Kinders in ’n krisis
’n Seun, 12 jaar oud, swoeg 11 uur per dag om klippe in ’n gruisgat in Indië uit te breek. Hy verdien R2,30 per dag.
’n Dogtertjie, tien jaar oud, verkoop haar liggaam in ’n bordeel in Bangkok. Sy is nie uit vrye wil daar nie. Haar pa het haar vir R1100 verkoop.
’n Jong soldaat, tien jaar oud, werk by ’n padblokkade in ’n Afrikaland. Hy het ’n masjiengeweer oor sy skouer; hy rook marijuana om die tyd om te kry.
SULKE situasies kom baie algemeen onder die ontwikkelende nasies voor. Daar is miljoene kinders wat in ’n krisis verkeer. Sewemiljoen kwyn in vlugtelingkampe; 30 miljoen dwaal sonder blyplek in die strate rond; 80 miljoen tussen 10 en 14 jaar oud doen werk wat hulle normale ontwikkeling belemmer; baie meer as 100 miljoen sal in hierdie dekade sterf weens ’n tekort aan voedsel, skoon water en gesondheidsorg.
Beskou net ’n paar probleme waarmee kinders oor die hele wêreld te kampe het.
Siekte
Daar sterf elke dag ongeveer 8000 kinders omdat hulle nie teen siektes soos masels en kinkhoes ingeënt is nie. Nog 7000 sterf daagliks omdat hulle ouers nie weet hoe om die ontwatering te keer wat deur diarree veroorsaak word nie. Elke dag sterf nog 7000 kinders omdat hulle nie die antibiotika ter waarde van net ’n rand kry om asemhalingsinfeksies te beveg nie.
Daar is al jare lank geneesmiddels en terapieë beskikbaar vir die voorkoming of genesing van baie siektes wat die mens al lank teister. Maar dit het miljoene wat dit nodig het nog nie bereik nie. As gevolg daarvan het ongeveer ’n honderdmiljoen kinders gedurende die afgelope twee dekades net aan diarree- en asemhalingsiektes gesterf. “Dit is asof daar eindelik ’n geneesmiddel vir kanker gevind is, maar dit dan 20 jaar lank skaars gebruik word”, het UNICEF se verslag State of the World’s Children 1990 dit betreur.
Ten spyte van die slegte situasie word daar wel vordering gemaak. UNICEF en die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) het byvoorbeeld reeds ’n uitgebreide immuniseringsveldtog onderneem. In 1991 is daar aangekondig dat 80 persent van die wêreld se kinders reeds ingeënt is teen die ses siektes wat deur entstof voorkom kan word—masels, klem-in-die-kaak, witseerkeel, polio, tuberkulose en kinkhoes. Dit, asook gelyktydige pogings om diarreesiektes te beheer, het tot gevolg gehad dat miljoene jong lewens elke jaar gered word.
Maar in onlangse jare het ’n ander siekte—vigs—te voorskyn gekom om al die vooruitgang wat gedurende die afgelope dekade ten opsigte van kinderoorlewing in Afrika gemaak is in gevaar te stel en selfs nutteloos te maak. Gedurende die dekade van die negentigerjare kan daar tot 2,7 miljoen kinders in Afrika alleen aan vigs sterf. Teen die jaar 2000 sal nog drie- tot vyfmiljoen kinders in Sentraal- en Oos-Afrika weeskinders wees omdat hulle ouers aan vigs gesterf het.
Ondervoeding
Ons almal het al hartseer na die tragiese foto’s gekyk van uitgehongerde kinders met ’n uitgemergelde liggaam, opgeswelde maag en dowwe oë wat voor hulle uit staar. Wat ondervoeding betref, verteenwoordig daardie patetiese kinders slegs die punt van die ysberg. Deur die hele ontwikkelende wêreld heen is daar ongeveer 177 miljoen kinders—1 uit 3—wat honger gaan slaap. En die getal styg steeds.
Voortdurende ondervoeding verhoed dat kinders hulle volle verstandelike en fisiese potensiaal bereik. Die meeste ondervoede kinders is tingerig, lusteloos, hulle oë is dof en hulle stel in niks belang nie. Hulle speel minder en leer stadiger as welgevoede kinders. Hulle is ook vatbaarder vir infeksie, ’n belangrike faktor wat aanleiding gee tot die dood van ongeveer ’n derde van die 14 miljoen kinders wat elke jaar in ontwikkelende lande sterf.
Net soos die hedendaagse wetenskap reeds geneesmiddels vervaardig het om siektes te beveg, het dit ook die produksie en lewering van oorgenoeg voedsel vir elkeen op aarde moontlik gemaak. Maar daar bestaan nie ’n kitsoplossing vir ondervoeding nie. Dit kan nie deur besendings voedsel en vitamientablette uitgeskakel word nie. Dit spruit voort uit onverbiddelike armoede, algemene onkunde, vuil water, onhigiëniese toestande en ’n gebrek aan landbougrond in armoedige gebiede.
Omgewingsprobleme
Namate die wêreldwye omgewingskrisis vererger, is dit kinders wat die meeste benadeel word. Dink aan die lugbesoedeling. Wanneer ’n kind onder drie slaap, asem hy in verhouding twee keer soveel lug en daarmee saam twee keer soveel besoedeling in as ’n volwassene wat slaap. En aangesien kinders se niere, lewer en ensiemstelsel nog nie ten volle ontwikkel is nie, kan hulle besoedelende stowwe nie so doeltreffend soos volwassenes verwerk nie.
Kinders word dus meer as volwassenes benadeel deur die lood wat by petrol gevoeg word en deur gasse soos koolstofmonoksied, stikstofoksiede en swaweldioksied. Hierdie kwesbaarheid dra regstreeks by tot die dood van die meer as 4,2 miljoen kinders onder vyf wat elke jaar in ontwikkelende lande aan asemhalingsinfeksies sterf. Baie van die kinders wat dit oorleef, word met asemhalingsiektes groot waaraan hulle vir die res van hulle lewe ly.
Aangesien kinders nog groei, is hulle ook vatbaarder as volwassenes vir die gevolge van die verkeerde dieet. Dit is kinders wat in die een land na die ander die meeste benadeel word namate die woude krimp, die woestyne uitbrei en uitgeputte landbougrond wegspoel, minder produktief raak en al hoe minder voedsel oplewer. In Afrika alleen is ongeveer 39 miljoen kinders se groei reeds deur ondervoeding belemmer.
Die kwaai tekort aan skoon water vererger die probleem. Deur die hele ontwikkelende wêreld heen het net die helfte van die kinders toegang tot skoon drinkwater en nog minder het toegang tot fasiliteite waar vullis higiënies verwyder word.
Oorlog
In die verlede was die meeste oorlogslagoffers soldate. Nie meer nie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog maak burgerlikes—meestal vroue en kinders—80 persent uit van die 20 miljoen wat in gevegte doodgemaak en die 60 miljoen wat gewond is. Op een tydstip gedurende die tagtigerjare het daar as gevolg van sulke gevegte elke uur 25 kinders in Afrika gesterf! Tallose kinders is al doodgemaak, gewond, weggegooi, wees gelaat of as gyselaars aangehou.
Die miljoene kinders wat nou in vlugtelingkampe grootword, het dikwels nie ’n identiteit en nasionaliteit of voldoende voedsel, gesondheidsorg en onderrig nie. Dit is vir baie van hulle onmoontlik om vaardighede te leer wat hulle van ’n werk in die gemeenskap sal verseker.
Maar kinders is nie net oorlogslagoffers nie; hulle is ook soldate. In onlangse jare is 200 000 kinders onder 15 jaar as soldate gewerf, bewapen en opgelei om ander dood te maak. Onder hulle was daar dié wat gesterf het of vermink is terwyl hulle bevele gehoorsaam het om ’n pad deur landmynvelde te baan.
Kinderuitbuiting
Deur die hele ontwikkelende wêreld heen verkoop ouers hulle kinders weens armoede teen ’n geringe bedrag om die honger te stil of om hulle skuld te betaal. Wat word van hierdie kinders? Party word gedwing om prostitute te word of as slawe teen ’n hongerloon in smerige plekke te werk. Ander word vir soveel as R27 500 verkoop deur middelmanne of aannemingsagentskappe wat in die Weste gevestig is.
Daar is tekens dat kinderprostitusie toeneem en al hoe jonger kinders, seuns sowel as meisies, insluit. In Brasilië alleen is daar waarskynlik tot 500 000 tienerprostitute. Kinderpornografie floreer ook en het erger geword omdat videotoerusting so maklik bekom kan word.
Prioriteite
Dit is moeilik om te begryp hoeveel pyn en lyding daar agter die statistiek is. Gelukkig is dit vir ons onmoontlik om te verstaan watter lyding miljoene of duisende verduur. Maar baie van ons besef hoe verskriklik dit is om te sien hoe net een kind ly of sterf—iemand met sy of haar eie, unieke persoonlikheid, ’n siel wat vir God kosbaar is, ’n mens wat net soveel reg op lewe en voorspoed het as enigiemand anders.
Sonder om veel tyd te bestee aan ’n bespreking van die onaangename kwessie oor waarom kinders tans in hierdie situasie verkeer, het die afgevaardigdes na die Wêreldspitsberaad vir Kinders vol vertroue oor die toekoms gepraat en plegtig belowe dat hulle die situasie nie langer sal duld nie. Hulle “Plan van aksie” behels om teen die jaar 2000 onder andere die volgende doelwitte te bereik:
◻ Om 1990 se sterftes onder kinders jonger as vyf met een derde te verminder.
◻ Om kwaai en gewone ondervoeding onder kinders jonger as vyf tot die helfte van 1990 se vlak te verminder.
◻ Om algemene toegang te voorsien tot veilige drinkwater en tot higiëniese maniere om ontlasting te verwyder.
◻ Om kinders wat hulle in besonder moeilike omstandighede bevind, veral in oorlogsituasies, te beskerm.
Die bykomende koste verbonde aan programme om die doelwitte te bereik wat die dood van 50 miljoen kinders gedurende die negentigerjare kan voorkom, is al op R6,9 miljard per jaar gestel.
Dit is maar min vergeleke met wat die wêreld aan ander dinge bestee. Amerikaanse maatskappye bestee in een jaar R6,9 miljard aan sigaretadvertensies. Die wêreld se militêre uitgawes beloop R6,9 miljard per dag.
Krygsbesteding—wat volgens ’n versigtige skatting van die Verenigde Nasies op R3 biljoen per jaar gestel is—oorskry tans die gesamentlike jaarlikse inkomste van die armste helfte van die mensdom. Die aanwending van selfs 5 persent van hierdie ontsaglike bedrag sal genoeg wees om die spitsberaad se doelwitte gouer te bereik. Net een F/A-18-vegvliegtuig kos byvoorbeeld net soveel (meer as R83 miljoen) soos genoeg entstowwe om 400 miljoen kinders teen dodelike siektes in te ent.
Die nasies kan die grootse doelwitte bereik wat by die spitsberaad uiteengesit is. Hulle het die kennis, die tegnologie en die geld. Die vraag is: Sal hulle dit bereik?
[Venster/Prent op bladsy 6]
Die bestryding van ondervoeding
Ses dinge wat ouers moet weet
1. Moedersmelk alleen is die heel beste voeding vir die eerste vier tot ses maande van ’n kind se lewe. Dit voorsien die nodige voedingstowwe en immuniseer die kind teen die gewone infeksies.
2. Wanneer die kind vier tot ses maande oud is, het hy ander voedselsoorte nodig. Indien jy vroeër met vaste kos begin, vergroot dit die risiko van infeksie; indien jy later daarmee begin, lei dit tot ondervoeding.
3. ’n Kind onder drie jaar moet twee keer so gereeld soos ’n volwassene kos kry, wat uit kleiner hoeveelhede kragvoedsel bestaan.
4. Voedsel en drank moenie van ’n kind weerhou word wanneer hy siek is of diarree het nie.
5. Ná ’n siekte het ’n kind ’n week lank ’n ekstra maaltyd per dag nodig om die groei wat hy verloor het in te haal.
6. Ter wille van die moeder sowel as die kind se dieetkundige gesondheid moet daar ten minste twee jaar tussen geboortes verloop.
[Erkennings]
Source: United Nations Children Fund
UNICEF/C/91/ Roger Lemoyne
[Prent op bladsy 5]
Net die helfte van die ontwikkelende wêreld se kinders het toegang tot skoon drinkwater
[Erkenning]
UNICEF/3893/89/ Maggie Murray-Lee
[Prent op bladsy 7]
Elke kind, met sy unieke persoonlikheid, is kosbaar vir God en het net soveel reg op voorspoed soos enigiemand anders
[Erkenning]
Photo: Cristina Solé/Godo-Foto