Ons beskou die wêreld
Geslagte wat nog lewe
Sê nou jy deel Amerikaners in drie geslagte op van die middel van die negentiende eeu af tot die twintigerjare in ons eeu. Hoeveel mense uit elke geslag sou vandag in die Verenigde State nog lewe? Volgens die Constitution van Atlanta is dit ’n totaal van meer as 30 miljoen. Dit het die volgende inligting bevat: Van diegene wat in die jare 1860 tot 1882 gebore is, is daar 3 000 wat vandag nog lewe. Van diegene wat in die jare 1883 tot 1 900 gebore is, is daar 1 100 000 wat vandag nog lewe. En van diegene wat in die jare 1901 tot 1924 gebore is, is daar 29 000 000 wat vandag nog lewe.
Die kerk se skerpste afname
Die lidmaatskap van Kanada se grootste Protestantse kerk, die Verenigde Kerk van Kanada, het sy skerpste afname in byna 20 jaar gehad deur verlede jaar 21 000 lede te verloor. “Lidmaatskap het in 1965 ’n hoogtepunt bereik toe dit op 1 064 033 gestaan het”, berig The Toronto Star, maar daar was sedertdien ’n voortdurende afname in die ondersteuning van die kerk. Kerklidmaatskap staan nou op 808 441, ’n afname van meer as 250 000. Onder die oorsake van die afname is “die geskil oor homoseksuele ordening” van die geestelikes, beweer die Star. ’n Konserwatiewe kerkleier het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ’n “algemene ontnugtering is wat kerkleierskap en -leiding” betref.
Traumaversteuring
Een van die algemeenste psigiatriese siektes onder jong volwassenes in stede is moontlik PTSV (posttraumatiese stresversteuring), berig ’n onlangse nommer van die Archives of General Psychiatry. ’n Studie wat deur wetenskaplikes in die Verenigde State gedoen is, het vasgestel dat ongeveer 40 persent, of 394, van 1 007 mense tussen die ouderdomme van 21 en 30 wat vir mediese behandeling gegaan het, gesê het dat hulle aan uiters traumatiese gebeurtenisse blootgestel was, soos aanranding of verkragting of dat hulle gesien het hoe iemand doodgemaak word. Meer as 75 persent van die volwassenes wat aan sulke gebeurtenisse blootgestel was, is nie uitermatig daardeur ontstel nie. Maar 9 persent het PTSV ontwikkel. Die posttraumatiese reaksie kan dae, weke, maande of selfs jare later begin. Die oorlewendes kan die traumatiese gebeurtenis onwillekeurig deur terugkerende herinneringe en nagmerries herleef. Of die simptome kan wees dat ’n persoon hom emosioneel van geliefdes onttrek, dat hy uiters wantrouig teenoor ander is en dat hy dit moeilik vind om te konsentreer.
Kinders se vrae
’n Opname van die menings van kinders in Frankryk van 12 tot 15 jaar openbaar dat ’n groot gedeelte van hulle (57 persent) meen dat God beslis bestaan of dat God waarskynlik bestaan. Die opname toon ook dat 59 persent van hulle bid. Toe hulle gevra is watter vrae hulle die graagste beantwoord wil hê, was die antwoord herhaaldelik: “Wat is die doel van die lewe?” Ander vrae was: “Waar kom ons vandaan en waarheen gaan ons?” “Wat kan ons doen om die lewe interessant te maak?” “Waarom moet ’n mens hard leer op skool?” “Wat sal ek later in die lewe doen?” Sosioloë Françoise Champion en Yves Lambert, wat die opname gedoen het, het opgemerk dat jongmense vandag in die algemeen “’n doelloosheid, ’n vae angs”, voel.
Jojo-diëte is gevaarlik
Die skynbaar eindelose kringloop van gewigsverlies en gewigstoename onder sommige verslankers, wat jojo-diëte genoem word, kan ernstige en selfs noodlottige gesondheidsgevolge hê, het ’n onlangse studie in The New England Journal of Medicine gesê. Volgens The New York Times het dr. Kelly D. Brownell, ’n sielkundige en gewigspesialis aan die Yale-universiteit wat die studie gelei het, gesê: “Die druk in hierdie samelewing om tot elke prys maer te wees, kan ernstige gevolge hê.” En volgens ’n ander studie wat deur die Federal Centers for Disease Control gedoen is, loop mense wat meer as 11 kilogram verloor en weer aansit groter gevaar om vroeg dood te gaan as diegene wat sigarette rook. Dr. Brownell het gewaarsku: “Mense moenie met ’n dieet begin tensy hulle werklik gereed is om nie alleen gewig te verloor nie maar om hulle gewig permanent af te hou.”
Dakloosheid neem toe onder jongmense
Die Youth Accommodation Association in Sydney, Australië, stel elke jaar ’n lys van daklose jongmense in die stad op. Twee sorgwekkende sake is opvallend in hierdie jaar se verslag: (1) Die getal daklose jongmense groei, en (2) dié wat dakloos word, is al hoe jonger. Daarbenewens het slegs sowat 6000 van die meer as 15 000 jongmense wat gedurende die eerste helfte van 1990 onderdak gesoek het slaapplek of tydelike onderdak gevind. The Sydney Morning Herald het ’n woordvoerder van die vereniging aangehaal wat gesê het dat die getalle ernstige probleme in die land weerspieël. “Die probleem van daklose jongmense hou aan groei”, het hy bygevoeg. “Korttermynverblyf is net ’n deel van die oplossing.”
Onbehandelde alkoholisme
Japan het ’n drankprobleem, berig die Asahi Evening News. Al hoe meer Japannese vroue en jongmense begin drink. Die getal drinkers in Japan het in die laaste 25 jaar meer as verdubbel tot bykans 55 miljoen volwassenes. Ongeveer 2,2 miljoen drinkers is alkoholiste. Wanneer pasiënte in die eerste stadium van alkoholisme in algemene hospitale opgeneem word, is die diagnose gewoonlik dat hulle bloot aan ’n lewerkwaal, pankreatitis, suikersiekte of ander kwale ly, sê die nuusberig, wanneer dit op ’n basiese gebrek in die land se behandeling van alkoholiste wys.
Verkeerdelik gelynch
Brasiliaanse owerhede in Mato Grosso ondersoek ’n lynchvoorval waarin drie rowers “in die straat deur ’n verwoede skare geslaan en doodgebrand is—terwyl die voorval op videoband vasgelê is”. Die tydskrif Veja sê: “Diegene wat weens die lynchvoorval en moord aangekla word, is goeie gesinshoofde, politici en gerespekteerde sakemanne in ’n klein dorpie. Hulle woon Sondae die Mis by, betaal hulle belastings getrou en voed hulle kinders volgens streng standaarde op.” Maar wanneer ’n skare eie reg gebruik, kan vreeslike foute begaan word. Die koerant O Estado de S. Paulo berig: “Twintig mense het Josué Nascimento Silva, wat 15 jaar oud was, ten onregte doodgemaak deur hom met knuppels te slaan.” In ’n ander voorval is ‘’n 13-jarige seun, wie se onskuld bewys is, vermoor omdat hy toevallig met ’n verdagte gepraat het toe die lynchskare daar opgedaag het’.
’n Eerlike etiket
’n Bietjie eerlike reklame het onlangs op ’n onverwagte plek verskyn—op ’n sigaretdosie. Vroeër vanjaar het ’n nuwe soort sigarette, wat in ’n swart dosie verpak word met ’n wit kopbeen en gekruisde doodsbeendere daarop, in Los Angeles, Kalifornië, VSA, op die mark verskyn. Die sigarette se naam, DEATH, is in vet wit letters op die kant van die dosie gedruk. Volgens die tydskrif Newsweek beweer die vervaardiger dat hy al 25 000 pakkies verkoop het sonder enige advertensies behalwe sy produk se ongewone—maar juiste—etiket. Hy hoop dat verkope oor die hele land sal toeneem en dat die waarskuwing ingang sal vind by rokers wat te jonk of te naïef is om die dood te vrees. Sulke verbruikers sal waarskynlik die waarskuwing ignoreer wat op elke pakkie Death-sigarette verskyn: “As jy nie rook nie, moenie begin nie. As jy rook, hou op.”
Vroue se ellendes neem af in Skandinawië
“As jy ’n vrou is, is Skandinawië die beste plek op aarde om te woon”, berig die Londense weekblad The European. Die opmerking is gemaak na aanleiding van ’n verslag deur die Verenigde Nasies oor die lewensgehalte van vroue in vergelyking met dié van mans in meer as 160 lande. Die lysting is gebaseer op faktore soos vroueregte, vryheid, gelykheid van die geslagte (regverdige en onpartydige behandeling van mense ongeag hulle geslag), werksgeleenthede, loonskale, gesondheidsorg, materiële geluk en sosiale omstandighede. Finland is boaan die lys, gevolg deur Swede en Denemarke. In Europa is Portugal en Ierland die verste weg van gelykheid van die geslagte. Heel onder aan die VN-lys is Kenia, waar ’n vrou se verwagte lewensduur slegs die helfte van ’n man s’n is.
Inisiatiewe teen rook
Australië is onlangs deur ’n woordvoerder vir die Wêreldgesondheidsorganisasie se raadgewende paneel oor tabak en gesondheid geprys omdat hy die leiding in die wêreld neem met inisiatiewe teen rook. Rook is reeds op alle binnelandse lugdienste en op openbare vervoer in metropolitaanse gebiede, sowel as in alle hospitale en bioskope, verbied. Nou word alle pogings aangewend om staatsowerhede te oorreed om rook in restaurante te verbied. ’n Onlangse opname het getoon dat 92 persent van restaurantkliënteel in die staat Victoria ten gunste van so ’n voorgenome verbod is. Die koerant The Australian het berig dat, volgens deskundige regsadvies, enigiemand wie se gesondheid deur passiewe rook benadeel word terwyl hy ’n maaltyd in ’n restaurant eet, die wettige reg het om die restaurateur te dagvaar.
Europa gaan dalk hierdie voorbeeld volg. Italië se Konstitusionele Hof, wat die hoogste verklarende liggaam van die Grondwet is, het onlangs erken dat burgers die reg het om vergoeding te eis vir “skade wat deur sogenaamde passiewe rook aangerig is”. Aangesien die Grondwet die “reg op gesondheid” waarborg, het die hof bevestig dat enigiemand wat in openbare plekke rook “die primêre en algemene verbod op die benadeling van die gesondheid van ’n ander” oortree en dat hy verplig kan word om sy slagoffer te vergoed. “Die vergoeding”, het die hof gesê, hou verband “met al die skade wat moontlik kan verhinder dat die persoon hom as mens kan uitlewe”.