Ons beskou die wêreld
Die kloof tussen ryk en arm vergroot
Die kloof tussen die rykes en die armes het gedurende die afgelope 30 jaar verdubbel, sê die Human Development Report 1992 wat vir die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram gepubliseer is. Volgens nasionale gemiddeldes was die rykste 20 persent van die wêreldbevolking in 1960 30 keer ryker as die armste 20 persent. Teen 1989 was hulle bykans 60 keer ryker. Op ’n individuele grondslag is die wêreld se miljard rykste mense ten minste 150 keer beter daaraan toe as die miljard armstes.
Werkende moeders
Watter deel van die vroulike werkkragte in die Verenigde State is die grootste en neem die vinnigste toe? Vroue met kinders onder 18, sê die Nasionale Vereniging van Werkende Vroue. Twee derdes van die vroue wat werk, is moeders met kinders by die huis. Hulle tel 21 miljoen, baie meer as die 6,6 miljoen in 1960. Die groep werkende vroue wat die vinnigste toeneem, is vroue met kinders wat jonger as twee is. Sedert 1970 het hulle met 129 persent, tot 3,1 miljoen, toegeneem. Hoe lyk die toekoms? Die vereniging skat dat 65 persent van die vroue met kleuters en 77 persent van dié met skoolgaande kinders teen die middel-negentigerjare werkende moeders sal wees.
Nigerië tel sy mense
Dieselfde syfer—88,5 miljoen—het op 20 Maart 1992 in al die grootste Nigeriese koerante verskyn. Daar is vir die volk gesê dat hierdie syfer, altesaam 88 514 501 om presies te wees, die getal mense is wat tydens Nigerië se nasionale sensus van November 1991 getel is. Daar was twee verrassings in die sensusuitslag. Een was dat daar in Nigerië, in teenstelling met die patroon in baie nasies, effens meer mans as vroue was. Die tweede verrassing was dat daar altesaam baie minder Nigeriërs was as die tussen 100 miljoen en 120 miljoen wat op skattings van die vorige sensus van 1963 gebaseer is. Maar hoewel die syfer meer as 20 persent laer as die algemene skattings was, is Nigerië steeds die nasie met die grootste bevolking op die vasteland van Afrika.
Waarskuwing oor nagemaakte medisyne
Gewetenlose handelaars maak elke jaar miljarde rande deur nagemaakte medisyne te verkoop. Maar anders as die meeste ander nagemaakte produkte “kan nagemaakte geneesmiddels ’n mens se gesondheid ernstig aantas en jou selfs doodmaak”, waarsku ’n persmededeling van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Baie van die middels is nutteloos vir mense wat aan ’n ernstige siekte soos malaria of suikersiekte ly, omdat hulle min of geen genesende waarde het nie. Party bevat selfs onwettige of giftige middels. “Die erns van hierdie soort handel word tragies bevestig deur die onlangse vermelding van Nigeriese kinders wat gesterf het nadat hulle ’n middel gebruik het wat veronderstel was om ’n hoesmiddel te wees”, sê die verslag. Dit is veral vir arm mense in die ontwikkelende wêreld ’n probleem omdat hulle dink dat hulle teen ’n winskoopprys ’n skynbaar goeie medisyne koop wat deur ’n gerespekteerde maatskappy vervaardig word. Nóg die etiket nóg die verpakking verseker dat ’n produk eg is. Dit kan net soos die medisyne ook nagemaak wees.
Hedendaagse kuns faal in ’n toets
Die kunswêreld is omgekrap oor die vreemde verskynsel wat talle skilderye deur hedendaagse kunstenaars bedreig—die skilderye is besig om te verbrokkel. Skilderye deur kunstenaars soos David Hockney, Jackson Pollock en Mark Rothko verkleur of kraak, terwyl ander se kunswerke skilfer en van die skilderdoek afval, berig The Sunday Times van Londen. Klaarblyklik is dit hoofsaaklik as gevolg van akrielverf wat gedurende die sestigerjare gebruik is. Hoewel die hedendaagse verwe wat chemikalieë as basis het, verwelkom is toe hulle aanvanklik in 1962 te koop aangebied is, het Carol Stringari, medebewaarder by die Museum van Hedendaagse Kuns in New York-stad, gesê: “Die eerste keer toe iemand probeer het om ’n bietjie vuilheid van ’n akrielverfskildery af te vee, het hulle besef dat dit nie sal afkom nie. Ons weet eenvoudig nog nie hoe om dit te doen nie.”
Aardbewing in die Ryn
Verlede April het die Neder-Rynkom in Duitsland sy ergste aardbewing sedert 1756 ervaar. Die aardbewing, wat tussen 5,5 en 5,8 op die Richterskaal geregistreer het, het mense beseer en skade aangerig wat op miljoene rande gestel is. Die skuddings het selfs tot gevolg gehad dat ’n nabygeleë kernreaktor gedeeltelik gesluit is. Volgens die wetenskaplike tydskrif GEO het instrumente by die seismologiese stasie naby Keulen “óf baie wild beweeg óf so erg geskud dat hulle wysers gebuig het en ink van die papier af gespat het”. Wetenskaplikes, wat skuddings steeds nie presies genoeg kan voorspel nie, is deur die hewigheid van die aardbewing verbaas.
Franse Katolieke se onsekerheid
Hoewel 84 persent van die Franse sê dat hulle Rooms-Katoliek is, toon navorsing dat slegs ’n klein minderheid aktiewe Katolieke is. Net 12 persent sê dat hulle die Mis gereeld bywoon, terwyl 24 persent sê dat hulle dit af en toe op vakansiedae bywoon. Die Franse tydskrif L’Express het onlangs ’n opname gemaak om uit te vind presies wat ’n minderheid aktiewe Katolieke met betrekking tot party grondleerstellings van die kerk glo. Die resultate was ’n openbaring: 25 persent glo nie in Jesus Christus se opstanding nie, 30 persent twyfel aan die Bybelverslag van die wonderwerke wat Jesus verrig het en 38 persent glo nie aan die Drie-eenheid nie. Boonop aanvaar 59 persent nie die kerkleer oor die vaevuur nie, 60 persent glo nie aan ’n helse vuur nie en 62 persent twyfel aan die bestaan van Satan.
Kerke word teikens
“Misdadigers het nou ‘heilige’ teikens”, het ’n opskrif in The Star van Johannesburg gewaarsku. Onlangse verslae dui aan dat kerke en welsynsorganisasies maklike teikens vir desperate misdadigers is. Ná twee gewapende roofaanvalle op plekke van aanbidding binne een week is kerke aangeraai “om ekstra veiligheidsmaatreëls te tref”. Tydens een van die roofaanvalle is ’n groot bedrag geld onder bedreiging met ’n vuurwapen gesteel by ’n kerk waar ’n groep bejaardes besig was om hulle pensioen te ontvang. Die owerheid skryf hierdie soort diefstal toe aan die toenemende sedelike verval in die gemeenskap. Een polisiewoordvoerder het gesê: “Die feit dat mense kerke begin beroof, toon dat hulle vir niks sal stuit nie.”
Gesinsbloed kan doodmaak
Die Rooi Kruis in Japan “vra dat dokters alles in hulle vermoë moet doen om nie bloed oor te tap wat deur gesinslede geskenk is nie, veral as die skenker die ouer of kind is van die een wat die bloed gaan ontvang”, sê die Asaji Sjimboen. As bloed gebruik word wat deur gesinslede geskenk is, kan dit volgens die Rooi Kruis se verslag lei tot ETGS (ent-teen-gasheer-siekte), ’n siekte wat voorkom wanneer die limfselle in oorgetapte bloed die beenmurg, lewer en vel aanval van die een wat die bloed ontvang. Die liggaam se immuunstelsel word aangetas en die sterftesyfer is hoog. Daarbenewens waarsku die verslag ernstig teen die gebruik van vars bloed, aangesien daar vasgestel is dat bloed wat gebruik word binne 72 uur nadat dit geskenk is ook ETGS kan veroorsaak. Die verslag is gegrond op ’n omvattende twee jaar lange studie van die honderde pasiënte wat as ETGS-gevalle gediagnoseer is en op ’n opname onder 14 083 dokters. Bykans die helfte van die dokters het geglo dat ETGS slegs voorkom wanneer die liggaam se immuniteit reeds verswak het en dat die siekte nie met bloedoortappings verband hou nie—maar hulle was verkeerd.
Biologies afbreekbare gholfballe
Gholf, ’n sport wat op land beoefen word, word gewoonlik nie as ’n bedreiging vir die seelewe beskou nie. Maar die beoefening van gholf op toerskepe is al lank ’n gewilde tydverdryf. “Tot en met 1989 het gholfspelers elke maand ongeveer ’n halfmiljoen gholfballe van die dekke van toerskepe af geslaan”, sê die tydskrif New Scientist, “en baie daarvan het in die mae van seeskilpaaie, walvisse en dolfyne beland.” Toe MARPOL, die wêreldvereniging van seekontrolering, dus in 1989 die storting van plastiekafval in die oseane verbied het, het die verbod ook gholfballe ingesluit. Sedertdien moes gholfspelers wat aan boord speel ’n net gebruik wat die afstand van hulle houe beperk. Nou het ’n uitvinder van San Diego, Kalifornië, ’n gholfbal ontwerp wat heeltemal biologies afbreekbaar is en net soos die gewone gholfbal lyk en slaan. Maar pleks van rubber met ’n plastiekbedekking word dit van papierpulp, gelatien of seewier gemaak met ’n kern wat uit sodiumbikarbonaat en sodiumsitraat bestaan—die bestanddele waarvan Alka-Seltzer gemaak word.
Graantekort
Ongeveer tienmiljoen ton mielies sal gedurende die volgende jaar na Suider-Afrika ingevoer moet word, sê die Konferensie oor Koördinasie van Ontwikkeling in Suider-Afrika, ’n groep wat so vroeg moontlik teen waarskynlike probleme in ’n bepaalde streek waarsku. Sy bulletin sê: “Daar bestaan baie groot kommer oor die vermoë van die gebied se beskikbare infrastruktuur van hawens, spoorlyne, paaie en bergingsplekke om die instroming van die groot hoeveelheid verwagte graan te behartig.” Hoewel die vorige jaar se mielieproduksie laer as gewoonlik was, sal die produksie hierdie jaar na verwagting 40 persent laer as verlede jaar wees. Dit is moontlik die ergste droogte waardeur Suider-Afrika hierdie eeu geteister is.
Tuberkulose keer terug
Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) sê dat daar tans driemiljoen mense per jaar aan die ou plaag tuberkulose sterf. The Globe and Mail van Toronto, Kanada, verduidelik verder dat 96 persent van die agtmiljoen nuwe gevalle elke jaar in die ontwikkelende lande voorkom weens ’n tekort aan mediese sorg en voorrade. “Tuberkulose is besig om ’n sosiaal-ekonomiese siekte te word wat die minderbevoorregtes die ergste tref”, het Hirosji Nakadjima, die Direkteur-generaal van die WGO, verduidelik. In ryker lande tref tuberkulose hoofsaaklik die bejaardes, etniese minderheidsgroepe en trekarbeiders. In die Verenigde State het ’n mediese amptenaar van die WGO byvoorbeeld gesê dat baie gevalle van tuberkulose voorkom onder pasiënte wie se immuunstelsels reeds deur dwelmmisbruik of vigs verswak is.