Posttraumatiese stres—Wat is dit?
JARE gelede is posttraumatiese stresversteuring (PTSV) gewoonlik bomskok of oorlogsmoegheid genoem, en dit is hoofsaaklik in verband met oorlogsveterane bestudeer.a Vandag het baie dinge verander. Jy hoef nie ’n soldaat te wees om as ’n PTSV-lyer gediagnoseer te word nie. Jy hoef net ’n traumatiese gebeurtenis te oorleef.
Hierdie gebeurtenis kan enigiets wees van ’n oorlog tot ’n verkragtingspoging tot ’n motorongeluk. ’n Feitestaat van die Nasionale Sentrum vir PTSV, in die Verenigde State, stel dit so: “Om as ’n PTSV-lyer gediagnoseer te word, moes ’n persoon ’n traumatiese gebeurtenis ondervind het.” En hierdie gebeurtenis “moet die een of ander werklike LIGGAAMLIKE besering of aanval of die gevaar daarvan insluit”.
Jane, wat in die vorige artikel genoem is, vertel: “Ek het geleer dat skielike angs sekere hormone laat toeneem, en hierdie hormone maak die sintuie hipersensitief vir gevaar. Gewoonlik keer hormoonvlakke na normaal terug wanneer die gevaar verby is, maar in die geval van PTSV-lyers bly dit hoog.” Die gebeurtenis speel af in die verlede, maar die angs van daardie oomblikke het as ’t ware ’n blywende plek in Jane se verstand probeer kry, soos ’n onwelkome huurder wat ’n uitsettingsbevel ignoreer.
As jy ’n traumatiese ondervinding oorleef het en dit ’n soortgelyke uitwerking op jou het, is dit belangrik om te besef dat jy nie alleen is nie. In ’n boek wat die skryfster Linda E. Ledray oor verkragting geskryf het, verduidelik sy dat PTSV “’n normale reaksie is wat in normale mense gesien word wat ’n angswekkende situasie ondervind het waarin hulle nie kon beheer wat gebeur het nie”.
Die feit dat PTSV normaal genoem word, beteken nie dat elkeen wat ’n traumatiese ondervinding oorleef, dit sal ontwikkel nie. Ledray sê: “’n Studie in 1992 het bevind dat 94 persent van dié wat ondervra is, ’n week nadat hulle ’n verkragting oorleef het, die simptome van PTSV gehad het en dat 47 persent dit ná twaalf weke nog gehad het. Vyftig persent van die vroue wat in 1993 die Navorsingsdiens oor Seksuele Aanranding in Minneapolis besoek het, het ’n jaar ná hulle verkragting die simptome van PTSV gehad.”
Sulke statistiek toon dat PTSV algemeen is, baie algemener as wat die meeste mense besef. En allerhande soorte mense ly weens ’n groot verskeidenheid voorvalle. Die skrywers Alexander C. McFarlane en Lars Weisaeth sê: “Onlangse studies het getoon dat traumatiese gebeurtenisse dikwels burgerlikes gedurende vredestyd, sowel as soldate en oorlogslagoffers, tref en dat baie wat hierdie gebeurtenisse oorleef, PTSV ontwikkel.” Selfs mediese prosedures of hartaanvalle het in party individue tot PTSV aanleiding gegee.
“PTSV het ’n baie algemene versteuring geword”, verduidelik die skrywers wat hierbo aangehaal word. Hulle sê verder: “’n Opname onder 1 245 Amerikaanse jeugdiges het getoon dat 23% die slagoffers van liggaamlike of seksuele aanvalle was, asook ooggetuies van geweld teen ander. Een uit vyf van die jeugdiges wat hieraan blootgestel was, het PTSV ontwikkel. Dit dui daarop dat ongeveer 1,07 miljoen Amerikaanse tieners tans aan PTSV ly.”
As die statistiek akkuraat is, beteken dit dat daar baie tienerlyers in net een land is! Wat kan vir sulke persone gedoen word, asook vir die etlike miljoene slagoffers regoor die wêreld?
Wat kan gedoen word?
As jy meen dat jy of iemand wat jy ken aan PTSV ly, sal die volgende wenke moontlik help.
Probeer ’n geestelike program handhaaf. “Ek woon altyd die vergaderinge by ons plaaslike Koninkryksaal by”, verduidelik Jane. “Selfs toe ek nie kon konsentreer op wat gesê word nie, het ek geweet dat dit die plek is waar Jehovah God wil hê ek moet wees. Die mense in die gemeente was besonder liefdevol en opbouend, en die liefde en persoonlike belangstelling wat hulle getoon het, het regdeur die hele beproewing baie vir my beteken.” Jane voeg by: “Dit het my ook gehelp as ek die psalms gelees het. Dit was asof die gebede van die geteisterdes my gedagtes uitgedruk het. Wanneer ek nie in gebed kon uitdruk wat ek wou sê nie, kon ek net ‘Amen’ sê.”
Moenie huiwer om die lyer aan te moedig nie. As jy ’n geliefde het wat ’n verskriklike herinnering aan ’n traumatiese gebeurtenis verwerk, moet jy verstaan dat hy of sy nie oorreageer of opsetlik moeilik is nie. Weens emosionele gevoelloosheid, angs of woede sal hy of sy dalk nie op jou ondersteuning reageer soos jy wil hê nie. Maar moenie tou opgooi nie! Soos die Bybel sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.”—Spreuke 17:17.
Die lyer moet dinge identifiseer en vermy wat spanning verlig, maar onverstandig is en verdere skade aanrig. Dit sluit die gebruik van dwelms en die oormatige gebruik van alkohol in. Hoewel alkohol en dwelms dalk tydelike verligting kan bring, vererger dit sake gou. Dit dra gewoonlik by tot sosiale afsondering, verwerping van die mense wat wil help; werkverslawing; onbeheerste woede; geen beheer of te streng beheer oor hoeveel jy eet of ander selfvernietigende gedrag.
Raadpleeg ’n bekwame gesondheidsdeskundige. Dalk het die lyer nie PTSV nie, maar indien hy of sy dit wel het, bestaan daar doeltreffende behandelingsmetodes.b As jy professionele hulp ontvang, moet jy eerlik wees met daardie persoon en hulp vra om enige van die bogenoemde gedragswyses te bowe te kom.
Onthou: Fisiese letsels genees gewoonlik eerste, maar mense wat aan PTSV ly, kan liggaamlik, verstandelik en emosioneel op baie maniere gewond wees. Die volgende artikel sal nog maniere bespreek hoe die lyer en diegene naby aan hom met die genesingsproses kan help en sal ook bespreek watter hoop daar vir alle lyers van posttraumatiese skok is.
[Voetnote]
a Sien die artikels “Kom hulle ongedeerd terug?” en “Hy was vir my ’n vreemdeling” in die Ontwaak! van 8 Desember 1982.
b Jehovah se Getuies bevorder of beveel nie amptelik enige spesifieke behandelingsmetode, hetsy medies of psigiatries, aan nie.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Simptome van posttraumatiese stres
Baie mense wat ’n traumatiese gebeurtenis oorleef het, herlewe die ondervinding in hulle gedagtes. Hulle kan dit gewoonlik nie beheer of verhoed nie. Die gevolge kan die volgende insluit:
• Terugflitse—die gevoel dat die traumatiese gebeurtenis weer plaasvind
• Nare drome en nagmerries
• ’n Neiging om groot te skrik vir harde geluide of vir iemand wat hulle onverwags van agter af nader
• ’n Bewerige gevoel en sweterigheid
• Hartkloppings of asemhalingsprobleme
• Ontsteltenis wanneer hulle aan die traumatiese gebeurtenis herinner word deur iets wat hulle sien, hoor, voel, ruik of proe
• Angs of vrees—die gevoel dat hulle weer in gevaar is
• Vind dit moeilik om hulle emosies te beheers omdat herinneringe tot skielike angs, woede of ontsteltenis lei
• Vind dit moeilik om te konsentreer of helder te dink
• Vind dit moeilik om aan die slaap te raak of te bly
• Onrustigheid en ’n voortdurende vrees vir gevaar
• Emosionele afsluiting of emosionele gevoelloosheid
• Vind dit moeilik om liefde te betoon of enige sterk emosies te ervaar
• Die gevoel dat hulle omgewing vreemd of onwerklik is
• ’n Gebrek aan belangstelling in dinge wat vroeër genotvol was
• Vind dit moeilik om belangrike dele van die traumatiese gebeurtenis te onthou
• ’n Gevoel dat hulle nie deel is van die wêreld om hulle en die dinge wat met hulle gebeur nie
[Prente op bladsy 5]
Verskeie traumatiese gebeurtenisse kan tot PTSV aanleiding gee