Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 12/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kinders van ellende
  • “Vredesverklaring” uit Hirosjima
  • Alkohol en hartsiekte
  • Pediaters moet TV-misbruik behandel
  • Geestelikes en prostitusie
  • Regeringsonbevoegdheid
  • Raad met verkeersknope
  • Hertbevolking ruk hand uit
  • Eet saam met musiek
  • Meer aborsies
  • Fietsongelukke
  • Kinders in ’n krisis
    Ontwaak!—1992
  • Waarom ’n groeiende probleem?
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 12/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Kinders van ellende

Volgens die Nederlandse tydskrif Internationale Samenwerking beskryf ’n onlangse verslag van UNICEF (Die Verenigde Nasies se Kinderfonds) die somber toestand van miljoene hawelose, beseerde en honger kinders oor die hele wêreld wat deur hulle gesinne en die gemeenskap verstoot is. Internationale Samenwerking sê dat daar tans sowat 30 miljoen hawelose kinders is wat in die wêreld se strate rondswerf, ten spyte van die VN se verdrag van 1989 waarin die regte van kinders uiteengesit word. Sowat sewemiljoen kinders word in die wêreld se vlugtelingekampe gebore en grootgemaak. En in onlangse jare is 200 000 kinders onder 15 as soldate gewerf en is hulle in sommige gevalle selfs as lewende mynveërs gebruik om die pad vorentoe vir die soldate veilig te maak. Daarbenewens word sowat 80 miljoen kinders, van 10 tot 14 jaar, daagliks gedwing om strawwe, onveilige werk teen ’n karige betaling te verrig.

“Vredesverklaring” uit Hirosjima

“Aangesien ons die verskrikkinge van hierdie oorlog, wat met die aanval op Pearl Harbor begin het en met die atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki geëindig het, nog baie goed onthou, is ons opnuut vasbeslote om ons vir wêreldvrede te beywer”, het Takasji Hiraoka, burgemeester van Hirosjima, op 6 Augustus 1991 gedurende plegtighede ter viering van die 46ste herdenking van die atoombomaanvalle gesê. Volgens die Mainichi Daily News het hy in sy “Vredesverklaring” gesê: “Japan het gedurende sy bewind van koloniale oorheersing en oorlog groot lyding en wanhoop vir die volke van Asië en van die Stille Oseaan-gebied veroorsaak. Daar kan geen verontskuldiging vir hierdie dade wees nie.”

Alkohol en hartsiekte

Die tydskrif Lancet het berig dat wetenskaplikes aan die Harvardse Skool van Openbare Gesondheid beweer dat die matige gebruik van sterk drank die risiko van hartsiekte verminder. Die navorsers glo dat alkohol twee soorte HDL (hoëdigtheidslipoproteïen), die sogenaamde goeie cholesterol, in die bloedstroom laat toeneem. Dit lyk of HDL-vetneerslae in verstopte slagare skoonmaak, en sodoende hartsiekte verminder. Alkohol kan ook bloedklonte help voorkom deur die vlakke LDL (laedigtheidslipoproteïen) in bloed te verlaag. Hoë vlakke LDL is ’n belangrike faktor by hartaanvalle. Maar wanneer iemand wel sterk drank gebruik, is dit goed dat hy ‘net ’n bietjie wyn ter wille van sy maag’ gebruik.—1 Timotheüs 5:23.

Pediaters moet TV-misbruik behandel

“Dit is noodsaaklik dat pediaters ’n aktiewer rol ten opsigte van televisie-aangeleenthede moet speel”, beveel die tydskrif Pediatrics aan, en dit voeg by dat “hulle ouers moet inlig oor die nadelige gevolge van televisiegeweld en ander onderwerpe wat nie vir kinders geskik is nie”. ’n Onlangse opname in Kanada van die televisiekykgewoontes van 311 gesinne het aan die lig gebring dat almal ten minste een televisiestel het. In 16 persent van die huishoudings bly dit die hele dag aan. Die navorsers het gesê dat “baie kinders televisie kyk sonder dat hulle ouers enige beperkings daarop stel, en hulle sien gewelddadige tonele op ’n ouderdom waarop hulle vatbaar vir indrukke is”. Pediaters is aangemoedig om ouers teen die risiko’s van televisiemisbruik te waarsku.

Geestelikes en prostitusie

Twee vooraanstaande geestelikes in Australië het onlangs ’n verdraagsamer beskouing ten opsigte van prostitusie aanbeveel. Een van hulle, ’n Anglikaanse biskop, het gevra dat dit wettig verklaar moet word, hoewel hy bygevoeg het dat hy nie prostitusie op sigself goedkeur nie. Hy was nietemin van mening dat die wettiging van prostitusie die beste manier is om die verspreiding van siektes te voorkom en om “sekswerkers” te beskerm. Die ander geestelike het egter gesê hy glo dat prostitute “’n baie positiewe rol” in die gemeenskap se stabiliteit speel. Die koerant The Canberra Times het sy woorde aangehaal: “Ek dink hulle [prostitute] voorsien ’n plek van vertroosting, ’n plek waar baie mans wie se lewe andersins baie moeiliker sou wees ’n bietjie raad en terapie kan kry. Dit het op die een of ander manier sin om dit te erken. Ek glo dat Christus dit erken het.” Toe hy gevra is of hy glo dat ’n Christen ’n prostituut kan wees, het dieselfde geestelike geantwoord: “Ja. Dit pla my nie. Daar is sommige uiters volwasse mense wat hulle rol as prostituut moontlik as ’n baie vertroostende manier van advies beskou waardeur hulle uiting kan gee aan hulle roepingsbesef in die lewe.” Die Bybel beskryf die prostituut egter as “’n diep kuil” wat “jag [maak] op ’n kosbare lewe”.—Spreuke 6:26; 23:27; sien ook Openbaring 22:15.

Regeringsonbevoegdheid

In ’n verslag wat onlangs gepubliseer is, het die VN se Ontwikkelingsprogram die onbevoegdheid van regerings in die stryd teen armoede veroordeel. Waar hy hierdie verslag aanhaal, verduidelik die Franse dagblad Le Monde dat “wapenbesteding” in sommige ontwikkelende lande “ten minste twee keer so hoog is as uitgawes aan gesondheid en geleerdheid”. Dit het gesê dat “militêre besteding drie keer so vinnig in ontwikkelende lande as in die nywerheidslande gestyg het”. Die verslag sê dat “die geld wat op tien dae van die Golfoorlog bestee is genoeg sal wees om elke kind in die wêreld vir die volgende tien jaar in te ent teen siektes wat goed op entstowwe reageer”.

Raad met verkeersknope

Die Ministerie van verkeer in Nederland het onlangs ’n nuwe benadering van die probleem van verkeersknope gedurende spitstyd op die proef gestel, berig die Duitse dagblad Süddeutsche Zeitung. Vir ’n proeftydperk van een jaar is 31 werknemers van die ministerie toegelaat om by die huis te bly en van daar af te werk deur rekenaars en faksmasjiene te gebruik. Die koördineerder van die projek sê dat die eksperiment geslaagd was. Deelnemers het 25 persent minder tyd in hulle voertuie deurgebring en was produktiewer. Die metode was ook ekonomies. Die Ministerie van Verkeer moedig ander organisasies nou ook aan om hierdie benadering, wat in sommige plekke as telependelary bekend staan, op die proef te stel.

Hertbevolking ruk hand uit

Witstertherte in die Verenigde State het in die afgelope paar jaar tot nagenoeg 25 miljoen vermeerder. In sommige state het hulle verdriedubbel. The New York Times Magazine berig dat “mense jaarliks duisende ernstige beserings in hertverwante ongelukke op hoofweë opdoen en dat die skade aan motors en vragmotors miljoene dollars beloop”. In die staat Pennsilvanië word daar jaarliks byvoorbeeld 40 000 herte op hoofweë doodgery. In etlike gevalle het vliegtuie met witstertherte op die aanloopbane van die Dulles- Internasionale Lughawe in Washington gebots. “Wat uiters kommerwekkend is, is die moontlike verband tussen die groeiende hertbevolkings en Lyme-siekte, wat naas vigs die siekte is wat die vinnigste in die land toeneem”, voeg The New York Times Magazine by.

Eet saam met musiek

Navorsers ondersoek die uitwerking van agtergrondmusiek op eetgewoontes. In een studie het hulle getel hoeveel happies mense tydens etes neem terwyl hulle na verskillende soorte musiek luister. Die Tufts University Diet & Nutrition Letter berig dat wanneer daar nie agtergrondmusiek gespeel is nie, die deelnemers “gemiddeld 3,9 happies per minuut geëet het”, en ’n derde van hulle het nog kos gevra nadat hulle alles op hulle borde leeggeëet het. Toe “opgewekte liedjies” gespeel is, het die eters “vinniger geëet tot ’n gemiddelde van 5,1 happies per minuut”. Die berig sê verder dat “kalmerende fluitmusiek hulle daarenteen stadiger laat eet het tot 3,2 happies per minuut—en die happies het kleiner geword”. In die laaste geval het niemand ’n tweede porsie gevra nie. Trouens, die meeste het kos op hulle borde gelos en het versadig gevoel, en hulle het gesê dat die kos lekkerder gesmaak het. Na berig word, het hulle ook “minder spysverteringsprobleme” gehad.

Meer aborsies

Die aantal vroue van vrugbare leeftyd wat wêreldwyd wettige aborsies ondergaan, wissel van 5 uit elke 1 000 vroue in Nederland tot 112 uit elke 1 000 vroue in die Sowjetunie. Volgens Demos, ’n bulletin wat deur die Nederlandse Demografiese Instituut uitgegee word, woon 40 persent van die wêreld se bevolking tans in lande wat nie wetlike beperkings op aborsies het nie.

Fietsongelukke

Jongmense in Kanada is by ongeveer 2 000 fietsongelukke per jaar betrokke. Kopbeserings is die ernstigste en kan langtermynprobleme met geheue, konsentrasie en balans insluit. “Soms is die veranderinge tydelik. Soms verander die persoonlikheid en potensiaal permanent”, sê The Toronto Star. Daarom het die Kanadese Mediese Vereniging en ’n farmaseutiese maatskappy “’n kampanje oor die hele Kanada van stapel gestuur om jong fietsryers aan te moedig om helms te dra”, berig die Star. Die Mediese Vereniging beweer dat beskermende hoofbedekkings “’n kind se risiko om ’n ernstige kopbesering op te doen met 85 persent verminder”. Tog sê die Star dat slegs 5 persent van die kinders helms dra wanneer hulle fietsry.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel