Sonder werk—Wat se oplossings is daar?
“Dit gaan verskriklik wees. Baie sakeondernemings is in finansiële moeilikheid maar wil dit nog nie erken nie.” Amerikaanse finansier.
BAIE mense het reeds die harde werklikheid ondervind van daardie droewige voorspelling wat teen die einde van 1990 gedoen is. “Agterblywende” werknemers in party maatskappye het al gewonder of hulle die volgende gaan wees om ontslaan te word.
Wat sal jy doen as jy jou werk vandag verloor? Dit is verstandig om daarop voorbereid te wees. Soos die vorige artikel getoon het, het dit ’n geldelike sowel as ’n emosionele uitwerking op jou as jy jou werk verloor. Derhalwe is daar meer daarby betrokke as om bloot die rekeninge te betaal. Die riglyne wat hier volg, het ander mense al gehelp om geldelik en emosioneel bestendig te bly nadat hulle hul werk verloor het.
1. Moenie paniekbevange word nie
Toe Dominick sy werk verloor het, moes hy sy huis aan die bank teruggee en saam met sy gesin by sy ma intrek. Sy raad is om kalm te bly, ongeag hoe erg die situasie ook al lyk. “Werk of nie werk nie, jy sal nie opdroog en wegwaai nie”, sê hy. “Ek moes werklik leer dat ons almal nie sou doodgaan nie.” Probeer kalm na produktiewe oplossings soek pleks van spoke op te jaag oor die ergste wat kan gebeur.
2. Dink positief
Jim en Donna het vier deeltydse betrekkings tussen hulle twee. Maar hulle verdien minder as wat Jim alleen in sy vorige voltydse werk verdien het. Ten spyte daarvan het hulle dit aanvaar as iets waaruit hulle vyf kinders kan leer. Donna het gesê: “Sonder die probleme sou hulle materieel beter daaraan toe gewees het. Maar hulle sou die slaggate vrygespring het wat ’n mens die lesse van die lewe leer.”
3. Oorweeg ander soorte werk
Selfs kantoorwerkers kan besluit om van beroep te verander en van voor af ’n nuwe werk te begin. “Mense dink nie aan ander moontlikhede voordat hulle nie daartoe gedwing word nie”, het Laura gesê, wat uit ’n administratiewe betrekking ontslaan is. “In die negentigerjare”, het sy gesê, “sal mense moet leer om aanpasbaarder te wees.” As jy dieselfde soort werk probeer kry waaraan jy gewoond is—of dieselfde salaris—kan dit net jou kanse versleg om werk te kry. Dit kan een van die redes wees waarom dit kantoorwerkers dikwels langer as handwerkers neem om werk te kry. Oorweeg dus die moontlikheid van ander soorte werk. Baie mense het al welslae behaal deur die een of ander diens, soos huisskoonmaak, te lewer.
4. Leef binne jou vermoë—nie iemand anders s’n nie
’n Kragtige instrument in reklame is om ’n “behoefte” te skep wat nie voorheen bestaan het nie. Die indruk word dikwels geskep dat almal (behalwe jy) ingelig is en op daardie behoefte reageer. ‘Almal [behalwe jy] dra dié styl.’ ‘Almal praat oor die film [hoe is dit dan dat jy dit nog nie gesien het nie?].’ ‘Almal bestuur dié motor [wanneer gaan jy een koop?].’
Dergelike oorredingskrag kan ’n invloed op ons beskouing en besteding van geld hê. ’n Vriend onderneem ’n duur reis. Skielik het jy ook ’n vakansie nodig. ’n Ander vriend koop ’n nuwe motor. Ewe skielik lyk jou motor oud, nie meer goed genoeg nie. As jy afgunstig word op wat al die ander mense doen, sal dit net veroorsaak dat jy geld bestee wat jy nie het nie en dinge koop wat jy nie werklik nodig het nie. Vermy sulke selfverydelende vergelykings.
Jim, die afgedankte werker wat vroeër genoem is, het gesê: “Mense stort ineen wanneer hulle nie die lewenstyl kan handhaaf wat hulle meen hulle wil hê nie. Jy hoef jou net oor voedsel en onderdak te bekommer. Die res is werklik nie ter sake nie.” Dit is wat die Bybel in 1 Timotheüs 6:8 aanbeveel: ‘Wees vergenoeg met voedsel en onderdak.’—NW.
5. Wees versigtig met krediet
’n Kredietkaart kan ’n bate wees, maar dit kan ook jou grootste las wees. Party mense gebruik die kredietkaart as ’n kruk. Hulle gebruik dit om die vraag ‘kan ek dit bekostig?’ heeltemal te omseil. Die kaart word ’n pynstiller wat jou toelaat om te spandeer sonder dat jy besef dat jy geld verloor.
In onlangse jare is baie lande as ’t ware deur kredietkaartwaansin ingeneem. Wat is die gevolge? ’n Rekenaarverkoopsman uit Korea wat ’n nuwe motor met ’n kredietkaart gekoop het, het die saak só opgesom: “Ek voel altyd verskriklik wanneer die tyd aanbreek dat ek my skuld moet betaal. Dit is asof ek daardie geld sommer net weggegee het.” In Japan is bykans die helfte van diegene wat om finansiële voorligting aanklop in hulle twintigerjare. Die 140 miljoen kredietkaarte in daardie land is grootliks verantwoordelik vir die groot skuldlas onder jongmense.
Wees dus versigtig met ’n kredietkaart. Gebruik dit, maar moenie dat dit jou gebruik nie. Moenie dat dit jou verblind vir jou ware finansiële stand nie. Dit sal net die spanning vergroot indien jy jou werk sou verloor.
6. Hou die gesin verenig
In ’n opname onder 86 000 mense het meer as ’n derde gesê dat geld die grootste probleem in hulle huwelik is. ’n Ander ondersoek het bevind dat geld die meeste twis veroorsaak het. “Verskillende houdings oor geld kan verhoudinge strem”, het ’n finansiële raadgewer Grace Weinstein gesê.
Selfs ’n paartjie wat op die oog af baie geheg aan mekaar is, kan wyduiteenlopende beskouings hê oor geld en oor hoe dit bestee moet word. Die een kan fanaties spaarsamig wees, die ander een ’n kwistige spandeerder.
As dit nie uitgepraat word nie, kan geldsake tot gesinstwis lei. “Planne misluk sonder beraadslaging”, sê die Bybel in Spreuke 15:22. En wanneer julle geldsake bespreek, moet jy probeer om jou huweliksmaat se beskouing te verstaan en om tegemoetkomend te wees.
7. Behou jou selfrespek
Grace Weinstein het opgemerk: “Vir die man of vrou wat nie meer ’n inkomste verdien nie, is daar die emosionele probleem van verlaagde status en verminderde onafhanklikheid, albei dinge wat tot ’n gebrek aan selfrespek kan lei.”
Moenie oorhaastig tot die gevolgtrekking kom dat jy ontslaan is omdat jy nie as werker waardeer is nie. Die nege-en-twintigjarige Rani is ontslaan net drie weke ná die jaarlikse evaluasie toe sy die hoogste verhoging gekry het wat op haar vlak moontlik is. Hoewel die feit dat ’n mens ’n eerlike, betroubare werker is, kan voorkom dat jy ontslaan word, is dit nie altyd die geval nie. ’n Mens moet dus nie ontslag as ’n persoonlike aanval op jou waarde beskou nie. Gewaardeerde, betroubare werkers kan ook geraak word.
8. Stel ’n begroting op
Baie mense skram weg van die gedagte aan ’n begroting. Hulle meen dat dit ’n beperking verteenwoordig, iets wat hulle sal verhinder om te koop wat hulle wil. Dit is nie die geval nie. ’n Begroting is ’n instrument wat jou kan help om jou doelwitte te bereik, en nie om jou te beperk nie. Dit is bloot ’n kontrolestelsel, ’n gedetailleerde plan wat toon waarheen jou geld gaan en wat sorg dat dit vir die regte dinge aangewend word.
Verbasend genoeg het baie mense geen idee waaraan hulle geld gespandeer word nie. Pleks daarvan is hulle die slagoffers van impulsiewe inkope, en kla dan: “Waar is dit alles heen?” Dit is veral belangrik om nie in finansieel moeilike tye geld só te spandeer nie. Die Bybel sê gepas in Spreuke 21:5: “Beplan versigtig en jy sal volop hê; as jy oorhaastig optree, sal jy nooit genoeg hê nie.”—Today’s English Version.
Om hierdie raad te volg, moet jy ’n geskrewe verslag hou. Skryf alles neer wat jy oor ’n hele maand spandeer, en groepeer jou uitgawes. Hou ook ’n verslag van al die geld wat jy verdien. As jy agterkom dat jy meer geld spandeer as wat jy verdien, moet jy jou uitgawes nagaan en die bron van die probleem opspoor. As jy eers weet wat jy spandeer en waar jy dit spandeer, kan jy jou finansies beheer.
Hou jou begroting buigsaam. Jy sal in die eerste paar maande foute ontdek en sekere uitgawes dalk oor die hoof sien. Maak aanpassings en veranderinge totdat die begroting by jou behoeftes pas. Sodoende sal ’n goeie begroting jou dienskneg wees, nie jou meester nie.a
Die voorgenoemde riglyne kan ’n mens help om ’n tydperk van werkloosheid deur te sien. Maar dit sal net slaag as hierdie wenke gebalanseer word deur ’n behoorlike beskouing van die werklike belangrikheid van geld. Hoe noodsaaklik is geld werklik? Is daar enigiets wat belangriker as geld behoort te wees al het jy jou werk verloor? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel ondersoek.
[Voetnoot]
a Sien die Awake! van 22 April 1985, bladsye 24-7, vir verdere inligting oor hoe om ’n begroting op te stel.
[Venster op bladsy 8]
Hoe om ’n begroting op te stel:
1. Bereken hoeveel geld jy verdien.
2. Hou ’n maand lank ’n verslag sodat jy kan bepaal waaraan jy jou geld spandeer.
3. Stel ’n begroting op wat op die eerste twee stappe gebaseer is. Besluit hoeveel aan elke kategorie toegewys moet word.
4. Maak aanpassings aan jou begroting wanneer dit nodig is.
[Prent op bladsy 7]
Egpare moet kommunikeer sodat geldsake nie in ’n gesinstwis ontaard nie