Skoliere neem deel aan Volksgeskiedenisdag
DIE telefoonoproepe het in April 1991 na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York begin deurkom. Die oproepe was van jongmense wat navorsingsprojekte oor die Getuies moes doen.
As deel van die program vir Volksgeskiedenisdag in die Verenigde State skryf skoliere van standerd 4 tot 10 elke jaar vir skoolgeborgde wedstryde in wat met ’n jaarlikse tema verband hou. Hierdie jaar se tema, “Regte in die geskiedenis”, het te doen met die 200ste herdenking van die Amerikaanse Verklaring van Regte. ’n Lys van verwante inligting is voorsien om skoliere te help om ’n onderwerp te kies wat hulle kon ontwikkel.
Sowat 500 000 skoliere het aan sewe wedstrydkategorieë deelgeneem. Jehovah se Getuies het veral belanggestel in die inskrywings van ’n paar standerd ses-leerlinge wat uiteindelik die wenners in hulle state was en wat later hulle aanbiedings in Washington, DC, gedoen het.
Twee 14-jarige meisies van Pennsilvanië, Nicole DiSalvo en Gwen Naglak, wat nie Getuies van Jehovah is nie, het twee vlagsaluutsake gekies waarby die Getuies in die veertigerjare betrokke was. Hulle het in die loop van hulle navorsing met diegene gepraat wat by die sake Minersville School District v. Gobitis en West Virginia Board of Education v. Barnette betrokke was, en hulle het die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies besoek om meer oor die Getuies se geloofsoortuiging te wete te kom.a
’n Mondelinge aanbieding
Nicole het ’n mondelinge aanbieding met die titel “Die moed om te bly sit” gedoen. Sy het die rol van Lillian Gobitas vertolk en het lewe gegee aan die gevoelens en moed van die skoolgaande Lillian toe sy vertel het van Lillian se persoonlike besluit om nie die vlag te salueer nie ten spyte van die feit dat haar skoolmaats haar verstoot het. Sy het Lillian se vreugde weergegee terwyl sy die regsgeding stap vir stap gewen het; ’n regsgeding wat uiteindelik in 1940 na die Hooggeregshof geneem is. Sy het ’n swart toga aangetrek toe sy die rol van ’n regter van die Hooggeregshof vertolk het wat die Hof se beslissing teen mej. Gobitas gelewer het. Hoewel Lillian die saak verloor het, het Nicole Lillian se oortuiging dat haar besluit die regte een vir haar was, duidelik oorgedra.
’n Geskrewe aanbieding
Gwen Naglak se projek, “Een nasie onder God”, het die wêreldsituasie soos dit gedurende 1935 was, en die feit dat Jehovah se Getuies geweier het om die vlag te salueer, bespreek. Die leser word bewus gemaak van die gevolg hiervan toe William, 10, en daarna Lillian, 12, uit die skool gesit is.
In die hofsake wat op hulle uitsetting in Pennsilvanië gevolg het, het al die regters in die guns van die Gobitas-gesin beslis. Maar die skoolraad het die saak na die Hooggeregshof verwys. Op 3 Junie 1940 het daardie Hof teen die Gobitasse beslis. Een van die gevolge was duisende gevalle van fisiese mishandeling wat teen Jehovah se Getuies gepleeg is. Gwen het toe die gebeure uiteengesit wat aanleiding gegee het tot die Hooggeregshof se beslissing in 1943, toe die Hof die beslissing van 1940 tersyde gestel het.
Gwen het in haar slot geskryf: “Ek bewonder Lillian en William vir die moed wat hulle gehad het om te doen wat hulle gedink het reg was en om vir hulle geloofsoortuiging te stry. In my oë is húlle die mense wat werklik hulle land liefhet.”
’n Groepaanbieding
“’n Goddelike opdrag, ’n grondwetlike reg” was die titel van ’n groepaanbieding deur twee ander standerd ses-leerlinge, Robert Young en Stacey Wright, van Virginië, wat albei Jehovah se Getuies is. Robert het die rol van ’n joernalis vertolk wat ’n onderhoud gevoer het met Lillian Gobitas, wat deur Stacey gespeel is.
Robert en Stacey het onder hulle ouers se toesig meer as 4 000 kilometer afgelê om inligting vir hulle taak te soek. Hulle navorsing het onder andere aan die lig gebring dat die vlagsaluut gedurende die 19de eeu in die Verenigde State ontstaan het. Hulle was verbaas om uit te vind dat George Washington nie ten gunste daarvan was dat ’n mens ’n eed van trou aan jou land aflê nie.
Al hierdie jongmense het ’n beter begrip gekry van wat professor C. S. Braden, in sy boek These Also Believe, omtrent Jehovah se Getuies gesê het: “Hulle het ’n buitengewone diens aan demokrasie bewys deur hulle stryd om hulle burgerlike regte te behou, want in hulle stryd het hulle baie gedoen om daardie regte vir alle minderheidsgroepe in Amerika te waarborg.”
[Voetnoot]
a Sien voetnote op bladsy 22 en 23.