleur en grootte as kersies is, kan gebêre word totdat die volgende seisoen se vrugte ryp is. ’n Heerlike sous word daarvan gemaak wat saam met wildsvleis, kalkoen en ander groot pluimvee geniet word, en in ’n tert is dit selfs lekkerder as appelliefies of kersies. Ons kry die Indiane om sakke vol bessies na ons huise toe te bring.”

Voedsel, medisyne en preserveermiddel—alles in een

Die Amerikaanse inboorlinge het gebruik gemaak van die bosbessie se natuurlike preserveervermoë. Hulle het pemmikaan gemaak, ’n mengsel wat bestaan uit gedroogde vleis of vis wat saam met bosbessies fyngemaak is. Koeke is daarvan gevorm en in die son uitgedroog. Gedurende die lang wintermaande het die koeke gebalanseerde maaltye met genoeg proteïene en vitamiene voorsien. Die bessie is ’n goeie preserveermiddel omdat dit baie pektien bevat. Dit is ook ryk aan vitamien C. Matrose, wat maklik skeurbuik kon opdoen, het dus vroeër jare vate vol bosbessies gekoop om saam te neem wanneer hulle op lang reise gegaan het.

Die Indiane het ook die bosbessie as ’n geneesmiddel gebruik deur dit met mieliemeel te meng en op wonde te plaas om bloedvergiftiging te voorkom. Onlangse mediese studies toon dat dit kan help om sekere urinekanaalinfeksies te voorkom as jy bosbessiesap drink, omdat dit keer dat skadelike bakterieë aan die wande van die urinekanaal aanpak.

Waarom word dit die bonsende bessie genoem?

As jy ’n ryp bosbessie in die helfte deursny, sal jy vier lugsakkies binne-in sien. Hierdie lugsakkies is om twee redes nuttig vir kommersiële bosbessieboere. Eerstens, in plaas daarvan om die bessies moeisaam met die hand te pluk, kan boere die landerye laat oorstroom, die ranke meganies skud—wat die ryp bessies laat losbreek—en op die lugsakkies staatmaak om die bessies te laat dryf.a Daarna skep hulle die bessies van die oppervlak af en sorteer hulle dit.

Die tweede voordeel van die lugsakkies is in die laat 1800’s deur bosbessieboere ontdek. Eenkeer het ’n boer glo ’n emmer bessies per ongeluk teen ’n trap laat afval, en hy was verbaas om te sien dat die beste bessies tot heel onder gebons het terwyl die sagte of vrot bessies aan die trap vasgesit het. Die lugsakkies in die bessies van die beste gehalte het hulle soos opgepompte bande laat bons. Die vruggies van laer gehalte was soos pap bande.

In 1881 is die eerste masjiene gebruik wat die bessie se vermoë om te bons, benut het. Vandag gebruik sorteermasjiene nog steeds dieselfde metode; hulle laat goeie bessies oor ’n versperring bons en versamel dié vrugte sodat hulle heel verkoop kan word. Die sagtes val deur die masjien en word gebruik om sap of jellie van te maak.

In spesiaal voorbereide moerasse regoor die noordooste en noordweste van die Verenigde State en in Kanada, kweek boere in een jaar meer as 250 miljoen kilogram bosbessies. As jy nog nooit hierdie suur bessie geproe het nie, kan jy dit gerus probeer. Die vrug is propvol vitamiene en minerale sowel as anti-oksidante wat kan help om jou teen hartsiektes en kanker te beskerm. Hulle kan selfs ’n wip in jou stap sit.

[Voetnoot]

a Die gebruik om die bosbessiemoerasse gedurende die oestyd te laat oorstroom, het tot die wanopvatting gelei dat die bessies onder die water groei.

[Venster op bladsy 17]

Is die bosbessie uniek aan Noord-Amerika?

Bosbessies word tradisioneel tydens die ete op Dankseggingsdag geëet, wat in die Verenigde State op die vierde Donderdag in November en in Kanada op die tweede Maandag in Oktober gevier word. Volgens oorlewering het die Indiane in 1621 bosbessies saam met hulle gebring toe hulle die eerste Danksegging bygewoon het, ’n driedaagse fees wat deur die goewerneur van die Plymouth-kolonie, William Bradford, gereël is en waartydens geëet en ontspan is. Omdat die bessie so diep in tradisie gewortel is en bosbessies een van die min inheemse Noord-Amerikaanse spesies is wat kommersieel gekweek word, dink baie dat die vrug uniek aan daardie kontinent is.

Daar is egter ’n ander soort bosbessie (V. oxycoccus) wat nie net in Noord-Amerika voorkom nie, maar ook in Asië sowel as in Noord- en Sentraal-Europa. Die bessie se bydrae tot die kookkuns is nie net tot Noord-Amerika beperk nie. Die Encyclopædia Britannica sê: “Mense dink dat bosbessiesous en -jellie eie aan Amerika is, maar die Skandinawiërs is trots op hulle inheemse pryselbessie (V. vitis-idaea), waarvan die vrug soortgelyk is aan die Amerikaanse bosbessie [V. macrocarpon], net geuriger.”

[Prent op bladsy 15]

Bosbessie- bloeisels

[Erkenning]

Courtesy Charles Armstrong, Cranberry Professional, Univ. of Maine Cooperative Extension, USA

[Prent op bladsy 16, 17]

Bosbessies word in ’n oorstroomde moeras geoes

[Erkenning]

Keith Weller/ Agricultural Research Service, USDA

[Prente op bladsy 17]

Witbosbessies wat geoes word

[Erkenning]

Inlasfoto’s: Courtesy of Ocean Spray Cranberries, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel