Vrae van lesers
◼ Wanneer iemand sterf, is dit gepas dat Christene vir die gesin blomme gee of blomme na die roukamer stuur?
In sommige lande is dit gebruiklik om dit te doen. Maar die gebruik van blomme by begrafnisse het soms al ’n godsdienstige betekenis gehad. Kom ons bespreek dus die saak meer uitvoerig, veral aangesien daar ander gebruike is wat klaarblyklik op soortgelyke wyse verband hou met valse godsdiens. Kyk na kommentare uit The Encyclopedia of Religion (1987):
“Blomme hou verband met die heilige ryk vanweë hulle assosiasie met gode en godinne. Flora, die Romeinse godin van die lente en blomme, gee skoonheid en geur aan bloeisels . . . Godhede kan gepaai en aanbid word . . . deur kos en blomme te offer.
“Die assosiasie van blomme met doodsritusse word reg oor die wêreld aangetref. Die Grieke en Romeine het die dooies en hulle grafte met blomme bedek. In Japan word die siele van sterwende Boeddhiste opwaarts op ’n lotus gedra, en die grafstene in begraafplase rus soms op gesnede lotusse . . . Tahitiane laat ná die dood ruikers wat met varings omhul is by die liggaam en gooi dan blommeparfuum oor die lyk om sy oorgang na die heilige hiernamaals te vergemaklik . . . Blomme kan ook tydens heilige tye teenwoordig wees in die vorm van reukwerk of parfuum.”
Omdat Christene daarvan bewus is dat blomme al in verband met valse godsdiens gebruik is, voel party dat hulle nie blomme vir ’n begrafnis moet gee of stuur nie. Hulle sienswyse kan ook ’n begeerte weerspieël om wêreldse gebruike te vermy, aangesien Jesus se volgelinge “nie van die wêreld is nie” (Johannes 15:19). Maar toepaslike Bybeltekste en plaaslike gevoelens het betrekking op die saak.
Blomme is deel van God se goeie gawe aan die mens om te geniet (Handelinge 14:15-17; Jakobus 1:17, NAV). Die blommeprag wat hy geskape het, is in ware aanbidding gebruik. Die kandelaar in die tabernakel is met “amandelbloeisels . . . en kroonblare” versier (Exodus 25:31-34, NAV). Snywerk in die tempel het sierkranse van bloeisels en palmbome ingesluit (1 Konings 6:18, 29, 32). Die heidense gebruik van blomme of sierkranse het klaarblyklik nie beteken dat ware aanbidders altyd die gebruik daarvan moes vermy nie.—Handelinge 14:13.
Maar wat van die breër kwessie waar gebruike, soos begrafnisgebruike, gevolg word? Die Bybel meld baie gebruike, party onbetaamlik vir ware aanbidders, ander wat deur God se volk gevolg is. Eerste Konings 18:28 meld die “gebruik” van Baälaanbidders om ‘hard te roep en hulleself stukkend te kerwe’—’n gebruik wat ware aanbidders nie sal volg nie. Aan die ander kant dui Rut 4:7 daarop dat die manier waarop “die gebruik by lossing” vroeër in Israel uitgevoer is, nie afgekeur is nie.
Gebruike wat vir God aanneemlik is, kan selfs in streng godsdienstige sake ontstaan. Toe God die Pasgaseremonie uiteengesit het, het hy nie die gebruik van wyn gemeld nie, maar teen die eerste eeu was dit gebruiklik om bekers wyn te gebruik. Jesus en sy apostels het nie hierdie godsdiensgebruik afgekeur nie. Hulle het dit nie verwerplik gevind nie en het dit gevolg.—Exodus 12:6-18; Lukas 22:15-18; 1 Korinthiërs 11:25.
Dit geld ook vir party begrafnisgebruike. Die Egiptenaars het die dooies volgens gebruik gebalsem. Die getroue aartsvader Josef het nie sommer net gesê nie: ‘Dit is ’n heidense gebruik, daarom moet ons Hebreërs dit vermy.’ Hy het eerder “aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem”, klaarblyklik sodat Jakob in die Beloofde Land begrawe kon word (Genesis 49:29–50:3). Die Jode het later ander begrafnisgebruike ontwikkel, soos om die liggaam te was en dit op die sterfdag te begrawe. Vroeë Christene het sulke Joodse gebruike aangeneem.—Handelinge 9:37.
Maar sê nou ’n begrafnisgebruik word gesien as ’n gebruik wat op ’n godsdienstige dwaling berus, soos die geloof in ’n onsterflike siel? Onthou, die ensiklopedie sê party “laat ná die dood ruikers wat met varings omhul is by die liggaam en gooi dan blommeparfuum oor die lyk om sy oorgang na die heilige hiernamaals te vergemaklik”. Dat daar wel so ’n gebruik bestaan, beteken nie dat God se knegte enigiets dergliks moet vermy nie. Hoewel die Jode nie in die “oorgang na die heilige hiernamaals” geglo het nie, sê die Bybel: “Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe.”—Johannes 12:2-8; 19:40.
Christene moet gebruike vermy wat in stryd is met Bybelwaarheid (2 Korinthiërs 6:14-18). Allerhande voorwerpe, ontwerpe en gebruike is nogtans, op die een of ander tyd of plek, verkeerd vertolk of met onskriftuurlike leerstellings in verband gebring. Bome is aanbid, die hartvorm is as heilig beskou en reukwerk is in heidense seremonies gebruik. Beteken dit dat ’n Christen nooit reukwerk mag gebruik, bome in enige versiering mag gebruik of hartvormige juweliersware mag dra nie?a Dit is nie ’n geldige gevolgtrekking nie.
’n Ware Christen moet hieroor dink: As ek ’n gebruik sou volg, sal dit aan ander toon dat ek onskriftuurlike opvattings of gebruike aangeneem het? Die tyd en plek kan ’n invloed op die antwoord hê. ’n Gebruik (of ontwerp) het moontlik duisende jare gelede ’n valse godsdienstige betekenis gehad of het dit moontlik vandag in ’n verafgeleë land. Maar sonder om ’n tydrowende ondersoek te doen, moet jy jou afvra: ‘Wat is die algemene siening waar ek woon?’—Vergelyk 1 Korinthiërs 10:25-29.
As dit bekend is dat ’n gebruik (of ’n ontwerp, soos die kruis) ’n valse godsdienstige betekenis het, moet dit vermy word. Christene sal dus nie blomme in die vorm van ’n kruis of ’n rooi hart stuur as dit ’n godsdienstige betekenis het nie. Of daar is miskien ’n formele manier waarop blomme by ’n begrafnis of by ’n graf gebruik word wat plaaslik ’n godsdienstige betekenis het. Die Christen moet dit ook vermy. Maar dit is nie te sê dat as jy eenvoudig ’n ruiker na ’n begrafnis stuur of blomme vir ’n vriend in die hospitaal gee dit gesien moet word as ’n godsdienstige daad wat vermy moet word nie.b
Daarenteen is die gebruik om blomme te voorsien in talle lande algemeen en word dit as ’n gepaste vriendelike gebaar beskou. Blomme kan ’n bietjie skoonheid bydra en kan ’n hartseer geleentheid ’n bietjie draagliker maak. Hulle kan ook ’n gebaar van meegevoel en besorgdheid wees. Die gebruik is dalk elders om sulke sentimente deur ’n daad van ruimhartigheid te openbaar, soos om ’n maaltyd aan siekes of bedroefdes te voorsien. (Onthou die toegeneentheid wat vir Dorkas gevoel is omdat sy haar belangstelling in en besorgdheid oor ander getoon het [Handelinge 9:36-39].) Wanneer dit nie duidelik met valse opvattinge verband hou nie, is dit die gewoonte van sommige van Jehovah se Getuies om vrolike blomme vir ’n vriend in die hospitaal of in die geval van die dood te gee. En persoonlik kan elkeen hulle belangstellings en gevoelens verder toon deur praktiese hulp te verleen.—Jakobus 1:27; 2:14-17.
[Voetnote]
a Heidene het lank blommereukwerk in hulle seremonies gebruik, maar dit was nie verkeerd vir God se volk om reukwerk in ware aanbidding te gebruik nie (Exodus 30:1, 7, 8; 37:29; Openbaring 5:8). Sien ook “Is hulle afgodiese versierings?” in die Ontwaak! van 22 Maart 1977.
b Die wense van die familie moet in ag geneem word, want party vra dat enigeen wat graag blomme wil stuur eerder ’n bydrae aan die gemeente of ’n sekere liefdadigheidsorganisasie moet gee.