Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 9/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nog rampe aan die kom
  • Stygende koste van wetstoepassing
  • Opsporing van voertuiedeur satelliete
  • Dwelms in die skole
  • Vorme van behandeling word vergelyk
  • Te skoon?
  • Meer barakke as hospitale
  • Probleme met bevogtigers
  • Elektroniese sakbybels
  • Foutiewe datering skep verleentheid
  • Die prys van bedrog en brandstigting
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Die mens se stryd teen rampe
    Ontwaak!—1995
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 9/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Nog rampe aan die kom

“As gevolg van die vernietiging van die omgewing sal die aantal natuurrampe teen die jaar 2000 aansienlik toeneem”, berig die Duitse koerant Schweinfurter Tagblatt oor ’n verklaring van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie). Volgens die WGO “is [daar] nou al hoe meer ekologiese rampe wat deur die mens self veroorsaak word”. Die chemiese rampe in Bhopal (Indië) en Séveso (Italië), die kernreaktorongeluk by Tsjernobil (USSR), die olieramp langs die kus van Alaska en die brandende olievelde in Koeweit is as voorbeelde genoem. “Die besoedeling van die lug, water en grond, sowel as die vernietiging van die osoonlaag en die kweekhuiseffek, toon dat industriële ontwikkeling vernietigend is”, sê die artikel verder. “Meer as 50 miljoen mense het sedert die begin van hierdie eeu hulle huise in natuurrampe verloor.”

Stygende koste van wetstoepassing

Kanadese het “verlede jaar meer as ’n ongeëwenaarde [R19,25 miljard] vir die polisiemag, howe, tronke en regshulp” betaal, berig The Toronto Star. Dit beteken dat elke Kanadees R738 per jaar daaraan bestee om die regstelsel te onderhou. Ten spyte van dié groot som “het die misdaadsyfer met 32 persent gestyg”, sê die Star. Die aantal gevangenes het tussen 1981 en 1987 met 37 persent toegeneem. In reaksie op die hoë koste van wetstoepassing het die uitvoerende direkteur van Toronto se John Howard-vereniging, Sherry Kulman, gesê: “[Negentien miljard] is baie geld en ek is werklik verbaas dat mense nie sê: ‘Wag ’n bietjie, wat gaan hier aan?’ nie.” Sy het bygevoeg: “Is dit nie hoog tyd dat mense besef dat die stelsel nie werk nie?”

Opsporing van voertuiedeur satelliete

Voertuigskakings neem in Suid-Afrika ernstige afmetings aan. Die nuutste in ’n reeks metodes om geskaakte of gesteelde voertuie op te spoor, is deur middel van satelliete. The Star, ’n Johannesburgse koerant, verduidelik dat wanneer die bestuurder die stelsel geïnstalleer het hy bloot ’n seintoestel hoef te aktiveer wanneer die motor geskaak of gesteel word. Die voertuig word dan deur ’n satelliet opgespoor en die plek word op ’n rekenaarskerm vertoon in ’n “beheerkamer waar dit as ’n merker op ’n kaart verskyn”. Die beheerkamer verwittig dan helikopter- of grondveiligheidseenhede daarvan, en dié sit die voertuig agterna. Die berig sê verder: “Aanvoortoetse het tot dusver bewys dat ’n voertuig binne ongeveer 15 minute opgespoor kan word . . . en dat die opsporingsyfer 95 persent is.”

Dwelms in die skole

Hoe word jongmense op skool aan dwelms bekend gestel? “Dwelms bereik nie die skole deur middel van vreemdelinge nie, maar deur leerlinge self”, sê Abílio Pereira, ’n polisiehoof in Rio Grande do Sul, Brasilië. “Niemand aanvaar dwelms van iemand wat hy nie ken nie.” Hy sê verder: “Ek het dagga voorheen by 17-jarige seuns gevind. Nou het ons probleme met 12- en selfs 10-jarige seuns.” In die begin word dwelms dalk gratis aangebied, maar wanneer die seuns eers verslaaf is, laat die smouse hulle daarvoor betaal. “Daar is geen skool waar dwelms nie inkom nie”, sê Alberto Corazza, ’n distrikspolisiehoof in São Paulo. Die tydskrif Veja sê: “Nog nooit tevore was dit so maklik om dwelms in die skole te koop nie, nog nooit was die smouse se netwerk so wydverspreid onder leerlinge nie en nog nooit was dit so moeilik om hierdie soort handel aan bande te lê nie.”

Vorme van behandeling word vergelyk

Pasiënte met terminale kanker wat konvensionele behandeling ontvang, vaar nie beter of slegter as dié wat onortodokse vorme van behandeling ontvang nie, sê ’n studie wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is. Meer as 150 kankerpasiënte met ’n gemiddelde lewensverwagting van ’n jaar of minder is vir die studie gebruik. Die helfte het tradisionele vorme van behandeling ontvang, soos chemoterapie en bestraling, terwyl die ander helfte behandel is met ’n vegetariese dieet, dermspoelings met koffie en entstowwe wat bedoel is om die immuunstelsel te stimuleer. Die pasiënte het gevorderde longkanker, kolonkanker, kanker van die pankreas of melanoom gehad. Aan die einde van een jaar het net oor die helfte van die pasiënte in elke groep nog gelewe, en aan die einde van twee jaar 15 persent. “Die resultate toon baie duidelik dat die lewe van pasiënte met gevorderde kanker moontlik nie deur ons vorme van behandeling verleng word nie”, het dr. Barrie Cassileth, die skrywer van die verhandeling, gesê. “Ons moet vra hoe ons die mense so gemaklik moontlik kan maak, en in sommige gevalle sal dit dalk glad geen behandeling beteken nie.”

Te skoon?

Toe die tenkskip Exxon Valdez aan die kus van Alaska op die rotse geloop het, het die olie wat as gevolg daarvan uitgelek het baie diere doodgemaak—die laaste telling was sowat 580 000 voëls, 5 500 seeotters en 22 walvisse. Hoewel daar sprake was van permanente skade, is dit nie waar nie, sê die National Oceanic and Atmospheric Administration, en die meeste spesies behoort binne ongeveer vyf jaar ten volle te herstel. “Herstel kon selfs vinniger plaasgevind het as sommige strande nie met strale warm water bespuit is om die heftige reaksie van die publiek te kalmeer nie”, berig die tydskrif Fortune. “Agentskapstudies toon dat meer klein organismes van warm water sterf as van olie.” Hoofwetenskaplike Sylvia Earle sê: “Soms is dit die beste, en ironies genoeg die moeilikste, om ná ’n ekologiese ramp niks te doen nie.”

Meer barakke as hospitale

Regerings oor die hele wêreld bestee 5,4 persent van hulle bruto nasionale produksie aan militêre bedrywighede, maar slegs 4,2 persent aan gesondheidsorg, berig Demos, ’n tydskrif wat deur die Nederlandse Interuniversitêre Demografiese Instituut uitgegee word. Die verhouding in die ontwikkelende lande is nog meer ongebalanseerd: 5,6 persent word aan verdediging bestee, maar slegs 1,4 persent aan mediese sorg. Regerings in Suidoos-Asië is volgens Demos boaan die lys deur sewe keer meer aan verdediging as aan gesondheid te bestee.

Probleme met bevogtigers

“Akute probleme, soos bevogtigerkoors, ’n siekte soortgelyk aan griep wat groepe mense in kantore aantas, kan verbind word met groot bevogtigers waar water opdam en organismes laat ophoop”, berig The Medical Post van Kanada. Bevogtigers in die huis hou soortgelyke risiko’s in wanneer bakterieë en swamme uitbroei in staande water wat later in die lug gesproei word. Volgens The Medical Post het een deskundige voorgestel dat wanneer die lug om mediese redes bevogtig word pasiënte “vog deur middel van stoom in ’n kamer [moet oorweeg], wat iets so eenvoudigs insluit soos om ’n ketel aanhoudend op ’n stoof te laat kook”.

Elektroniese sakbybels

“In die wêreld van die elektronika is klein op die oomblik mooi”, berig Newsweek. Onder die nuutste toestelle wat in die hand pas, is drie vertalings van die Bybel, waaronder die Revised Standard- en King James-uitgawe, wat elk R1100 kos en deur ’n firma in New Jersey, VSA, verskaf word. “Waarom [R1100] vir ’n Bybel betaal?” vra Newsweek. “Omdat dit toetse soos ’n tikmasjien en intelligensie het.” Wanneer iemand vergeet waar ’n teks voorkom, kan hy dit vind deur eenvoudig ’n paar sleutelwoorde wat hy kan onthou daarop te tik. Die firma “het moontlik agtergekom dat hulle dit aan vergeetagtige geestelikes kan verkoop”, sê die artikel. “Dit het binne ses maande reeds 50 000 elektroniese Bybels verkoop.”

Foutiewe datering skep verleentheid

Elf jaar gelede het Joan Ahrens, ’n kunssinnige oumatjie in Suid-Afrika, ’n paar pragtige skilderye opgelewer deur klippe as haar skilderdoeke te gebruik en sodoende tradisionele Boesmankuns na te boots. Later is een van haar beskilderde klippe naby haar gewese huis in die stad Pietermaritzburg opgetel. Eindelik het dit die eiendom van die kurator van die stad se museum geword. Onbewus van die oorsprong van hierdie klipkuns het die kurator dit in Engeland by die Oxford-universiteit se radiokoolstofversnellingseenheid laat dateer. Deskundiges het geskat dat die skildery 1 200 jaar oud is! Waarom so ’n lastige fout? “Daar is sedertdien vasgestel”, volgens ’n berig in die Sunday Times, “dat die olieverf wat mev. Ahrens gebruik het natuurlike olies met koolstof bevat het—die enigste stof waarvan die ouderdom deur Oxford vasgestel is.”

Die prys van bedrog en brandstigting

Kredietkaartbedrog in Brittanje kos banke en finansieringsondernemings in Brittanje £75 miljoen (R413 miljoen) per jaar, volgens The Times van Londen. Tog is hierdie bedrag onbeduidend vergeleke met die berekende koste van brandstigting: £500 miljoen (R2 750 miljoen) in 1990 alleen, toe die totale skade weens brand ’n hoogtepunt van £1 000 miljoen (R5 500 miljoen) bereik het. Hoewel vandalisme deur seuns en mans van 10 tot 25 die algemeenste oorsaak van brandstigting is, word tot 20 persent van brandstigtingsgevalle met bedrog verbind—besighede, motors en huise word met opset vernietig om versekeringsgeld te eis. Syfers van Brittanje se Departement van Binnelandse Sake bring ook aan die lig dat 1 008 skole gedurende 1988 met opset deur middel van brandstigting beskadig of vernietig is, berig The Times.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel