‘‘Vanaand sal jy dood wees’’
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
“WEET jy dat jy op sterwe lê en dat jy teen vanaand dood sal wees?” het die dokter gevra.
Vyftienjarige Wyndham Cook, reeds swak weens bloedverlies, het geantwoord dat hy vasbeslote is om die Bybelgebod om hom te ‘onthou van bloed’ te gehoorsaam al sou dit sy dood beteken.—Handelinge 15:20.
“Sal jy ’n geweer teen jou kop hou en jouself skiet?” het die dokter gevra.
“Nee, ek sal nie”, het Wyndham verduidelik. “Maar om ’n bloedoortapping te weier, is nie selfmoord nie. Dit is eenvoudig gehoorsaamheid aan God se gebod.” Wyndham het spatare in die slukderm wat soms inwendige bloeding veroorsaak. Om sake te vererger, is Wyndham ’n gedeeltelike hemofilie-lyer.
’n Krisis dreig
Dit is begryplik dat Wyndham se ouers bekommerd was toe hy op Dinsdag, 28 November 1989, ná sewe moeitevrye jare weer begin bloei het. Wyndham is onmiddellik hospitaal toe geneem. Nadat hy ’n endoskopie (inwendige ondersoek van die slukderm) ondergaan het, het sy hemoglobientelling tot 6,6 gram per desiliter gedaal. (’n Normale hemoglobientelling is van 14 tot 15 gram per desiliter.) Daardie nag was almal bekommerd, aangesien Wyndham onrustig geslaap het.
Teen Woensdagmiddag het sy bloedtelling tot 4,3 gram gedaal en het hy steeds gebloei. Dit het die eerste van etlike besprekings met hospitaalpersoneellede aan die gang gesit oor waarom Wyndham nie ’n bloedoortapping kon kry nie. Wyndham se pa, Chris, verduidelik: “Ons het breedvoerig uit die Skrif geredeneer. Ons het dit duidelik gestel dat ons nie hulle mediese hulp of die lewe self verwerp nie. In ’n krisis soos dié het ons hulle mediese vaardigheid dringend nodig gehad. Ons het net bloed as terapie verwerp.”
Om 2:00 nm. sou ’n buis in Wyndham se keel af geplaas word wat opgeblaas kon word om druk op die geswolle are uit te oefen en sodoende bloeding te beperk. Die buis gaan ook tot in die maag om enige bloed te verwyder wat weens inwendige bloeding daar opgegaar het. In hierdie stadium, toe Wyndham se ouers nie daar was nie, het ’n verpleegster vir hom gesê: “Net ’n paar eenhede bloed en jou lewe kan gered word. Jou ouers en jou predikant hoef nooit te weet nie.”
“Jesus het saam met sy 12 apostels bloed gebruik”, het die dokter geredeneer. “Christus het gesê: ‘Dit is my bloed . . . drink dit.’ Jy noem jouself ’n Christen en jy wil Christus se voorbeeld navolg. Jy kan dus gerus ’n bloedoortapping aanvaar.”
Wyndham het verduidelik dat die apostels wyn uit die beker gedrink het wat Jesus aangebied het, wat bloot ’n simbool van Jesus se bloed was en nie die bloed self nie. Wyndham se onversetlike standpunt het só ’n indruk gemaak dat ’n aantekening in sy lêer gemaak is wat sê dat hy, op 15 en by sy volle positiewe, uitdruklik ’n bloedoortapping geweier het. Hierdie sterk standpunt sou die volgende dag goeie vrugte afwerp.
Toe die son Donderdag opkom, het dit gelyk asof Windham se toestand ietwat bestendiger was. Maar die verligting was van korte duur. Hy het weer begin bloei. Teen 9:00 vm. het sy bloedtelling tot 3 gedaal. Sy toestand was kritiek. Die seniordokter in beheer van die chirurgiese afdeling het gevra dat Wyndham se gesin die kamer moet verlaat, aangesien hy alleen met Wyndham wou praat.
“Dit was nie maklik om hom alleen te laat nie”, sê sy ma, Judy. “Ons was bang dat sy sterk standpunt in sy sieklike toestand sou verswak. Maar hy is ses maande tevore gedoop en het dus die reg gehad om sy standpunt self te stel.”
“Al wat ons toe kon doen”, sê sy pa, “was om Jehovah te smeek om Wyndham te help om sy onkreukbaarheid te handhaaf. Ons het geleer wat ‘smeek’ werklik beteken.” Jong Wyndham sê dit het hom gehelp om aan Openbaring 2:10 te dink. “Die woorde: ‘Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee’, het heeltyd deur my kop gemaal”, het hy gesê.
’n Hofbevel?
Die dokter het eindelik gesê dat hy aansoek sou doen om ’n hofbevel sodat ’n bloedoortapping toegedien kon word. Omdat Wyndham minderjarig was, het almal verwag dat die aansoek toegestaan sou word. Die gebede vir Wyndham was vurig. “Feitlik die hele gemeente het die beproewing saam met die Cooks deurgemaak”, het Neville, die gemeente se presiderende opsiener, verduidelik. “Wanneer Wyndham se toestand verbeter het, het die hele gemeente gesug van verligting. Wanneer sy toestand versleg het, het almal in die gemeente hul asem opgehou en gebid vir ’n gelukkiger uitkoms.”
“Terwyl ons vir die uitspraak van die hof gewag het”, sê Judy, “het die meeste van ons liggaam van ouere manne daar aangekom en in die wagkamer gewag. Wat ’n troos was hulle tog! Met die aanhoudende bloeding en ’n bloedtelling van 2,9 het dit nie gelyk asof Wyndham ’n kans het nie.”
Binne ’n uur het ons gehoor dat die aansoek om ’n hofbevel sodat ’n bloedoortapping aan Wyndham opgedwing kon word, geweier is. “Daar is vir ons gesê”, verduidelik Chris, “dat die aansoek geweier is omdat Wyndham by sy volle positiewe was. Hy was bewus van die gevolge van sy besluit, en hy het ’n deurdagte besluit geneem wat met sy Bybelse oortuiging strook.”
Die dood staar hom in die gesig
Maar Wyndham se toestand het nie verbeter nie. Trouens, daar is ongeveer twaalfuur Donderdag vir Chris en Judy gesê: “Julle seun het nog net ’n paar uur om te lewe. As julle wil hê dat julle predikant en familie hom moet sien voor hy sterf, sal julle hulle dadelik moet laat kom.” Wyndham se broer, die negejarige Jonathan, is gebring om hom te sien.
Om 1:30 nm. het die verpleegsters die buis wat in Wyndham keel was, uitgehaal sodat hy met waardigheid kon sterf. Wyndham se lewe het die volgende paar uur aan ’n draadjie gehang. Ofskoon sy toestand kritiek was, was dit bestendig, terwyl hy ’n baie hoë koors gehad het. Hy was daardie hele nag op die randjie van die dood.
Toe, oor die naweek, het sy toestand begin verbeter. Daar is Maandag besluit om hom huis toe te stuur, aangesien daar niks meer was wat vir hom in die hospitaal gedoen kon word nie. Met sy tuiskoms het dinge ’n onrusbarende wending geneem. Chris sê: “Ons het Wyndham in die huis ingedra en hom in die bed gesit. Binne 45 minute was hy wakker en het hy weer kwaai begin bloei. Ons was verpletter! Ons het gebid dat God ons moet help om hierdie situasie reg te hanteer.”
Binne 30 minute was Wyndham terug in dieselfde hospitaal, in dieselfde kamer en het dieselfde dokter hom behandel. Sy hemoglobientelling het tot 2,5 gedaal. Teen daardie aand is Wyndham suurstof toegedien, omdat hy asemhalingsprobleme ondervind het. Die stryd om sy lewe was die volgende dag steeds aan die gang toe ons ’n baie bemoedigende besoek gekry het. “Ons streekopsiener, Sarel, en sy vrou, Maryann, het Wyndham kom besoek”, verduidelik Judy. “Sarel het langs Wyndham se bed gestaan en het, terwyl hy sy hand vasgehou het, ’n innige gebed tot Jehovah gerig. Sy besoek het ons versterk.”
Die Christengemeente het tydens die krisis deurentyd praktiese hulp verleen. ’n Gemeentelike rooster is opgestel van dié wat kos sou voorsien, nie alleen vir die Cook-gesin nie, maar ook vir ander Getuies wat saam met hulle by hom gewaak het. Jongmense het die huis skoongemaak, die hond kos gegee, die ligte aangeskakel, ensovoorts. Hulle het al die klein dingetjies gedoen wat die gesin nie tyd gehad het om aan te dink nie. Die ondersteuning en bemoediging van mede-Christene op ’n tyd soos dié moet nooit onderskat word nie.
Die dokters het weer besluit dat hulle niks meer vir Wyndham kon doen nie, behalwe om hom ’n bloedoortapping te gee. Hy is dus huis toe gestuur terwyl hy nog suurstof ontvang het en sy bloedtelling onder 2 was.
Beterskap
Die middel eritropoiëtien, ’n sintetiese vorm van ’n hormoon wat die beenmurg stimuleer om vinnig rooi selle te vorm, is aanbeveel om Wyndham se bloedtelling te verbeter.a Hierdie terapie is nie in Suid-Afrika geregistreer nie, maar ’n verklaring van kwytskelding is onderteken en die middel is deur die huisdokter toegedien. Wyndham se bloedtelling het oor ’n tydperk van drie weke tot 6,2 gestyg, en binne ses weke was dit 11,5. Twee maande later was Wyndham sterk genoeg om ’n maand lank as hulppionier saam met sy gesin aan die openbare predikingswerk deel te neem.
Een van die goeie gevolge van Wyndham se noue ontkoming aan die dood was die uitwerking wat dit op die jongmense in die gemeente gehad het. Judy sê: “Ek dink dit het hulle laat besef dat daar skielik van hulle vereis kan word om ’n soortgelyke standpunt in te neem. Hulle was by die hospitaal en was betrokke by die hele beproewing, en ek dink die boodskap was vir hulle duidelik: ‘Neem ons die waarheid ernstig op?’”
Wyndham het sedertdien nog twee bloedingsvoorvalle met welslae deurgemaak. Wyndham besef dat hy weens sy fisiese gebrek te eniger tyd ’n terugslag kan hê. Maar wat ook al in die toekoms mag gebeur, Wyndham Cook wag gretig vir die tyd wanneer Jehovah God hom eindelik met volmaakte gesondheid in die komende Paradys op aarde sal beloon. Intussen is Wyndham vasbeslote om voort te gaan om volgens Bybelbeginsels te lewe.—2 Petrus 3:13, 14; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?, bladsy 15, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.
[Prent op bladsy 15]
Wyndham en sy ouers