Jongmense vra . . .
Waarom pas ek nie in nie?
“Dit was die grootste probleem wat ek nog gehad het.”—Craig.
“Ek was baie eensaam.”—Jessica.
“Ek het so gefrustreerd gevoel.”—Chris.
“Dit het my kwaad gemaak en my ontstel. Ek het gehuil en gehuil.”—Sommar.
“Ek was verward en beslis seergemaak.”—Erin.
BESKRYF hierdie woorde ’n katastrofale gebeurtenis? Nee, hierdie mense het gepraat van die pynlike gevoelens wat hulle ervaar het omdat hulle as jongmense nie by hulle portuurs ingepas het toe hulle jonk was nie. En as jy ooit uit ’n kliek uitgesluit is of deur jongmense vermy is wat jy graag as vriende wou hê, weet jy hoe pynlik so ’n ondervinding kan wees.
Dit is net natuurlik dat jy by jou portuurs wil inpas. Sosiale wetenskaplikes beskryf mense as saamlopers; ons is van nature geneig om onsself te groepeer. Hierdie drang is veral sterk wanneer jy ’n tiener is. Veertienjarige Micalah het gesê: “Ons voel veilig en dat ons aanvaar word wanneer ons by mense is wat dieselfde belangstellings as ons het.” Sulke gemeenskaplike belangstellings kan die genieting van dieselfde sportsoorte, kos, skoolbedrywighede, klere of musiek insluit. Of dit kan ’n stokperdjie of die keuse van vermaak wees wat ’n groep vriende bymekaar hou.
Probleme ontstaan wanneer die bande wat ’n groep bind, gebruik word as kleingeestige verskonings om ander jongmense uit te sluit. Brendan vertel: “As jy nie die regte tennisskoene gedra het nie, het jy nie ingepas nie. Jy was nie deel van die groep nie.” Dit lyk dalk simpel, maar wanneer al die ander in is, en jy is uit, kan dit jou werklik seermaak.
Wanneer om nie in te pas nie
Maar vra jou af: ‘Wil ek werklik by die kliek inpas?’ Weerspannige jongmense het selfs in Bybeltye dikwels probeer om ander in hulle vriendekring in te bring. “Gaan saam met ons”, het hulle gesê om ander te verlok. “Jy sal jou lot onder ons werp.” Maar die Bybel waarsku ons: “My seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad.”—Spreuke 1:11-16.
Jy kan vandag eweneens in die versoeking kom om te probeer om in ’n gewilde kliek in te kom. Maar watter soort jongmense behoort daaraan? Hulle is miskien lief vir pret, maar is hulle godvresend? Sal omgang met hulle jou verhouding met God opbou of afbreek? “Slegte gesprekke bederf goeie sedes”, waarsku 1 Korinthiërs 15:33.
Vra jou ook af wat dit jou sal kos om in te pas. ‘Daar is baie druk op jou om te verander’, sê ’n jong meisie genaamd Grace. ‘Toe ek jonger was, het ek dinge gedoen soos om te vloek omdat my vriende gesê het: “Komaan.” Dit was eintlik net omdat ek nie uitgesluit wou word nie.’ Skrywer Mary Susan Miller vertel van ’n ander jeugdige wat kompromisse aangegaan het om in te pas. Hy het sy punte opsetlik laat sak “sodat hy nie slimmer sou lyk as sy klasmaats met wie hy vriende wou wees nie”.—Childstress!
Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om redelike pogings aan te wend om met ander oor die weg te kom nie. (Vergelyk 1 Korinthiërs 9:19-23.) Maar wanneer jy moet rook, dwelms of alkohol moet gebruik, vuil taal moet gebruik, oor vuil grappe moet lag, geslagsomgang moet hê of iets soortgelyks moet doen om in te pas, is dit eenvoudig nie reg nie! Dan voer jy dit te ver! Dit is ook nie goed om toe te laat dat ander jongmense elke detail van jou kleredrag, spraak of persoonsversorging vir jou voorskryf nie.
Christene word buitendien beveel om nie in te pas by diegene wat van God vervreemd is nie. Jesus het van sy dissipels gesê: “Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Is dit nie beter om God se goedkeuring te hê as die goedkeuring van portuurs wat God nie dien nie?—Vergelyk Jakobus 4:4.
Pas in by mede-Christene
Maar sê nou jy het ook probleme om by mede-Christene in te pas—jongmense wat jou opvattings en oortuigings deel? Miskien is daar goeie redes.
Byvoorbeeld: Jy is miskien nuut in ’n gebied en die jongmense daar is dalk skaam of versigtig vir vreemdelinge. Wanneer ander jou leer ken, sal dinge waarskynlik verander. Jessica het hierdie ondervinding gehad toe haar gesin na ’n nuwe gemeente van Jehovah se Getuies verhuis het. Sy vertel: “Almal was baie vriendelik en gaaf teenoor my, maar dit was eers na omtrent ’n jaar dat ek gevoel het ek pas persoonlik in. Noudat ek terugkyk, besef ek dat tyd nodig is om verhoudings te bou.” Jessica voeg by dat deelname aan die openbare predikingswerk saam met ander in die nuwe gemeente ’n groot hulp was om haar deel daarvan te laat voel.
Stephen vestig die aandag op ’n ander aspek om vriendskappe aan te knoop. Hy sê: “Ek was jare lank uitgesluit omdat ek skaam was. Toe het ek besef dat as ek vriende wil hê, ek die inisiatief moet neem.” Die gevolg? Stephen het nou ’n hele klomp goeie vriende. Jy kan ook vriende hê as jy ’n bietjie moeite doen. Pleks van op ander te wag om jou te leer ken, moet jy probeer om hulle te leer ken. Nooi ’n paar jongmense na jou huis toe, of vra jou ouers of jou nuwe maats saam met julle aan ’n gesinsaktiwiteit kan deelneem. Dit kan die begin van blywende vriendskappe wees.
Maar wanneer ander nie op jou pogings reageer nie, is dit dikwels omdat daar die een of ander misverstand is. Die apostel Paulus is deur Christene in Jerusalem vermy omdat hulle gedink het dat hy nog ’n vervolger van Christene was. Dit is slegs na sake uitgestryk is dat Paulus deur die gemeente daar aanvaar is (Handelinge 9:26-28). As jy op soortgelyke wyse die slagoffer van die een of ander misverstand is—miskien as gevolg van skadelike skinderpraatjies—kan jy gerus doen wat jý kan om die saak uit te stryk.a
Nogtans het nie alle probleme maklike oplossings nie. Selfs jong Christene is soms daaraan skuldig dat hulle ongesonde klieke vorm en ander onregverdig uitsluit. Dit kan baie pynlik wees vir die een wat uitgesluit word. Maar dit sal jou help as jy onthou dat jou portuurs, net soos jy, jonk is en nog baie moet leer voordat hulle volwassenheid bereik. Hulle sal mettertyd dalk hulle kliekerigheid ontgroei. Maar totdat daardie jongmense ’n meer Christelike gesindheid openbaar, is jy moontlik beter daaraan toe om nie in hulle binnekring te wees nie.—Sien 2 Timotheüs 2:20, 21.
‘Word verruim’
Jy moet in die tussentyd nie toelaat dat die situasie jou verbitter nie. Praat gerus met jou ouers of met ’n Christenopsiener daaroor. Onthou ook dat Christene vermaan word om ‘mekaar te verdra’, selfs wanneer daar ’n grondige rede is om te kla (Kolossense 3:13). Jong Tiffany, wat deur ’n kliek verwerp is, vertel: “Ek het tot Jehovah gebid om krag sodat ek dit kon verduur en ek het probeer om objektief te wees. Ek het ook probeer om nie toe te laat dat dit my gevoelens te veel seermaak nie.”
Die Bybel moedig Christene ook aan om “verruim [te] word” in hulle omgang (2 Korinthiërs 6:13). Navorsers Jane Norman en Myron Harris het die volgende van klieklede te sê: “Hulle beperk die verskeidenheid vriendskappe wat hulle kan aanknoop en ontsê hulleself die geleentheid om te leer hoe mense wat anders as hulle is, dink en optree.” Daar is baie ander—waaronder ouer mense—met wie jy vriende kan wees.
Sien jou tekortkominge onder die oë
Jy moet dalk ook die pynlike moontlikheid erken dat jy party mense goeie rede gee om jou te vermy. Jong Dana het byvoorbeeld agtergekom dat sy nie by die jong Christene inpas wat geestelik gesind is nie. Was hulle snobs? Nee, erken sy: “My taal en my kleredrag was wêrelds”, dit wil sê, onvanpas vir ’n Christen. Hoewel ander dus vriendelik en hartlik teenoor haar was, het hulle daarvan weggeskram om sosiaal met haar te verkeer.
Dana het ’n paar veranderinge aangebring. Sy vertel: “Ek het besef dat ek meer geestelik gesind moes wees as ek wou inpas.” Moet jy soortgelyke aanpassings maak? As jy dit doen, sal jy nie net die vriendskap van godvresende jongmense win nie, maar jy sal die vriendskap van God self verkry.—Vergelyk Spreuke 27:11.
Jy het dalk ook ’n paar karaktertrekke wat mense afstoot. Wally vertel: “Ek het ’n neiging gehad om te veel te praat en oor dinge te praat waarin mense nie eintlik belangstel nie. Toe ek eers besef hoe irriterend dit is, het ek aan my persoonlikheid gewerk. Ek dink dit het my gehelp om beter by ander in te pas.” As jy sake met jou ouers of ’n vertroude volwassene bespreek, sal jy dalk agterkom dat jy soortgelyke tekortkominge het. Sake kan miskien verbeter word bloot deur vriendeliker te wees of deur minder te praat en meer te luister.
Hoewel dit dalk pynlik is, is dit alles behalwe dodelik as jy nie daarin slaag om in te pas nie. Wees tevrede met die wete dat jy nooit ’n tekort aan vriende sal hê as jy ’n godvrugtige persoonlikheid het en werklik vir mense omgee nie.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Wat moet ek doen as mense oor my skinder?” in ons nommer van 22 Julie 1989.
[Prent op bladsy 25]
Dit maak seer as jy uitgesluit word