Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/22 bl. 21-23
  • Wat van stokperdjies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat van stokperdjies?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuttige stokperdjies
  • Bereken die koste
  • Behou jou balans!
  • Versameling as stokperdjie—Balans is nodig
    Ontwaak!—2004
  • Noag bou ’n ark
    My boek met Bybelverhale
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Noag se ark en skeepsbou
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 11/22 bl. 21-23

Jongmense vra . . .

Wat van stokperdjies?

STOKPERDJIES verskaf plesier. Hulle is al gedefinieer as “amper enigiets wat ’n mens graag in sy vrye tyd doen”. Party jongmense gebruik hulle vrye tyd om te swem, voetbal te speel of te draf. Jongmense wat nie atleties aangelê is nie, verkies dalk om na musiek te luister, lang ente te gaan stap of om net by die huis te sit en lees. Ander hou weer daarvan om hulle talente te ontwikkel of dinge te versamel. Natalie se stokperdjie is om die fluit te speel. Haar jonger suster, Nikki, versamel poppe.

Stokperdjies bied ’n balans tussen werk en plesier en help jou om nie in jou vrye tyd verveeld te wees nie. Hulle kan jou help om te ontspan. En behoorlike ontspanning het beter geestes- en liggaamlike gesondheid tot gevolg. Sir William Osler, ’n Kanadese doktor, het gesê: “Geen mens is werklik gelukkig of veilig sonder ’n stokperdjie nie”, en hy voeg by: “Dit maak baie min verskil wat die buitebelange is . . . Solank hy ’n stokperdjie het en baie aandag daaraan gee, is enigiets gepas.” Maar net soos ’n goeie ruiter sy perd beheer, moet jy jou stokperdjie beheer pleks van toe te laat dat dit jou beheer. Hoe?

Jy moet eerstens seker maak dat jy voorkeur gee aan die belangriker dinge in die lewe, soos om Christenvergaderinge by te woon, na jou huishoudelike take om te sien en jou huiswerk te doen (Filippense 1:10, NW). Nou kan jy bepaal hoeveel van jou vrye tyd aan ’n stokperdjie bestee kan word.

Nuttige stokperdjies

Party stokperdjies help jou om waardevolle vaardighede te ontwikkel, soos naaldwerk, kleremakery of die beoefening van die kookkuns. Dit is waar dat hierdie stokperdjies veral by meisies ingang vind. Dit is nogtans glad nie onmanlik om te kook nie. (Vergelyk Johannes 21:9-12.) Jy bereik dalk nie fynproewerstandaarde nie, maar as jy ’n bietjie met die kookkuns eksperimenteer, kan dit jou help om vermoëns te ontwikkel wat dalk van onskatbare waarde sal wees as jy ooit vir jouself moet sorg. Daarenteen kan meisies voordeel daaruit trek as hulle motorherstelwerk of huishoudelike herstelwerkies probeer doen.

Nog ’n nuttige tydverdryf is die leer van ’n taal. Jong James leer byvoorbeeld tans Russies. ’n Tweede taal sal jou miskien eendag in staat stel om Bybelwaarhede aan ander in ’n vreemde land te leer! Stokperdjies kan inderdaad dikwels ’n manier wees om ander mense te help.

Is tuinmaak byvoorbeeld jou stokperdjie? Waarom vervolmaak jy nie jou tuinbouvaardighede in die tuin van jou grootouers of van ’n paar ander bejaarde mense wat dit moeilik vind om behoorlik daarna om te sien nie? Hou jy daarvan om werkies self te doen? Dan kan jy gerus aanbied om ’n bejaarde persoon of ’n weduwee met huishoudelike herstelwerkies te help. As kook jou stokperdjie is en jy ’n gunstelingresep het, kan jy die dis gerus voorberei en as ’n geskenk gee aan iemand wat behoeftig is. Onthou, Jesus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

’n Stokperdjie kan jou selfs help om geestelik vooruitgang te maak. As jy byvoorbeeld daarvan hou om modelle te bou, sal jou waardering vir die krag van Noag se geloof toeneem as jy ’n miniatuurark bou. (Sien venster.) As jy ’n model van die tabernakel of tempel bou, kan jy eweneens beter verstaan hoe God se knegte lank gelede aanbid het. Die skaapwagter Dawid het in Bybeltye die harp in sy vrye tyd bespeel. Hy het later pragtige liedere tot lof van Jehovah gekomponeer. Kan jy ’n musiekinstrument leer speel? Indien wel, gebruik jou talent gerus tot eer van God deur party van die melodieë in die liedereboek Sing lofliedere voor Jehovaha te leer. Dink na oor die gedagtes wat die woorde oordra wanneer jy die musiek speel. Is jy ’n versamelaar? Versamel dan dinge wat met die Bybel verband hou. Of probeer om ’n plakboek te maak met prente van Bybellande.

Bereken die koste

Hoe nuttig ’n stokperdjie ook al is, dit is dikwels verstandig om jou af te vra: Wat sal dit kos? (Lukas 14:28). Is die stokperdjie binne die perke van jou begroting? Dit kan veral ’n uitdaging wees as jy dinge in jou vrye tyd versamel, of dit nou posseëls, oudhede of selfs poppe is!

Onthou, hoe jy jou geld gebruik, kan selfs jou vooruitsigte beïnvloed om die ewige lewe te kry. Jesus het gesê: “Maak vir jou vriende deur middel van die onregverdige rykdom [jou geld], sodat wanneer dit jou in die steek laat hulle [Jehovah God en Jesus Christus] jou in die ewige woonplekke sal ontvang” (Lukas 16:9, NW). Sal ’n stokperdjie soveel kos dat jy niks sal oorhê om ‘Jehovah met jou waardevolle dinge te eer’ nie? (Spreuke 3:9, NW). Sal jy ’n deeltydse werk moet doen, miskien ten koste van geestelike aktiwiteite, om ’n stokperdjie te finansier?

Behou jou balans!

Mense wat stokperdjies ernstig beoefen, wil by tye baie graag saam met ander wees wat dieselfde stokperdjie geniet. Maar dit kan ’n hele paar gevare inhou. Vra jou af: Sal sulke omgang opbouend wees? Kan hulle standaard van kleredrag en persoonsversorging, hulle keuse van vermaak of hulle gesprekke ’n slegte invloed op jou hê? Sal jy dalk vind dat jy meer van hulle geselskap hou as dié van jou eie gesin of Christenbroers en -susters? In elk geval, knoop jy ongesonde vriendskappe aan as gevolg van gemeenskaplike belange? Onthou, “slegte gesprekke bederf goeie sedes”.—1 Korinthiërs 15:33.

Nog ’n belangrike punt: Watter soort gesindheid word deur jou stokperdjie aangemoedig? Wek dit ’n ongesonde gees van kompetisie? Is daar baie groot gesondheidsgevare daaraan verbonde? Indien wel, sal dit dalk goed wees as jy die woorde van die apostel Paulus in gedagte hou: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles.”—1 Timotheüs 4:8; Galasiërs 5:26, NW.

Daarenteen het Salomo gesê: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.” En dit sluit “’n tyd om te lag” in. Ja, stokperdjies en ontspanning het hulle plek. Maar sorg dat ’n stokperdjie jou belangstelling nie so in beslag neem dat jy Salomo se verdere woorde vergeet nie: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 3:1, 4; 12:13, NW.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster op bladsy 22]

Ek het Noag se ark gebou!

Ek geniet dit om met my hande te werk. En toe ek eendag die begeerte gehad het om meer omtrent Noag se ark te leer, het ek besluit om ’n skaalmodel daarvan te bou.

Ek het begin deur die Bybelverslag in Genesis 6:14-16 goed te bestudeer met behulp van studieboeke wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word. Ek het gou besef dat die ark geensins soos ’n moderne oseaanskip was nie. Dit was eerder net ’n groot kis: 300 by 50 by 30 el. Dit word omgereken tot 133,5 meter lank, 22,3 meter wyd en 13,4 meter hoog. Die ark was dus 133,5 meter lank—byna een en ’n half keer so lank soos ’n Amerikaanse voetbalveld. Selfs só ’n reusagtige bouwerk kon nie die meer as ’n miljoen diersoorte huisves wat volgens wetenskaplikes bestaan nie. Maar ek het geleer dat party navorsers glo dat net 43 “soorte” soogdiere, 74 “soorte” voëls en 10 “soorte” reptiele die groot verskeidenheid van spesies kon voortbring wat vandag bestaan.

My navorsing het my ook gehelp om te waardeer hoe groot Noag se taak was: om bome sonder elektriese sae af te saag, om stompe sonder trekkers na die bouterrein te sleep en om swaar dakbalke sonder hyskrane te lig. In vergelyking met Noag se werk was myne eenvoudig! Om “hout” te verkry, het ek eenvoudig ’n paar bondels droë onkruidstingels afgebreek. My “diere” was van klei gemaak. Wat die uitleg van die binneste gedeelte betref, moes ek ’n bietjie raai. Ek het gereken dat Noag en sy gesin seker op die boonste verdieping sou gebly het, waar die meeste lig en ventilasie was. Ek het die diere op die onderste verdiepings van die ark gesit.

Nadat ek baie ure daaraan gewerk het, was my model klaar. So indrukwekkend soos sommige gesê het dit lyk, was die werklike ark ’n honderd keer langer, wyer en hoër as my model. Dit sou met ander woorde ’n miljoen van my modelle geneem het om gelyk te wees aan die inhoudsvermoë van die oorspronklike ark. Dit is dus nie verbasend nie dat my projek my belangstelling geprikkel het om meer oor die werklike ark uit te vind. En as ek bevoorreg is om God se nuwe wêreld te sien en die opstanding van die dode te aanskou, sal ek miskien Noag se hulp kan inroep om ’n nuwe model te bou—een wat in elke opsig korrek sal wees.—Bygedra.

[Prente op bladsy 23]

Verskaf jou stokperdjie jou en ander plesier?

As jy prente van Bybellande versamel, kan dit jou help om skriftuurlike gebeurtenisse te visualiseer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel