Die Pont du Gard weerstaan die tand van die tyd
“LANK ná die Romeinse Ryk te gronde gegaan het, is sy akwadukte nog gebruik en bewonder en het dit nog as ’n inspirasie vir bouers van daaropvolgende eeue gedien”, verduidelik The New Encyclopædia Britannica. Die Pont du Gard is nie ’n uitsondering op die reël nie. Dit is seker die bekendste oorblyfsel van die Romeinse Ryk in Frankryk.
Romeinse akwadukte is gewoonlik nie gebou om landerye nat te lei nie, maar om water na dorpe te vervoer. Hierdie dorpe het openbare fonteine, warm baddens, swembaddens en waterbakke gehad; en sommige van die groter stede het selfs rioleringstelsels gehad. Ja, Romeinse dorpe en kolonies het water nodig gehad—en baie daarvan.
Die Pont du Gard, wat bykans 49 meter bo die Gardrivier uitrys, is ’n struktuur soortgelyk aan ’n brug, die hoogste wat deur die Romeine gebou is om ’n waterkanaal te dra. Hoewel dit 275 meter lank is, is dit maar net ’n klein gedeelte van die hele akwaduk. Trouens, die hele waterkanaal was 49 kilometer lank. Dit is gebruik om water aan die Romeinse dorp Nîmes te voorsien. Die akwaduk het, soos sommige ander Romeinse strukture van dieselfde tydperk, grootliks deur die eeue heen behoue gebly en getuig van die hoë gehalte van die Romeinse werkstandaarde en van die vaardigheid van hulle ingenieurs. Massiewe kalkklipblokke, waarvan sommige tot ses ton geweeg het, is in ’n nabygeleë steengroef by Vers uitgekap en afgewerk. Dit is interessant dat geen messelklei gebruik is om die blokke aan mekaar te heg nie.
Dit was om verskeie redes nodig om rye boë bo-op mekaar te bou. Sodra ’n struktuur ’n sekere hoogte bereik, moet dit ligter gemaak word, en die vorm van die boë word ontwerp om aan hierdie vereiste te voldoen. Maar die Pont du Gard moes ook oor ’n rivier loop. Die bouers het die brug met ’n effense boog ontwerp om die sterk strome te weerstaan.
Hoewel die brug se bewonderaars dit nie almal waardeer het nie, is sommige strukturele veranderings nietemin later aangebring. ’n Deel van die dik steunpilare is weggesny sodat perdekarre oor die brug kon ry en die struktuur van die grondverdieping is in die 18de eeu wyer gemaak. Keiser Napoleon III, ’n bewaringsgesinde wat sy tyd vooruit was en in die terrein se behoud belanggestel het, het ’n eeu later die nodige werk onderneem om die brug te restoureer.
Ruim tweemiljoen mense besoek dit elke jaar. Hierdie geweldige belangstelling bedreig die Pont du Gard, en verskeie projekte is al aangepak om die terrein te bewaar. Wat ook al vir hom voorlê, hierdie brug toon dat ’n taak wat goed gedoen is die tand van die tyd kan weerstaan.