Van ons lesers
Ontvoering Dankie vir die artikel “As jy iets onnosels aanvang, maak ek jou dood” (22 November 1991). Ek was ook ’n slagoffer van ’n roofaanval waarin ek in my motor gevange gehou is. My ontvoerder het geweet dat ek een van Jehovah se Getuies is, want ek het Jehovah se naam aanhoudend hard uitgeroep. Ek is gelukkig nie fisies mishandel nie, maar my gewrigte was geswel omdat hulle vasgebind was, en ek het ’n paar skrape opgedoen toe ek in die bagasiebak gegooi is. Ek het kalm gebly en by die agterbank van my motor uit die bagasiebak uitgekom. Die voorval en verhoor het plaaslik groot aandag getrek. My prokureur, bure, vriende en familie het Jehovah die eer gegee vir my ontkoming.
E. M., Verenigde State
Die Bybel belowe nie wonderbaarlike beskerming aan God se hedendaagse volk nie. Dit is nogtans heel gepas om dank aan God te betuig wanneer ’n Christen van ’n lewensgevaarlike situasie bevry word (1 Thessalonicense 5:18).—RED.
Koffie Julle artikel “Die koffiedilemma” (22 April 1991) het gesê dat tee, kakao en koladrankies kafeïen bevat. Dit mag so wees in die geval van tee en koladrankies, maar nie van kakao nie. Kakao bevat teobromine, wat nie dieselfde as kafeïen is nie. ’n Koppie kakao kan jou wel energie gee, maar dit is as gevolg van die suiker daarin.
E. B., Israel
Teobromine is ’n chemikalie wat fisiologiese eienskappe bevat wat soortgelyk is aan kafeïen. “The Encyclopedia Americana” sê dat kakaobone ‘tot 3% teobromine bevat, asook klein hoeveelhede kafeïen’. “Compton’s Encyclopedia” sê dat “die teobromine-inhoud [van sjokolade] op party sensitiewe mense dieselfde uitwerking as kafeïen kan hê”.—RED.
Liggaamswaarskuwings My dokter was met vakansie toe ek mediese probleme ontwikkel het wat ek gedink het gering was. Ek het die waarskuwingstekens geïgnoreer, en toe ontvang ek die artikel “Slaan ag op die liggaam se waarskuwings” (8 Oktober 1991). Soos aan die hand gedoen is, het ek ’n dokter gaan spreek, en dit is as kanker gediagnoseer. Omdat ek ag geslaan het op my liggaam se waarskuwings, is dit vroegtydig gediagnoseer en behandel.
S. S., Verenigde State
Krieket Baie dankie vir die uitstekende beskrywing van krieket in die artikel “Krieket of bofbal—Wat is die verskil?” (8 November 1991). Dit was ’n verfrissende verandering van die manier waarop daar dikwels met krieket op aandenkings van hierdie land gespot word. Ter wille van die Britte kan ons dalk eendag ’n artikel hê wat net so ’n duidelike beskrywing van bofbal gee. Die spel het nooit hier gewild geword soos Amerikaanse voetbal nie.
A. E., Engeland
Terroristebom Ek het die artikel “Ons het ’n moordenaar se bom oorleef” (8 Januarie 1992) klaar gelees. Ek weet eerlikwaar nie wat om te sê nie! Dit was regtig ’n voorbeeld van volharding. Sue Schulz se geloof en vasberadenheid ten opsigte van die bloedoortappingsgeskil was baie belangrik; asook die manier waarop haar man, Peter, sy liefde vir Sue betuig het ten spyte van die liggaamlike verminking wat deur die ontploffing veroorsaak is. Ek is ongetwyfeld nie die enigste een wat deur hierdie artikel ontroer is nie!
G. J. S., Brasilië
Radon Aangesien dit my werk is om radon in huise te meet, was die artikel “Radon—’n Gevaar in jou huis?” (22 Oktober 1991) vir my besonder interessant. Julle het gesê dat radon rokers se longe meer aantas as dié van nierokers. Dit is ook vermeldenswaardig dat sigaretrook die aantal stofdeeltjies vermeerder waaraan radioaktiewe produkte, of “volgprodukte”, kan kleef. Dit vergroot die gesondheidsrisiko’s vir nierokers in ’n rookgevulde omgewing.
O. B., Duitsland