Kinders se unieke gawe
KINDERS se opregte woorde laat volwassenes dikwels stilstaan en nadink. By een geleentheid het seuns, nadat hulle gesien het hoe Jesus van sy wonderwerke doen, uitgeroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid!” Die godsdiensleiers het daarteen beswaar gemaak. Omdat hulle deur jaloesie verblind was, kon hulle nie onderskei dat Jesus die Messiaanse afstammeling van Koning Dawid was nie. Maar Jesus het hulle geantwoord en gesê: “Het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het [God] vir [hom] lof berei nie?” (Mattheüs 21:15, 16). God gebruik nog steeds vandag “die mond van kinders” om mense wie se verstand deur valse leerstellings verblind is te help.—2 Korinthiërs 4:4, vgl. NAV.
◻ Daleen, wat 12 jaar oud is, het op skool getoon dat sy ’n verantwoordelike meisie is. Sy is eendag aangewys om die klas besig te hou terwyl haar onderwyseres ander werk gedoen het. Wat het sy gedoen? “Ek het besluit om aan my klasmaats te verduidelik dat regverdige mense vir ewig op die aarde sal lewe en dat almal nie hemel toe sal gaan nie”, het Daleen gesê. Met die onderwyseres se verlof het Daleen haar inligting vir die klas aangebied in die vorm van ’n gesprek met ’n gewillige klasmaat. Sy het etlike tekste gelees, waaronder Psalm 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Watter reaksie het dit uitgelok? “Die onderwyseres het opgehou werk en net so aandagtig soos die kinders geluister”, sê Daleen. “Daarna het sy my bedank, en ’n paar van die kinders het vrae gevra.”
◻ Vyfjarige Lillian en haar ouers het 19 kilometer van ’n Suid-Afrikaanse dorpie af gewoon waar hulle dikwels vergaderinge bygewoon en aan die huis-tot-huisbediening deelgeneem het. Haar ouers het een Sondag besluit om vanweë motorprobleme by die huis te bly. “Waarom gaan ons nie velddiens doen nie?” het Lillian gevra. Sy was nie tevrede met die rede nie en het gesê: “Ek gaan nie toelaat dat dit my keer nie.” Later het die moeder opgemerk dat Lillian én haar velddienstas weg is. Die dogtertjie was besig om die huise daar naby te besoek en het Bybellektuur vrygewig uitgedeel—haar moeder se Bybel inkluis! Lillian se verduideliking van die komende Paradys het een bejaarde vrou so beïndruk dat sy later ingestem het om die Bybel saam met Lillian se moeder te bestudeer. Hierdie vrou het uiteindelik ’n toegewyde aanbidder van Jehovah geword.
Ja, God gebruik steeds “die mond van kinders” om lof te berei. Hulle opregtheid kan die hart van volwassenes diep raak. Dit is dan gepas dat kinders saam met volwassenes in die grootse uitnodiging ingesluit word: “Loof die HERE van die aarde af—. . . jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog.”—Psalm 148:7, 12, 13.