Wyndham se geloof—Die uitwerking wat dit op ander gehad het
DIE ONTWAAK! van 22 Augustus 1991 het ’n artikel gehad oor Wyndham Cook se getrouheid aan God se wet wat Christene beveel om hulle te onthou van bloed (Handelinge 15:20; 21:25). Wyndham het spatare in sy keel gehad en hy was ’n gedeeltelike hemofilie-lyer. Die artikel het melding gemaak van die feit dat hy verskeie bloedingsvoorvalle oorleef het, onder andere een waartydens sy hemoglobienbloedtelling tot onder 2 gedaal het. Ons is egter jammer om te sê dat Wyndham, terwyl die bogenoemde nommer van die tydskrif gedruk is, na nog ’n bloedingsvoorval gesterf het.
Die uitwerking daarvan op ander jongmense
Baie jongmense in die Verenigde State het aan die Ontwaak! geskryf om hulle waardering vir die artikel uit te spreek en die uitwerking wat dit op hulle gehad het te beskryf. Een jong meisie van Clinton, Iowa, het gesê: “Toe ek lees van hierdie 15-jarige seun wat sy standpunt voor die dokters ingeneem het en geduldig aan hulle verduidelik het waarom hy bloed weier, het dit my beweeg om my eie geloof te ondersoek en het ek my afgevra wat ek sou gedoen het. Wyndham se geloof en volharding het my meer vasbeslote as ooit tevore gemaak om soos hy ook my standpunt in te neem as ek ooit in ’n saak van lewe of dood betrokke sou raak.”
’n Brief van ’n 15-jarige van Maiden, Noord-Carolina, het gesê: “Nadat ek gelees het van Wyndham se lyding en sy vertroue op Jehovah tot die dood toe, het ek gehuil. Ek het my hierdie deurdringende vraag afgevra: ‘Sal ek onder sulke omstandighede my lewe in God se hande plaas en volkome op hom vertrou om my te onthou?’
“Ek het die artikel al baie gelees en ek is van plan om dit elke keer te lees wanneer hierdie bedrukkende wêreld my hartseer laat voel. Wyndham se geloof is bemoedigend. Ek sien daarna uit om hom in Jehovah se beloofde nuwe wêreld te ontmoet.”
’n Ander jong meisie van die stad New York het geskryf: “Ek stel my dikwels voor dat ek in ’n situasie soortgelyk aan Wyndham Cook s’n is en ek wonder dan wat ek sal sê as my dokter vir my sê dat ek sal sterf as ek nie ’n bloedoortapping aanvaar nie. Besielende voorbeelde, soos Wyndham s’n, vul my altyd met moed en versterk my om my uiterste bes in Jehovah se diens te doen.”
’n Jong meisie van Kent, Washington, het verduidelik: “Ek het die tydskrif gister by die poskantoor gaan haal en dit gelees voordat ek by die huis gekom het. Ek het baie vriende in die gemeente gebel om hulle aan te spoor om die artikel te lees. Daardie aand was dit die onderwerp van ons gesinstudie.” Sy het na aanleiding van die uitwerking wat dit op haar gehad het, gesê: “Dit was nie net bemoedigend en geloofversterkend nie, maar het ook daartoe gelei dat ek my, op 17-jarige ouderdom, afgevra het of ek so ’n toets sal kan deurstaan.”
’n Jong meisie van North Berwick, Maine, het geskryf: “Ek kon my met Wyndham vereenselwig omdat ek ook 15 is. Ek kan nie beskryf hoe baie sy volharding en moed my aangespoor het om my allerbeste in Jehovah se diens te doen nie. Watter rede het ek om nie my uiterste bes te doen nie as hy selfs in sy verswakte toestand so baie kon doen om God te behaag?
“Nadat ek die artikel gelees het, was my oë vol trane. Dit het gevoel asof ek Wyndham my lewe lank al ken. Ek wens ek het. Toe het ek na die foto van hom en sy ouers gekyk en daaraan gedink dat ek nie kon wag om na die opstanding weer sy pragtige glimlag te sien wanneer hy geen pyn sal hê nie.”
’n Ander 15-jarige wou hê dat Wyndham se ouers moet weet hoe sy oor die artikel voel. Sy het geskryf: “Wyndham se moed het my gehelp om te besef dat ek gereed moet wees om my oortuiging te kan verdedig. Ek kan my te eniger tyd in ’n soortgelyke situasie bevind. Ek hoop net dat ek net soveel moed en vasberadenheid as Wyndham sal hê om te doen wat die Bybel sê as die tyd ooit sou aanbreek dat ek ’n standpunt moet inneem.
“Ek het Wyndham nooit geken nie, wat op sigself ’n jammerte is, maar ek sien baie daarna uit om hom te leer ken wanneer die nuwe wêreld hier is. Sy verhaal het my aangespoor om tot die einde toe my allerbeste in Jehovah se diens te doen.”
Geloofversterkend vir almal
’n Ouer van Newark, New Jersey, het verduidelik: “Ek is al 22 jaar lank ’n Getuie van Jehovah maar het voor daardie tyd vergaderinge bygewoon. Ek lees gereeld al my tydskrifte, maar het nog nooit ’n verhaal gelees wat so hartroerend en bemoedigend soos Wyndham Cook s’n is nie.
“Nou kan ek net aanhou om my godgegewe rol as ’n ouer te vervul deur my tienjarige dogter te help om ’n sterk standpunt in te neem en haar geloof te verdedig soos Wyndham dit gedoen het. Of dit nou die bloedkwessie, dwelmmiddels, seks of enige van die verdorwenhede is wat Satan in ons almal, veral ons kinders, se pad plaas, moet ons aanhou om sterk te bly deur ons geloof op te bou.”
’n Getuie van Cadiz, Kentucky, het iets soortgelyks gesê: “Hierdie artikel is een van die hartroerendste wat ek nog ooit gelees het. Wyndham was vir alle jongmense ’n uitstekende voorbeeld om na te volg. Ek het gehuil toe ek lees wat hierdie goeie jong Getuie alles moes deurmaak. Ek het besef dat ons almal, oud en jonk, so ’n moedige standpunt moet inneem. Wyndham se voorbeeld het my beweeg om myself te ondersoek. Daarom sal ek probeer om selfs harder te werk om Jehovah heelhartig te dien, en om altyd te probeer om, soos Wyndham, ’n goeie voorbeeld te stel en Jehovah se naam te eer.”
’n Ander Getuie, van Palm Springs, Kalifornië, het geskryf: “Hierdie artikel het my veral getref. Ek het vyf kinders, en ek hoop en bid dat hulle sulke sterk geloof soos Wyndham sal hê as hulle ooit voor so ’n swaar toets te staan kom. . . . Wyndham is vir al ons jongmense ’n goeie voorbeeld.”
Opregte geloof is die vaste vertroue op die dinge waarop ons hoop hoewel ’n mens nog nie hierdie dinge gesien of ervaar het nie (Hebreërs 11:1). Wyndham het geloof in God se nuwe wêreld en die opstanding gehad omdat hy juiste kennis van die Bybel se beloftes gehad het (Handelinge 24:15; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Sulke geloof, wat hy selfs beoefen het toe die dood hom in die gesig gestaar het, versterk beslis die wêreldwye broederskap.—1 Petrus 5:9.